22 Februarie 2012 ~ 6 Kommentare

Die natuurlike balansering van grondbesit in Suid-Afrika

Geskryf deur Ebert Terblanche

Die gesprek oor grond is ‘n saak wat vir baie Afrikaners en veral boere naby aan die hart lê. Vir baie gesinne verteenwoordig grond hul enkele grootste bate en bron van inkomste.

Grond is in ekonomie ‘n primêre produksiefaktor, wat beteken dat daar sonder grond ook nie ‘n ekonomie kan wees nie.

Ons huise en werksplekke word op en met grond gebou. Grond definieer ons habitat.

Die grondvraag is die grondvraag.

Dit is daarom te verstane dat die repliek wat dr. Pieter Mulder op pres. Zuma se staatsrede gelewer het, veral met betrekking tot die president en die ANC se standpunt oor die beginsel van gewillige-koper-verkoper en die beweerde steel van grond deur wit mense, emosies opgejaag het en heelwat bespreking in die media tot gevolg gehad het.

Die spesifieke uittreksel van dr. Mulder se toespraak wat mense die harnas injaag lui as volg: “Die ANC praat graag van “Black people in general and Africans in particular.” Meneer, “Africans in particular” het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.

Hoewel hierdie standpunt oor geskiedkundige meriete beskik en ook waardevol is in soverre dit die verdraaiing van die verlede deur die regering en die wat hoop om te regeer oopvlek, is die praktiese waarde daarvan in soverre dit die grondvraag betref, beperk.

Deur die geskiedenis en oor die ganse wêreld heen was daar nog altyd spanning tussen mense wat grond besit en mense wat grond begeer.

Selfs tydens die mensdom se nomadiese bestaan het daar gereeld konflik uitgebreek rondom skaars hulpbronne wat met grond verbind word (water, kos en skuiling). Voeg by die mens se wanderlust die invloed van oorlogvoering en die wyse waarop dit mense verplaas en dit is eintlik nie verbasend nie dat min volke daarin slaag om ‘n spesifieke grondgebied vir baie lank te besit.

Engeland is sover vasgestel kan word aanvanklik deur die Kelte bewoon. In 43 VC het die Romeine onder leiding van Julius Caesar Engeland verower en vir 400 jaar beheer en beset. Daarna het die Germaanse Angel-Saksers vanuit Europa Engeland beset. In 1066 het die Franstalige Normandiërs daarin geslaag om die Engelse koning Harold by die slag van Hastings te verslaan wat die Engelse grond onder Franse beheer geplaas het. Die Franse veroweraars het daarna oor ‘n tydperk geassimileer deur met die Angel-Saksers te ondertrou en hulle kulture het ineengevloei wat vir ons die Engelse van vandag bring.

Hierdie voorbeeld is maar ‘n mikrokosmos van soortgelyke gebeure wat oor die hele aardbol heen afgespeel het en steeds afspeel. Die Baske was die eerste inwoners van Frankryk en Spanje, vandag het hulle nie eers onafhanklikheid nie. Dieselfde geld vir die Aborigenes van Australië, die Serwiërs van Kosovo, die Duitsers van Koningsberg en Oos-Pruise, die Grieke van Konstantinopel en die Inkas van Kolombië.

Dit dui ook aan dat historiese aansprake op grond deur sogenaamde “eerste besetters” van nul en gener waarde is.

‘n Aanspraak op grond kan slegs in stand gehou word deur die aanspraakmaker se vermoë om daardie grond te verdedig teen die aansprake van ander aanspraakmakers.

Sekere kulture en lande het die beginsel van private eiendomsreg ontwikkel en in hierdie lande onderneem die staat om die aansprake van persone wat oor titelaktes van grond beskik, namens hulle te beskerm. Hierdie beleid vorm ‘n hoeksteen vir suksesvolle ondernemerskap wat vir daardie lande relatiewe voorspoed gebring het in vergelyking met lande wat nie die beginsel van private eiendomsreg ingestel het nie.

Die lande wat wel die beginsel van private eiendomsreg erken en in stand hou verteenwoordig egter ‘n minderheid. Selfs in Suid-Afrika het die beginsel van private eiendomsreg nie in die swart stamgebiede gegeld nie.

Waar die staat nie namens die titelhouer sy aanspraak op eiendom beskerm nie, soos wat volgens die retoriek van die ANC die rigting is waarheen Suid-Afrika al meer beweeg, is die titelhouer self verantwoordelik om sy titel te verdedig. Daardie verdediging kan die vorm van hofgedinge aanneem en is suksesvol waar die hof die belang van die titelhouer vooropstel. Die hof self kan egter ook ondermyn word soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Effektiewe gemeenskapsbesetting van grond en die mobilisering van daardie gemeenskap vir die verdediging van daardie grond bly die mees basiese en ook mees effektiewe wyse waarop ‘n aanspraak op grond verdedig kan word. Omdat ‘n meerderheid Engelse die Falkland-eilande beset en die Engelse tot vanuit Engeland in 1982 gemobiliseer het om hulle aanspraak op die Falkland-eilande te verdedig teen die aanspraak van Argentinië, kon die Engelse suksesvol eiendomsreg oor die Falkland-eilande behou. Indien hulle dit nie kon doen nie, sou die Falkland-eilande vandag aan Argentinië behoort het en sou regeringsdienste daar slegs in Spaans beskikbaar wees.

Die wyse waarop die Palestyne in die Wesoewer en in die Gazastrook daarin slaag om hul grond te behou bevestig ook die waarde van meerderheidsbesetting.

Die gebrek aan ‘n konsentrasie van Afrikaners wat deur hul getalleoorwig beheer oor landbou, residensiële-, kommersiële- en industriëlegrond kan uitoefen, stel Afrikaners afhanklik van die Suid-Afrikaanse staat en sy howe om hulle aanspraak op daardie grond te verdedig.

Namate die Nasionale Demokratiese Rewolusie deur die ANC tot uitvoering gebring word, blyk die vertroue van Afrikaners op die staat en sy howe op sand gebou te wees.

Die reg wat die ANC bekom het om die Nasionale Demokratiese Revolusie tot volle uitvoering te bring word deur die mandaat wat hulle van die meerderheid kiesers van Suid-Afrika ontvang gelegitimiseer. Die behoefte van die ANC om die meerderheid grond aan swart Afrikane oor te dra kan weens die mag en invloed van die ANC nie ligtelik opgeneem word nie. Dit kan ook nie weggewens word nie.

Daarom is dit onvermydelik dat Afrikaners se grondbesit deur kragte buite ons beheer ingeperk gaan word tot dit wat ons as meerderhede beset en deur ons gemeenskappe kan beskerm. Hierdie is ‘n terugkeer na die natuurlike toestand. ‘n Toestand wat oral in die wêreld en reg deur die geskiedenis geld. Dit is ‘n toestand van balans waarna toe teruggekeer word. ‘n Balans wat slegs tydelik deur apartheid op onnatuurlike wyse versteur kon word.

Dit is belangrik dat grondeienaars met hoop en ‘n weldeurdagte strategie die toekoms tegemoet gaan. Die middele tot hul beskikking, insluitend die howe, moet optimaal benut word, maar daar moenie enige wanopvattings rakende hierdie proses wees nie.

Die grondleggers van Orania het reeds in die 1960’s hierdie onafwendbare balansering van grondbesit in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Daarom bied die Orania-model van meerderheidsbesetting van grond deur eie arbeid vir Afrikaners ‘n ligpunt aan die einde van die tonnel.

Orania is egter nog klein. Ondersteun Orania vandag, want u gaan Orania se steun in die toekoms benodig.

Deel/Stuur
Tags:

6 Reaksies op “Die natuurlike balansering van grondbesit in Suid-Afrika”

  1. Frits 22 Februarie 2012 at 16:53 Permalink

    Ek dink hierdie is n uitstekende berig. Dit het my van n ander kant af na die grond vraagstuk laat kyk. Dis hoe mens die aanspraakmakers weg hou wat van belang is.

    Ek stem dat die Orania model die eniste opsie is.

  2. Ben le Roux 23 Februarie 2012 at 10:05 Permalink

    Frits, ek kan dit net beaam. Dit is ‘n uitstekende berig. Tenspyte van so baie slimpraatjies, is gebiedsafpenning, soos wilde diere dit doen, oplaas ook maar hoe ons dit doen.

  3. Hannodb 27 Februarie 2012 at 18:58 Permalink

    As Orania nie suksesvol is nie, sal daar in 2100 nie meer so iets soos “die Afrikaner” wees nie. Orania is die Afrikaner se laaste kans op kollektiewe oorlewing.

  4. Simon 3 Maart 2012 at 22:00 Permalink

    Definitief stof tot nadenke.

    Dalk nog ‘n goeie voorbeeld, in die geval wel ‘n dorp/stad, is Jerusalem wat oor die eeue talle male hande verwissel het en met byna elke verwisseling was daar afskuwelike dade gepleeg deur die Christene, Jode en Moslems wat elke keer beheer geneem het.

    Wonder wat die natuurlike balans vir Jerusalem is, alhoewel dit dalk ‘n uitsondering is aangesien Jerusalem ook in mate as ‘n spieël dien vir wat elders in die wêreld aangaan.

    • E Terblanche 3 Maart 2012 at 22:14 Permalink

      Interessant Simon. Ek sou stel dat Jerusalem se huidige balans presies is wat dit tans is, die helfde beheer deur Israeli’s en die ander helfde deur die Palestyne.

      Die Israeli’s sou graag die Palestyne wou uitdryf en die stad vir hulleself neem, maar die besetting deur die Palestyne (deur eie arbeid) en die belangrikheid van hul tempel op die rots vir Islam as geheel, beteken dat hul besetting baie effektief is en deur die Israeli’s aanvaar moet word.

      Net so sou die Palestyne graag die Israeli’s in die see in wou jaag, maar die Israeli’s se bessetting deur eie arbeid en hul militêre vermoëns maak hul bessetting ewe effektief.

      Dit is dus ‘n situasie van skaak vir tyd en wyl.

      Toestande verander egter oor tyd en die groot natuurlike aanwas van die Palestyne teenoor die stagnering en agteruitgaan van Israel se aanwas, beteken dat indien die Israeli’s nie binne die volgende paar dekades ‘n Palestynse staat erken nie, die Palestyne selfs ook die Israelse staat kan oorneem.

      Demografie is immers die toekoms wat vandag reeds geskryf word.

  5. Aves Libra 6 Maart 2012 at 19:30 Permalink

    Het Pieter Mulder met sy verwyssing na die bantoes se gebrek aan “besitreg” van die Wes- en Noord-Kaap dalk hiermee sy en/of die VF+ se voorkeur grondgebied vir n Volkstaat laat deurskemer? Waar laat dit diegene noord van die Oranje?
    Na aanleiding van Naspes en hul kuber-kommentators se verguising van PM se heldhaftigheid in die Praathuis, die volgende: Skaars het die stof rondom PM gaan le of die ANC wil die Wes-Kaap se grense verander. Nou moet hierdie skynheiliges net nie omdraai en se dat die ANC en die bantoes nie historiese besitreg het op hierdie provinsie nie. Daardie argument, hoe geldig dit ook al is, kan nie deur hulle gebruik word om hul grondgebied te beskerm nie.


Lewer Kommentaar

*