12 Mei 2014 ~ 0 Kommentaar

Die morele risiko’s van die vryemark

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Michael J. Sandel skryf in sy boek What Money Can’t Buy oor die morele beperkinge wat die absolute vryemark inhou.

Die boek is besonder relevant in ’n tyd waar Christene die absolute vryemark toenemend omhels. Hierdie tendens wat veral sy oorsprong onder Christene in Amerika tydens die Koue Oorlog gehad het, vind vandag beslag in talle Westerse lande. Die absolute vryemark word voorgehou as die antwoord op absolute ideologieë. Maar is die absolute vryemark nie ook ‘n absolute ideologie nie?

Beide die kommunisme en sosialisme is gedurende die twintigste eeu as onwerkbaar bewys. Die bewyse daarvan lê in die miljoene sterftes wat deur hongersnood en geweld weens sentrale beheer van ekonomieë in lande soos China en Rusland veroorsaak is. Die enigste werkbare alternatief tot dusver was die kapitalisme en die vryemark.

Michael Novak in sy artikel, How Christianity Created Capitalism, verduidelik die verband tussen die Christelike geloof en die opkoms van kapitalisme. Gedurende die Hoë Middeleeue het belangrike meganiese ontwikkelings soos beter wawiele, revolusionêre nuwe ratte vir windmeulens, en natuurlik die uitgebreide gebruik van metale plaasgevind. Hierdie ontwikkelinge sou egter nie oor Europa versprei het as dit nie was vir die Katolieke Kerk wat op daardie tydstip soveel as een derde van alle grond in Europa besit het nie. Die Kerk moes maniere vind om nuwe ontwikkelings aan te wend en ‘n vorm van vryhandel het hieruit ontstaan.

Volskaalse kapitalisme het egter eers vanaf die Verligting posgevat. Dit kan selfs gesê word dat vryhandel ’n bydrae tot die Verligting gelewer het. Die Christendom in Europa het dus ‘n belangrike bydrae deur middel van die Katolieke Kerk gemaak om vryhandel te bevorder. Dit was egter ook dié vryhandel wat tot die Verligting bygedra en daardeur weer tot die verbrokkeling van die Christelike kerk aanleiding gegee het.

Die kapitalisme en vryhandel is vandag ‘n gegewe en is die beste, mees werkbare ekonomiese stelsel waarmee die wêreld nog vorendag kon kom. Die gevaar bestaan egter dat dit as ‘n soort absolute ideologie ernstige negatiewe gevolge kan inhou.

Dit is juis hierna wat Michael Sandel verwys. Hy onderskei tussen dinge wat nie deur geld gekoop kan word nie soos vriendskap, geluk en sukses, en dinge wat nie deur geld gekoop behoort te word nie. Laasgenoemde word toenemend wel verhandel en sluit sake soos gemeenskapsdiens, burgerlike pligte en verantwoordelikheid in.

Ongelukkig sien ons in vandag se wêreld dit toenemend soos wat mense die vrye mark verabsoluteer dat hulle ook pogings aanwend om juis hierdie dinge wat nie in ’n morele samelewing verhandel behoort te word nie, wel verhandel.

Sandel verwys na die eenvoudige praktyk van die verkoop van verjaarsdagwense, huwelikswense en ander uiters persoonlike boodskappe op die internet. Die boodskappe word op aanvraag spesiaal vir jou geskryf en jy betaal vir ’n unieke boodskap. Hoe koop jy ‘n boodskap vir jou man, vrou of vriend op die internet en maak asof jy dit self geskryf het? Sou die vryemark dus hierdie funksies begin vervul en mense toenemend probeer om liefde, vriendskap en selfs sukses (kyk maar na die universiteitsgrade wat deesdae op die internet gekoop kan word) te koop sou die vryemark dus ‘n bydrae lewer tot die morele verval van die samelewing.

Die ander punt waarna hy verwys – spesifiek dié dinge wat gekoop kan word, maar nie gekoop behoort te word nie – handel net so sterk met die morele vraagstuk. Wie van ons het nog nooit by ’n kermis gewerk om geld vir ons kerk in te samel of plastiese wasgoedpennetjies of blombolle verkoop om geld vir ons kinders se skool in te samel nie? Deesdae word baie van hierdie funksies egter uitgekontrakteer. Gemeentes het nie meer tyd om kermisse te reël nie, maar kry eerder ’n funksieorganiseerder wat teen ’n fooi ‘n musiekkonsert reël om geld vir die kerk in te samel. Kinders kry by baie skole deesdae kommissie op fondse wat hulle vir die skool insamel. Die rede agter dit alles is die vermoede dat die mark oor die vermoë beskik om hierdie funksies meer effektief uit te voer.

Sandel bewys egter die teendeel in sy boek met verskeie verwysings na studies wat hieroor gedoen is. Een voorbeeld is ’n studie onder mense wat vir ‘n goeie saak fondse moes werf. Die mense is in drie groepe ingedeel en sonder dat hulle geweet het, het die drie groepe met verskillende reëls gewerk. Die eerste groep het geen vergoeding ontvang vir die fondse wat hulle moes werf nie en het suiwer op die ‘goeie saak’ gefokus. Die tweede groep het 1% kommissie ontvang en die tweede groep 10% kommissie. Die groep wat slegs een oortuiging, die goeie saak, gehad het, het die grootste sukses behaal.

In ’n tyd van morele verval is daar en moet daar steeds ruimte wees vir goeie morele dade. Dinge wat uit die hart uit kom. Goeie dinge wat ons doen omdat ons dit wil en kan doen en nie omdat ons dit moet doen nie. Terwyl die vryemark baie voordele vir ons teweeg gebring het, mag ons nooit toelaat dat dit tot die vernietiging van ons morele basis aanleiding gee nie.

 

*Hierdie artikel het aanvanklik op die webblad van die Afrikaanse Protestantse Kerk verskyn. www.apk.co.za

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*