04 Julie 2018 ~ 2 Kommentare

Die mediese dilemma

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

In Suid-Afrika, so wil dit voorkom, het jy twee keuses as jy ernstig siek is: of jy gaan dood in ʼn staatshospitaal, of jy gaan bankrot in ʼn privaathospitaal. Ons sit met ʼn tweeklasse-medies: swak, basiese maar gratis gesondheidsorg deur die staat, wat beter is as niks nie maar wat gerig is op die behoeftes van die Derde Wêreld en wat ook toenemend verswak, en state of the art privaatmedies, met hospitale wat lyk soos 5sterhotelle en nog meer as sulkes per nag kos. Laasgenoemde word moontlik gemaak deur mediese skemas met hulle verwarrende hoeveelheid opsies en tariewe. Feit is dat, as jy en jou gesin ten volle medies gedek wil word, dan moet jy ʼn groot deel van jou salaris opdok, iets wat min gemiddelde mense kan doen. Daar is altyd weer nuwe skemas wat die dilemma probeer oplos en wat met heelwat laer premies kliente lok, maar die fynskrif sluit dikwels dit wat werklik nodig is uit.

In Orania is seker die grootste behoefte, volgens die inwoners, medies. Verkieslik ʼn hospitaal met spesialiste, maar ten minste ʼn voltydse dokter met sy praktyk. Die onvoldoende mediese dienste is waarskynlik die grootste enkele rede dat mense weer wegtrek en ander nooit kom nie. Ons sit egter met ʼn hoender-eier situasie. ʼn Mens kan nie ʼn privaathospitaal vir miljoene der miljoene bou vir minder as 2000 mense nie, waarvan ʼn groot deel dit in elk geval nie kan bekostig nie. ʼn Hospitaal net vir Orania-inwoners is nie op hierdie stadium haalbaar nie. Dan praat ons nog nie eers van die wetgewing nie, wat liefs alles rondom medies in die staat se hande wil plaas. Self net ʼn voltydse dokter vir Orania kon nog nie volhoubaar gevestig word nie, om die eenvoudige rede dat die getalle (veral die wat private medies kan bekostig) nog te min is. Tans is hier darem ʼn homeopaat met sy privaatpraktyk, ʼn gratis kliniek met ʼn besoekende dokter wat verskeie kere per week oop is, en ʼn suster met haar eie privaatpraktyk. Medisyne kan per aflewering daagliks gekry word. ’n Staatshospitaal en twee goeie dokters is in Hopetown, sowat ʼn halfuur se ry, en alle ander mediese geriewe is in Kimberley, ʼn uur en ʼn half se ry.

Dit is seker nou nie ʼn troos nie, maar Orania en Suid-Afrika se mediese probleme moet in perspektief gestel word: mense is orals in die wêreld ontevrede met medies, en hoe meer hulle ontvang, hoe groter raak hulle behoeftes. Selfs in Eerste Wêreldlande is mense dikwels kwaad oor die mediese geriewe: die staatsmedies is nie goed genoeg nie, die privaatmedies is te duur en daar is altyd klagtes oor ʼn “tweeklasse-medies”. Dink maar aan die VSA en die hele debakel rondom Obamacare, om van vorige en toekomstige pogings nie eens te praat nie. Ook in ander Westerse lande is dit ʼn gedurige twisappel.

Die feit bly staan dat medies nie net privaat gedoen kan word nie, want dan raak gesondheid ʼn klassekwessie. Dokters het ook ʼn eed tot hulp afgelê en kan nie iemand laat doodgaan omdat die beursie leeg is nie. Net so min is enige staat, nie eers die mees voorspoedige Westerse welsynstaat, in die posisie om die hoogste gehalte medies vir almal te voorsien nie. Hoeveel minder dan nog Suid-Afrika met sy smal basis belastingbetalers en sy hordes armes. Van dokters kan ook nie verwag word om jarelang ten duurste te studeer, om dan teen ʼn hongerloon hulle lewens in gevaar te stel in swak toegeruste staatsklinieke en -hospitale nie.

Feit is ook dat Suid-Afrikaners oor die algemeen talle siektes het. Van dit is oorerflike, kroniese siektes waaraan jy niks kan doen nie, of dit is as gevolg van ongelukke. ʼn Groot deel is egter ook te wyte aan swak leefstylpatrone wat alombekend is maar nog steeds voortgesit word: te veel suiker, te veel alkohol, rook, stres, te veel sit voor die rekenaar of in die motor, te veel rooivleis en stysel, alles doodgekook en doodgebraai, te min vars groente, vrugte en natuurlike voedsel en te min stap en oefening. Natuurlik kan ʼn gesonde leefstyl jou nie van alle siektes bewaar nie, maar dit help. Die wat kla oor onvoldoende mediese dienste (orals in die wêreld) kan solank by hulleself begin en daarmee help om die druk op mediese dienste te verlig. Mediese fondse het maar hulle beperkinge en is net nie vir almal bekostigbaar nie, maar almal behoort iets vir medies weg te sit, selfs die heel armes. Dit is goeie advies om ʼn aparte spaarrekening vir mediese uitgawes te skep waarin die werkgewer ʼn deel van die salaris betaal. In Orania word dit toenemend gedoen en dit skep meer stabiliteit.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Die mediese dilemma”

  1. Willem Fourie 5 Julie 2018 at 01:15 Permalink

    Geagte leser,
    Al word daar besluit dat die belastingbetaler mediesesorg ondersteun, beteken dit nie dat die amptenary die diens moet lewer nie.

    Burokrasië het hulleself wêreldwyd hopeloos onbevoeg en korrup bewys. Dis beter dat mededingende, privaat klinieke die dienste verskaf (en die staatsbetaling aanvaar), sodat die pasiënt die keuse van kliniek het.

    Verder verminder dit die duur vlakke van amptenare bokant die hospitale, wat net tot die koste bydra en produktiwiteit doodsmoor.

    Mooi loop

  2. Pieter van Niekerk 9 Julie 2018 at 15:30 Permalink

    Ek en my seun bespreek onlangs die mediese sorg (of gebrek daaraan) in Suid-Afrika. Ek skets toe die volgende waarskynlike scenario oor 34 jaar wanneer hy my ouderdom is:

    Die kardioloog gee hom die slegte nuus dat hy dringend ‘n hartomleiding nodig het.

    Kardioloog: Mnr Van Niekerk, ongelukkig is die eerste opening vir dié prosedure presies 5 jaar in die toekoms.

    Seun: In die oggend of die namiddag, dokter?

    Kardioloog: Hoekom wil jy weet?

    Seun: In die namiddag het ek reeds ‘n afspraak vir die verwydering van my verstandtande wat my alle hel gee.


Lewer Kommentaar

*