31 Julie 2013 ~ 13 Kommentare

Die Mandela-saga

Geskryf deur Quintin Diederichs

Orania Beweging-president, mnr Carel Boshoff, het op 2 Julie ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy genoem het dat die organisasie “met spyt en meelewing” kennis neem van mnr Mandela se toestand en sy simpatie met dié oudpresident van Suid-Afrika se familie en bewonderaars uitgespreek.

Mnr Boshoff se woorde was nog nie koud nie, toe begin die kritiek soos Agincourt se pyle toesak op hom en die Orania Beweging. Vuurwarm debatte is dieselfde dag nog ontketen op blogs en Facebookblaaie. Verkramptes en verligtes kon nie hul kontrasterende standpunte hard genoeg in mekaar se kele afwurg nie.

Ons weet darem nou ten minste dat die Orania Beweging se mediaverklarings deur heelwat mense gelees word. Ek weet nie van julle nie, maar daar is nogal baie ongerepte mediaverklarings van tientalle een-man-een-faksmasjien-organisasies in my Outlook se asblik. Orania Beweging is in my boekie een van ’n handjievol  organisasies wat darem leeswaardige nuusbriewe en verklarings uitreik.

Terug na die punt. ’n Paar dae voordat die mediaverklaring uitgereik is, het Orania ’n groot toestroming van joernaliste beleef. Spanne van onder andere Nederland, Frankryk en ja, selfs die SAUK, het hul kameras en mikrofone in Oraniërs se gesigte kom druk om te hoor wat ons van hul sterwende held dink.

Ek het nog half grappenderwys vir die Franse nuusman gevra of hy en sy kameraman verveeld geraak het om dag in dag uit tussen al die blomme by die hospitaal te sit en wag vir ’n storie en toe maar besluit het om ’n scoop te kom soek in Orania. “Oui, monsieur” was sy reguit antwoord. Nou ja, daar het julle dit uit die perd se bek uit.

Sien, hulle base soek ’n nuwe sensasionele storie want daar is duidelik nog nie genoeg stokke om die Afrikaner mee te slaan nie. Is ons in hul oë dan regtig niks meer as ’n klomp verkrampte rassiste nie?

Hulle wil hoor hoe ons vir Mandela haat. Hoe min simpatie ons met sy toestand het en presies hoe graag ons van hom ontslae wil raak. Hulle kan dit dan netjies verpak in hul 3 minute-nuusbulletins en vir miljoene kykers oor die wêreld heen gaan wys hoe die agterlike Mandela-hatermuishonde lyk en waar hulle wegkruip vir alles wat swart en mooi is.

Toe vang ons hulle met ’n slap riem.

Ons haat nie vir Mandela nie. Ons het simpatie met sy toestand en wil nie van hom ontslae raak nie. Ons weet waar hy vandaan kom en dat hy standpunt ingeneem het vir sy mense se vryheid. Ons verstaan dit, want ons wil ook vryheid vir ons mense hê.

So min as wat Mandela geneë was om te aanvaar dat die Afrikaner oor hom en sy mense regeer, so min wil ons deur die Xhosa of die Zulu regeer word. Nie omdat ons mekaar haat nie, eerder omdat ons ons eie beter verstaan as wat die ander doen, en ons onsself binne konteks van ons onderskeie kulture meer doeltreffend kan bestuur as wat ander kan.

Orania gebruik toe die geleentheid wat die wêreld se media ons bied om ons strewe opnuut te bevestig. Insgelyks plaas ons hul internasionale gehoor voor ’n baie belangrike vraagstuk: as die mense van Orania besig is om iets vir hul mense te bewerkstellig dieselfde as wat Mandela vir sy mense bewerkstellig het, hoe kan hulle dan verkeerd wees? Dit was ’n meesterskuif deur Carel Boshoff en sy gepaardgaande verduideliking het ook bietjie nugterheid gebring aan weerskante van die politieke spektrum.

So, tree ons kritici regverdig op deur ons nou joiners te noem?

Allermins. Dit is so onbenullig om Nelson Mandela as niks anders as ’n terroris te beskou nie as wat dit sou wees om vir Jan Smuts uitsluitlik as ’n dapper vryheidsvegter van die Boerevolk te vereer. Ja, Mandela was ’n terroris en ja, Smuts was ’n bittereinder-Boeregeneraal. Dit kan sekerlik nie die enigste etikette wees wat ons om hulle nekke kan hang nie.

Ek onthou nog die dag toe Mandela vrygelaat is. Ons hele gesin het in Ouma-hulle se sitkamer gesit en die spektakel op TV1 aanskou. Een van my ooms, ’n ware heethoof, het aangegaan oor hoe ons nóú moet voorberei vir oorlog. My wyle oupa, ’n afgetrede brigadier, het as jongman ’n Spitfire by El Alamein gevlieg. Hy het baie oorloë in sy tyd gesien. Met ’n paar ferm woorde het hy my oom stilgemaak.

As 9-jarige seun kon ek nie verstaan waarom my oupa dan nie ook bang is vir die terroris-monster op die skerm nie. Mandela is dan ’n kommunis en kommuniste gaan die wêreld verwoes!

22 jaar later weet ek dat my oupa reg was. Mandela het toe nie probeer om ons volk uit te wis nie. Alles behalwe.  Terwyl derduisende Afrikaners nog met spense vol 1993-gedateerde blikkieskos opgeskeep sit, het hy en tannie Betsie Verwoerd tee gedrink in Orania. Vergelyk tog net appels met appels.

Hy het op ’n slag sy opinie oor die Afrikaner uitgespreek. Volgens Mandela is “Afrikaners goeie mense wat deur hul leiers verraai is”. Dis nou wel oop vir interpretasie, maar ek glo dat selfs die mees vêrregse volksgenoot onder ons met hierdie stelling sal saamstem.

‘n Mens kan natuurlik argumenteer dat Mandela na sy vrylating goeie bedoelings gehad het, maar in die proses Pandora se boks onwillekeurig oopgemaak het. Hy het dan self erken dat hy nooit kon dink dat soveel van sy mense hul vryheid só gruwelik gaan misbruik nadat hulle dit uiteindelik bekom het nie.

Miskien ’n waardevolle les vir ons nuwe geslag Afrikaners wat vandag besig is om ons vryheid te herstel.

Deel/Stuur

13 Reaksies op “Die Mandela-saga”

  1. Ernie Langner 31 Julie 2013 at 12:29 Permalink

    Goeie Skrywe Quintin
    Mandela is wêreldwyd ‘n ikoon a.g.v. sy verpersoonliking van vergewensgesindheid en versoening (of ‘n mens nou daarmee saamstem of nie, dit is ‘n realiteit!).
    Om nou, op ‘n brose stadium in ons strewe na vryheid en erkenning, ‘n verharde houding teenoor hierdie persepsie in te neem, sal beslis net die regte skietgoed aan die plaaslike- en wêreldmedia verskaf.
    Dit is eerder tot ons voordeel as ons, as Christene en Afrikaners, ook vir die wêreld wys dat vergewensgesindheid en versoening deel van ons kultuur is. Dit maak nie van ons minder Afrikaner nie en beslis ook nie minder geregtig op vryheid om oor onsself te besluit nie!

  2. Anthony Schlemmer 31 Julie 2013 at 15:08 Permalink

    Ek kan ook nie fout sien daarmee om Mandela (wat ‘n baie gematigde leier was) sterkte toe te wens met beterskap tydens siekte nie. Dit is die ordentlike ding om te doen.

    Ongelukkig is Mandela deel van gister en dus die geskiedenis. Hy sal geen invloed he op wat in die jare wat vir ons voorle, gaan gebeur nie.

  3. Sebastiaan 5 Augustus 2013 at 11:23 Permalink

    Puik, Quintin,

    jy verstaan hoe werk die wereldmedia se koppe, iets wat talle van ons kritici nie verstaan nie want hulle lees nie internasionale media nie.
    Natuurlik is Mandela nie ons held nie en staan hy vir die verkeerde idee uit ons oogpunt, naamlik n swart beheerde, kwasi-sosialistiese Suid-Afrika wat homself met linkse regimes en die derde wereld vereenselwig. Om egter aan Mandela se beeld te krap is n onbegonne taak en voeg net jouself en diegene wat jy verteenwoordig net skade toe. Om te dink dat sekere groepe Mandela se internasionale beeld kan skade berokken deur te verwys na sy verlede as terroris en sy bande met die SAKP is soos om n tsunami met n sandkasteel te wil keer. Soos Anthony Schlemmer te reg se, Mandela is verlede, ons is lankal besig met die toekoms, net die joernaliste, wat kamstig so progressief is, is vasgevang in n lang vergane era. Die verregses huil oor die goue era van blanke baaskap, die linkses oor die reenboog-wonderland van rasseharmonie, maar ons kyk die werklikheid in die oe en werk vir vryheid in ons tyd.

    • Quintin Diederichs 5 Augustus 2013 at 12:35 Permalink

      Presies! Soet is die stryd vir die stryder… ons moet ook net onthou dat die oorwinning selfs soeter as die stryd gaan wees. Om hierdie stryd te wen, gaan ons geduld, uithouvermoe en intelligensie tot die uiterste getoets word.

  4. tulp 8 Augustus 2013 at 19:00 Permalink

    Goed stukje, Quintin. Bedankt! Wij zijn er blij mee. Ook nog hartelijke dank aan Carel Boshoff met zijn rustgevende en evenwichtige presentatie en antwoord aan de wereld m.b.t. Nelson Mandela. Wij wensen Mandela alle goeds toe.

  5. Andries Maritz, New Zealand 3 September 2013 at 01:24 Permalink

    Geluk aan Carel & Quintin,

    Julle demonstreer en leef dit wat nodig is om voortgesette sukses te bewerkstellig en ek stem saam met Tulp.

    Groetnis & sterkte,
    Andries.

  6. André van Vuuren 3 September 2013 at 09:29 Permalink

    Dit was verseker insiggewend om seker die reaksie te kon waarneem en te besef, oeps ,hier is baie baie meer mense wat lees en bewus is van aktiwieteite in en rondom Orania.
    Ek voeg my stem hartlik by Andries daar in ver New Zealand.

    Seëngroete,

    André

  7. Lieb du Plessis 7 September 2013 at 12:52 Permalink

    Dit het tyd geword dat ons die aangesig van die Here soek, laag buig en ons verootmoedig, hy se in sy woord as ons Hom eer die reen op sy tyd sal wees en ons land voorspoedig sal wees.GROETNIS.

    • Quintin Diederichs 9 September 2013 at 07:56 Permalink

      Dit het tyd geword dat sommige mense ophou om vir almal te preek dat ons die aangesig van die Here moet soek, verootmoedig ens. en sorg dat hul eie saak reg is. Diegene wat staan vir die vryheid van ons volk is reeds op ons kniee en hoef nie voor gepreek te word nie.

      Dit het ook tyd geword dat sommige mense begin besef dat ‘n alewige geprekery nie ons vryheid gaan herstel nie. Slegs moue oprol en inklim gaan ‘n verskil maak! Volg ons voorbeeld.

      • Anthony Schlemmer 12 September 2013 at 09:09 Permalink

        Ek het ook agtergekom dat hoe harder ek werk, hoe meer het my gebede my in my eie lewe gehelp. So, harder werk Volkstaters, nie harder bid!

        • rsapeace 15 September 2013 at 19:06 Permalink

          Amen 😉

        • Quintin Diederichs 16 September 2013 at 13:31 Permalink

          Ek stem saam Anthony – bid om te vra, doen dan waarvoor mens deur gebed gevra het en bid weer om dankie te se wanneer jy dit ontvang het.

          Daar is nou nog mense wat tot vervelens toe bid vir “ons land” en “ons regering”, maar hulle sal die eerstes wees wat hul wenkbroue lig as iemand vir ons volk durf bid. Daar is te veel bidders wie se prioriteite verkeerd is en te min doeners wat werklik verstaan wat gedoen moet word.

  8. rsapeace 15 September 2013 at 17:27 Permalink

    Great post, and compliments to all of you in Orania for self-determination, however you ask the question “Is ons in hul oë dan regtig niks meer as ’n klomp verkrampte rassiste nie?” in the eyes of most foreign people the answer is YES and unfortunately part of this is your own fault. How would you expect people to react if a delegation of Buitelandse vriende van Orania visit 3 right wing political party’s in Europe.
    In my opinion they should try and get empathy from any party except the right wing.


Lewer Kommentaar

*