01 Junie 2018 ~ 4 Kommentare

Die kassandrakompleks en ‘n volk se oorlewing

Geskryf deur Pieter Krige

Kassandra, vanuit die Griekse mitologie, was ‘n jong vrou wat as gevolg van haar vervloeking deur Apollos tot waansin gedryf is. Die verhaal is kortliks soos volg: Apollos het toenadering by haar gesoek en in sy poging het hy aan haar die gawe van profesie gebied. Sy het dit ontvang, sy toenadering geweier, en in sy woede het hy in haar mond gespoeg om haar te vervloek. Die vloek het behels dat sy steeds die profesieë sal ontvang, dat dit waar sal wees en waar sal word, maar dat geen enkele mens haar sal glo nie. Hieruit het die term “Kassandrakompleks” ontwikkel. Die Kassandrakompleks word soos volg definieer: Die psigologiese verskynsel waarbinne ‘n individu (of groep) se akkurate voorspelling van ‘n krisis geïgnoreer of verontagsaam word. In Kassandra se geval het dit nie bloot tot frustrasie gelei nie, maar tot waansin.

In Jesaja 6 vind ons iets hiervan: “En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.”

Ek gaan nou profesie wyer definieer as die engere definisie van die bo-natuurlike insig in toekomsgebeure, eerder binne die rasionele bepaling van moontlike uitkomste gebaseer op die empiriese uitkomste na afloop van soortgelyke historiese gebeure.

Ek vermoed bitter min van diegene wat ‘n bepaalde krisis in Suid-Afrika en in besonder vir die Afrikaner in die nabye toekoms bespeur, sal op bo-natuurlike insigte aanspraak maak. Dit is veel eerder ‘n rasionele vertolking van omstandighede en ‘n spektrum van moontlike uitkomste wat op ‘n potensiële toekomstige krisis dui, of ‘n aantal moontlike krisisse. Ek dink ons is, in ‘n sekere sin, alreeds in die eerste bedryf van so ‘n teatrale tragedie wat op die Suid-Afrikaanse verhoog afspeel en ek hoor die gefrustreerde roepstemme: “Sien, ons het julle gesê.”

Terugskouend kon ons waarskynlik heelwat dinge anders aangepak het. Ons het egter nie hierdie tipe luuksheid om historiese werklikhede te wysig nie, miskien net die oorvertel daarvan aan te pas om ‘n bepaalde narratief te ondersteun, maar die fisiese gebeure, is onveranderlik en onveranderbaar. Een feit is dat wat Merriman, destydse premier van die Kaapkolonie, ‘n eeu gelede gesê het iets van Kassandra ook bevat het waar hy aan Smuts geskryf het in sake die stemgeregtigheid van alle volke in Suid-Afrika. Hy gebruik die term “Bou op ‘n vulkaan.” Hoe reg was hy nie gewees nie? Hierdie vulkaan het egter nie vinnig uitgebars nie, maar opgebou en opgebou, tot ‘n poging tot verligting met Afsonderlike Ontwikkeling, wat met die toepassing daarvan die saak dalk verder op ‘n spits gedryf het, om uiteindelik ‘n mate van ontknoping in 1994 te beleef. Dit beskou ek vanuit ‘n breër Suid-Afrikaanse konteks, en nie Afrikanersentries nie. Die Afrikaner het ‘n ander krisis binne hierdie ontknoping sien kom, die krisis van ‘n volk se oorlewing.

Dit is midde hierdie profesie dat Orania se grondleggers insig tot praktyk laat oorgaan het en Proff Carel se woorde eggo, selfs verder as die aankoop en oprigting binne Orania, maar tot 27 Februarie 2018 in die Suid-Afrikaanse parlement. “Die grondvraag is die grondvraag.” Die vraag na grond, die antwoord op die vraag na grond, is die grondliggende en fundamentele vraagstuk in Suid-Afrika, nie stemgeregtigheid nie, maar grond.

Profetiese woorde, woorde van die oorlewing van ‘n volk, wat immers grond nodig het om te oorleef, woorde wat oproep tot konsentrasie, konsentrasie ter wille van veiligheid, konsentrasie ter wille van kultuur, konsentrasie ter wille van taal.

Ek dink Orania het die toekoms gesien, en in hierdie toekoms het ons ‘n plek van ons eie nodig… maar ek dink die Apollos van hierdie tyd,  het in Oraniërs en Volkstaters se mond kom spoeg.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Die kassandrakompleks en ‘n volk se oorlewing”

  1. Gerhard 3 Junie 2018 at 11:53 Permalink

    Dankie Pieter

    Jy beskryf n komplekse situasie uit die verlede maar ook komplekse vraagstukke soos natuurlik die grondvraagstuk. Ek vat dit selfs verder met ander vraagstukke en toekomstige probleme wat kan opduik in die toekoms. In so n kort skrywe kan ek natuurlik nie by alles uitkom nie, maar dit wissel van politiek – selfs internasionale politiek tot ekonomiese kragte.

    Een van hierdie komplekse vraagstukke is bv. die “Orania-mentaliteit”. Hoe kry n mens dit reg om hierdie mentaliteit by die groter Afrikaner gemeenskap – selfs buite die grense waar Afrikaners woon soos bv. Namibia – tuis te bring. Joodse Zionism is bv. as sulks nie net n beweging vir Jode wat in Israel woon nie. In ons geval dus nie net Orania nie maar Afrikaners in Suid-Afrika en selfs die buurlande.

  2. Gerhard 3 Junie 2018 at 12:06 Permalink

    So van die Joodse Zioniste gepraat. Ek vind die geskiedenis van hierdie beweging en selfs die van vroee pogings in die 19de eeu interesant. Sommige van hierdie pogings was suksesvol ander nie. Daar was gevalle waar ryk Jode n rol gespeel het om Jode na Israel te bring.Ek lees ook hoe Theodor Herzl en sy mense nasionale Joodse fonse tot stand gebring het. Kom ons wees nou maar eerlik. Ons het baie kapitaal nodig want om n stadstaat en later voledige self-beskikking is nie kinderspeletjies nie. Selfs n paar Biljoen rand gaan nie genoeg wees nie.

    Raak dit nie binnekort weer tyd vir n groot konferensie nie? Maar die die Joodse storie is natuurlik nie ons storie nie. Ons het ons eie storie.

  3. Gerhard 3 Junie 2018 at 12:26 Permalink

    Jammer ook vir die tikfoute en onvolledig sinne.

  4. Dr Andries Maritz 5 Junie 2018 at 09:12 Permalink

    Dag Pieter,

    Dankie en jou mooi, insiggewende skrywe, metodiek en aanslag, ek het dit geniet en vind dit van waarde.

    In die mond gespoeg, inderdaad en in aansluiting: ‘N profeet word selde in sy eie land waardeer….

    Weereens alle voorspoed en dankie vir wat op Orania gedoen, beplan en nog bereik sal word.

    Opregte wense en groete,
    Andries.


Lewer Kommentaar

*