12 April 2012 ~ 1 Kommentaar

Die huidige toedrag van sake vir minderhede in die wêreld

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Minderheidseise en minderheidspolitiek is een van die brandende vraagstukke van ons tyd. Die onderdrukking van minderhede en hulle weerstand daarteen en stryd vir selfbeskikking kom orals oor die wêreld heen voor, maar die aard en omvang daarvan verskil drasties van land tot land en streek tot streek.

Net soos met die geval van “vryheid” en “demokrasie” is “minderheid” egter een van die begrippe wat verskillende dinge vir verskillende mense beteken en wat heeltemal verskillend benader word, afhangende van ‘n ideologiese paradigma of ‘n land of streek se tradisies en geskiedenis.

Tipes minderhede

Om die huidige situasie van minderhede te verstaan is ‘n holistiese kyk oor die wêreld heen nodig. As Afrikaners en Oraniërs verstaan ons die term minderheid baie goed. Die siening van minderheid wat óns huldig is dié van ‘n etniese minderheid, ‘n groep wat ‘n eie taal, kultuur, godsdiens, geskiedenis en tradisie het, wat oor kleiner getalle beskik en polities ontmagtig is teenoor die meerderheid wat die land beheer waarin die betrokke minderheid leef. Die meeste minderhede in die wêreld definieer hulleself so en vir die doeleindes van hierdie artikel is dit die soort minderhede waarop ons wil fokus.

Ons sien onsself eerder as ‘n volk pleks van ‘n minderheid, want die term minderheid het die klank van selfopgelegde nederigheid en om met minder tevrede te wees as wat die meerderheid toekom. Internasionaal is dit egter so dat minderhede omlyn en omskryf is en erkenning en beskerming geniet deur demokrasieë en internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en die Europese Unie (EU) (ten minste in teorie), terwyl die term volk in sekere tale nie eens bestaan nie (byvoorbeeld Engels) of sinoniem met ‘n staat is. Vir die doeleindes van hierdie stuk word die term volk die beste met etniese minderheid weergegee. Natuurlik bestaan daar ook meerderheidsvolke, of “staatsvolke”, maar die klem lê hier op die minderheidsvolke en hulle lot binne ‘n staat wat deur ander groepe of volke beheer word.

Etniese minderhede het dikwels, maar nie altyd nie, iewers ‘n etniese moederland wat hulle toestand as minderheid in ‘n ander land meer draaglik maak, omdat die moederland vir hulle belange opkom en hulle kulturele tuiste is. In party gevalle is die bevolking binne die moederland selfs geringer as dié van diegene wat as minderhede oor ander lande versprei is. Voorbeelde is daar baie.  ‘n Bekende een is die Jode met hulle moederland Israel, maar ‘n wêreldwye verspreiding oor alle vastelande. Ook die Armeniërs is so ‘n groep, met meer Armeniërs buite die staat Armenië as daarbinne . Dit is ook belangrik om daarop te let dat minderhede nie dieselfde is as gaswerkers of “expatriats” nie. ‘n Etniese minderheid binne ‘n land het ‘n historiese aanspraak om daar te wees (wat nie verhoed dat teen hulle gediskrimineer word nie) en woon gewoonlik al geslagte lank in die land. Gaswerkers is veronderstel om net vir ‘n tyd in ‘n ander land te woon en werk en dan, na voltooiing van hulle werk, na hul land van oorsprong terug te keer. Tyd is dus die bepalende faktor. Omdat die verskyning van gaswerkers eers relatief onlangs ‘n wêreldwye verskynsel geword het, sal gesien moet word in watter mate gaswerkers later in etniese minderhede ontwikkel. Dit begin gewoonlik met die tweede en derde generasie waar gaswerkers in ‘n permanente etniese minderheid verander. In Suid-Afrika is die Indiërs (en dalk vorentoe weer die Sjinese) ’n voorbeeld.  In Duitsland begin die Turke en in Frankryk die Arabiere al hoe meer ‘n permanente minderheid vorm soos wat voormalige gaswerkers na aftrede in die gasland aanbly en hul kinders hulle ouers se land van herkoms net van vakansies ken.

Daar is egter ook etniese minderhede wat nie oor ‘n moederland beskik nie, soos die Afrikaner of die Koerde in die Midde-Ooste. Die Jode was ook so ‘n volk, maar kon vir hulle ‘n moederland verkry, so ook talle ander etniese minderhede sedert die val van die ystergordyn. Afskeidingspogings word veral gevoer deur staatlose minderhede, en die regerings van die state wat minderhede bevat, is gewoonlik uiters onverdraagsaam en onderdrukkend teenoor sulke minderhede. Die stryd van staatlose minderhede vir ‘n eie staat word gewoonlik bevoordeel as hulle iewers gekonsentreerd woon en dus ‘n mate van feitelike beheer het, of as hulle historiese aansprake op staatskap het. Die onafhanklikwording van die Baltiese state Estland, Letland en Litoue is aangehelp deur die feit dat hulle voor die Tweede Wêreldoorlog vir ‘n ruk onafhanklik was, asook dat hulle in ‘n realtiewe klein geografiese gebied gekonsentreerd is en die meerderheid daar het.

‘n Verdere variasie op etniese minderhede is dié van inheemse volke (indigenous people), wat gewoonlik nog op ‘n premoderne samelewingsvlak bestaan en nie die konsep van staatskap geken het of na strewe nie. Hulle strewe is eerder om ‘n groot mate van tradisionele bestaan te handhaaf of, waar die tradisionele bestaan reeds aangetas en bedreig is, om na ‘n premoderne bestaan terug te keer. Laasgenoemde is in praktyk ongelukkig dikwels onmoontlik. Ons praat hier van inheemse volke soos die Indiane en Inuit (Eskimo’s), of die Aborigines, en, nader aan die huis, die San (oftewel Boesmans). Hulle word bevoordeel deur ‘n mate van ‘n skuldgevoel deur die meerderheidsvolke (ten minste in Australië en Noord-Amerika), waar die inheemse volke probeer kompenseer vir vergrype in die verlede deur dele van hul tradisionele stamgebiede aan hulle terug te gee en hulle met staatsfondse probeer onderhou. Die maatreëls werk ongelukkig teen mekaar. ‘n Eie grondgebied moedig selfstandigheid aan, staatlike fondse ontmoedig dit en is gewoonlik die sterker trekkrag en laat inheemse volke verder agteruitgaan.

In die lande van die ontwikkelende wêreld (sogenaamde Derde Wêreld) geniet inheemse volke ongelukkig nie die staatsondersteuning, beskerming en kompensasie wat hulle in Noord-Amerika of Australië geniet nie. Brasilië het eers realtief onlangs begin om aandag te gee aan die eise van die Indiane van die Amasone-oerwoud (en op grondvlak word hulle nog steeds as ongewens hanteer).  In ander lande soos Peru word hulle nog steeds as lastig en in die pad van ontwikkeling beskou. In Afrika lyk dit twyfelagtig of die San van die Kalahari of die Pigmië van die Kongo-reënwoude die aanslag van óf regerings se materiële belange, óf van sterker volke se grondhonger sal oorleef. Soortgelyk is die situasie vir inheemse, premoderne volke in die reënwoude van Suidoos-Asië, byvoorbeeld die Batak in Indonesië.

Laastens is daar ook ‘n meer liberale siening van minderhede as groepe wat tradisioneel buite die hoofstroom van mag en invloed staan en waarteen op die een of ander tydstip gediskrimineer is en wat as histories benadeel beskou word (of waar die persepsie daar rondom bestaan). Om daarvoor te vergoed word hulle vandag in veral Westerse state deur wette bevoordeel, byvoorbeeld wat betref toegang tot behuising, fondse en opleiding. Hier word verwys na die Negers in Amerika, homoseksuele, mense met fisiese gestremdhede, en selfs vroue (alhoewel laasgenoemde getallegewys feitlik in elke land ‘n meerderheid verteenwoordig). Dit is egter interessant dat hierdie sogenaamde minderhede gewoonlik net een kenmerk het wat hulle van die sogenaamde hoofstroom onderskei (waarby natuurlik gevra kan word of in Westerse, liberale samelewings nog iets soos die hoofstroom bestaan) en nie, soos ‘n etniese minderheid, oor die hele spektrum benadeel word nie. Homoseksuele mense, byvoorbeeld, se inkomste en opvoedingsvlakke en dus ook geleenthede is dikwels bogemiddeld, en die vraag is waarom hulle dan deur wette kunsmatig bevoordeel moet word.

In sy ekstreme vorm sluit die liberale definisie van minderhede in sekere lande feitlik almal in behalwe heteroseksuele, niegestremde, werkende wit mans. In die VSA kan ‘n mens nog van die histories benadeelde groepe as minderhede praat (Negers is nog ‘n getalleminderheid teenoor wit Amerikaners), maar in Suid-Afrika is die verwysing absurd en het “minderheid” juis weer ‘n negatiewe klank vir die magtiges, naamlik die aandring op spesiale voorregte van voorheen bevoordeeldes.

Uit die aard van hierdie stuk word laasgenomede tipe minderhede buite rekening gelaat omdat dit die definisie van minderhede te vêr vat. Ons konsentreer op etniese minderhede soos verder bo omskryf.

Minderheidseise en minderheidsregte

Die eise van minderhede is uit die aard van die saak baie uiteenlopend. Vir diegene wat oor ‘n moederland beskik, soos die talle nasionale minderhede in byvoorbeeld Oos-Europa, is kulturele selfbeskikking oor eie instellings soos skole en die onbelemmerde gebruik van hulle taal gewoonlik voldoende. Die Verenigde Nasies (VN) se Handves van Menseregte gee erkenning aan talle regte wat ook sentraal staan vir minderhede (soos die vryheid om jou geloof te beoefen, om deel te neem aan die kulturele aktiwiteite van sy gemeenskap, vryheid van politieke deelname en assosiasie, niediskriminasie), alhoewel die aanslag van die Handves individueel is en minderhede nie uitdruklik noem nie. Elke regering behoort daartoe verbind te wees, wat ongelukkig in die praktyk nie die geval is nie.

Veral inheemse volke word uitgesonder vir spesiale beskerming. Die VN het ‘n Permanente Forum vir Inheemse Volke en in 2006 is die Verklaring oor die Regte van Inheemse Volke uitgereik wat onder andere vasstel dat inheemse volke gelykwaardig is met ander volke in wie se lande hulle leef, en die reg het om uniek en anders te wees (as die meerderheidsvolk), hulle identiteit mag uitleef en as sulks gerespekteer moet word. Daar mag nie teen hulle gediskrimineer word nie en die siening dat een volk meerderwaardig is teenoor ‘n ander een, word ten sterkste verwerp. Belangrik is ook die punt dat hulle ‘n reg tot selfbeskikking op plaaslike vlak het. So ver die teorie. Hierdie sterk klem op die regte van inheemse volkere speel wel ‘n rol in die kompensasie vir byvoorbeeld Amerikaanse Indiane, Kanadese Inuit en Australiaanse Aborigines. Ongelukkig het die verklaring teen talle volksmoorde in die Derde Wêreld, soos in Darfur, niks gehelp nie. Die regering van Sudan het feitlik elke punt in die Verklaring oortree en tot volksmoord gepleeg en die VN het nog steeds die uitwissing van die Darfuris beskryf as ‘n soort natuurramp wat onbepland en sonder dat een kant die skuld kan kry, neergedaal het.

Waar minderhede in ‘n gebied gekonsentreer is en nie ‘n moederland het nie, is outonomie gewoonlik die eis, partymaal selfs algehele onafhanklikheid. Hoe groter die onderdrukking van die minderheid deur ‘n regering of meerderheidsvolk, hoe groter die begeerte om die grootste moontlike graad van selfbeskikking te bereik.

Minderheidsvolke wat nie oor ‘n staat beskik wat namens hulle optree nie, is egter nie magteloos nie. Daar bestaan wêreldwye skakeling en solidariteit met mekaar. UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) is ‘n drukgroep om ‘n stem te wees vir diegene wat nie ‘n staat het nie. Dit is van groot betekenis dat die Afrikaners (namens die Vryheidsfront Plus) lede van UNPO is, waar ons saam met ander minderheidsvolke (soos die Tibetane, Uigure, Kurde, Ogoni, Aborigines) aandag op ons marginalisering kan vestig en kan beding vir groter erkenning.

As ‘n mens kyk na die ontwikkeling van minderheidsregte kan gesê word dat daar beslis vordering is, alhoewel ook hier geweldige verskille tussen die onderskeie streke bestaan. Die Verenigde Nasies se talle verklarings en dokumente in dié verband het vir minderhede sonder twyfel ‘n werktuig gegee en maak hulle stryd aanvaarbaar en legitiem.  Maar groter erkenning vir minderhede moet nog steeds deur ‘n stryd binne ‘n staat self bereik word. Suksesse van een minderheidsgroep moedig ander minderheidsgroepe elders aan, maar die weerstand van regerings en hulle ewige vrees dat minderheidserkenning tot “afskeiding, bedreiging van nasionale eenheid en tribalisme” lei, veroorsaak dat geen toegewing maklik bereik word nie en die meeste minderheidsgroepe op die een of ander manier moet stry vir hulle regte. Ons moet egter onthou dat nie elke minderheid se stryd noodwendig edel en billik is nie en dat terrorisme ter wille van selfbeskikking nie goedgekeur kan word nie, soos in die geval van die Palestyne in Israel, die PKK namens die Koerde in Turkye en IRA-splintergroepe in Noord-Ierland. Verset wat onsimpatieke regerings tot die onderhandelingstafel dwing, is noodsaaklik, maar dan moet ‘n minderheidsgroep ook weet waar die grens tussen strategiese druk en sinnelose, vernietigende terrorisme is. Te veel afskuwelike terrorisme in veral die Midde-Ooste word gevoer in die naam van die stryd vir Palestynse selfbeskikking.

Stadig maar seker verbeter die situasie egter wel vir minderhede. Laat ons kyk na die omstandighede in elke streek:

Europa

Van alle vastelande het Europa seker die verste gevorder die wat erkening van minderhede betref. Die toedrag van sake is egter duur gekoop. In al twee wêreldoorloë, en in meer onlangse konflikte rondom die einde van die Koue Oorlog in veral die voormalige Sowjet-Unie en Joegoslawië, het die regte van veral etniese minderhede ‘n rol gespeel.

In Europa word op twee maniere na minderhede gekyk: etnies/taalkundig/godsdienstig, en ook wat betref “alternatiewe lewenstyl” en wat homoseksuele, hippies, Rastafarians en mense met gestremdhede insluit. Vir die doeleinde van ons ondersoek word die fokus op etniese minderhede geplaas. Lande kan verdraagsaam wees teenoor die een groep en onverdraagsaam teenoor die ander een. “Volkstate”, lande wat hulle definieer as state wat aan een volk “behoort”, soos veral in Oos-Europa (Roemenië, Slowakye, Kroasië, Serwië, Bulgarye, Pole, ens) is gewoonlik onverdraagsaam teenoor etniese minderhede binne hulle grense, want die minderhede is volksgenote met mense in ‘n ander “volkstaat” en het weens grensverskuiwings in oorloë skielik in ‘n ander staat beland (byvoorbeeld die Hongaarse minderheid in Roemenië en Slowakye). Regerings vrees nog steeds die drang na heraansluiting by die etniese moederland. Die oorloë in die voormalige Joegoslawië het sterk daar rondom gewentel. Die wêreld se nuutste staat in wording, Kosovo, is ’n etnies- en godsdienstig gemotiveerde afskeiding van Serwië, wat die hulp van die EU en VSA daarvoor gekry het na onderdrukking deur Serwië. Montenegro is ook ‘n nuwe staat wat onlangs uit die Serwiese federasie afgeskei het, nie as gevolg van ‘n oorlog nie, maar na ‘n referendum waar die meerderheid van die bevolking gevoel het dat hulle beter daaran toe is op hulle eie. Dit was moontlik omdat Montenegro reeds ‘n deelstaat was met sy eie regering en sy status self kon verander.

Die posisie van etniese minderhede word egter onderskraag deur aan die een kant hulle etniese moederland, wat vir sy volksgenote se belange in die bres tree, asook die Europese Unie wat die beskerming van minderhede as belangrik ag en die gesogte lidmaatskap van die EU en fondse onder andere daarvan afhanklik maak.

Die konsensus is dat minderhede ten minste die reg het op hul eie instellings in hulle taal, soos skole en waar moontlik universiteite, asook verenigings rondom ‘n etniese minderheid.  Die meeste minderheidsvolke in Europa het ook hul eie verteenwoordiging in die nasionale parlemente en is ‘n stem vir hulle mense se belange.

Wes-Europa, by name Frankryk, en tot onlangs toe ook Groot-Brittanje, het egter ‘n tradisie van ‘n “taalstaat” eerder as ‘n volkstaat en is wel verdraagsaam teenoor “alternatiewe lewenstylminderhede” maar erken nie maklik taalkundige en etniese minderhede nie, want die heersende siening is dat die staat genoeg ruimte vir almal bied met sy verhewe kultuur en etniese minderhede dus besig is met ondermyning. Frankryk erken nie etniese minderhede nie want die siening is dat Frankryk nie ‘n volkstaat nie maar ‘n taal- en kultuurstaat is en almal wat Frans praat en volgens die Franse kultuur leef Franse is, ongeag godsdiens of ras en afkoms.

Groot-Brittanje het eers relatief onlangs groter erkenning, selfs territoriale subsidiariteit aan etniese minderhede soos die Skotte, Noord-Iere en Walliesers gegee. Die lang stryd van die Ierse minderheid binne Noord-Ierland het uitgeloop op ‘n koalisieregering en groter losmaking van Groot-Brittanje. Skotland en Wallis het hul eie streeksparlemente gekry.  Skotland spesifiek het toe ook ‘n groot mate van selfregering bereik.

Spanje het ook relatief onlangs sy sentralistiese benadering verander, sekere toegewings gemaak en selfs outonomie vir etniese minderhede soos die Baske en Katalane gegee. Nog steeds duur die stryd van die Baske vir algehele vryheid voort, ongelukkig deels ook met terrorisme deur die groep ETA. Die Baskiese streekregering het egter op die politieke pad meer en meer selfseggenskap van die sentrale regering afgerokkel.

Die Katalane streef in hulle meerderheid nie na algehele onafhanklikheid nie, maar wel na groter outonomie.  Katalonië het ook sy eie streekregering en het ook invloed op nasionale vlak deur middel van die party PiU wat die Katalane se belange in die koalisiereging verteenwoordig. Die erkenning van die Katalaanse taal in die openbaar speel ook ‘n groot rol.

In Italië moes die Duitssprekende minderheid van die Suid-Tirolers ook lank stry vir groter seggenskap en het intussen selfs ‘n semioutonome streek verkry. Die opwenteling van die lidlande se sentrale gesag na die Europese Unie skep terselfdertyd geleenthede vir afwenteling van mag na streke en provinsies met ‘n ander etniese samestelling. Die Suid-Tirolers moes egter ook by tye teruggryp op verset en sabotasie om aandag te kry. Die feit dat Oostenryk as hulle etniese moederland namens hulle kon optree en met Italië onderhandel het vir groter erkenning, het ook gehelp.

In België het die met die Afrikanernabyverwante Vlaminge reeds ‘n groot mate van selfseggenskap bereik, maar dit ook dit nie sonder ‘n lang stryd teen Franssprekende oorheersing nie. Interessant genoeg, het demokrasie die Vlaminge bevoordeel, want hulle is getallegewys ’n meerderheid.  Hulle is egter vir eeue deur die Franssprekende elite gemarginaliseer (vergelykbaar met Suid-Afrika in die vroeë 20ste eeu, waar die Afrikaners ‘n getallemeerderheid teenoor die Engelse gehad het, maar laasgenoemde die magselite was). Vlaandere het sy eie streekregering en funksioneer reeds in die praktyk soos ‘n eie staat, met die gesamentlike federale Belgiese regering wat weens meningsverskille tussen die deelstate nie behoorlik funksioneer nie.

Skandinawië is die enigste streek in Europa wat oor “inheemse minderhede” beskik, naamlik die Sami in die noorde van Finland, Swede en Noorweë, asook die stamverwante Inuit (oftewel Eskimo’s) in Groenland (geografies deel van Noord-Amerika, maar polities tans nog deel van Denemarke). Die Sami geniet beskerming en kulturele erkenning. In die geval van Groenland, aangehelp deur geografiese skeiding en fiskale uitgawes, het die Deense regering reeds selfbestuur toegestaan met onafhanklikheid in die vooruitsig (vir ‘n volk van omtrent 50 000 mense).

Noord-Amerika

Aangesien die Verenigde State van Amerika (VSA) (en in mindere mate ook Kanada) ‘n land is wat deur diverse immigrasie gevorm is en homself as ‘n smeltkroes sien en ‘n baie inklusiewe patriotisme huldig wat nie aan een etniese groep gekoppel word nie, bestaan daar in die lees van die regering nie iets soos etniese minderhede nie. Die siening word ook aangehelp deur ‘n groot mate van taaleenvormigheid (Engels, maar Spaans wen toenemend veld). Die VSA beskik wel oor, en gee erkenning aan, inheemse minderhede, by name die Indiane. Die Indiane verteenwoordig slegs omtrent 1% van die VSA se bevolking maar het ‘n mate van selfbestuur in hulle reservate en ontvang toelaes van die staat. Die hartseer is egter dat hulle in die reservate nie meer hulle verlore identiteit kan terugvind nie, want as ‘n identiteit eenmaal vernietig is, is dit uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie, om dit weer terug te kry.

Verder beskik Amerika oor ‘n groot verskeidenheid groepe wat as gemarginaliseerde minderhede deur die liberale hoofstroom beskou word, soos die Negers, oftewel Afro-Amerikaners, en die mense van Spaanssprekende herkoms (meesal Mexikane) en waarvoor daar spesiale maatreëls geld om hulle teenoor die wit meerderheid te beskerm en selfs te bevoordeel. “regstellende aksie” met betrekking tot toegang tot opleiding en fondse bestaan in talle state binne die VSA.

In Kanada is minderheidspolitiek ietwat meer relevant omdat Kanada oor ‘n Franssprekende minderheid beskik, wat die meerderheid in die provinsie Quebec vorm. Die Franssprekendes geniet ‘n groot mate van kulturele erkenning (weliswaar na ‘n politieke stryd) en in die provinsie Quebec is Frans die amptelike taal. Quebec het ook sy eie regering met aansienlike magte teenoor die federale Kanadese regering. Quebec het selfs die moontlikheid tot afskeiding, maar twee referendums oor afskeiding van Kanada is naelskraap verwerp. Die belangeparty van die Franssprekendes, die Parti Quebecois, is nasionaal en provinsiaal (deur die Bloc Quebecois) verteenwoordig en het by tye ook die provinsiale regering van Quebec gelei.

Wat die inheemse volke betref, beskik Kanada oor verskeie Indianestamme asook oor die Inuit, hulle inheemse volk in die noordelike dele. Die Indiane word vergelykbaar hanteer as in die VSA en het reservate. ‘n Beweging om hulle identiteit te herwin is aan die gang. Die Inuit het selfs sowat ‘n dekade gelede hul eie semioutonome streek gekry wat uit die Kanadese “Northern Territory” uitgesny is, by name Nunavut. ‘n Mens kan hier van ‘n “Eskimo-volkstaat” praat met ‘n geweldige oppervlakte en yl bevolking. Wat die Inuit gehelp het, anders as met die Indiane, is dat hulle tradisioneel daar woon waar die wit immigrante se belangstelling geëindig het omdat die gebiede ekonomies waardeloos en onherbergsaam is.

Latynsamerika

Latynsamerika pleeg in ‘n mate ‘n voortsetting van die Noord-Amerikaanse smeltkroesidee, want ook hier het die meeste lande ontstaan uit ‘n vermenging van inheemse volke (Indiane) en immigrante (witmense en negerslawe). Brasilië is by uitstek ‘n voorbeeld daarvan, waar ideaal gesproke almal Brasiliane is, ongegag velkleur, aangesien almal een gemeenskaplike taal (Portugees) en kultuur het, volgens die staat se eie vertolking.  Inheemse minderhede speel egter toenemend ‘n rol in Brasilië en die res van Latynsamerika. Die lang gemarginaliseerde Indiane begin hulle regte opeis en het reeds plek-plek erkenning en selfs beskermde gebiede in dele van die Amasone-oerwoud gekry. Die druk van setlaars en ontginners van minerale is egter sterk. Konflik oor stamgronde wat aan die Indiane toegestaan is en waar hulle die reg het om hulle op plaaslike vlak te regeer, maar wat deur setlaars op soek na landbougrond of minerale bedreig word, kom gereeld voor. Die verdediging van die Indiane se regte deur die regering is in praktyk nie so maklik nie, en die wil bestaan ook nie altyd nie.

In Peru het ‘n konflik oor olieontginning in ‘n Indiaanse stamgebied tot bloedige konflik gelei waar Indiane en regeringsmagte slags geraak het. Weens die druk van die wêreldmening is dit egter ten gunste van die Indiane besleg. Die VN se beywering vir inheemse volke help ook.
In sekere lande, waar die Indiane selfs die meerderheid van die bevolking vorm (by name Bolivië) ontstaan tans ‘n etniese herlewing en ‘n Indio-nasionalisme. Inheemse tale en ‘n kultuur begin ontwaak na dekades se assimilasiepogings en politieke onderdrukking. Ook in Guatemala en in die suide van Mexiko begin Indios kultureel ontwaak.
Oor die algemeen speel etniese identiteit egter in Latynsamerika nie so ‘n sterk rol nie weens die sterk vermenging van rasse en die universele taal Spaans (en Portugees in Brasilië).

Afrika

Afrika verkeer al sedert onafhanklik in ‘n ewigdurende spanning tussen sterk etnisiteit (die vasteland beskik oor ‘n magdom stamme en volke wat tradisioneel oor hul eie gebiede beskik het, eie tale spreek en vir hulle lewensruimte moes veg) aan die een kant, en die appel tot nasiebou en die opneem van die nuwe identeit van ‘n kunsmatige staat, aan die ander kant.

Om te definiëer wat minderhede en wat meerderhede is, is in die meeste gevalle moeilik, want in feitlik geen staat (uitsonderings is die “volkstate” Lesotho, Swaziland en Botswana) beskik een volk oor ‘n volstrekte meerderheid, en dus word die mag van die een groep of volk gewoonlik deur middel van korrupsie en militêre mag staande gehou. Eerder as meerderheid en minderheid moet ons praat van heersende en oorheerste volke.

Konflikte tussen etniese groepe is te veel om op te noem. Die langdurigste en dikwels mees gewelddadige konflikte vind egter op kulturele breuklyne tussen rasgroepe plaas. ‘n Lyn van konflik loop suid van die Sahara, waar Arabiese en tradisioneel nomadiese en ??swart volke op mekaar tref. Van land tot land wissel die heersende en die oorheersde groep. In die Sudan het die Arabiere die mag en onderdruk en vermoor die Nilotiese volke (Dinka, Nuer) en die swartmense van Darfur. Een van die ergste volksmoorde, so onlangs soos 2005, het in Darfur plaasgevind, en die volksmoord teen die Suid-Sudanese is ook maar eers baie onlangs na ‘n vredesverdrag afgelas. In Mali is dit weer die nomadiese Tuareg wat die gemarginaliseerde groep is en vir groter regte en selfbeskikking teen die Bambara-oorheerste regering veg. ‘n Vredesooreenkoms is daar in die laat 90er jare bereik, maar die vraagstukke van Tuareg-selfbeskikking bly onopgelos. Te dikwels word etniese konflik nie opgelos nie omdat die bemiddelaars se voorstelle nie verder gaan as ‘n terugkeer na die status quo nie.

In Nigerië vind konflik rondom godsdiens (met etnisiteit wat wel ook ‘n rol speel) en langs die noordsuidverdeling plaas. Gewoonlik is Christelike minderhede (soos die Ibo) in die Moslem- en Haussa-Fulani-oorheersde noorde aan die ontvangkant en loop gereeld deur onder aanvalle en plunderings. In die suidooste van Nigerieë is die volke van die Niger-delta in opstand teen die regering en veg vir groter beheer oor eie sake, oor die olieinkomste en teen marginalisering.

In Oos-Afrika, by name Ruanda, Burundi en in die ooste van die Kongo vind gewelddadige konflik gewoonlik tussen die Hutus en Tutsis plaas, met laasgenoemde as die minderheid wat in 1994 slagoffers van ‘n volksmoord was.  Sedertdien het hulle beheer oor Ruanda geneem. Die ewigdurende konflikte in die Ooste van die Kongo het ook dikwels te doen met Tutsi-marginalisering. In Uganda is daar weer konflik tussen die volke in die suide wat die land se elite is en die volke in die noorde wat afgeskeep word.
Kenia het aan die begin van 2008 ‘n onverwagse en hewige etniese konflik beleef na dispute oor die verkiesingsuitslag. Die regerende KANU-party word oorheers deur die Kikuyu, wat sedert onafhanklikheid die rol van die elitevolk in Kenia speel, terwyl die opposisieparty ODM veral Luo en ander kleiner volke verteenwoordig. In die stamlande van die verskillende volke is etniese aanvalle en etniese suiwering bedryf teen die onderskeie minderheidsgroep. ‘n Magsdelingsooreenkoms kon die bloedvergieting eers beeindig, alhoewel die onderliggende faktore geensins opgelos is nie.

In Suid-Afrika, wat ook lynreg in die “een nasie”-kraal sit, kry ten minste “inheemse minderhede” soos die San, Griekwas, Khoi-Khoi en ander groter erkenning. Die San het byvoorbeeld hulle stamgronde teen die Kalahari-Gemsbokpark terugontvang. Die onderliggende sentiment daarby is egter dat hulle as “swart” volke geslagte lank deur blanke setlaars en veroweraars onderdruk en uitgeroei is en nou daarvoor gekompenseer moet word. Kenmerkend daarvan  eis die huidige Suid-Afrikaanse regering met sy ideologie van swart slagofferskap die San op as eerste slagoffers van blanke kolonialisme (byvoorbeeld word die San eksplisiet genoem by die Vryheidspark) en verswyg daarby gerieflikheidshalwe dat die San net soveel, indien nie meer nie, die slagoffers was van onderdrukking, mishandeling en uitroei deur sterker swart volke soos die Xhosa.

In Botswana het die San teoreties die reg tot hul eie stamgrond, maar die regering verhinder die implementering daarvan en sien die San as ‘n struikelblok op pad na ontwikkeling en vooruitgang.

Omdat Afrika so ‘n lang geskiedenis van vyandskap tussen sy verskillende etniese groepe het, is die heersers uiters onwillig om enige toegewings aan die gemarginaliseerde groepe te maak. Regte en outonomie vir etniese groepe word gewoonlik in ‘n baie negatiewe lig beskou, gekoppel aan apartheid of separatisme. Gelukkig vir etniese minderhede is die staat dikwels oneffektief en bly “nasiebou” oftewel gedwonge insmelting van etniese identiteite in ‘n kunsmatige staatspatriotisme gewoonlik net propaganda. Die mense bly aangewese op hul etniese verband as enigste werkende eenheid, al is dit op ‘n lae en beperkte vlak.

Nogtans kan Afrika ook nie die realiteit van minderhede, oftewel etniese groepe wat op selfbeskikking aandring, ontsnap nie. Hier en daar is daar bemoedigende tekens vir voorheen onderdrukte volke. Na die burgeroorlog het die eens sentralistiese en streng marxistiese staat Ethiopië, waarin die volk van die Amhara die mag onder mekaar opgedeel het, verander in ‘n federasie en deelstate op etniese grondslag het ontstaan. Die etniese staat Eritreë het reeds in 1994 van Ethiopië weggebreek. Dit is ‘n voorbeeld vir Afrika wat egter nog nie veel navolgers gekry het nie. In Sudan mag die Nilotiese Suid-Soedan in die nabye toekoms van die Arabiese Noorde wegbreek, nadat ‘n referendum oor afskeiding en onafhanklikheid deel was van die vredesverdrag wat na ‘n dekadelange en uiters wrede burgeroorlog onder bemiddeling van die VSA bereik is.  Tans is Suid-Soedan reeds outonoom. In Nigerië, wat die trauma van ‘n etniese afskeidingsoorlog in die laat 1960’s beleef het, word deelstate grootliks etnies en godsdienstig omlyn. Minderhede wat veg vir erkenning kry groter blootstelling en internasionale simpatie.

Voor daar egter enige beduidende verbeterings in Afrika bereik kan word moet die elites wegbeweeg van slagspreuke soos “for the nation to live, the tribe must die!” en aanvaar dat Afrika uit etniese groepe bestaan wat so ver moontlik geakkommodeer moet word as langtermyn stabiliteit ‘n kans moet kry om te slaag.

Asië

Asië is te groot en te uiteenlopend om van ‘n eenvormige hantering van minderhede te kan praat.
Anders as in Amerika het emigrasie van buite en vermenging nie so ‘n groot rol gespeel nie en beskik Asië oor oeroue ryke wat reeds eeue lank bestaan (Japan, Sjina, Indië, Persië, Thailand e.a.). Minderhede wat egter net so lank soos die meerderheidsvolk in die state leef, kom wel dikwels voor. Oor die algemeen is sake nie te goed bestel vir minderhede nie. Die grootste land van Asië, Sjina, onderdruk sy minderhede genadeloos. Die onderdrukking neem verskeie vorms aan, van brute geweld deur staatsorgane wat enige politieke aktiwiteite verbied en lede van die minderhede in tronke stop en martel, tot etniese oorheersing deur die massiewe inpomp van etniese Han-Sjinese in die streke wat deur minderhede bevolk word.  Die Uigure, ‘n Turkvolk wat die Moslemgeloof aanhang en in die westelike woestyngedeeltes bly, se eiesoortige kultuur word fisies en sielkundig afgebreek en die kommunistiese regering gaan selfs so ver as om historiese stede soos Kasjgar af te breek en die ou Middeleeuse huisies te vervang met eenvormige woonstelblokke volgens die kommunistiese gelykheidsideologie. Gelyktydig vind etniese verdringing plaas deur die massiewe vestiging van etniese Sjinese in die ylbevolkte streke van die minderhede plaas. Godsdiensuitlewing word aan bande gelê en enige politieke aktiwiteite is verbode. Internasionaal meer bekend is die lot van die Tibetane, wat nes die Uigure sowel demografies verswelg, fisies onderdruk en kultureel en geskiedkundig afgetakel word. Ook die Mongole in Sjina ervaar ‘n soortgelyke hantering.

In die ander reus van Asië, Indië, lyk dinge heel anders, want Indië was nog altyd ‘n land van geweldige groot verskeidenheid en het nie ‘n staatsvolk nie. Verdeling geskied wel rondom godsdiens en alhoewel van staatsweë beskerm, word godsdienstige minderhede soos Christene aan diskriminasie op grondvlak blootgestel. Indië het egter ‘n federale stelsel en minderhede kan in sekere deelstate ‘n invloedryke rol speel.

In Birma word etniese en godsdienstige minderhede soos die Sjan, Mon, Rohingya en Karen stelselmatig vervolg en militêr beveg. Birma se militêre bewind steur hom ook andersins nie aan menseregte nie. Minderhede se situasie sal eers verbeter as Burma eendag ‘n demokratiese regering kry.  Maar dit blyk nie iets vir die afsienbare toekoms te wees nie.

In Sri Lanka het die aanvanklik belowende situasie van die Tamile, wat op die punt gestaan het om outonomie oor hul gebiede te kry, erg versleg. In ‘n oorlog het die sentrale regering die Tamile en hulle rebelleorganisasie, die LTTE (Liberation Tigers of Tamil Eelam) militêr verslaan en duisende burgerlikes is in die proses dood. Die skuld daarvoor lê ook gedeeltik voor die deur van die Tamile, want as ‘n minderheidsgroep beduidende toegewings in onderhandelinge bereik het en outonomie kry, is dit nie die aangewese ding om met bomaanvalle voort te gaan nie. ‘n Soortgelyke situasie geld vir die Palestyne, wat deur voortgesette terrorisme die suksesse by die onderhandelingstafel bedreig.

In die Filipyne, wat uit ‘n magdom eilande bestaan, word minderhede veral godsdienstig gekenmerk, maar wel met ‘n etniese ondertoon. In die Filipyne se suidelike dele veg die Muslim-minderheid met insurgensie en terrorisme vir ‘n eie staat.

In Indonesië, self ‘n gematigde Moslemstaat, poog die radikale minderheid in die Aceh-streek op die eiland Sumatra om met geweld af te skei. Aan die ander kant van die uitgestrekte eilandstaat veg die Papuas van Indonesies-Nieu-Guineë vir afskeiding en aansluiting by hul etnies identiese buurland Papua-Nieu-Guineë. Ook op ander eilande in die periferie veg nie-Indonesiese volke vir meer selfbeskikking. Indonesië se antwoord is etniese getallepolitiek deur die grootskaalse vestiging van setlaars van die hoofeiland Java op die eilande waar minderheidsvolke woon. Dit gee op sy beurt aanleiding tot geweld, konflik en etniese spanning.

Maleisië benadeel sy minderhede openlik deur middel van die wet, vergelykbaar met Suid-Afrika se diskriminerende wetgewing teen blankes (alhoewel dit in Maleisië nie so omvattend is nie). Die Sjinese en Indiese minderhede word benadeel teenoor die Maleise meerderheid (byvoorbeeld toegang tot opleiding en fondse, kontrakte, ens) omdat die minderhede ver bo hulle getalleverhoudings in die ekonomie verteenwoordig is en op bykans elke terrein die meerderheid uitpresteer.

In die Midde-Ooste veg die Kurde, een van die grootste volke sonder ’n eie land, al lank vir onafhanklikheid of ten minste outonomie en erkenning van hulle taal en kultuur en is vir dekades deur die lande waarin hulle woon, by name Turkye, Iran en Irak, brutaal onderdruk. Dinge het egter begin verbeter met die verwydering van Saddam Hussein in Irak en die daarstel van ‘n semi-outonome Kurde-streek in die land. Dit is te danke aan die federale opdeel van Irak op druk van die VSA. Selfs Turkye begin die Koerde effens beter hanteer. Van outonomie vir die Kurde in Turkye kan egter geen sprake wees nie want Turkye leef in die waan dat dit ‘n etnies homogene land is en Kurde en ander minderhede dus nie bestaan nie. Selfs die gebruik van die Kurdiese taal in die openbaar word verbied.

Die Kaukasus-streek is ‘n kookpot van klein etniese groepe wat deels outonome gebiede binne die state van die streek het, deels veg vir afskeiding of aansluiting by hulle etniese stamlande (byvoorbeeld die konflik rondom Karabach tussen Armenië en Azerbaidsjan).

Rusland speel ‘n siniese spel met etniese minderhede. Aan die een kant word minderhede soos die Tsjetsjene gewelddadig onderdruk (wat deels ook hulle eie skuld is, met Islamitiese terrorisme wat in die gebied lewendig is).  Aan die ander kant tree Rusland as beskermer van minderhede op waar dit in sy belang is en om sodoende klein buurstate te verswak. Die voorbeeld by uitstek is Rusland se optrede teen Georgië en ten gunste van die Ossete en Abchaze. Minderhede word hier misbruik vir ‘n politiek van verdeel en heers.

Australië/Oseanië

Die staat Australië volg teenoor sy Aborigines-minderheid (een van die inheemse volke van die wêreld) ‘n vergelykbare beleid as die VSA of Kanada teenoor Indiane of Inuit. Groot dele van die land is aan die Aborigines teruggegee as hulle tradisionele erfgrond, met die veronderstelling dat dit vir tradisionele gebruike aangewend word (byvoorbeeld plekke van aanbidding). Verder ontvang hulle ook kompensasie en toelaes van die staat weens die ongeregtighede van die verlede. Die Aborigines se getalle is egter beperk, omtrent 3% van Australieë se bevolking.

Ook in Nieu-Seeland word ‘n vergelykbare beleid teenoor die inheemse volk van die Maori’s gevolg, wat egter oor ‘n groter invloed en getalleverhouding beskik (omtrent 25%). Ten spyte van die toelaes en vergoedings (of juis as gevolg daarvan?) bly hulle die armste en maatskaplik mees problematiese deel van die bevolking.

In die eilandgebied van Oseanië, byvoorbeeld in Fidji, tref ons meer tradisionele vyandskap aan tussen inheemse volke (wat tot Polinesiese of Melanesiese volke behoort) en latere intrekkers, soos arbeiders uit Indië, wat ekonomies gewoonlik sterker staan as die inheemse groep. Regerings swaai tussen etniese nasionalisme en benadeling van minderhede wat uit latere intrekkers bestaan aan die een kant, en versoening en staatspatriotisme aan die ander kant.

Samevatting

As ‘n mens holisties na die situasie van etniese minderhede kyk, dan kan vasgestel word dat dit ‘n baie algemene verskynsel oor die wêreld heen is. Etnies homogene state, waarin die bevolking vergeet het of nooit geweet het wat dit is om ‘n minderheid te wees en om vir jou regte te veg, is eerder die uitsondering as die reël.  Pogings om die problematiek van minderhede aan te spreek deur ontkenning, assimilering of selfs etniese uitdrywing en volksmoord is vir niemand ‘n oplossing nie en saai die saad vir voortdurende geweld en konflik.

Veel moet nog gedoen word en state sowel as internasionale organisasies het nog ‘n lang pad om te gaan voor hulle erken dat die minderheidsproblematiek nie opgelos word deur welklinkende verklarings wat nie eerbiedig word nie, en deur minderhede van die onderwerping aan die meerderheid ter wille van vrede te oortuig nie.

Bemoedigende tendense is egter aan die gang. Inheemse volke se regte word erken en hulle kry meer en meer seggenskap oor plaaslike bestuur en oor hulle tradisionele gebiede.  Die Afrikaner het reeds ‘n beduidende stap geneem deur erkenning by die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) te kry en internasionale aandag op ons stryd om oorlewing en erkenning te vestig. Vir ‘n minderheid om te vorder op pad na selfbeskikking is ‘n getallekonsentrasie in een gebied ‘n voorvereiste want regte van minderhede moet ook deur die minderheid self geimplementeer kan word in ‘n geografiese gebied.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Die huidige toedrag van sake vir minderhede in die wêreld”

  1. Rudolf 12 April 2012 at 15:59 Permalink

    Baie insiggewende stuk.

    Dankie Sebastiaan.


Lewer Kommentaar

*