28 Oktober 2013 ~ 1 Kommentaar

Die gemeenskapsbeskouing

Geskryf deur Henri Boshoff

Agtergrond

Om te verstaan waarop ek my filosofie baseer, is daar een boek wat heel voor in die ry staan The Myth of Religious Neutrality van Roy Clouser. Die boek definieer geloof as dit wat ons as onvoorwaardelik en onafhanklik beskou.

Een oorhoofse tema in die boek is dat Materialisme ‘n soort geloof is. Materialisme verwys in hierdie sin nie na ‘n grypsugtigheid in verband met geld nie, maar eerder ‘n oortuiging dat daar ‘n fisiese heelal om ons is en dat daar energieë en kragte op hierdie materie inwerk. Buiten hierdie eienskappe van realiteit  maak materialiste so min moontlik verdere aannames en regverdig dit gewoonlik met Occam se reël*.
(*Occam se reël : http://math.ucr.edu/home/baez/physics/General/occam.html)

As materialisme dan ‘n geloof is, moet daar sekere gevolge wees wat hierdie wêreldbeeld bloot aanvaar. Dis immers die kritiek van diegene wat hierdie geloof aanhang en hulleself ateïste noem. Hulle sê: “Julle aanvaar dinge sommer sonder om dit aan die realiteit te toets”. Die probleem met materialisme lê veral daarin dat die materialis glo dat alles wat nie tot massa en energie gereduseer kan word nie, nie bestaan nie. Enige gebeure wat buite hierdie veld val, is gebeure waarvoor geen wetenskaplike maatstaf bestaan nie, as hulle enigsins werklik is. Verder, raak beskrywings al meer wetenskaplik as hulle al meer afgebreek is tot hulle onderliggende realiteit. Dit is ‘n proses wat reduksie genoem word.
Hierdie stelsel werk nogal goed vir die Natuurwetenskappe. ‘n Voorbeeld: deur alle voorwerpe bloot in terme van hulle massa en beweging te beskou, kan ons voorspel wat gebeur as daar botsings tussen die voorwerpe is. As ‘n voorwerp wat ‘n sekere massa besit teen ‘n sekere snelheid in ‘n sekere rigting beweeg en met ‘n ander voorwerp bots, reageer die tweede voorwerp op ‘n sekere manier, ongeag of daardie voorwerp ‘n mens of ‘n duiksak is. Dit maak nie vir die botsing se doeleindes saak of die voorwerp lewend is of nie, tensy daardie lewe tot ander rigting of snelheid aanleiding gee. Duiksakke probeer tipies nie rondom jou hardloop as jy hulle wil duik nie!

In elke model  probeer ons soveel van die realiteit vasvang as moontlik. As ons egter ‘n aspek van realiteit as die basiese realiteit beskou, lei dit daartoe dat alle ander aspekte slegs waarde het wanneer hulle tot daardie basiese aspek bydra.

Daar is egter iets soos vals reduksie. Dit is as jy iets probeer verklaar aan die hand van ‘n ander aspek as waartoe dit behoort. ‘n Voorbeeld is wanneer Marx alle sosiale interaksie probeer reduseer tot sosiale klasse. Alle mense van ‘n sekere welvaartsgroep moet dieselfde gedrag toon. In die proses verloor hy ‘n klomp inligting oor die individue wat tot elkeen van daardie groepe behoort. Die geskiedenis is egter gepeper met leiers wat deur magsvertoon, oorredingsvermoë, beloftes, of blote sjarme mense oortuig het om hulle te volg. Hoewel die gedrag wat hulle voorgestaan het, teenoorgesteld was van wat Marx vir jou groep voorskryf.

Materialisme het egter tot die oortuiging gelei dat alles behoort gereduseer te word. En alle afwykings wat steeds bestaan, word verklaar met “maar ‘n mens verloor altyd van die detail as jy die patroon beskryf”. Ek wys egter in die stuk op die mislukking van beide weergawes op die reduksie, wat die indruk wek dat ‘n skadelike reduksie opgespoor is.

Hier volg my uiteensetting van die Clouser se blik op die staat, gesien deur die bril van ‘n gesprek met Carel Boshoff (iv) op die Afriforum-toer van Desember 2012.

Doel
Bepaal die beste wêreldbeeld waaruit die samelewing ingerig kan word.

Bestaande oplossings
Hierdie doelwit is allermins nuut. Daar is immers al samelewings van voor die geskrewe geskiedenis af en hulle moes hulleself op die  een of ander manier  inrig. Toe ontwikkel daar twee kontrasterende denkskole om die doel te bereik: Die Individualisme en die Kollektivisme. Dit was die onderliggende verskil in die ideologieë van Amerika en die ou USSR. Die VSA was die individualistiese land, Rusland die kollektivistiese staat.

Individualisme
Individualisme neem as sy basiese aspek dat menslike samelewings uit individue bestaan. Uiteindelik is die staat die som van die individue in die staat. ‘n Groepering soos ‘n gesin, ‘n skool, ‘n besigheid, ‘n klub, is dan basies ‘n klomp individue wat die een of ander belang deel. In wese is hierdie groeperings eintlik tydelik: so lank as wat die samewerking vir elke individu in die groep tot voordeel is, sal die samewerkingsooreenkoms voortbestaan. As dit nie meer die geval is nie, behoort die eenheid ontbind te word.

‘n Skool is onder hierdie beskouing iets wat bestaan omdat ‘n klomp individuele ouers hulle eie voordeel soek. Hulle beleef voordeel vir hulleself daarin dat opvoeding vir hulle kinders goed sal wees. Daarom hou hulle aan hulle kinders inskryf, wat die bestuur van die skool in staat stel om onderwysers te onderhou, terreine te ontwikkel en so aan. As die skool nie meer vir individue tot voordeel is nie, sal hy ontbind word en die terrein anders aangewend word.

Wanneer ‘n mens die impak van beleid, natuurrampe of wat ookal op die mensdom wil bepaal, is die maatstaf die individu. Ons wil sien wat met elke mens afsonderlik gebeur en dan is die samelewing die totaal van die individue daarbinne.

Kollektivisme
Kollektivisme verskil radikaal hiervan. Dit reken dat die individu tydelik is. Mense word gebore en gaan dood in ‘n relatief kort periode, amper almal onder 100 jaar. Verenigings kan egter onbeperk voortbestaan. Daarom is die logiese manier om te redeneer oor die mensdom om ons as verenigings te beskou.

‘n Skool, byvoorbeeld, bestaan veel langer as die tyd wat enige spesifieke kinders in die skool is. Daarom is die karakter van die skool iets wat ons onafhanklik van enige kind in die skool kan beskou. Die voordeel van die skool word dan ook op ‘n hoër vlak gereken as die voordeel van enige kind. “Hoeveel kinders moet daar in ‘n klas wees?” word beantwoord op grond van die beste belang van die skool, voor die belang van individuele leerlinge bygereken word.

Hoe groter die eenheid hoe meer permanent is die vereniging geneig om te wees. ‘n Boekklub met vyf lede is meer geneig om te verval as ‘n maatskappy wat 5 000 mense in diens neem. Die grootste eenheid is dan die staat, wat verwys na die regering, wetgewende gesag, howe en almal waaroor hierdie entiteite seggenskap het.

Wanneer die impak van beleid, omgewingsgebeure en so aan bepaal word, is die maatstaf die staat as geheel. Ons wil sien of die beleid tot voordeel van die geheel is. As iets tot voordeel van die geheel is, sal dit deursyfer tot by alle individue wat onder daardie staat val.

Vergelyking
Ter verduideliking van die verskil tussen die denkraamwerke beskou ons byvoorbeeld China se een-kind-beleid, gesinsbeplanning, soos hulle dit noem.

Onder kollektivisme is dit duidelik dat, as jou land oorbevolk is, dit tot die voordeel van die staat sal wees as mense minder kinders kry. Dus is enige maatstaf wat die doel bereik, aanvaarbaar. Of ‘n spesifieke persoon meer as een kind wil hê, is nie van belang nie. As ‘n paartjie weer swanger word en dis vir hulle moreel moeilik is om ‘n tweede kind te aborteer, is dit nie ter sake nie –  hulle moes beter beplan het. Die geheel se voordeel, is al wat tel.
Individualisme reken egter slegs die individu se voordeel. Om dus ‘n persoon se vryheid in te perk kan slegs geregverdig word as dit onweerlegbaar tot sy eie voordeel strek. ‘n Baie oopkop individualis sou kon reken dat die uiteindelike ekonomiese voordeel van ‘n kleiner bevolking, dus meer hulpbronne vir elkeen, tog tot individuele voordeel strek. Die meeste reken egter dat die skade wat aangerig word in die implementering van die beleid dit onhoudbaar maak.

Die twee ideologieë kan dus verskillende gevolgtrekkings maak, wat beteken daar word gekies, die een of die ander.

Die belangrikste ooreenkoms tussen die twee ideologieë  is waarskynlik die feit dat hulle gebruik word om die voordeel vir  die mens te bereken. Daar is baie gevalle waar die voordeel vir die individu en die voordeel vir die geheel sinoniem is. ‘n Toename in ekonomiese aktiwiteit en welvaart wat redelik gelykop verdeel word, sal gesamentlik vir beide individue en die geheel goed wees.

‘n Meer subtiele ooreenkoms is die idee dat ’n  mens deur die bank voor- of nadele behoort te beskou met net een van individue of kollektiewe as maatskaf. Dit beteken dat die ander slegs van belang is in sover dit tot die een waarin jy belangstel, gesien kan word. Nie een van die twee ideologieë vat alles in die samelewing raak nie, juis omdat elkeen ‘n deel van realiteit as ondergeskik aan die ander beskou. Solank beide ideologieë aanhangers het, vul hulle mekaar aan tot ‘n gebalanseerde wêreldbeeld. Dis egter deesdae al minder die geval.
Histories is die twee ideologieë teen mekaar opgeweeg. Die VSA was individualisties, kapitalisties en demokraties. Die USSR was kollektivisties, sosialisties en kommunisties ingestel. Uiteindelik het die USSR die koue oorlog verloor en as staat misluk en toe ontbind. Dus bestaan die oortuiging dat kollektivisme verkeerd is en individualisme die beter wêreldsbeskouing is.

Probleem
Daar is ‘n klomp swakplekke in individualisme. Hierdie swakplekke word nie aangespreek nie want hulle volg direk uit die aanname van individualisme, nl. dat die individu die maatstaf vir voordeel behoort te wees. Ons ontwikkel dus ‘n blindheid vir die swakplekke in die denkraamwerk.
Onder hierdie swakplekke tel:
–    korttermynfokus
–    selfsug
–    isolasie

Korttermynfokus.
Soos reeds genoem, leef ‘n mens nou eenmaal net só lank. Dus praat ons van langtermynbeleggings as ons na 15 jaar kyk. Ons sien dat finansiële bestuur aansienlik beter werk as ons doelwit verder in die toekoms gestel word. Maar langer voel onrealisties. In my M-projek, waar ek drywers vir kliënte se wangedrag moet opspoor, hou die bank die meeste datastelle nie langer as 15 jaar nie want daardie ou inligting kan tog sekerlik nie waarde inhou nie.

In die geskiedenis is 15 jaar egter ‘n oogwink – daar het 300 jaar verloop sedert Alexander die Grote geleef het en tot die mees betroubare weergawe van sy lewensverhaal opgeteken is. Die mensdom is dus in staat om idees vir veel langer te bewaar as wat ons op die oomblik dink nuttig is. Om hierdie waarde te ontken, is om die foute van die geskiedenis met eentonige reëlmaat te herhaal.

Die oorbesteding deur die regerings van die PIIGS-lande (Portugal, Ierland, Italië, Griekeland, Spanje) is ‘n simptoom hiervan. Ons spandeer solank geld, wat nou lei tot lekker gemaklike lewens en gewilde politici. As daardie geld eendag terugbetaal moet word, sal daar al iemand anders aan bewind wees, so dis nie my probleem nie. Die volgende ou leen dan bloot meer geld, is minder volhoubaar om dieselfde voordele te onderhou, wat hulle dan weens die groeiende rente nóg minder kan bekostig.

Die publiek het hierdie partye ingestem, bloot omdat hulle op die korttermynvoordeel gefokus het. Die langtermynprobleme, tref toe vroeër as wat hulle gedink het en nou is hulle kwaad vir die regering oor hulle die voordele stop. Dat hulle nooit daardie voordele kon bekostig het nie en dus nooit die lekker moes gehad het waaroor hulle nou oproerig is oor dit weg is nie, word in die geheel ignoreer. Hulle eis dat regerings verantwoordelik moet omgaan met hulle geld, maar dié regerings met die grootste beloftes, wat die onverantwoordelikste beleide het, word ingestem!

Selfsug
Die verskoning wat selfsug nodig het, is dat my eie voordeel die doelwit van die samelewing is. As dit is hoe ons die sukses van ‘n staat bereken, is die een wat ander vertrap tot eie voordeel nie net iets wat ons aanvaar nie, maar selfs die doel wat nagestreef moet word.
Hierdie samelewing is egter een wat die natuurlike vertroue wat nodig is vir samewerking, ondermyn. Om ons kragte saam te span is egter die grondslag waarop verbeterings van ons samelewings gebou word. Een voorbeeld wat tradisioneel gebruik word, is dié van ‘n wa wat baie swaar gelaai is. As die wa só swaar is dat ‘n perd hom vir een kilometer  kan trek voordat hy uitgeput is, dan kan twee perde vir 17 kilometer trek voor altwee moeg is. Deur saam te werk het hulle dus meer as agt keer soveel bereik as wat elkeen op sy eie sou.

Isolasie
Die gesamentlike impak van ‘n korttermyningesteldheid en onbegrensde selfsug is sosiale isolasie. Ons leef in die era waar dit die maklikste is om te kommunikeer. Facebook, MySpace, Twitter, Twoo, Pintrest, LinkedIn, Picassa en nog ‘n horde name beloof dat jy maklik, gemaklik, vinnig en moeitevry verbind kan wees. Jy kan soveel vriende hê dat jy die meeste van hulle nie eers ken nie. En ons val daarvoor. Elke keer.

Ons word om die bos gelei want die aard van die verhoudings wat ons wil hê, is in wese anders as wat die sosiale media bied. Ons wil juis hê dat iemand moeite sal doen, om ons te leer ken. Maar die netwerke beloof dis moeiteloos.

Ons wil nie net geken word aan die blinkste kant wat ons graag vir die wêreld wys nie. Iemand wat sag daarmee sal omgaan, iemand wat ons kan vertrou, moet ook die kante van jou ken wat jy nie met die wye wêreld deel nie.

Ons wil langdurige verhoudings hê, nie vinnig vriende maak nie.

Die lewensingesteldheid van ‘n verbruikersamelewing ondermyn ons lewensvreugde.

Gemeenskapsbeskouing
Die voordeel van ‘n staat kan nie gereduseer word tot óf die individu óf die geheel soos wat momentum gereduseer kan word tot ‘n produk van spoed en massa nie. Hoewel ons dinge van die rugbyspeler kan verstaan d.m.v. die duiksak, IS hy nie die duiksak nie. Dié verskil is ‘n belangrike een om na op te let.

As ons ‘n stap vroeër ophou reduseer, dan kan ons begin samelewings opstel wat gemeenskaplik ingerig is.

‘n Gemeenskap is nie bloot ‘n kollektief nie. Dis ook nie bloot ‘n samekoms van los entiteite nie. Dis albei. Slegs wanneer ons ophou om die een tot ‘n funksie van die ander af te breek, kan ons die beste gemeenskappe bou. Ons moet beide die individuele voordeel én die kollektiewe voordeel meet en in ag neem vir besluite.

Onder die gemeenskapsmodel het ons ‘n samelewing waar die gemene belang voorop staan, vergeleke met die individualistiese wêreld. Aan die ander kant is dit ook ‘n samelewing waar jou individuele bydrae geken en waardeer word, vergeleke met kollektivisme.

‘n Skool is beide ‘n vaste instelling met ‘n eie karakter, wat sal bestaan, al word daar ‘n lid bygevoeg of weggeneem, én die leerlinge en gesinne wat hulle tot daardie skool verbind afsonderlik. Om die een of die ander weg te laat is om ‘n deel van wat die skool is te ontken. Daar moet dus ‘n dubbele maatstaf in elke beredenering oor die skool se beleid wees. Aan die een kant moet die voordeel van die leerlinge tans aan die skool verbind, bereik word. Aan die ander kant moet die skool uitgebou word ter wille van toekomstige leerlinge wat daar opgelei moet word. Dit is tog die mees natuurlike manier om ‘n instelling se besluite te neem.

Nou moet die beginsel net op ‘n groter speelveld ook toegepas word. Uiteindelik gaan ons nie bereik wat ons nie nastreef nie. Daarom het kollektivisme gefaal, daarom is individualisme besig  om te faal. Dit is moontlik dat die gemeenskapsbeskouing steeds iets miskyk, maar sy blinde kolle is veel kleiner as die bestaande twee. Die rede dat dit hier moontlik is om sowel die kollektiewe as die individuele beswil te bereik, is omdat jy albei erken.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Die gemeenskapsbeskouing”

  1. Eben 21 November 2013 at 17:52 Permalink

    Baie goed. Het dit selfs gedruk sodat ek dit later weer kan lees.


Lewer Kommentaar

*