02 Mei 2017 ~ 7 Kommentare

Die gedagtes van ’n gewone man

Geskryf deur Carel Boshoff

Orania---Gedagtes-van-'n-gewone-man

Enigeen wat oom Prinsloo Potgieter geken het, sou een of ander tyd gehoor het dat hy sê: “Kyk, ek is nie so geleerd soos julle ouens nie; ek is die gewone man en laat ek nou vir jou sê hoe die gewone man hieroor dink.”

Niemand wat oom Prinsloo geken het, sou goedsmoeds met sy stelling saamstem nie, want hy was alles behalwe gewoon; hy was uitsonderlik nadenkend, wel ter tale en intelligent. En boonop geleerd in soverre enige gegradueerde persoon geleerd is, al het hy nie ’n akademiese loopbaan gevolg nie. Om die waarheid te sê, hy was ’n toonbeeld van die vorming wat mens aan klassieke universiteitsopleiding te danke kon hê as jy dit met ’n oop gemoed tegemoet gegaan het.

As arm, plattelandse seun (sy grootouers was Dorslandtrekkers en sy ouers het met ’n repatriasieskema Suid-Wes toe getrek) het ’n onderwysbeurs vir hom na sy enigste weg universiteit toe gelyk. Hy het besluit om BSc te studeer, maar uiteindelik nie onderwyser of “geleerde” geword nie, maar die wêreld van werk in die vorm van ’n landboukoöperasie en besigheidsbestuur betree.

Die geluk het Orania te beurt geval dat hy en tannie Lydia besluit het om hier te kom aftree en sy lewenservaring en -wysheid tot diens van sy mense te stel. Hier het hy ’n aansienlike bydrae gelewer tot met sy ontydige afsterwe in 2008 (?).

Terwyl niemand dus sou saamstem dat oom Prinsloo ’n gewone man was nie, was daar andersyds iets aan sy aanspraak wat jy ook nie kon ontken nie: hy was plat op die aarde, reguit en pynlik eerlik. Hy was die toonbeeld van Boerewysheid; iets wat mens nie kan studeer nie, wat in beginsel vir almal beskikbaar is, maar deur min mense verwerf word.

As eerstejaar filosofiestudent het ek seker vyf keer begin lees aan ’n Engelse inleiding tot die filosofie wat ’n maat van my se pa 30 jaar tevore ook nie kon baas raak nie. Al wat ek daarvan onthou, is dat die skrywer telkens ’n ondeurdringbare uiteensetting van ’n lewensvraag waaroor ek my nie kon moeg maak nie, afgesluit het met ’n beroep op “common sense” – maar van die soort wat nie so “common” is nie. Daarenteen, het ek later gedink, is dit juis wat van oom Prinsloo ’n gewone man gemaak het: sy common sense.

Nou kan mens dalk wonder of die ietwat anglisistiese frase “gewone man” eerder as die hedendaagse “gewone man/vrou”, of ’n ietwat geforseerde “gewone persoon” verder deur gebruik verewig moet word. My antwoord daarop kom uit ’n heel aVelliesnder hoek. Omdat ek ouderdomsgewys so tussen hom en sy kinders gelê het, het ek hom eendag gevra of hy verkies dat ek hom “oom” noem. Sy antwoord was dat ouderdomsverskil nie vir hom ’n persoonlike struikelblok was nie, maar dat hy nogal waarde aan ons tradisionele erkenning daarvan heg en hom met grasie in sy oom-skap berus. Om een of ander rede het dit my weer in sy gewone man-skap laat berus.

Om die waarheid te sê, ek het oom Prinsloo se gewone man begin idealiseer – as dit nou nie ’n teenstrydigheid afgee nie. Wat ek bedoel, is dat ek in talle moeilike situasies begin vind het dat die gewone, eenvoudige en eerlike, selfs gestroopte aanslag mens dikwels die vêrste bring. Daar is so ’n oorvloed van woorde en opgestapelde denkbeelde in die wêreld, dat dit soms ons insig in moeilike vrae versper eerder as bemiddel. Dit beteken nie, en het ook nie vir oom Prinsloo beteken, dat ingewikkelde vrae altyd eenvoudige of kort antwoorde het nie. Wat wel waar is, is dat ons soms op ons denkweg tussen konsepte en konstrukte verdwaald raak en, soos tussen die duine, ’n kompas nodig het.

Die gewone man (of vrou, ons tradisie het na my mening beide geslagte daarby ingesluit) is nie gewoon daarin dat hy ononderskeibaar van die man langs hom is nie; hy is gewoon in sy beskeidenheid. Die gewone man is byvoorbeeld nie so selftevrede met sy eie sin vir rigting dat hy op jag geen kompas saamneem nie. As hy verdwaal, is hy nie so eiewys dat hy nie aanwysings vra nie. As hy raad nodig het, is hy nie te trots om dit te vra nie en as iemand hom vra, is hy nie te verwaand om dit te gee nie.

Jare na oom Prinsloo se dood is ek nou ook gereed om ’n gewone man te probeer wees. Daarom gaan ek onder dié opskrif en op ’n gewone manier probeer skryf oor die alledaagse lewensvrae wat ons mense deesdae teister. Wees dus op die uitkyk vir meer Gedagtes van ’n gewone man.

 

 

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Die gedagtes van ’n gewone man”

  1. Sebastiaan 2 Mei 2017 at 10:23 Permalink

    Dankie vir die bydrae. Dit is belangrik dat ons by al die skryf oor die groot politiek en oor ideale en ideologieë ook onthou van die mense wat Orania gebou het en wat wesenlike leiding gegee het, soos oom Prinsloo, soos jou ouers, soos talle ander wat ek aan kan dink. Oom Prinsloo het ‘n kosbare ongekunsteldheid en nederigheid gehad en ‘n aardse wysheid wat ‘n mens al hoe minder kry.

  2. Annika 3 Mei 2017 at 09:55 Permalink

    Terwyl ek jou artikel lees, het hierdie aanhaling by my opgekom: “Some believe it is only great power that can hold evil in check, but that is not what I have found. It is the small everyday deeds of ordinary folk that keep the darkness at bay. Small acts of kindness and love.” J.R.R. Tolkien.

  3. Alet Rademeyer 3 Mei 2017 at 10:20 Permalink

    Dankie hiervoor Carel. Dit was nog altyd my ervaring, ook uit die Vrystaatse platteland waar ek oorspronklik vandaan kom, dat dit gewone mense met gewone middele maar met groot geloof en groot harte is wat dit regkry om buitengewone dinge te vermag. Sien uit na ander gedagtes van ‘n gewone man.

  4. Danie Brink 15 Mei 2017 at 21:19 Permalink

    Dankie vir hierdie stuk Carel. Ek sien uit na die volgende stukke – ons het almal ‘n groot dosis “gewone man en vrou” nodig in die hedendaagse kunsmatige bestaan.

  5. Andre van Royen 16 Mei 2017 at 09:43 Permalink

    Mooi artikel in eenvoudige Afrikaans bedoel vir die gewone man. Wens meeste artikels (veral polities) kan eerder soos hierdie die eenvoudige reguit taal gebruik eerder as die ‘indirekte’ en ‘tussen die woorde lees’ teks. Baie dubbelsinnighede en misverstande kan so vermy word.

    • Revo (Ek kom!) 18 Mei 2017 at 10:06 Permalink

      Stem saam Andre, en dit is buitendien baie mooier. Miskien kan dinge dan begin gebeur wanneer ons daarop ingestel is om ons by die ‘need-rige’ te voeg om eerder as om deur die grootsheid van spraak verblind te word. (Dit is buitendien moeiliker om ‘n goeie idee in gewone taal te omskryf as anders om.)

      Sterkte Carel, jy het ‘n baie belangrike punt aangeroer.

      Innige groete, Revo

  6. Revo (Ek kom!) 18 Mei 2017 at 10:15 Permalink

    Stem saam Andre, en dit is buitendien baie mooier. Miskien kan dinge dan begin gebeur wanneer ons daarop ingestel is om ons by die nederige te voeg, eerder as om deur die grootsheid van spraak verblind te word. Ek het gevind dat dit soms moeiliker is om ‘n goeie idee in gewone taal te omskryf as anders om.

    Sterkte Carel, jy het ‘n verfrissende briesie losgelaat.

    Innige groete, Revo.


Lewer Kommentaar

*