29 Januarie 2014 ~ 4 Kommentare

Die fiesta, hoogtepunt van Spaanse volkskultuur

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

StiergevegDie fiesta of feria is die feesgety wat elke stad en dorp in Spanje het, gewoonlik in die somermaande, en waar die plaaslike beskermheer, ‘n heilige of die maagd Maria, met verskeie byname gevier word. Tydens die fiesta, wat omtrent twee weke duur en wat nog ‘n aanloop het met ‘n voorprogram, vind daar elke dag op die pleine musiek- en dansuitvoerings plaas, optogte met nabootsings van historiese figure en met sierwaens. Die strate is vol mense, veral die vroue wat hulle Spaansheid met die wuiwende rokke en rooi rose in die hare vertoon. Die Spaanse folkloristiese kultuur, veral in die suide, in Andalusië, is sterk beinvloed deur die Sigeuners. Dit kom veral in die musiek en die tradisionele kleredrag na vore. Flamenco is sinoniem met Spaanse musiek. Dit is ‘n sterk, ritmiese musiek, dikwels nog versterk deur handeklap en ‘n hamerende tapdans en begelei deur ‘n klaende liefdespynsang op die kitaar. Alhoewel dit intussen op talle plekke in ‘n toeristespektakel ontaard het, is daar ook plekke, soos die Casa Cultural La Guajira in Almeria, waar dit vir Spanjaarde vertoon word, met ‘n toeris hier en daar en waar Duits of Engels nog nie die allesoorheersende taal is nie.

Die hoogtepunt van die fiesta is egter die corrida, die tradisionele bulgeveg. Elke stad of dorp het sy Plaza de Toros of bularena, wat soos ‘n Romeinse amfiteater lyk. Vir die grootste deel van die jaar is dit ‘n wit olifant, maar tydens die fiesta is dit die plek waar die Spaanse siel aanwesig is en Spaansheid gevier word, nie vir toeriste nie, maar vir die Spanjaarde self. Trouens die meeste toeriste ys eintlik vir die bloeddorstige bulgeveg en bly weg. Ek wou dit egter gesien en beleef het, ‘n argaïese en oeroue viering wat eie aan Spanje is. Andalusië is een van die vestings van bulgevegte, maar in Katalonië, die modernste streek met die hoofstad Barcelona, is dit reeds verbied en het daar onlangs die laaste bulgeveg plaasgevind. Die verbod deur die nasionalistiese regering van Katalonië was egter nie net ter wille van die bulle nie, maar ook om te wys dat hulle Katalane is en nie Spanjaarde nie, en dus ook niks met Spaanse tradisie uit te waai het nie. Globalisering werk natuurlik ook hier teen ‘n eeue-oue tradisie. Maar vir eers, te oordeel aan die groot geesdrif en getalle, sal die bulgeveg nog deel wees van die Spaanse kultuur. Self het ek gemengde gevoelens gehad. Aan die een kant wou ek hierdie kultuurgebeurtenis beleef, maar aan die ander kant kry ek die dier wat ‘n halfuur lank gegaffel word voor dit uiteindelik doodgesteek word, ook jammer.

Om ‘n kaartjie vir ‘n bulgeveg te kry is nie maklik nie. Dit kan net op die dag voor die geveg gekoop word en jy moet gereed wees om ‘n uur of langer tou te staan. En goedkoop is dit ook nie.
Uiteindelik het ek toe my kaartjie gehad en in die namiddag na die Plaza de Toros toe vertrek, waar massas mense, jonk en oud, en ‘n hele paar pragtig opgetooide vroue, in die arena ingestroom het. Ek het die klein protesbetoging van tien mense teen die bulgeveg wat by een van die ingange gestaan het, jammer gekry in die aangesig van hierdie geweldige oormag bulgeveggeesdriftiges.Toe ek die arena betree, het ek hoendervleis gekry toe ek die groot skare sien en hulle eenheid as Spanjaarde tydens hierdie viering van hulle kultuur. Die toreros (bulvegters), picadores (perderuiters met spiese) en bandarilleros (mans met versierde spiese) en as fokuspunt die matador de toros (die “doder van die bul“) het onder heroïese paso doble-musiek in die arena ingekom en statig rondbeweeg en vir die geesdriftige skare gewuif. Die matadores geniet heldestatus vergelykbaar met topsportsterre en kry ook groot geld vir hulle waagmoed.

 

Stiergevegarena

Na die intog begin die ritueel wat volgens vaste reëls verloop: ‘n groot, wilde bul hardloop vol energie in die arena in. Verskeie toreros met pers en geel doeke laat die bul op hulle afstorm. Dié stadium is gevaarlik, die bul is aggressief en vol energie en dikwels moet die toreros agter die houtomranding vlug om nie op horings geneem te word nie. Die bul word tussen die verskillende doekswaaiende toreros rondgejaag en raak geleidelik uit stoom uit. Dan begin die fase waar die bul beseer en gegaffel word. Eerste kom die picadores op perde en boor hulle lanse in die vel van die bul in, wat op sy beurt probeer om met sy geweldige krag die perd, wat met ‘n dik kombers beskerm is, om te stoot. As die kragmeting begin gevaarlik raak vir die perd en ruiter, kom die toreros weer in aksie en trek die bul se aandag af met hulle doeke. Vervolgens kom drie vlugtvoetige bandarilleros in en hardloop op die bul af en steek drie bandarillas, spiese met angels en versier met linte, in die bul se dik nek in. Hulle het geen wapens of beskerming nie en dit is ‘n waagmoedige taak. As hulle goed is en elkeen sy drie spiese in die bul vassteek, dan klap die skare hande en roep die aanmoedigende Olé. Die bul begin nou bloei en swaar asemhaal, maar is nog steeds gevaarlik. Nou kom die matador in die arena in, met ‘n rooi doek en ‘n dun degen. Hy volvoer nou vir sowat 10 minute iets wat amper lyk soos ‘n dans met die bul en beweeg vaardig en op kort afstand om die bul en laat hom in die rooi doek stoot. Hy hou sy oog op die horings en op die regte plek in die rug vir die doodsteek. Met ‘n vinnige steek tussen die skouerblaaie in word die stier verlam, maar is nog nie dood nie. Met sy laaste opwelling van woede kom toreros weer en trek die bul se aandag van die matador af. Kort daarna stort die bul ineen, gewoonlik teen die omranding, en word dan met ‘n goed gemikte dolksteek in die nek van sy lyding verlos. Die skare staan op, waai sakdoeke en prys die matador, wat met die oor of stert van die bul as trofee triomfantlik met sy helpers deur die arena wandel. Die dames gooi in ekstase rooi rose en waaiers na hom en die matador geniet die huldigings en sy triomf. Na ‘n kort pouse gaan die ritueel met die volgende bul en volgende matador aan, gewoonlik ses bulle tydens ‘n corrida wat in totaal drie uur duur. Tydens die pouse haal die toeskouers hulle peuselkos uit, drink wyn wat uit ‘n leersak in jou mond gespuit word en lewer in opgeruimde luim kommentaar.

Nou ja, ek het dit beleef, maar my gemengde gevoelens bly, die begeestering vir die outentieke kulturele ervaring word getemper deur die medelye met die bul.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Die fiesta, hoogtepunt van Spaanse volkskultuur”

  1. Ben Swanepoel 29 Januarie 2014 at 21:36 Permalink

    Ja…daar kan seker baie gese word oor verskillende volke se rituele en geskiedenis,maar dit beteken iets vir hulle en dan weer beteken dit weer niks vir n ander ras of volk nie.My insiens omtrent die siesta ,veral die bloedige gevegte waar diere ddogemaak word om vermaak te lewer aan n opgestookte skare is vir my n bloeddorstige mishandeling wat nie genoem word in enige christelike tydskrif,bybel of enigiets van die soort nie.Ek dink dat wanneer mens by Christus uitkom in jou verhouding met Hom,dan verander mens se uitkyk op vele vlakke en draai mens se belangstelling na ander geestelike fasette van die lewe terwyl die aangeplakte glitterati wat die wereld jou bied,vervaag en dan eers besef mens wat se verleiding daar plaasgevind het en hoe mens vasgevang word in die wereld se opwinding,dat jy eintlik vergeet wie jy is……helaas,wanneer ons dan die dag IN Jesus vasloop…n Damaskus pad ondervinding he,soos Saulus,dan verander mens se uitkyk en dan le jy af alles wat vir jou wins was,en dan doen jy alles om Christus te bekom……God seen julle en mag ons oe oopgaan om ons weg te hou van die glitterati van die verganende wereld en mag ons oe geopen word vir n nuwe geestelike wereld waar God die Heer en Meester is en die een wat vir ons sondes vasgespyker was vir ons IN sonde ontvang en gebore en geestelik dood van God geskei posisie en mag ons ontvanklik word vir die gedane werk van Jesus aan die kruis wat elke mens bevry het van sonde en ons vry gemaak het van valse wereldse sensasie……erken dat God goed is en dat Hy jpou sonde gedra het sodat jy vir Hom kan leef en nie vir n volsvreemde siesta nie….

  2. Sebastiaan 31 Januarie 2014 at 10:14 Permalink

    Mnr Swanepoel,

    wat u sê oor die bekering en lewe vir Christus is heeltemal reg en waar, en ek is ook ‘n wedergebore Christen. Ek sien egter nie hoe dit enige betrekking op ‘n artikel oor ‘n volkskultuur-gebeurtenis het nie.
    Elke volk het maar sy eie kultureel beinvloede sienings wat vir ander volke irrasioneel en inkonsekwent lyk. Dieselfde Spanjaarde wat niks fout vind met die rituele doodmaak van ‘n bul wat uitsluitlik vir die doel geteel word, was hoogs onstel toe hulle koning Juan Carlos in Afrika ‘n olifant geskiet het, want dit is mos ‘n wilde dier.
    Ons as Suid-Afrikaners, wat bulgevegte veroordeel en as wreed beskou, vind niks afstootlik daarby om vir plesier wilde diere te skiet nie, selfs al is dit net om mee te spog en ‘n trofeë huis toe te vat. Ons sal natuurlik argumenteer dat die olifant of buffel wat geskiet word ‘n gevaarlike, of siek dier is, en dat die populasie te groot geword het en dat die diere vir jagdoeleinde geteel word en werk en inkomste voorsien vir talle mense ens. Vir Europeërs bly dit ‘n sonde om ‘n wilde dier te skiet, maar hulleself laat duisende diere teel en doodmaak om vleis te eet. Duitsers vind niks daarby om kaal op die strand of in die sauna te lê tussen ‘n klomp vreemdelinge nie, maar is hoogs ontsteld as iemand ‘n foto (met klere) van hulle op facebook sit. Suid-Afrikaners sou dinge heeltemal andersom sien. So kan ek aangaan. Die punt is dat elke volk se gewoontes in die oë van ‘n ander volk vreemd is, en geen volk konsekwent optree nie.

  3. Sebastiaan 31 Januarie 2014 at 10:23 Permalink

    Terloops, daar is ‘n verskil tussen siesta en fiesta. Eersgenoemde is die daglikse rustyd tussen 1 en 5 uur die middag, laasgenoemde die beskrewe feesgety in die somer.

  4. Dr. Krispien 2 Maart 2014 at 15:14 Permalink

    Lieber deutscher Volksgenosse,

    warum nur benennen Sie unser Volk als Negativbeispiel in der Welt?
    Auch Südafrikaner baden sich gerne entblöst in der Sonne am Strand.
    Auch Südafrikaner braten ungern in voller Montour in der Sauna.
    Was hat das mit ‘Volkskultur’ oder gar mit deutscher Volkskultur zutun?
    Abgesehen davon können schöne, weibliche Körper durchaus entzücken.
    Seien wir Mannsbilder doch ehrlich, uns ‘fallen doch die Augen aus dem Kopf’.
    Krispien


Lewer Kommentaar

*