19 Junie 2012 ~ 3 Kommentare

Die Euro-Titanic

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Ons as klein volk van Europese afkoms het gewoond geraak om na Europa op te kyk as vasteland waar alles werk en permanente voorspoed heers. Vir baie jare was dit die geval, omdat Europa ‘n paar faktore gehad het wat voorspoed moontlik gemaak het: demokratiese, polities stabiele regerings, min of meer goeie werksetiek en hoë produktiwiteit, meesal etnies min of meer homogeen, oftewel met ‘n staatsvolk wat aan sy land lojaal was en daar tuis gevoel het. Die lande onder mekaar het in vreedsame naasbestaan verkeer en wedersydse handel het almal bevoordeel. Dit was so in die 1970’s en 1980’s en die Europese Ekonomiese Gemenebes was die versinnebeelding van ‘n ekonomiese verbond van nasiestate wat ekonomies saamwerk, maar waar elke volk soewereiniteit oor sy eie sake gehad het.

Selfs na die omwenteling in Oos-Europa, wat nuwe, bevryde, demokratiese en eweneens grootliks etnies gedefinieerde state vry gemaak het van kommunistiese oorheersing, of slegs nuut tot stand gebring het, het die toestand vir ‘n wyle voortgegaan soos wat Oos-Europese lande ook deel van die Europese Gemenebes geword het. Maar toe kom die Maastricht-verdrag, wat alles die sentralisasie van mag in die setel van die Europese Kommissie in Brussels verstewig het en die soewereiniteit van die lidlande verswak het. Toe word dit ook sommer die Europese Unie met nog verskeie verdrae en in 1999 kom die Euro as een gemeenskaplike geldeenheid vir die meerderheid lidlande. Die doel van al die verdrae is om die lidlande al hoe nouer aan mekaar te bind, al hoe meer mag van die nasionale regerings oor te skuif na die nie-verkose “Europese Regering” in Brussels en om uiteindelik een Europese superstaat as teenwig teen die VSA te skep. Gelyktydig is enige land wat geografies deel van Europa is, as toekomstige lidland beskou, ongeag sy ekonomiese toestand. Op die pad na ‘n uiteindelike Europese bondstaat was daar geen omdraaipad ingebou nie en selfs toe lidlande in referendums teen die verdrae van Maastricht en Lissabon gestem het, is dit slegs as vertragings, maar nie as padversperring gesien nie en die Europese trein het aanbeweeg, toenemend teen die wil van sy burgers in.

In die Europese Ekonomiese Gemeenskap wat voor die Maastricht-verdrag bestaan het, was daar beduidende verskille tussen die lidlande, maar die wedersydse uitruil van goedere het nog steeds almal bevoordeel, miskien nie in dieselfde mate nie, maar bevoordeel nietemin, en lande wat nie deel van die Europese Gemenebes was nie, soos Turkye, het alles in hulle vermoë gedoen om lid te kon word. Die aanvanklike beginsel dat die Gemenebes moet bestaan uit redelik suksesvolle lande wat mekaar wedersyds bevoordeel, is stilswyend verander na een van ‘n solidariteitsgemeenskap waar die rykes die armes moet ophef. Dit is ‘n konsep wat selfs binne ‘n land en binne ‘n volk omstrede is, omdat dit te veel kere, al is dit goedbedoeld, die verkeerde uitwerking het, naamlik om verkeerde gedrag en luiheid te beloon.

Tans sien ons die klasieke geval in die Europese Unie, en spesifiek die Euro-sone: Lande wat hulle ekonomie suksesvol hervorm het (deur vakbonde se invloed in te kort, die aftree-ouderdom te verhoog, werkloosheidstoelaes te verminder en skuldvlakke te verlaag) soos Duitsland, Nederland en Groot-Brittanje (asook die tradisioneel voorspoedige Skandinawiese lande), moet lande subsidieer wat voortleef asof die geld nooit opraak nie, soos Griekeland, Ierland, Spanje, Italië en Portugal, en waarskynlik binnekort Frankryk, waar so pas ekonomiese hervormings terug gedraai is. Om verstaanbare redes sien die bewoners van die voorspoedige lande nie kans om ander lande se onbuigbaarheid en gemaklikheid met hulle belastinggeld te steun nie. Omdat alle noemenswaardige partye egter ‘n konsensus het dat die Euro-sone ten alle koste moet voortbestaan en dat Europa vorentoe in een staat moet ontwikkel, is daar geen kans om die huidige verkeerde beleid te stop nie.

Die leiers van die EU, wat behalwe die staatsleiers ook die nie-verkose Eurokrate in Brussels insluit, gaan selfs nog verder in die verkeerde rigting: pleks om te erken dat die Euro en die saamsmelt van ekonomies en kultureel uiteenlopende state nie werk nie, wil hulle nou met spoed ‘n “fiskale, finansiële en politieke unie” skep, wat neerkom op een Europese superstaat met ‘n nie-verkose regering van ‘n self-aangestelde elite wat die ekonomiese en politieke besluitneming van die nasionale parlemente wegneem en oordra aan ‘n klein selfaangestelde elite-groep wat aan niemand meer rekenskap gee nie.

Daar is dus twee scenarios: Eerstens, die ekonomiese realiteite maak dat Duitsland en ander lande se voorspoed opdroog omdat hulle hulleself ooreis deur te veel ander lande gelyktydig te wil ophef. Die huidige relatief gesonde ekonomiese beleid van kanselier Angela Merkel, wat op spaar eerder as op spandeer en skuld maak fokus, is reeds onder druk omdat feitlik al die ander lande eerder wil spandeer, wetende dat Duitsland en ander uiteindelik sal betaal omdat hulle onder geen omstandighede die Euro wil opgee nie. Die hele Euro-sone kan dus in ‘n ekonomiese afgrond van skuld en krimpende vertroue  ingesuig word en as’t ware inplof. Die deelstate sal dan gedwing word om terug te keer tot hulle eie geldeenhede, wat hulle werklike ekonomiese prestasie in die wisselkoers weerspieël. Weens die Euro wat die gemeenskaplike geldeenheid is, word Griekeland met dieselfde sterk geldeenheid as Duitsland gefinansier, ten spyte van duidelike verskille in produktiwiteit. Die eerste land wat weens ‘n staatsbankrotskap waarskynlik die Euro moet opgee en tot sy eie nasionale geldeenheid moet terugkeer,  is Griekeland. Dit kan ‘n domino-effek tot gevolg hê. Beleggers sal hulle vertroue in die Euro verloor en hulle gelde omruil in meer stabiele geldeenhede soos die Dollar.

Die terugkeer tot nasionale geldeenhede sal op korttermyn pynvol wees, maar die markkragte sal dan die ekonomie weer in balans bring en ‘n wisselkoers wat ‘n land se ekonomiese vlak weerspieël sal geld. Die politieke dwaasheid van die Euro sal eenvoudig afgeskaf word en die politici sal deur die kiesers gestraf word vir hulle ideologie van ‘n verenigde Europa wat die geskiedenis, die kultuur en die ekonomie as kragte buite rekening gelaat het.

Die ander scenario is dat, amper soos in sekere interpretasies van openbaring, die klein groep leiers wat nie meer aan hulle burgery verantwoordelik voel, onder mekaar ‘n Europese regeringskliek vorm wat die state degradeer tot provinsies en volledig die sentrale gesag in die Europese hoofstad Brussels vestig. Dit kan die Euro vir eers red en die Euro-sone bymekaar hou, teen die prys van politieke ontmagtiging en veral op koste van Duitsland se belastingbetalers, wat reeds die grootste deel van die “reddingsaambreel” se miljarde bydra en nou nog meer sal opdok. Die Duitse sielkunde is egter so dat nasiestate as minderwaardig beskou word teenoor ‘n super-nasionale staat waar etnisiteit en kultuur verdwyn. ‘n Mens kan amper sê dat Duitsland van fanatieke nasionaliste in fanatieke anti-nasionaliste verander het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Duitsland is ook die enigste land waar die meerderheid van die bevolking nog ten gunste van die uitbou van die Europese Unie is.

Die woelinge van ‘n ekonomiese insinking in Europa, wat ook die res van die wêreld negatief sal beïnvloed, sal ons indirek ook in Orania voel, maar dit hoef nie noodwendig net negatief te wees nie. Dit kan byvoorbeeld tot ‘n aansienlik laer olieprys lei.
Die politieke uitwerkings kan ook van betekenis vir Orania wees. Alhoewel die Europese Unie nie juis kennis neem van die Afrikaner nie, is ‘n Euroepese super-staat wat vyandig staan teenoor die idee van etnisiteit en afskeiding, en wat al hoe groter en al hoe meer gesentraliseerde politieke eenhede as die einddoel beskou, nie ons vriend nie. ‘n Terugkeer na die nasiestate, ‘n terugbesinning op volkskap sal in beginsel in ons guns wees. Reeds is ons grootste steun in Europa by die kleiner volke of minderhede wat self veg vir erkenning, soos die Vlaminge en die Suid-Tiroolse Duitsers, en in beginsel ook volke soos die Skotte, Baske en Katalane, alhoewel met hulle nog geen formele betrekkinge bestaan nie.

Ook in ander opsigte openbaar die huidige Europese krisis een kenmerk in die verhouding tussen volke en state, iets wat die Europese elite in hulle ivoortoring graag buite rekening laat: daar is grense van solidariteit. Die idealiste wat glo dat enige mens ewe veel simpatie en solidariteit met enige mens op aarde voel omdat dit sy medemens is, leef in ‘n droomwêreld. Die Europeërs, wat almal wit is en wat almal tot die Weste behoort, het nogtans nie genoeg samehorigheidsgevoel dat ‘n Duitser of Sweed met blydskap vir die skuld van Grieke en Spanjaarde instaan nie. Die huidige herverdeling van rykdom van die hardwerkendes en spaarsames na die wat meer korrup en minder ywerig is, geskied net onder dwang.  Die Euro-krate dreig dat ‘n groter krisis ontstaan en ‘n terugval in die nasionalistiese Europa voor die Tweede Wêreldoorlog op hande is, as welvarende lande nie bereid is om hulle armer broers in die suide by te staan nie. Dit is natuurlik bangmaakstories, maar effektief.

Dieselfde dwang en manipulasie word ook in Suid-Afrika probeer: blankes (die Noord-Europeërs in ons konteks) word deur ‘n klein elite geboelie om hulle relatiewe rykdom ter wille van nasionale eenheid aan hulle armer landsburgers te gee, met wie hulle nog minder in gemeen het as Swede met Grieke. Die oeroue realistiese beginsel geld, naamlik dat solidariteit afneem namate groepe groter en meer divers raak. Terwyl jy enige tyd vir jou buurman wat gebrek lei sal help, en in die meeste gevalle ook nog vir ‘n volksgenoot, neem die bereidwilligheid en simpatie af as dit iemand is wat vir jou heeltemal vreemd is. Dit is nie rassisme of blanke harteloosheid nie, dit is eenvoudig menslike naasteliefde, naamlik vir die een wat die naaste aan jou is. Uit die aard van die saak geld dit ook vir swart mense of enige ander volk. Die Ubuntu-beginsel van deel onder mekaar het vanselfsprekend nie blankes as ontvangers van gawes ingesluit nie.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Die Euro-Titanic”

  1. Hannodb 22 Junie 2012 at 18:36 Permalink

    Ek het altyd gewonder waarom die Duitsers hulle rol in the Euro so gelate aanvaar, totdat iemand my verduidelik het wat Duitsland daaruit kry.

    Sien die Duitsers is oor die algemeen harder werkend en meer vooruitstrewend as al die ander Europese lande, en daarin le die probleem. Die gesonde ekonomiese praktyke van Duitsland versterk die land se geld eenheid, en maak uitvoere onkompeterend. Deur in ‘n ekonomiese unie met swakker state soos Griekeland te gaan, bring jy die waarde van die geldeenheid af, en kan die Duitsers makliker in die internasionale mark kompeteer.

    ‘n Ander betwyfelenswaardige voordeel is natuurlik ook nou dat Duitsland die de facto meester is van Europa. Die skuldenaar is die slaaf van die skuldeiser, en daarom kan Duitsland links en regs vir ander lande voorskryf, omdat Duitsland die grootste skuldeiser is. (Of die Duitsers ooit daai skuld gaan terugkry, is ‘n ander storie.)

    Die huidige situasie is egter lankal voorspel deur Margaret Thatcher:

    The transcripts of negotiations between Mikhail Gorbachev, Margaret Thatcher, and George Bush were published in 1995 – on the eve of destruction of the Berlin Wall. “I was against unification of Germany from the very beginning due to objective reasons”, Thatcher was saying. – “Unification of Germany means to turn it into a dominant country in the European community. They are strong and effective”. Then she continued, “All this absolutely contradicts with my ideals. Some people say that in order to prevent such things from happening in the future, it is necessary to tie Germany to Europe, to make it an anchor. It’s ok, but actually you did not tie Germany to Europe, but rather tied Europe with the newly dominant Germany. That is why I call it German Europe”.

  2. Dick Davel 23 Junie 2012 at 04:05 Permalink

    Puik stuk werk!! baie insiggewend en het vandag iets bygeleer! Dankie.

  3. Nardus van Dyk 27 Junie 2012 at 10:17 Permalink

    Ek stem saam met Dick, dis ‘n baie goeie verduideliking wat albei skrywers gelewer het. Oor wat besig is om te gebeur, sowel as waarom Duitsland dit so gelate aanvaar.


Lewer Kommentaar

*