18 Julie 2011 ~ 2 Kommentare

Die eksotiese Burma en sy hoofstad Rangoen. In die tydgleuf 50 jaar terug

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl.
‘n Besoeker kan Burma slegs per vliegtuig bereik. Daar is geen landverbinding met bus of trein en toeriste word nie in die grensdistrikte toegelaat nie omdat daar nog ‘n lae-intensiteit-oorlog teen sekere van Burma se minderheidsvolke plaasvind. Dus was vlieg na die hoofstad Rangoen die enigste opsie. Die eerste wat ons van Burma gesien het toe ons deur die wolke gebreek het was eindelose nat ryslande en dan voorstede van Rangoen wat nie juis soos ‘n stad van 5 miljoen inwoners gelyk het nie. Alreeds op die lughawe kon ‘n mens agterkom dat die horlosies hier stadiger loop. Merkwaardig is ook dat Burma nie ‘n uur tydsverskil teenoor Thailand het nie, maar ‘n halfuur. Seker die enigste land in die wêreld wat so ‘n tydsone het.

Burma het sowat 50 miljoen inwoners en die meerderheidsvolk is die etniese Burmane, wat sowat 75% van die bevolking uitmaak en in die laagliggende en sentrale dele waardeur die magtige Irrawaddy-rivier vloei, bly. In die bergagtige grensdistrikte woon allerhande minderheidsvolke soos die Karen, Sjan, Sjin en vele ander. Burma se geskiedenis is gekenmerk deur ‘n langdurige burgeroorlog tussen die sentrale regering en die minderheidsvolke wat strewe na outonomie en selfs onafhanklikheid. Tans is dinge rustiger en sekere van die minderheidsvolke het hulle wapens neergelê in ruil vir outonomie. Hoe anders en eksoties Burma ook al is, die vraagstuk van outonomie, selfregering en bewaring van identiteit is hier net so ‘n belangrike vraagstuk soos by ons en trouens in meeste dele op aarde.

Die regering het ‘n paar jaar gelede die land oopgestel vir reisigers, maar daar is nog steeds heelwat beperkinge. Almal het visums nodig, jy moet ‘n reisplan indien wat gewoonlik tot die sentrale dele beperk is, en waar jy kom, soos hotelle, stasies en museums, word jou paspoortbesonderhede geneem. Kortom, dis ‘n land wat hom nie steur aan die logika van globalisering, oop grense en massatoerisme. Dit vereis aanpassings, maar dit maak dit ook besonders en het daartoe bygedra dat Burma sy unieke karakter tot dusvêr kon behou het.
Ten spyte van die regering se wakende oog oor besoekers is die mense orals vriendelik en hulpvaardig en het ‘n egte belangstelling in die besoeker, omdat besoekers nog min is. ‘n Hele paar kere het mense ons afgeneem omdat ons so eksoties was as Westerlinge!

Van die lughawe het ons ‘n huurmotor deur die nagtelike Rangoen geneem. Wat ‘n teenstelling met die mega-wêreldstede soos Singapoer, Kuala Lumpur of Bangkok! Die gevoel was rustig, min verkeer, geen straatligte, ‘n regte Derde Wêreld gevoel. Ek kon sommer aanvoel dat ek die regte keuse gemaak het om Burma te besoek, terwyl dit nog so oorspronklik is. Dit was die egte Ooste wat ek gesoek het.

Ons hotel, die Central Hotel, een van die beter hotelle van Rangoen, is in die ou deel geleë en stapafstand van meeste besienswaardighede. Reeds met ons eerste uitstappie die aand van ons aankoms het die bedelaars opgeval, iets wat ons nie in die ander lande gesien het nie. Nogtans het ‘n mens ook hier nie bedreig gevoel nie. Omdat Burma ‘n militêre diktatorskap is, intussen wel met ‘n siviele regering as front, waarin die weermag egter die bepalende rol speel, is die veiligheid orals goed. Dit is nie dat daar orals polisie rondloop nie (alhoewel hulle tog sigbaar is), dit is die algemene gees van ‘n samelewing wat al vir meer as 50 jaar niks anders ken as ‘n streng en by tye brutale bewind nie, wat seker maak dat mense in hulle spore trap. Gewoonlik ontstaan misdaad dan wanneer toerisme ‘n massafenomeen word, arm en ryk te dig op mekaar is en mense agterkom dat toeriste wandelende geldbeursies is.
Toe ons die volgende dag op ‘n verkenningstog van Rangoen gegaan het, was dit opvallend hoe min witgesigte hier is. Die hele dag oor het ons miskien 5 of 6 Westerlinge gesien, en dit alhoewel ons by al die besienswaardighede was. In die strate sien ‘n mens amper nooit enige toeriste nie, wel by Westers- gestylde restaurante of hotelle. Maar ek moet sê, dit is wat ek wou gehad het, dit het die eksotiese gevoel van Rangoen en Burma verhoog. Eers later, in Bagan, die top-toeristebestemming, sou Westerlinge meer algemeen word, maar nog steeds relatief min. En bygesê, ons  was ook in die seisoen hier wat toeriste gewoonlik vermy omdat dit besonder warm en vogtig is van Mei tot Augustus.

In ‘n era van massa-kommunikasie en ‘n reisindustrie wat dit sy doelwit maak om elke plek op aarde, selfs die mees afgeleë plekke, as toeristebestemmings te bemark, is dit net ‘n kwessie van tyd tot ook Burma ‘n algemene bestemming soos Thailand of Maleisië raak. Selfs lande soos Laos, Viëtnam en Kambodja, 10 jaar gelede nog eksoties en min besoek, is nou op elke rugsakreisiger se lys en maak voorsiening vir toeriste. Tans is die militêre bewind en die menseregtevergrype asook die gebrekkige infrastruktuur en die beperkinge ‘n rede hoekom vele toeriste ‘n ompad om Burma maak en hoekom die land nog sy oorspronklikheid en inheemsheid kon behou. Toeriste word byvoorbeeld  afgesit deur die feit dat jy nêrens met kredietkaart of reisigerstjek kan betaal nie. US Dollar is die gebruiklike betaalmiddel by hotelle, vir die trein en by sekere museums en restaurante, maar die inheemse mense verkies hulle eie geldeenheid Kyat, vuil papierlappe met groot nommers en min waarde. Internet is duur, net by enkele hotelle en net sekere tye van die dag beskikbaar en word boonop gesensor. Ek wou die land juis sien terwyl dit nog so is, wie weet, oor 5 jaar van nou af is dit dalk al te laat.

Ons eerste besigtigingspunt was die ou treinstasie, ‘n meesterstuk van koloniale argitektuur wat Westerse en Oosterse elemente met mekaar verbind en  waar ons ‘n treinkaartjie na Mandalay gekoop het. Die opset by die stasie was so eg uit ‘n ander tyd dat dit amper onwerklik gevoel het. Net een beampte kon effens Engels praat, almal is inheemse, meesal arm mense en staan in lang toue, kaartjies word per hand op geel afskeurpapier ingevul, dit is vuil en blykbaar onveranderd sedert die koloniale era, en baie eksoties.
In die straatbeeld is feitlik alle motors klein,  wit niksseggende Japannese motors uit die 70erjare, en vele van hulle is huurmotors. Meeste mense loop te voet, daar is ook ou gehawende en kleurryke busse. Die gevoel dat die tyd in Burma stilgestaan het, het baie te doen met die land se langdurige beleid van isolasie, inheemse sosialisme en outarkiese ontwikkeling, wat ongelukkig so onbeholpe bestuur is dat dit die land en sy mense ekonomies verarm het. Die persoon wat sy stempel op Burma na onafhanklikheid afgedruk het is generaal Ne Win, wat van 1962 tot in die 1990’s die leisels in die hand gehou het en wat geglo het aan isolasie en inheemse ontwikkeling. Hy was ‘n sosialis, maar wantrouig teenoor enige invloed van buite en dus net so vyandig teenoor die Weste as teenoor die kommunistiese blok. Soos meeste sosialistiese eksperimente was dit ‘n totale ramp en het aan die einde van Ne Win se bewind tot opstande gelei wat bloedig onderdruk is. Ne Win se opvolgers Saw Maung en later Than Shwe, het wegbeweeg van sosialisme, maar nie van hulle wantroue teenoor die buiteland nie, en ook nie van die oortuiging dat die weermag die leisels moet vashou en geen Westerse tipe demokrasie moet duld nie.

Burma, of Mjanmar, soos wat die militêre junta dit sowat 20 jaar gelde herdoop het, is vandag weens sy menseregtevergrype internasionaal geïsoleer en veral die Weste pas sanksies toe. Dit het meegebring dat die land vandag sterk bande met Sjina het, ‘n land wat nie gepla is oor menseregte nie, en dat Burma amper ‘n soort Sjinese kolonie is. Sjina soek Burma seminerale en gas en in die hotelle, soos ook die een waar ons was, is Sjinese die grootste groep gaste.

Danksy die isolasie is Rangoen se stadbeeld feitlik vry van kantoorblokke en wolkekrabbers, trouens daar is bitter min nuwe geboue van enige aard. Die middestad bestaan nog grootliks uit die geboue uit die Britse koloniale era, wel in ‘n toestand van veral. Daar is, anders as in byvoorbeeld Singapoer, geen waardering vir die koloniale era nie, maar alleen omdat geen geld daar was vir nuwe geboue nie, het die oue gelukkig behoue gebly. By die hoofplein rondom die Sule-pagode is pragtige voorbeelde van koloniale monumentaalargitektuur, soos die ou stadsaal, die hooggeregshof en sekere staatsdepartemente. Die meeste lyk gehawend, maar hier en daar is van hulle tot eertydse glorie herstel, soos die geskiedkundige Strand Hotel, Rangoen se kleiner weergawe van Singapoer se Raffels Hotel, in ‘n poging om ryk toeriste te lok. Rondom die hoofplein het ons ook klein houthokkies gesien waar vroue met tikmasjiene sit en vir ander mense dokumente of briewe tik. Dit is alles moontlik in ‘n land waar baie min mense selfone en toegang tot rekenaars het.

Die strate is vol lewe, mense drentel oor die stukkende en vuil sypaadjies, orals is rooi kolle van bethelneutsap te sien en stalletjies met vrugte en klein winkels wat enige ding verkoop, tweedehandse boeke, handgemaakte klere, plastieksandale of ingevoerde elektronika, is orals. Anders as in die ander plekke wat ons besoek het, dra die Burmese nog hulle tradisionele drag, die longyi. Dit is ‘n soort lang romp vir mans, wat om jou heupe geknoop word, gewoonlik saam met ‘n wit hemp en die alomteenwoordige flip-flop plastieksandale wat werklik almal dra. Die vroue dra lang en dun kleurryke rokke of rompe en almal is maer en het lang, swart hare en hulle gesigte is ingesmeer met sandelhoudroom wat soos goud lyk en goed vir die vel is.

Stalletjies wat bethelneutpakkies maak, ‘n tradisionele dwelm, is orals. Bethelneutstukkies word in blare toegedraai en dan gekou, dit proe skerp en bytend op die tong, maak jou rustig (asof Burma nie al rustig genoeg is nie!) en verf jou speeksel rooi en mense spoeg dit gedurig uit, daarom die rooi kolle wat oningeligtes vir bloed aansien. Ook die tradisionele cheroot-sigare word dikwels gerook, hulle word uit groen tabakblare gerol en is spotgoedkoop. By die straatstalletjies kry jy enige soort vrugte, maar weens die moontlike infeksies het ons veral piesangs geëet. Hier en daar sien ‘n mens nog  vrugteverkopers wat die drahout wat soos ‘n weegskaal lyk oor hulle skouers dra, en vroue dra nes n Afrika maandjies op hulle kop. Op ander plekke op straat word suikerriet deur ‘n handmeul gepers en suikerrietsap gemaak. Ons wou dit proe, maar die massas vlieë wat op die riete gesit het, het ons anders laat besluit.
Behalwe die vele straatstalletjies en winkels is daar ook ‘n paar groot onderdakmarkte, gewoonlik gehuisves in geboue uit die koloniale era. Die mees indrukwekkende is seker die Scott Market, nou vernoem na Burma se onafhanklikheidsheld, Aung San. Op 2 verdiepings en met talle afdelings is hier alles wat ‘n mens aan kan dink, maar eg Burmees en baie van dit handgemaak: klere en handsakke, wat op outydse Singer-trapnaaimasjiene gemaak word want krag is skaars en nie geredelik beskikbaar; juwele van silwer en halfedelstene; perlemoengoed; waterverfskilderye;  waaiers van sandelhout en houtgekerfde aandenkings en versierings en vele meer. Die pryse is billik en dit is ‘n vreugde om hier te koop. Omdat Westerlinge nog skaars is, glimlag mense vriendelik-nuuskierig vir jou.

Burma is hoofsaaklik ‘n Buddhistiese land en pagodes en Buddha-tempels is orals. In Rangoen self, vroeër ‘n kosmopolitiese stad en met nog oorblyfsels van Indiërs, Arabiere en Sjinese, is daar ook ander gelowe en hulle plekke van aanbidding sigbaar teenwoordig, terwyl die res van die land feitlik uitsluitlik Buddhisties is. ‘n Hele paar moskeë is daar, en ook Christelike kerke van verskillende denominasies, en klaarblyklik ook nog in gebruik.

Die mees uitstaande gebou tussen al die ander goue pagodes van Rangoen is die Shwedagon-pagode, wat op ‘n heuwel in die voorstede uittroon en ‘n waaragtig asemrowende gesig is. Die pagode is omring deur verskeie kleiner pagodes. Met ‘n breë gang en trap in elke hemelsrigting en met winkeltjies vol Buddhistiese artikels aan weerskante, kom ‘n mens in die pagode se voorhoof, ‘n marmervloer met ontelbare tempeltjies met spits dakke en Buddhabeelde. Goud is die oorheersende kleur en op elke toring hang ‘n ring vol klokkies wat deur die wind gelui word. Blykbaar styg met elke geluid ‘n gebed op na Buddha. Kloksgewys wandel ‘n mens kaalvoet (by alle pagodes moet die skoene uitgetrek word) om die eintlike pagode met sy kenmerkende goue klok en stingelvormige koepel. Die middelpunt self is afgeskerm, dit is die allerheiligste wat ‘n oorblyfsel van Buddha huisves en wat niemand mag sien nie. Die spits van die 100 meter hoë pagode is oorlaai met diamante en ander edelstene. Die teenstelling van die prag en praal by alle pagodes en die armoede in die res van die land is opvallend.

Ons het toe ‘n waardige ouerige man gekry wat homself as gids aangebied het en veel van Buddhisme aan ons verduidelik het. Baie van die godsdiens is nog steeds vir my verborge, ook na 2 weke Burma en ‘n daaglikse blootstelling aan die vreemde godsdiens. By die Shwedagon Pagode het my mond net oopgehang van die oorweldigende en eksotiese prag, eers later sou ek meer oor Buddhisme nadink en uitvind en selfs die geleentheid vir ‘n lang debat met ‘n monnik hê en sal dan meer oor Buddhisme skryf.

In die omgewing van die Shwedagon Pagode is ook die sogenaamde tuinstad geleë, die deel waar die Britse amptenare tydens die koloniale tydperk hulle huise gehad het. Ook hier het die dekades van agteruitgang en swak bestuur hulle spore gelaat. Eens pragtige koloniale houtvillas vergaan geleidelik. Twee mere is in hierdie gebied, die klein Kwandawgyi-meer en die effens groter Inya-meer. Eersgenoemde is ‘n ontspanningsgebied met park, stegies oor die water en ‘n goue skiprestourant. Laasgenoemde is die woonplek van Burma se elite met pragtige en afgeskermde villas en eksklusiewe klubs en sowel eertydse sterkman Ne Win se villa asook die huis van die demokrasie-ikoon Aung San Suu Ki is teen die Inle-meer geleë.
Dalk nog ‘n word oor kos. Ons het gedoen wat ‘n mens volgens die reisgids nie moet doen nie, naamlik by inheemse restaurante, almal in grade van matig tot baie vuil, geëet. ‘n Land sonder sy inheemse manier van eet is net die halwe belewenis. Ek het ook met blydskap opgemerk dat Rangoen een van die baie min stede op hierdie aarde is wat geen McDonalds het nie. Soos orals in die Ooste is ook in Burma rys die stapelvoedsel en daarmee saam kom ‘n aansienlike hoeveelheid bakke met klein happies wat ‘n mens met die rys meng: blokkies vleis van skaap, bees, hoender of vark in vetterige sous; stukkies vis;  gestoomde en vars  groente; seekos; ‘n soort vissmeer wie se effense vrot smaak alles oorheers; rissies en knoffel en vele meer. Oor die algemeen word min vleis geëet en dan net in die vorm van klein stukkies vergelykbaar met goulasj. Steaks soos ons dit ken vind ‘n mens nêrens in inheemse restaurante nie. Twee of drie keer was ons ook by duurder en meer internasionale restaurante wat die hoërklas besoek, maar die outentiekheid van die plekke waar die gewone mense eet (en die lae pryse) het gemaak dat dit die uitsondering was. Saam met die kos word gewoonlik Sjinese groen tee gratis bedien. Burma het ook sy eie bier, nie besonder uitstaande nie maar tog lekker en verfrissend in die hitte, en anders as vrugtesap met ysblokkies, vir seker meer higiënies. Vir in geval het ons gehou by ons glasie gin en limonade elke aand om alle potensiële kieme dood te maak en ons het die reis sonder maagkrampe en ander siektes deurgesien.

Na Rangoen was Mandalay, die tweedegrootste stad en in die middel van die land geleë, ons volgende bestemming. Voortsetting volg.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Die eksotiese Burma en sy hoofstad Rangoen. In die tydgleuf 50 jaar terug”

  1. Zelda 19 Julie 2011 at 22:24 Permalink

    Daar is min lande wat nog min geraak is deur globalisering. Jy is bevoorreg om so ‘n land(Birma) te kon besoek voordat dit verdwyn.
    Ek kan my indink en inleef en sien die andersheid en ongekunstelde eksotiese tussen jou woorde.
    Inkopies in Birma klink lekker , want veral as ware(bv juwele,skilderye,waaiers ens. ) uniek, handgemaak en billik is!
    `n Goeie idee vir `n ‘onafhanklike land’ is dalk ook om soos hulle `n wakende oog or toeriste te hou en strenger te wees.

    Dit laat my skielik dink aan ‘n onderwerp wat mense nogal oor kan debatteer/filosofeer nl hoe op aarde kan `n dalk ‘nuwe onafhanklike land’ weerbaar gemaak word teen globaliserings invloede, veral wat die kultuur/uniekheid/morele waardes ens van ‘n volk laat verdwyn weens allerlei invloede bv Amerikaanse beleggers bv Mc Donalds ens. en andere. Ek glo nie mens kan dit heeltemal vermy nie, maar ek wonder maar net.

    Ek sien ook uit na die skrywe oor Mandalay ( naam klink mooi).

  2. Lou Odendaal 27 Julie 2011 at 16:03 Permalink

    ‘n Baie insiggewende artkel oor Burma. Ek het geen kennis van die land nie en die artikel is uiters interessant. Ons sien uit na meer hiervan. Ons sien ook uit na die dag wanneer Orania ‘n onafhanklike tuiste kan word vir Christen-Afrikaners. Dit is nie rassisties bedoel nie. Ons eie landstreek waar ons vir ons self ‘n toekoms kan bou deur die genade van God. Miskien sal ek en my geliefde Ega nie meer dardie dag kan beleef nie want ons is op die drumpel D.V.van ons tagtigs. Mag die liewe Here Orania dra en lei na ‘n land waar Hy regeer!!!


Lewer Kommentaar

*