02 Mei 2011 ~ 8 Kommentare

Die drie fases van ontwikkeling in ‘n mens en ‘n volk

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl.
Lesers is dalk vertroud met die liberale paradigma, dat mense as individue al hoe meer ontwikkel en uiteindelik ‘n finale toestand bereik wat volgens die liberaliste naby aan die ideale mens is. Die Amerikaanse liberale denker en politieke wetenskaplike Francis Fukuyama het dit met sy essay “The end of History” uitgespel, maar dieselfde denke is onderliggend aan die kern van liberale sienings.
Die liberaliste en ander linksgesindes glo aan die goedheid van die mens en dus ook die belangrikheid van opvoeding volgens die liberale idees. Soos gewoonlik is hulle daarby egter nie konsekwent nie. Die stelling dat sekere volke of kulture verder gevorderd is as ander word natuurlik deur liberaliste ver weggewys as synde rassisties en meerderwaardig. Maar binne elke kultuur werk die liberaliste wel met die veronderstelling dat sekere sienings en gedragspatrone “verouderd, argaïes, anachronisties, en behorende tot ‘n vorige era” is. Dit is natuurlik voor die hand liggend dat dit wat as verouderd of verkeerd beskou word juis dit is wat liberaliste nie van hou nie. Hulle het die vermetelheid om hulle sienings as die toppunt van verligtheid en insig te verklaar en ander sienings as dwalings van mense wat dalk nog deur middel van genoeg verheldering en opvoeding by die waarheid kan uitkom. Een tipiese voorbeeld is die siening oor godsdiens, en ook oor etnisiteit.
Godsdiens is iets wat tot die Middeleeue behoort, volgens die liberaliste. Die Middeleeue is ‘n woord wat graag gebruik word as verwysing na iets wat donker, irrasioneel en boos is, sonder dat liberaliste ooit moeite doen om die Middeleeue, immers ‘n tydperk wat amper oor  1000 jaar strek, behoorlik te bestudeer. As iemand teen gay-huwelike, feminisme, aborsie, saambly, ens gekant is, word gewoonlik die teerkwas “Middeleeus” uitgehaal en die persoon word dan per definisie as iemand gebrandmerk wat ook hekse sou verbrand en sou meedoen aan kruistogte en die inkwisisie.
In die hedendaagse tyd is ons mos nou almal veronderstel om verlig te wees en behoort afskeid te neem van sulke verouderde en gevaarlike sienings, aldus die liberaliste. Die post-moderne mens het nie ‘n oeroue outoriteit nodig om vir hom te sê wat reg is nie, maar sal self die pad na insig vind deur sy eie inherente goedheid wat net deur die regte opvoeding aangewakker moet word.
Dieselfde siening geld vir die kwessie van etnisiteit en nasionalisme. Ook dit is iets wat tot ‘n vergane era behoort en wat ‘n postmoderne mens veronderstel is om lankal te oorkom het. Etnisiteit en nasionalisme word met die 19de en vroeë 20ste eeu verbind en dus ook as lankal verouderd beskou deur liberaliste. Die post-moderne, verligte mens is internasionaal en nie-etnies van aard, ast ’n ware ‘n wêreldburger wat orals ewe tuis voel en almal op dieselfde manier behandel en geen verskille raaksien nie. Net soos met godsdiens is die veronderstelling hier ook een van die ontwikkeling na ‘n hoër vlak: van die eng nasionalis vol vooroordele na die bevryde en oop globalis.
Ek wil die liberale paradigma van die menslike ontwikkeling in fases van laer na hoër ‘n bietjie anders benader. Ek glo dat die ontwikkeling van individue en ook volke in fases plaasvind, waarby ek rofweg drie fases onderskei. Hier moet opgemerk word dat meeste mense in fase 2 of selfs in fase 1 bly vasstaan. Die drie fases wat geld vir mense se hantering van waardes, tradisies en hulle eie identiteit sou ek beskryf as eerstens die kinderlike of tradisionele fase wat op jou afgedwing word, tweedens die rebellie- of ontkenningsfase in weerstand daarteen, en derdens die hertoe-eiening van die tradisies en die eie identiteit op ‘n hoër vlak uit eie keuse. Dit wat liberaliste as die toppunt van ontwikkeling beskou, naamlik die losmaak van tradisie en die ontkenning van etnisiteit en identiteit, sou ek slegs as fase twee, as die tydelike rebellie, beskou.
Laat ek aan die hand van ‘n paar voorbeelde verduidelik:
Kom ons vat ‘n kind: hy glo dit wat hy leer, of dit nou die geloof aan God op ‘n kinderlike manier is, of gedragswyses wat ouers vir hom leer. Dit word kinderlik aangeneem want ‘n kind is maklik beïnvloedbaar. Die fase moet egter nie vlak gekyk word nie: meeste ouers leer hulle kinders baie belangrike en gesonde lewenslesse en dra hulle kultuur en oortuigings van die groter samelewing oor, of so is dit veronderstel.
Later, in die tienerjare, kom die fase van rebellie en bevraagtekening van alles wat geleer is. Dit is wel ‘n moeilike en vir ouers frustrerende fase, maar as ontwikkelingstadium wel belangrik, mits dit tydelik bly. Ongelukkig beleef ons in ons huidige tyd te veel volwassenes wat ewige jeugdiges is en nog steeds dink en redeneer soos tieners, in permanente weerstand teen hulle denkbeeldige ouers, of teen dit wat die rol van die ouers oorgeneem het, soos die staat of die kerk of die samelewing. Iemand soos Koos Kombuis is ‘n treffende voorbeeld in ons eie land, maar daar is hordes ander ook. Hulle hele lewe wentel rondom die weerstand teen alle tradisie en vaste norme as oorkompensasie vir streng opvoeding tydens hulle kinderjare.
In die derde fase, wat kenmerkend van ‘n volwassene behoort te wees, word besef dat die rebelliefase nihilisties en vernietigend van aard is en dat dit wat ‘n mens as kind geleer het en waarop die samelewing (ideaal gesproke) rondom jou gebou is, nie so sleg was nie, maar nodig en selfs goed is. Die tradisie en die norm word nou nie meer, soos deur die kind, aanvaar en gevolg uit vrees vir straf of omdat ‘n mens nie weet van iets anders nie, maar omdat die volwasse mens dit wil uitleef en besef dat hy deel is van ‘n tradisie, van ‘n geloofsoortuiging en van ‘n volk, en dat daardie waardes en tradisies hertoegeëien en verdedig moet word vir sy eie beswil en die van sy gemeenskap. Op godsdienstige gebied is dit gewoonlik die mense wat eers met God geworstel het en Hom dan weer ontdek wat gelouterde gelowiges is wat nie meer soos kinders en hul kindergeloof, maklik mislei kan word nie. Die fase van bevraagtekening was net ‘n tydelike verskynsel om by ‘n vaster en meer gefondeerde geloofoortuigings uit te kom.
Wat vir individue geld, geld ook vir volke. In die eerste fase het ons tradisionele volke, waarvan daar vandag ongelukkig nog min oor is. Enkele stamme in Afrika, in die Suidsee-eilandegebied of in dele van Suid-Amerika lewe nog so. Hulle leef volgens hulle tradisie en ou gewoontes omdat hulle dit nie anders ken nie. Na kontak met die buitewêreld word in die tweede fase gewoonlik alles vol bewondering aangegryp wat van buite af kom, ongeag of dit goed of afbrekend is. Die eie word verag en gepoog om sover as moontlik daarvan weg te beweeg. Na ‘n rukkie word egter die leegheid daarvan besef en weer herbesin op die eie en oorgelewerde gebruike en norme. Ongelukkig het talle volke nie genoeg diepgang nie om dit wat hulle oorboord gegooi het weer te vind, en verkeer in ‘n permanente ontstamde toestand, maar daar is tog talle voorbeelde waar selfs klein volke weer hulle identiteit ontdek.
Die Afrikanervolk het daardie pre-moderne, tradisionele fase gehad tot en met die 2de vryheidsoorlog, maar vele van die ou, tradisionele waardes het nog lang voortgeduur, tot in die laat 70erjare, by enkeles natuurlik nog tot vandag toe. Dit is ook omdat Suid-Afrika die ingrypende studenterevolusie en opkoms van die hippies, punks en ander verskynsel van die laat 60er en 70er jare vrygespring het.
Vir die Afrikanervolk het die fase van rebellie teen die oue en verkenning van die onbekende en nuwe eintlik eers in die oorgangstydperk van die 90erjare begin, want dit het gepas by die gees van die tyd: nasionalisme en gereformeerde Christelikheid was uit, wêreldburgerskap en rondswerf in die buiteland en eksperimenteer met alles wat die wêreld bied was die inding. Elke tweede jongmens het na skool in veral Londen gewerk en natuurlik daar alles beproef en ervaar wat ‘n geordende konserwatiewe huis en ‘n voorstad of plattelandse dorp nie kon bied nie. ‘n Woede en veragting vir die streng waardes van die kinderdae het sy uiting gevind in tirades teen die tradisionele kerke en waardes, teen politieke partye en die volksaak, nasionale onderwys met voorskrifte oor kleredrag en haarstyl, en slenterdrag, lang hare, rondslaap en dwelms was ‘n manifestasie daarvan.
Dit wil my egter voorkom asof daardie fase van rebellie en tieneragtigheid nou besig is om uit die volk te wyk. Dit is eenvoudig na ‘n ruk nie meer snaaks om net teen alles te wees en geen eie sinvolle waardes op te bou nie, en dit is ook betekenisloos om te rebelleer teen iets wat reeds dood is, soos die ou Suid-Afrika en sy streng opvoeding en norme en waardes.  Figure soos Max du Preez, Deon Maas en Koos Kombuis kom eenvoudig belaglik voor in hulle vaderwoede en tieneragtige sienings en gedrag, wat uit plek uit lyk in die huidige Suid-Afrika, waar mense al begin terug hunker na die goeie ou dae van orde en dissipline.
Jong mense rebelleer vandag eerder teen die nuwe orde, as teen ‘n verlede wat hulle nie ken nie en wat vir hulle ook nie meer so sleg lyk soos wat dit voorgehou word nie. Dit is egter nog ‘n gistingsproses en vind nog geen vaste orde nie. Die ou vlag word trots vertoon en die nuwe orde gevloek, maar daarmee saam internasionale slenterdrag gedra en “Englikaans” gepraat.
Daar is egter ook al hoe meer wat die fase van volwassenheid betree het en ‘n nuwe Afrikaner-identiteit vir hulle toeëien en besin oor die toekoms van hulle as deel van ‘n volk. ‘n Nuwe kulturele Afrikaanse na-94 lewe begin ontstaan, nuwe musiek, selfs Afrikaanse rebellieliedjies teen die nuwe bewind, nuwe prosa en poësie, nuwe filosofie en ook nuwe politieke debatte. Ook godsdiens word weer gekoester en die verband tussen die Afrikanervolk en sy roeping en band met God.
Die herbesinning oor die toekoms anderkant materialistiese verbruikershedonisme, emigrasie, bitterheid en rassisme sal seker die belangrikste uitkoms van die volwasse fase van die Afrikanervolk wees waarmee ‘n nasionale hergeboorte ingelui kan word.

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Die drie fases van ontwikkeling in ‘n mens en ‘n volk”

  1. vlaaming 3 Mei 2011 at 18:15 Permalink

    baie dankie vir nog n mooi stuk wysheid.

  2. Sanette 4 Mei 2011 at 09:02 Permalink

    Hierdie artikel het baie byval by my gevind. Ek moet my kop in skaamte laat sak en bieg dat ek in Fase 2 vasgevang was. Dit is maar die afgelope paar weke vandat ek julle webwerf ontdek en begin lees het, wat die bewustheid by my ontstaan het dat ek ‘n hunkering daarna het om terug te keer na my “wortels”. Ek woon in Johannesburg en glo my dat dit glad nie ‘n goeie plek is om jou kinders in groot te maak nie. Ek is geseend dat ek twee wonderlike dogtertjies het, maar die vrees is altyd daar dat hulle meegesleur kan word in die onheil van die omgewing waar ons woon.Gelukkig het ons baie sterk gestaan as ouers en nie omgegee dat ander ouers en kinders ons skeef aankyk omdat ons streng is met ons kinders nie.
    Ons het nou begin om hulle van hulle herkoms te leer (wat hulle natuurlik glad nie in die skool leer nie). En ek weet nou dat dit iets is wat ek nagelaat het as ‘n ouer. Dit is eintlik wonderlik om die geskiedenis van ons Afrikaaners weer op te lees, sodat ek dit met my kinders kan deel. Dit maak hierdie vuur in my wakker wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Ek sal nie meer “skaam” wees of “skuldig” voel omdat ek ‘n Afrikaaner is nie.

    • Sebastiaan 4 Mei 2011 at 09:46 Permalink

      Dankie vir die kompliment en welkom by die groep van die 3de Afrikaners. Kom besoek gerus Orania.

  3. Sanette 4 Mei 2011 at 10:07 Permalink

    Ek is nie van plan om Orania te besoek nie, want as ek my sin kan kry TREK ons binne the volgende paar maande Orania toe. Ek sien baie daarna uit om almal daar te leer ken.

    • Sanette 4 Mei 2011 at 10:17 Permalink

      Oops! Jammer oor die “the” in my vorige kommentaar. Net nog ‘n bewys van my ‘Tweede Fase’ bestaan hier in Johannesburg…

  4. Chantelle 12 Mei 2011 at 07:02 Permalink

    Hi
    Ek weet presies waarvan Sanet praat. Ek is ma van 2 dogtertjies. 5 en 8. En deesdae mees as ooit besef ek dat ons iets moet begin doen om ons kinders weer eg Afrikaans te kry. Ek en my man praat nou al meer as ‘n jaar lank dat ons moet immigreer, maar ons harte is Afrikaans. Ek het al van Orania gehoor, maar nooit gaan loer waaroor dit gaan nie. Nou dat ek op die web blad in was, begin my hart weer “verAfrikaans” en dink ek ek weet wat ons moet doen. Soos Sanet sê..Orania is ons Antwoord. Ons moet saam staan as Afrikaner om ons Kultuur nie te laat uitsterf nie. Ek moet sê ek is nog gelukkig in die sin, dat my kinders in ‘n net afrikaanse skool is, maar die probleem wat ek het is die standaard van onderig is nog steed ons Onderwys departement sin. Hulle leer nie van Geskiedenis soos ons en leer om dit te waardeur nie…Hulle leer van die 21 ste eeu geskiedenis en almal weet waaroor dit gaan. Dit is nie vir my eg Afrikaans nie. Ek is seker ons sal binnekort by Orania kom inloer om te kom sien en ons kinders te wys hoe Afrikaans mense nog kan wees en ek is seker ons sal daar ons harte weer vind.

  5. lukas 12 Mei 2011 at 11:13 Permalink

    ja ek sou graag op orania wou kom bly , maar ek sukkel om genoeg te spaar sodat ek nie n las vir die gemeenskap sal wees maar n aanwins.ek sal aanhou droom moontlik word drome waar . baie groete en sterkte aan die oraniers van lukas van rooyen. my e pos lukasvr@hotmail.com

  6. Barend 23 Mei 2011 at 15:51 Permalink

    Dis cool!!!


Lewer Kommentaar

*