19 Julie 2011 ~ 9 Kommentare

Die drie beginsels van Orania

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl
Waaroor gaan Orania? Mag swartmense ook daar bly? Hoekom wil julle julleself isoleer? Wie is ‘n Afrikaner? Hoekom kan jy jou Afrikanerskap nie ook in ‘n gemengde Suid-Afrika uitleef nie? Skop julle nie teen die prikkels nie? Is dit die opoffering werd? Gaan dit nie maar daaroor om net tussen wittes en veilig te wees nie? Hoekom kan julle nie met swartmense saamleef en ‘n beter land vir almal help opbou nie?
Al die soort vrae word gedurig van mede-Afrikaners, buitelanders, joernaliste en wie ook al aan Oraniërs gevra en dan dobber ons heen en weer om net eers vooroordele uit die weg te ruim en dan praat ons oor die verskil tussen die rasse, hoe erg dit buite gaan, oor misdaad, hoe Suid-Afrika na die afgrond toe beweeg, wat in Zimbabwe gebeur en ons voorland is, ens.
Ander weer sal lang filosofiese relase skryf wat natuurlik nodig is, maar wat net ‘n intellektuele minderheid verstaan en wat vriend en vyand verwar ( wat wel ‘n goeie taktiek is as dit by die vyand kom).
‘n Strewe, ‘n idee, moet in ‘n paar eenvoudige woorde gegiet kan word wat dit alles opsom en wat dan filosofies en ideologies uitgebou, verduidelik en beredeneer kan word.
Ons sê gereeld waaroor Orania nie gaan nie: nie oor rassisme nie, nie oor isolasie nie, nie oor gekose agterlikheid en vyandigheid teenoor ander kulture nie.
Ook nie net oor veiligheid, werk, ‘n skoon natuur en ‘n rustige lewe nie, dit is bysake wat ‘n mens elders ook kan kry.
Volgens my kan die strewe van Orania in drie kernbeginsels opgesom word: Vryheid, volkseie arbeid en Christenskap.
Vryheid beteken dat ons as volk ons self wil regeer, tot op die hoogste vlak soos wat dit toepaslik raak. Tans is ons ‘n dorp en is tevrede met plaaslike selfbestuur, want ons het nie die kapasiteit vir meer nie, maar ons wil ook nie minder aanvaar nie, want ons plaaslike bestuur werk en gee ons gerustheid dat ons vir onsself kan sorg. Dit mag egter nie die einddoel wees nie. Soos ons groei moet ons streef na streeksoutonomie en uiteindelik onafhanklikheid.
Vryheid gaan oor elke aspek van jou lewe: die reg om jou eie taal in die openbaar te praat, om deur mense bedien te word wat jou mense is, om veilig en rustig tussen jou mense te bly, om regters en leiers oor jou te hê wie jy kan vertrou om jou sake te hanteer en om billik teenoor jou as Afrikaner op te tree. Vryheid is tasbaar, maar dit is ook simbolies: die Vryheid tot die uitlewing van jou kultuur en die vertoon en eer van jou simbole, nie net in die binnekamer nie, maar juis in die openbaar, en sonder dat dit aan mense aanstoot gee, want die mense saam met wie jy die Vryheid deel, voel ewe sterk daaroor. Vryheidsimbole is jou eie vlag, jou eie geldeenheid, jou eie volkslied, jou eie museums, volksfeeste en vakansiedae.
Volkseie arbeid dek die aspek van die ekonomie. Dit is ten nouste verbind met Vryheid. Vele Afrikanerorganisasies in Suid-Afrika praat oor Vryheid, maar min pas volkseie arbeid konsekwent toe. Die waarde daarvan kan nie hoog genoeg geag word nie. Sonder volkseie arbeid gaan geen meerderheidsbesetting plaasvind nie en gaan ons vir ewig ‘n koloniale volk bly: ‘n volk wat eintlik nie ‘n volk is nie, maar ‘n klas wat altyd in die minderheid is en wat met sy geld ander mense opbou en self nie in staat is om selfs eenvoudige werk te doen nie. Geen Eerste Wêreldse samelewing kan ontstaan as ‘n volk nie in staat is om alles self te doen nie. As ‘n land ontwikkel is, kan ‘n mens sekere take uitkontrakteer aan die wat beter of goedkoper is, maar eers as jy reeds gevestig is. Selfs dan is dit nie ‘n wenslike pad nie.
Danksy die vereiste vir volkseie arbeid het ons weer begin om ambagsvaardighede in Orania te ontwikkel. Geen samelewing wat iets wil beteken kan sonder sy middellaag van tegnici en ambagsman bestaan nie. Veral in die opboufase is mense soos bouers, elektrisiëns, loodgieters en werktuigkundiges belangrik. Die Duitse ekonomie, een van die sterkste in die wêreld, is nie gebou op lae lone nie, en nog minder op die uitvoer van grondstowwe nie, maar op goeie produkte deur goeie vakmanskap. Die volkseie arbeid beginsel moet konsekwent toegepas word as ons Vryheid meer as net teorie en drome moet wees. Die spesifieke werker op grondvlak mag dalk nie besef dat hy ‘n bydrae tot Vryheid lewer nie, maar die waarde daarvan moet die samelewing besef en daarom so iemand op die hande dra.
Volkseie arbeid kan natuurlik verder gevat word en volkseie denke insluit, want kenniswerk is ook werk. As ‘n volk afhanklik raak van vreemde ideologieë, soos ons tans afhanklik raak van die ideologie van liberale individualistiese verbruikersgewoontes, sal sy vryheidsgees daarmee saam verdwyn.
Laastens, maar nie die minste nie, is Christenskap ons derde kernbeginsel waarop Orania en die volkstaatstrewe gebou is. Die Afrikanervolk verloor sy fondasie as dit van die Christelike lewens- en wêreldbeskouing afstand doen. Trouens, sonder ons Christelike ingesteldheid verloor Afrikanerskap sy betekenis, sy inhoud en sy glans. Waarvoor sal ons al die opofferings doen, as ons nie ‘n Christelike samelewing (met al sy menslike beperkinge) tot stand wil bring nie, maar net die duiwel in Afrikaans wil dien? ‘n Gesonde gesinslewe, eerlike besigheid, wedersydse vertroue, die versorging van hulpbehoewendes en die vreedsame saamleef met jou naaste is bykans ondenkbaar sonder ons Christelike tradisie.
Christenskap gaan verder as slegs ‘n morele leefwyse, maar die morele onderbou van so ‘n samelewing is die fondasie waarop die kerk sy reddingstaak kan doen en waarbinne mense tot bekering geroep kan word. Dit is wel nie die rol van die gemeenskap as geheel om die kerk se werk te doen nie, hulle moet net die onderbou verskaf en instand hou, en die individuele Christene, predikante sowel as leke, het die taak om die Bybelse boodskap uit te dra.
Al die dinge wat ons tans so oor kerm en wat verkeerd is in die ANC-Suid-Afrika het te doen met die uithaal van God uit die grondwet en die wegbeweeg van Christelik gebaseerde wette en gebruike na sekulêre en selfs heidense wette en gebruike. Natuurlik moet ons waak teen fanatisme, ons wil ‘n Christelike samelewing bou, maar nie een wat deur een denominasie of erger nog, een sekte met hulle eng en eensydige vertolking van die Bybel beheer word nie. Die oorgrote meerderheid Afrikaners is Christene, en ‘n aansienlike deel daarvan selfs Christene wat hulle godsdiens leef. As ons erkenning aan God gee en dit konsekwent uitleef, van burgemeester tot handwerker, sal Orania en sy strewe geseën word.

Vryheid! Volkseie Arbeid! Christenskap!

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Die drie beginsels van Orania”

  1. Frits 20 Julie 2011 at 15:17 Permalink

    Wel gese. Hierdie is werklik n bootskap wat die Afrikaner tot harte kan neem.

  2. Tertius Theron 21 Julie 2011 at 13:59 Permalink

    Sebastiaan, ek stem saam met basies alles wat jy se…ek persoonlik sou die opskrif wou uitbrei na ‘Die drie beginsels van die Afrikaner en dan nog sy ‘identiteit’ daar iewers insluit. Een ander aspek van die groep waaroor jy skryf is sy kerk organisasies insluitend, voeg ek by, dogmas, kerkwette en programme. Ek glo dat die Afrikaner een groep moet word voor God almagtig, wat ‘hy’ tans nie is in vele opsigte nie, en ontslae raak van bogenoemde onbybelse ‘sogenaamde opdragte’ van sy menigte kerkorganisasies. Dit sou die Oraniers en Afrikaners geweldig baie baat om ‘verlossing’ te vind van sy ‘kerk-kettings’ en ‘vry’ met suiwer geloof in God, Jesus en sy medevolksgenoot te kan dien…

  3. Anoniem 21 Julie 2011 at 19:01 Permalink

    My vraag is altyd, wat van ons Afrikaners wie nogsteeds aan die Afrikaner kultuur vasheg maar wie ateiste is? Is ons ook welkom daar, ek het geen probleem met Christelike waardes nie en is ook baie polities en ekonomies regs, as dit nie vir my geloofsoortuigings wat nie dan sou ek dalk al probeer het om in te pas by Orania, maar dit is asof die Afrikaners daar met hulle geloof ons in eksklusiwiteit indruk. Ons ateiste kan ook bedrae maak tot die ekonomiese welvaart en die samelewing en ons kan ook lewens met waardes lei.

    • Quintin Diederichs 3 Augustus 2011 at 11:38 Permalink

      Anoniem, sodra mens jouself aan die Afrikanerkultuur vasheg dan gaan jy aan Christenskap blootgestel word. Skeer mens dan die bladsye met Christelike liedjies uit die FAK-sangbundel uit voor jou kinders daarna mag kyk? Wanneer ‘n groep Afrikaners aan tafel sit en ‘n gebed opsê, druk mens dan jou ore toe? . Hoe kan mens jou kinders van Bloedrivier vertel sonder om die Gelofte te noem?

      Ek dink nie mens kan waarlik aan die Afrikanerkultuur geheg wees sonder om op jou knieë te kan gaan voor ons Skepper nie. Die Afrikanerkultuur is natuurlik meer as die handjie vol voorbeelde wat ek hierbo genoem het maar ek dink dit is reeds genoeg om te demonstreer dat ‘n ateïs op die heel beste slegs selektief geheg kan wees aan die Afrikanerdom.

      Geloof is ‘n keuse en as ‘n Afrikaner vrywilliglik kies om nie ‘n Christen te wees nie dan stel ek nie belang om met so ‘n persoon ‘n toekoms te bou nie, ongeag van die persoon se politieke oortuigings en belegging vermoë.

  4. Waldo 21 Julie 2011 at 19:49 Permalink

    Afrikaner Calvinisme as kultuur fasset gaan oor die Judeo-Protestantse etiek. Kultuur kan nie vir jou voorskryf hoe jy persoonlik oor God dink nie, maar wanneer die meerderheid wel hul verhouding met God as ‘n ernstige saak beskou, beinvloed daardie meerderheid die kultuur van die volk, en kry jy dus ‘n Christenvolk – anders as bv. ‘n Moslemvolk, waar die godsdiens basies die hele kultuur is, en andersdenkendes in die moeilikheid kan beland.

    • Sebastiaan 28 Julie 2011 at 08:15 Permalink

      Goed gestel Waldo, dit is min of meer wat ek bedoel. Ons is nie ‘n kerk of klooster nie wat mense se hart kan ondersoek nie, maar as ons almal ten minste Christus bely en ons gebonde voel aan die Christelike etiek is ‘n gesonde samelewing amper gewaarborg. Met ‘n ateis sou ek ‘n probleem hê, want ‘n ateis is nie iemand wat “neutraal” is oor God nie, maar wat oortuig is dat God nie bestaan nie en wat natuurlik, soos enigeiemand wat ‘n oortuiging het, ander daarmee sal probeer beinvloed. Maar dit is nie vir my om te besluit wie in Orania welkom is nie, die gemeenskap in sy geheel aanvaar mense of nie. Dit is nie ‘n kwessie van ‘n keuringsproses nie, maar van hoe jy self tuisvoel, inpas of nie. Ons is vir seker nie almal eenders nie, trouens, ons het ook mense wat polities meer liberaal of links ingesteld is maar nog steeds trots Afrikaner en Christen is.

  5. Quintin Diederichs 3 Augustus 2011 at 11:42 Permalink

    Goeie blik op sake Sebastiaan! Hoe meer Afrikaners aan so ‘n helder uiteensetting van Orania blootgestel word, hoe beter vir ons almal.

  6. B Flowers 5 April 2012 at 17:37 Permalink

    Neo-liberale Christenskap
    Die een enkel element wat die Roomse katolieke kerk in al sy onheiligheid verbied het was om te woeker met geld,( Lev 25:36). Woeker met geld is met oorgawe aangeneem deur die gereformeerde doktrine van John kelvin(Cohen) en so is die klimaat geskep dat voorspoed op aarde en rykdom n seen van bo is. Neem in ag dat God al vooraf geweet het wat elke persoon se toekoms is , so is die voorspoed en rykdom van n persoon dan n moontlike indikasie dat hy n uitverkorene is en dat God nog planne vir hom het. Verder word n voorspoedig en suksesvolle mens outomatiese gesien as n persoon met goeie morele waardes, geestelik en natuurlik. Alles wat goed is word vereenselwig deur ekonomiese onafhanklikheid . So met een enkele ekonomiese komponent van woekery wat met n beweging van n hand en n penveer 451 jaar in berekening gebring was deur calvinisme is neo-liberale Christenskap gebore.
    Die vorming van neo- liberale Christenskap deur John Kelvin verleen die werklike en oorhoofse premissie (op aarde) vir alle Christene om deel te neem in woekery , geld maak en rykdom. Om ryk te wees beteken mos dat jy iets reg doen. Die konneksie is gemaak en n ontskeibare verband tussen die geestelike seen en die natuurlike seen is gevorm. Geestelike bevryding kan net geskiet deur die bewys van aardse rykdom . As jy ryk en voorspoedig is staan jy n beter kans om in die hemel te kom as die gewone man op straat , ongeag of jou rykdom onderhou word deur ongereguleerde kapitalisme (uitbuiting). Die sielkundige begrip is dan dat afhangende van jou rykdom , dit is hoeveelste jy sal wees in die ry wat by die poorte staan. Die kompetisie wat geskep word in die ekonomiese sisteem is dan onbewustelik n geestelike kompetisie vir die heilige ry by die poorte.
    Dit is die sondaars wat swaar kry en jy word gestraf deur ellende indien jy arm is(ongeag die ongelyke speelvelde en pas van super kapitalisme). Die ekonomiese sisteem van kapitalisme is gebaseer op regverdige deelname en is ook n vrye mark waar almal mag deel neem , die probleem is net dat as die onbevoorregtes van die hand na die mond lewe dan is dit n dan onmoontlik vir hulle om deel te neem , so is die vrye mark dan nie regte n vry en regverdige ekonomiese sisteem nie.
    In die jaar 50 n.c het Pieter ”petros-rots” die visserman die eerste apostel waar aan Jesus verskyn het die Roomse kerk gestig en so vir 1500 jaar die verlosser en redder gekaap in die dogmatiese doktrine van die heilige Roomse kerk tot en met die hervorming, oorspronklik deur Martin Luther .In die jaar 1517 het Martin Luther sy 95 klagtes teen die Roomse kerk deur gehamer. Die protestante hervorming was nie net geestelik van aard nie maar het seker vir goeie redes ook n deelname gehad in die einde van feudalisme , nuwe siening in die politiek en die noodsaaklike band tussen die protestante etiek as die ondersteunde basis vir alle werkers wat vrywillig en onvrywillig deel neem in die ekonomiese sisteem van neo- liberalisme wat gebaseer is op die “laissez-faire” model. In ander woorde maksimum profeit sonder die inagneming van die sosiale kostes en voorspoed van werkers.
    Met die Wete dat n mens oor vrye wil beskik het die hervormers nog steeds voor gegaan en die “sonde van woekery “ wat totaal en al verbied was in die ou testament op 17 plekke in die bybel(voorbeeld, Eze 22:12, Lev 25:36, Lev 25:37, Deu 23:19) heilig of te minste aanvaarbaar verklaar. Dit is net interessant dat daar skielik twee verse in die nuwe testament op duik wat woekery voor praat en goed vind word. Die gelykenis van die ponde(voorbeeld, Mat 25:27, Luk 19:23)
    Wetend dat God en sy woord onveranderlik is, is daar net een verklaring vir die verandering van die oorspronklike “sondige woekery” wat in die ou testament verbied was na die aanvaarbare en noodsaaklike deelname in die woekery ekonomie. Die skielike en onverstaanbare verandering in die woord van God kan net verduidelik word deur die vertaling van die Bybel van Hebreeus na Duits deur Martin Luther in die middel van 1530 en die “herskryfing” van die Christelike etiek deur John Calvin wat oorspronklik nie die verkose woeker sonde in gesluit het nie . Glo dit of nie maar ook in die jaar middel 1530,met sy eerste uitgawe van die prinsipale van die Christelike geloof. Die geboorte datum van neo-liberale Christenskap het dan plaas gevind in die jare1535 En weer eens word die redder gekaap met die teologiese denke deur Calvinisme(a.k.a Cohen) met die afleiding dat God premissie verleen het vir die toegepaste “woeker geloof’ vir die laaste 477 jaar.

    • Erick 11 Mei 2012 at 11:09 Permalink

      I’ve been stuck on chapter 11 for about 4 weeks now, don’t feel bad. Of cosure, to try and compensate, I started a short story and I feel even worse because now I have TWO things not done!


Lewer Kommentaar

*