06 Desember 2013 ~ 25 Kommentare

Die dood van Nelson Rolihlahla Mandela

Geskryf deur Carel Boshoff

‘n Brief aan inwoners en uitwoners van Orania

Die oud-President van Suid-Afrika, mnr Nelson Rolihlahla Mandela is laasnag na ’n lang siekbed oorlede. In ’n sekere sin het die wêreld reeds in die winter vanjaar van hom afskeid geneem en kan mens die tyd sedertdien as ’n tyd van persoonlike afskeid vir sy naaste familie en vriende beskou. Wat nou vir ons van belang is, is dat sy dood ’n nuwe era in Suid-Afrika inlei.

Eerstens is dit belangrik dat ons ook hierin Paul Kruger se raad sal navolg, naamlik om die goeie uit die verlede te neem en ons toekoms daarop te bou. Dit doen ons deur mnr Mandela se eie argument ’n logiese stap verder te voer as wat hyself gedoen het en daarmee sy optrede teenoor Orania tot ons voordeel te benut. Dit kom op die volgende neer: Mnr Mandela wou ’n nalatenskap van versoening hê; ons sê versoening is ’n goeie ding, maar dit kan net op erkenning gebou word – en erkenning is die grondslag van vryheid. Die voorbehoud is natuurlik dat mens nie op erkenning kan aanspraak maak as jy nie ook bereid is om dit te gee nie; daarom ons bereidwilligheid om aan mnr Mandela die erkenning van ’n gevalle opponent te verleen.

Tweedens moet ons besef dat die oorgangskikking na meerderheidsregering wat op ’n sekere verstandhouding berus het, met mnr Mandela se dood net verder op die agtergrond skuif. Dis ’n ope geheim dat verhoudings binne die ANC en die regerende alliansie die afgelope tyd onder groot druk verkeer en dat sy versoenende houding vinnig in die vergetelheid raak. Dit kan spanning verhoog, ook tussen wit- en swartmense in Suid-Afrika en hoewel dit nie tot ’n onmiddellike oplewing van geweld hoef te lei nie, moet Afrikaners as ’n kwesbare, klein en verspreide bevolkingsdeel van Suid-Afrika ernstige aandag aan hulle veiligheid gee.

Terwyl ons Afrikaners aanmoedig om vir enige gebeurlikheid gereed te wees, weet ons dat die enigste permanente versekering van ons veiligheid en voortbestaan in die bewoning, bewerking en beheer van ’n eie gebied opgesluit lê. Daarom moet ons in Orania ook deurlopend en toenemend gereed wees om op nuwe en meer omvattende maniere vir ons volksgenote se nood voorsiening te maak. Ons is immers nie hier net ter wille van onsself nie, maar ter wille van ons volk.

Derdens moet ons doen wat die boer gedoen het toe die Griekse held Icharus in die see geval het nadat hy, volgens die mitologie, vir hom vlerke van was gemaak het, maar te naby aan die son gevlieg en dit gesmelt het. Die boer het naamlik … aangehou ploeg. Dit is goed om kennis te neem van die groot gebeure wat rondom ons plaasvind, maar dit is nog beter om koelkop te bly en aan te hou doen wat ons doen, om hierdie groeipunt van ’n Afrikanervolkstaat met al ons ywer en kragte op te bou.

As ons iets van mnr Mandela kan leer, is dit dat mens jou lewe kan wy aan ’n saak waarin jy glo en dat sukses kan volg, selfs al lyk dit aanvanklik onmoontlik.

Deel/Stuur

25 Reaksies op “Die dood van Nelson Rolihlahla Mandela”

  1. John Peyper 6 Desember 2013 at 12:55 Permalink

    Baie mooi stelling gemaak…dankie

    • Frans 6 Desember 2013 at 16:56 Permalink

      Van waneer af “Mnr Mandela wou ’n nalatenskap van versoening hê”. Ek dink jy en die res van die wereld leef in ‘n sprokies wereld want ek glo hy het net ‘gego with the flow’ met genoeg ondersteuning vanoor die wereld, en “As ons iets van mnr Mandela kan leer, is dit dat mens jou lewe kan wy aan ’n saak waarin jy glo en dat sukses kan volg, selfs al lyk dit aanvanklik onmoontlik.” ons kan niks van Mandela leer nie, want ons het almal iets waaraan ons ons lewe wy, maar min van ons kry dieselfde sukses, behalwe deur harde werk. Mandela het dit verniet gekry ek ook ‘n groot boggerop daarvan gemaak.Kyk maar om jou buiten miskien Orania. Hoekom het julle Orania geskep?, was dit nie deel van Mandela se na-latenskap nie? Aggenee man , gee eerder Verwoerd, Gen. De Wet , Paul Kruger en ander ware Afrikaners die eer as jy moet en moenie saam met die wereld gaan nie en sodoende gatkruip by swartes en groeps druk nie. Gaan dink ‘n bietjie mooi, Mandela het niks gedoen wat genoem kan word nie, hy is ook, as jy vergeet het, vir hoogveraad aangekla en moes die doodstraf gekry het, of is dit nou na al die breinspoeling vergete?. Ek skaam my vir jou mooi praatjies.

      • Carel Boshoff 6 Desember 2013 at 19:46 Permalink

        Frans

        Ek is nie seker of jy vatbaar is vir ‘n siening wat jy nie reeds het nie, maar gaan nietemin probeer om die grofste misverstande tussen ons uit te klaar.

        Eerstens probeer ek nie te kenne gee dat mnr Mandela sy lewe gewy het aan versoening as sodanig nie. Hy was kennelik in die stryd vir wat hy as sy mense se vryheid beskou het. Wat ek bedoel as ek na sy begeerde nalatenskap verwys, is dat hy as die grootmoedige oorwinnaar bekend wou staan eerder as om die wraaksugtige oorwinnaar te wees. Dis waar ek die aanknopingspunt vind om ‘n oortuigende argument in ons guns te ontwikkel sonder om van al sy bewonderaars noodwendig ons vyande te maak. Nogal ‘n belangrike strategie as mens min is en oor min hulpbronne beskik. Om die waarheid te sê, die ANC se “onverstaanbare” sukses hou verband met suksesvolle strategieë van hierdie soort. Ek dink nie ons hoef vir altyd die muishonde van die wêreld te wees nie; die Boere van die ou republieke was dit nie, hulle het eerder die soort steun geniet wat die ANC amper ‘n eeu later gemonster het. Ons kan dit ook weer doen, maar dan sal ons in staat wees om in ander se skoene te staan en uit te vind hoe hulle dink.

        Tweedens sal dit ‘n groot fout wees om jou opponent só te onderskat dat jy dink jy kan niks by hom leer nie. Om die waarheid te sê, dis dikwels die laaste ding wat jy dink voor jy ondergeploeg word. As ons niks van hom/hulle kan leer nie, hoe het hulle dit reggekry om ons so ore aan te sit en die mag oor te neem? Ek bedoel nie dat hy ‘n reuse sukses van Suid-Afrika gemaak het nie, maar wel dat hy ‘n vernuftige politikus was wat geweet hoe om sake in sy guns te laat loop. Die probleem is dat selfs ‘n goeie regering uit daardie geledere vir Afrikaners ‘n slegte regering sou gewees het, want dit gaan oor botsende belange. Bygesê dat hy en die ANC nie sonder deursettingsvermoë hulle doelwitte sou bereik het nie; daarmee moet mens ook maar rekening hou.

        Derdens het Orania nie vir die óf-ons-óf-hulle benadering gekies het nie, maar vir ‘n derde punt buite dié spanningsveld. Minderheidsregering was toenemend onvolhoubaar; Verwoerd het dit al geweet en alternatiewe probeer ontwikkel, maar het nie die geleentheid gehad om dit deur te voer nie. Afrikaners se beweegruimte het elke jaar minder geword en teen die vroeë 1990’s was dit glashelder dat ons op ‘n drasties kleiner gebied moes aanspraak maak as ons hoegenaamd ons selfbeskikking wou behou. Baie min mense het dit ingesien en ons moes maar van die grond af begin opbou. Maar as ons dan nie die meerderheid se aanspraak op hulle selfbeskikking hoef te probeer bestry het nie, hoef ons nie hulle leiers te verguis en te beveg nie. Dit het nuwe moontlikhede vir ooreenkoms, erkenning en wedersyds voordelige ooreenkomste geopen, al was ons sukses daarmee om verskeie redes taamlik beperk. Dit het in elk geval nuwe perspektiewe geopen.

        Die punt is dat dit ons niks kos om realistiese erkenning aan ‘n opponent soos mnr Mandela se kwaliteite te gee nie, maar eerder in ons guns kan tel – in beginsel en in praktyk. Om die waarheid te sê, dit rus ons in werklikheid beter toe vir wat ookal die toekoms van ons mag eis.

        • Stephan Krause 9 Desember 2013 at 18:47 Permalink

          Carel, ek hou van jou koel en beredeneerde benadering. Om sake objektief te beskou getuig van intelletuele volwassenheid.

          Verder is dit ook beter om jou fondamente op rasionaliteit te bou as emosionele rassehaat.

          • Fred Grové 9 Desember 2013 at 20:35 Permalink

            Dit is `n baie realistiese wel oordenkte christelike benadering tot die dood van oud president Mandela – tot eer van almal!

  2. Thinus Lotz 6 Desember 2013 at 13:20 Permalink

    Uitstekend gestel, Carel!!

  3. Anthony Schlemmer 6 Desember 2013 at 13:30 Permalink

    Dankie vir hierdie puik artikel.Ons eie vryheid stryd sal nou moet verskerp word. Die aanslae teen ons sal nou verder toeneem as die stof gaan le.

  4. Sebastiaan 6 Desember 2013 at 14:09 Permalink

    ‘n Goed beredeneerde en deurdagte en veral gebalanseerde komentaar. Te veel mense neig na een van die twee uiterstes toe, Mandela-verafgodding aan die een kant, of haat en verguising aan die ander kant. Orania se sterk punt was nog altyd dat ons koelkop gebly het en gedoen het wat ons al voor mnr Mandela se bewindsaanvaarding geweet het die regte ding is: vryheid in ‘n kleiner grondgebied met eie arbeid.

  5. william 6 Desember 2013 at 14:35 Permalink

    Ek sien Nelson Mandela as n leier van die Xhosa sprekende mense. Hy was nog nooit my leier nie. Dit kan nie wees nie. Ons as blankes is na meer as 3 honderd jaar net so inheems soos al die ander. Ons het aanspraak op n gebied waar ons in vrede kan leef.

  6. van der Leegte 6 Desember 2013 at 15:00 Permalink

    Ik hoop echter wel dat jullie deze man respecteren en er leer uit halen. Hij die de wereld veroverde met louter goedheid, in tegenstelling tot onze(Nederlanders oranjes). De respect die hij in de wereld krijgt is ook groot. Ondanks mijn respect naar jullie leefwijze, probeer niet meer bang te zijn

  7. Andrew Meyer 6 Desember 2013 at 16:15 Permalink

    Baie dankie Carel …. ek stem in die breë met jou saam, en wil jou gelukwens met `n wel gebalanseerde opinie.

  8. Joffre Papenfus 7 Desember 2013 at 07:41 Permalink

    Balans is belangrik indien die geskiedenis beoordeel word, maar die waarheid des te meer:
    Ook, vandag is ons grootste uitdaging sekerlik om te besef dat, soos ons treur oor ons geliefdes, ander ook treur oor húl geliefdes, ongeag wie of wat hulle was of verteenwoordig, en dat dit sekerlik gerespekteer behoort te word.

    Maar terwyl ek hoor hoe leuens oor die luggolwe uitbassuin word, kan ek nie stilbly nie!

    Voordat ek ´n paar gedagtes deel, enkele aanhalings wat belangrik is:
    “At the end of the day, I said, violence was the only weapon that would destroy apartheid …
    I began to sing a freedom song, the lyrics of which say, There are the enemies. Let us take our weapons and attack them.” [1953]
    “In my mind we are closing a chapter on the question of a nonviolent policy.” [1961]
    “I argued that the state had given us no alternative to violence. Chief Luthuli … initially resisted my arguments. But we worked on him the whole night … In the end he was persuaded.” [1961]
    “For myself, I have never regretted my commitment to the struggle” [1995]

    Die voorgaande is aanhalings (my eie klem) deur Nelson Mandela in sy outobiografie: uit die staanspoor was hy ´n voorstaander van geweld; na sy formele pleidooie ten gunste van geweld (1961) word hy mede-stigter (leier van ´n driemanskap) van MK, wat sou voortgaan om duisende se lewens te neem deur geweld.

    Vandag weerklink herinneringe en oproepe “om te onthou” – en daarom wil ek een en almal vra dat ons moet onthou:
    Kerkstraat 1983
    Landmyn voorvalle reg deur die 1980’s, wat vele gedood en vermink het
    Bom ontploffings in openbare plekke reg deur die 1980’s, wat meer gedood en vermink het
    Bomme en dreigende aanvalle op skole
    Brutale moorde op die veiligheidsmagte, meermale dood geslaan of dood gebrand
    Grootskaalse sabotasie van infrastruktuur
    St James kerk aanval 1993

    Ja, kom ons onthou ook:
    Sharpeville 1961, toe gewapende skares tot aanval oorgegaan het teen die polisie
    Soweto 1976, toe die geweldenaars agter kinders geskuil het
    Die daaglikse petrolbom-aanvalle, stenigings en “necklace”-moorde in swart woongebiede

    Maar by uitstek moet ons ook onthou van duisende volksmoord-slagoffers sedert 1994 ….

    Hiermee wil ek nie enige standpunt rondom die sogenaamde “struggle” beredeneer nie:
    Die omvangryke geweld en lewensverlies spreek van vanself;
    so ook “For myself, I have never regretted my commitment to the struggle”

    En die nalatenskap van die sogenaamde nuwe suid afrika spreek ook duidelik!

  9. JH du Toit 7 Desember 2013 at 08:56 Permalink

    Joffre Papenfus, jy is reg. Ons moet nou ook die slagoffers van Mandela se ‘struggle’ in herinnering roep. Verder moet ons ook onthou dat die volksmoord wat huidiglik teen ons gevoer word die logiese en geestelike uitvloeisel van Mandela se ‘Armed Struggle’ is.

    Nietemin voel ek dat Carel Boshof ‘n baie goeie en ewewigtige verklaring geskryf het. Orania is ‘n klein embrionale Afrikaner volkstad binne ‘n swart subkontinent. Dit is ‘n netelige posisie. Dis belangrik dat Orania se leiers onberispelike diplomate is waar dit die dorp se verhouding met die RSA betref.

    • tulp 16 Desember 2013 at 20:12 Permalink

      “Dis belangrik dat Orania se leiers onberispelike diplomate is waar dit die dorp se verhouding met die RSA betref.”

      Inderdaad.

  10. tulp 8 Desember 2013 at 09:44 Permalink

    Bedankt voor je antwoord, Carel. Tsjoe, wij zijn blij met je zinnige bijdragen, steeds opnieuw!!
    Wij zien de volkstaat/Afrikanerland in de eerste plaats als een toevluchtsplek voor Afrikaners, waar zij een eigen thuis vinden en ook, redding van wat hen in het huidige Zuid-Afrika wacht. In de eerste plaats dus een thuisland voor de Afrikaners, onafhankelijk en met een eigen regering.
    –Toch willen wij niet ‘a whites-only-republic’. Dat lijkt ons niet gezond. Het kan ook moeilijk, omdat in het gebied van de volkstaat reeds anderen dan Afrikaners wonen. Zij moeten ook van harte welkom zijn in de Volkstaat. Bovendien, wat van swartes die ver-afrikaner-d zijn? En die ook voelen: ons tuiste is in die Volkstaat.- Gaan wij hen de deur wijzen? Nee, dat zou ook onrechtvaardig zijn. Ook zij zijn van harte welkom.
    –Verder nog, in de Bijbel, met name het OudeTestament lees je keer op keer, dat vreemdelingen ‘aankleefden’ aan het joodse volk tijdens en na hun exodus uit Egypte. Keer op keer wordt de Joden/Hebreeën gewaarschuwd: wees goed voor de vreemdeling en de wees onder jullie. – Wij zien dat ook een beetje als een leidraad van godswege om niet een staat van inderdaad ‘super-afrikaners’ te proberen te kweken. Uiteindelijk moet de volkstaat een republiek worden, dat als tuiste voor de Afrikaners fungeert, maar dat een gezonde ‘nie-wit-afrikaners-politiek’ voert. Hier is nogal wat werk te doen voor het bestuur van Orania. Omdat dit een gevoelige zaak is. Maar met de gezonde inzet van jullie, zoals die God zij dank, ook nu is, is er zeker hoop.
    –Verder nog: een gezonde politiek naar buiten toe, dus naar Zuid-Afrika, buite die Volkstaat toe. Wij denken hierbij aan hulpvaardige houding jegens ANC en/of regering van SA. Geen oppositie-politiek!! Een houding: ons bou ons eie volkstaat en daarbuite is die swart wereld, wat kan ontplof. Alles reg, solank onse dinge reg gaan. – Zo’n houding proeven wij soms bij sommige ‘volkstaters’ en wij zijn van mening, dat dat negatief is. En juist niet een goede toekomst voor juist de Volkstaat waarborgt.
    –Verder nog: uitsaai-activiteiten naar de afrikaner-jeugd binnen Suid-Afrika ten einde de gedachte van de Volkstaat/Afrikanerland bekend en eigen en geliefd te maken. Orania moet met name jonge Afrikaners, matrieks en studenten gaan aantrekken!!
    –Tenslotte nog: niet alleen richten op het succes dat Orania aan het worden is. Er moeten richting Weskus, vanuit Orania, nieuwe groeidorpen worden gesticht. Dit werk moet nog helemaal van de grond worden opgebouwd.
    –Het is bij dit alles erg belangrijk, dat Afrikaners met een gezonde kyk op de Volkstaat en op de problematiek van Afrikaner en Suid-Afrika leiding krijgen. Absoluut geen AWB. Wij steunen die goede, gezonde liefde voor die volkie, maar wij wijzen nationalisme af.
    –Pas op voor de AWB en aanverwante groepen. Zij kunnen veel kwaad aanrichten, juist ook m.b.t. de Volkstaat en Orania, omdat ook juist zij dit voor zich opeisen. Pas op voor hen!!
    –Wij zien weinig heil in nederzettingen als: Kleinfontein. Wij moeten onze krachten richten juist op Orania en het Volkstaat-gebied.
    –Orania bruist van het leven. Het is bijna: leven uit de dood. En het is vreselijk leuk om te zien. Jullie groeien en gaan vooruit en dat gaat alleen maar toenemen. Wat vreselijk leuk.

    • Ropie 18 Desember 2013 at 18:11 Permalink

      Geachte tulp,
      U zal het zeker wel allemaal goed bedoelen maar u moet niet, vanuit Europa, de mensen van Orania zo zachtjes de richting aanwijzen hoe en waarheen zij moeten gaan…
      Afrikaners zijn echt wel wijs genoeg om te weten wat voor hen mogelijk is en wat niet, zij leven immers al reeds 300 jaar in Afrika. Steun en sympathie voor Orania zullen zeer zeker steeds welkom zijn maar ze hebben, dacht ik, vanuit Europa geen “wijze raad” nodig om te weten wat ze moeten doen of laten..
      En terloops, over wie of wat ‘n Afrikaner is kunnen er boeken worden volgeschreven maar ik denk dat het begrip ‘Afrikaner’ toch wel ‘n beetje ruimer is dan ‘iemand die (ook) Afrikaans praat’…

  11. tulp 8 Desember 2013 at 09:57 Permalink

    Excuus tog mense, hierbo het ek geskrywe: “wat van swartes die ver-afrikaner-d zijn”. – In Afrikaans kan dit vinnig verkeerd verstaan word. ‘ver-afrikaner-d = wat afrikaners geword het. Jy kry ook swartmense wat afrikaans (amper of geheel) as moedertaal het oorgeneem en ook afrikaner-tradisies.

  12. Elizma 12 Desember 2013 at 22:17 Permalink

    Nelson Mandela het harte sag gemaak met sy warm glimlag, sy intellegente antwoorde en sptisvondigheid en met sy “Madiba Charm” My punt is net: Hy het die mag gehad om sy mense te regeer en as hy gepraat het, het hulle gehoor gegee. Waarom het hy nie n vinger verroer rondom die stakende unies nie? waarom het hy nie n vinger verroer teen die moorde op ons eie mense nie?

    Daar heers tans verwardheid onder die Afrikaners want daar word n donker prentjie geskilder. Ons kan dit nie wegpraat nie, dis besig om te gebeur. Van die volk glo vas aan die voorspellings van Siener van Rensburg en elkeen het sy/haar eie ontleding van die visioene en dis baie verwarrend, veral vir die van ons wat nie eintlik vertroud is met sy boeke nie. Die een groep Afrikaners doen n beroep aan ons om op gereedheids basis te wees om te onttrek na plekke van veiligheid. Ander maan ons om rustig te wees want daar gaan niks gebeur nie.

    Is dit Mnr Mandela se nalatenskap aan ons Afrikaner volk? Verwardheid, onsekerheid, n uitlander in ons eie land?

  13. A G GOVAERT 18 Desember 2013 at 15:07 Permalink

    Ek sien dit absoluut nie as verering nie, maar as herdenking.
    Ook al word die verering wansmakelijk vergroot.

    Elke mens doen foute en goeie dinge in die lewe.
    Mandela self is hiervan die grootste bewys.

    Persoonlik hou ek daar nie van nie en vind ek dit ook nie netjies nie om oor mense te gaan praat wat oorlede is, oor wat hulle nou fout en goed gedoen het en dat dit ontaard in ‘n bespreking

    Liewer is ek stil in so ‘n situasie …….. want baie woorde oor ‘n oorledene in positiewe of negatiewe sin, oor dinge wat hy of sy miskien wel of nie gedoen het nie …. jy kan daar tog nie veel meer mee

    Kom ons onthou met respek vir almal op welke manier dit ook gedoen word, dat is elkeen vir homself.

    baie groete uit die verre west vlaanderen

    Jou vriend !

    • Simon 1 Januarie 2014 at 06:47 Permalink

      As ‘n ekstensie tot die gedagte en in ‘n pre mortem wat sou mens van FW de Klerk, sy protagonis/antagonis (afhangende van perspektief) kon sê i.t.v. onderstaande?

      “Elke mens doen foute en goeie dinge in die lewe.
      Mandela self is hiervan die grootste bewys.”

      Wat was FW se foute en se goeie?

  14. Boeretrooskoerant 30 Desember 2013 at 00:06 Permalink

    Met die afsterwe van NRM betree die Afrikaner inwoners van hierdie land n nuwe era en slaan hy n nuwe bladsy om in die skrywe van sy eie geskiedenis en nalatenskap – Hoe sal ons voortbou en wat staan ons volk te doen in hierdie moeilike tye waarin ons verkeer en vasgevang is ?
    Ek stem saam ons moet baie noukeurig oplet na alles wat ons doen en ook so ons lewens oordeelkundig uitleef. Die Boervolk het n taak gekry, ‘n bo-natuurlike mandaat om iets op te rig in Afrika tot verheerliking van die Allerhoogste en ons Volk. Laat ons dus berekend voortbou daaraan en die mooi voorbeeld beskou wat Orania gefundeer het en sterk ondersteun.
    Lank Lewe die Boervolk !

  15. Peet 4 Januarie 2014 at 16:45 Permalink

    Ek tree ongelukkig bietjie laat toe tot hierdie uiters interessante en leersame debat maar ek wil graag as 72 jarige Afrikaner ook my stuiwer in die arm beurs gooi:

    Ons Afrikaners roem daarop dat ons Christine is en dat ons glo in die almagtige God, die skepper van hemel en aarde en beskikker van heel ons lewens lot. Ons glo dat Hy altyd ten volle in beheer is en ‘n doel het met ons lewens en dat niks per toeval gebeur nie.

    Gevolglik moet ons aanvaar dat Hy dit so beskik het dat Mandela op die toneel verskyn het om te help orde skep en rigting te gee aan die politieke chaos wat geheers het van net voor sy vrylating tot na die 1994 verkiesing.

    Die Mandela wat as terroris gebrandmerk is en lewenslank tronk toe gestuur is was nie dieselfde man wat 27 jaar later met onderhandelings begin het nie. Gedurende daardie 27 jaar is hy deur omstandighede en baie ander faktore (ook deur die werking van die Gees van God) in sy lewe gelouter. Mandela se boodskap van versoening en gelyke regte vir almal is duidelik geskoei op die boodskap en voorbeeld van Jesus Christus. Mandela het nie net versoening gepraat nie! Hy het dit uitgeleef en die voorbeeld gestel van hoe dit gedoen moet word. (Hiervan het duisende mense van oor die hele wêreld getuig tydens die 10 dae van rou voor en tydens sy begrafnis.)

    In retrospek was Mandele dus die regte man op die regte tyd. Nie net vir die swart volke waarvoor hy geveg het nie, maar ook vir ons Afrikaner volk en daarvoor moet ons die Here dank! Dinge kon soveel slegter uitgedraai het.

    Die afgelope 20 jaar het gladnie so goed verloop soos wat ons, asook Mandela self, dit sou wou gehad het nie. Met sy dood het Mandela nou egter, soos wat Carel dit gestel het, gesorg vir ’n nuwe begin. Dit is nou ’n heel nuwe era wat voorlê. ’n Era waarin ons Afrikaners onsself baie ernstig sal moet ondersoek en deeglik besin oor wat ons nou te doen staan. Ons moet die inisiatief neem en weer met toegewydheid, harde werk en volle vertroue op die Allerhoogste beheer neem oor ons toekoms. Ons moet pro-aktief wees en nie terug sit en wag dat die huidige regering vir ons sorg nie, hulle het ander prioriteite.

    Hier is Orania ’n pragtige voorbeeld van wat behoort te gebeur! Dit is egter nie naasteby genoeg nie, ons sal nog baie ander hase ook uit die hoed moet trek. Dit is egter ’n heel ander debat.

  16. Ben 21 Februarie 2014 at 17:27 Permalink

    Ek stem saam dat Mandela in die gevangenis gelouter was. Wat was die dinge wat hy na bewindsaanvaarding egter gedoen het: aborsie gewettig, die doodstraf afgeskaf, instromingsbeheer afgeskaf…

    Miskien het hy na almal se pype probeer dans en almal gelukkig probeer hou; hy was egter as jongman nie stamgebonde nie, soos sy houdings oor gereelde, tradisionele huwelike getoon het, en demokrasie het hom goed gepas.

    Hy het wel besef dat hy verteenwoordigend vir die hele land moet optree en hy was ook die persoon wie se sienswyses die oorgang van ‘n landelike na ‘n stedelike gemeenskap verteenwoordig het – 70% van SAers woon deesdae in stede.

    Persoonlik dink ek sy integriteit is bevraagtekenbaar as ‘n mens na statistieke kyk, maar hy kon wel mense inspireer. Het hy die nou weg bewandel, of die bree weg…?

    ‘n Kunsmatige gelykmaking; en ‘n nie-rassige, nie-seksistiese, godsdiensgelyke benadering sou ook nie probleme oplos nie.

  17. brooklyn 16 Augustus 2016 at 17:30 Permalink

    wat is die incident wat gebeur het by Howick wat bygedra het tot die geskiedenis van Mnr. Mandela


Lewer Kommentaar

*