25 Junie 2012 ~ 17 Kommentare

Die diplomasie van Orania

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Orania is wel nie ‘n staat nie, maar ook meer as maar net nog ‘n dorp. Dit is ‘n groeipunt vir ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat en die sentrum van die Afrikaner se praktiese vryheidstrewe.

Ons strewe geskied uit die aard van die saak nie in isolasie nie. In tye waar elke vierkantemeter aan die gesag van een of ander staat onderworpe is, is staatskepping van niks af en van nuuts af beslis nie maklik nie en kan ook nie in isolasie geskied nie.

Om ons strewe te verwesenlik moet ons die kragte om ons, nasionaal en selfs internasionaal, in ag neem.

Ons kan van verskillende konsentriese kringe praat wie se goedgesindheid of ten minste neutraliteit ons nodig het as ons wil suksesvol voortgaan met ons strewe. Daar is eerstens die Afrikaners, vir wie die staat bedoel is wat ons skep, en wat die mense is wat ons bo al die ander nodig het om ons te steun. Selfs binne die redelik oorsigtelike Afrikanerkonteks werk ons met ‘n wye spektrum. Aan die een uiterste is diegene vir wie ons strewe neerkom op die opgee van die herstel van die ou Suid-Afrika, of ten minste die ou Boererepublieke. Aan die ander uiterste is die Afrikaners wat die idee om nie die nuwe Suid-Afrika met blydskap te aanvaar en daarbinne op te gaan nie, as mal en verkramp beskou. Die groot meerderheid Afrikaners staan selfbeskikking voor, al sou hulle dit nie so noem nie, maar hulle wense getuig daarvan. Hulle soek ‘n veilige, mooi omgewing tussen hulle eie mense, met Afrikaanse skole en kerke en ‘n Christelike lewensbeskouing. Hulle weet egter nie van Orania nie, of het enkele persepsies, partymaal positief, maar meestal negatief.

Die hoofaandag van ons bemarking fokus dus op Afrikaners en Orania skakel met Afrikaanse organisasies oor die hele spektrum, soos  AfriForum, Solidariteit, Vryheidsfront Plus, FAK, Voortrekkermonument, wat ons almal in ‘n mindere of meerdere mate goedgesind is. Dis hier waar ons steun lê en waar ons nuwe inwoners, besoekers, donateurs en lede kan werf.

Volgende staan ons onmiddellike bure, die Afrikaanse boere wat min of meer inskakel by Orania alhoewel min van hulle nog die volkseie arbeidsbeginsel toepas en dan die bruingemeenskappe van die buurdorpe soos Hopetown en Petrusville.  Ons verskil kultureel en wat ons toekomsverwagtings betref, maar ons deel een geografiese gebied en ons moet goeie buurmanskap handhaaf en bevorder. Die onlangse besoek van die nuwe burgemeester van Hopetown, mnr Jonas, was van waarde en die vreedsame naasbestaan en die uitruil van kennis en ondervinding is bevestig. Ons staan by ons beginsels en strewe, maar ons soek nie konflik nie en wil ons fondse en energie liewers vir verdere opbou gebruik, nie vir uitmergelende hofsake en vergaderings oor Orania se status nie.

Nog ‘n groep waarmee ons moet skakel is ander Suid-Afrikaanse etniese groepe wat ook glo aan kulturele behoud en lokalisme. Die besoek van die bruin gemeenskap van Eersterust was reeds ‘n sinvolle uitruiling en onlangs is bande aangeknoop met die tradisionele Xhosa-gemeenskap van Mnyameni in die Oos-Kaap. Orania glo aan selfbeskikking en selfbeskikking is nie beperk tot die Afrikaner nie, maar geld vir elke groep wat die begeerte het om sy eie kultuur uit te leef en in beskerming te neem.

Vir Orania, wat dikwels voorgehou word as ‘n plek van eksentrieke mense wat teen die globale logika stry soos Don Quixote teen die windmeulens, is dit van groot waarde om sustergemeenskappe te kan kry wat ons strewe deel. Dit moet ander Afrikanergemeenskappe met ‘n vergelykbare strewe wees, soos Kleinfontein, waarmee daar reeds goeie bande bestaan, maar ook gemeenskappe van ander minderhede of groepe wat na kulturele behoud strewe en plaaslike ontwikkeling wil bevorder, soos Mnyameni en Eersterust. Vorentoe kan selfs susterdorpe in Suid-Afrika en selfs in ander lande verkry word. Na die Tweede Wêreldoorlog het stede en dorpe in Europa nogal ‘n belangrike bydrae tot versoening van vyandige volke gedoen deur op plaaslike vlak in verskeie lande susterdorpe of stede te kry om gereeld kulturele uitruiling en wedersydse besoeke te besig, wat in elke opsig verreikend was en vooroordele afgebreek het.

Die volgende kring is die regering en ampsdraers wat kultureel en ideologies ver van ons verwyderd is, maar wat belangrike rolspelers is wat nie geïgnoreer kan word nie. As Orania ‘n teiken van die regering word, lê swaar tye vir ons voor. Met die regering en die media se hipersensitiwiteit oor rassisme is dit van uiterste belang om te wys dat Orania oor kulturele selfbeskikking gaan en nie oor rassisme nie. Besoeke van ANC-ampsdraers soos presidente Mandela en Zuma, Aardsbiskop Desmond Tutu en ANC-Jeugleier Julius Malema was groot diplomatieke suksesse om mense wat ons vyande kon wees, te neutraliseer. In die proses het ons geen van ons beginsels prysgegee nie, want dit is Orania se standpunt dat ons ‘n Afrikanergemeenskap is wat sy leefwyse, werkswyse en uitgangspunte graag en met trots aan belangstellendes van enige kultuur bekendstel en wat dalk ook lesse het vir ander plaaslike gemeenskappe.

Die media val ook in dié groep. Ongeag of dit Afrikaanse of Engelse media is, hulle is verbind tot die een-nasie idee en Suid-Afrikanisme en staan dus skepties of selfs vyandig teenoor Orania en sy strewe van selfbeskikking. Goeie skakeling met die media, wat die boodskapdraers na die meeste Suid-Afrikaners is, het egter ook al vir ons punte gewen en die media se gesindheid het verbeter en aanvalle op ons raak minder. Af en toe kry ons selfs positiewe artikels en uitsendings wat vir ons beeld buite baie beteken.

Laastens, maar nie die minste nie, raak ons internasionale skakeling ook toenemend belangrik. Min selfbeskikkings- of bevrydingsbewegings kon iets regkry sonder internasionale ondersteuning. ‘n Bekende voorbeeld is die ANC, wat intern nie juis ‘n faktor was nie, maar deur internasionale steun opgeblaas is tot die enigste legitieme verteenwoordiger van die meerderheid van Suid-Afrik se bevolking. Ons internasionale skakeling is nog in sy kinderskoene, maar verskeie skakelbesoeke aan verskeie Europese lande soos Nederland, Brittanje, Vlaandere, Suid-Tirool en Duitsland is al onderneem en formele bande is gevorm met spesifiek die Suid-Tirolers en Vlaminge. Dit het begin met besoeke van mense wat nuuskierig was oor Orania ‘n paar jaar gelede en is intussen al ‘n groeiende en vrugbare vriendskap met formele strukture en groot donasies vir die uitbou van Elim is reeds ontvang van die Suid-Tirolers, Vlaminge en Nederlanders. ‘n Formele sustersdorpooreenkoms met ‘n Suid-Tiroolse en Vlaamse dorp sal die kroon daaroor span.
Die steun wat ons op die sosiale media kry uit verskeie oorde, die gereelde e-pos steunboodskappe en navrae en die lewende debat wat heers moet ook nie onderskat word nie.

Die doel van goeie diplomasie is om met diegene wat jou vriende kan wees, soos ander Afrikaners, ander plaaslike gemeenskappe en Europese broedervolke, maksimale bande te vorm en mekaar te ondersteun en om diegene wat jou vyande is of kan wees, soos die regering en die media, so ver te kry dat hulle jou en jou strewe aanvaar en vreedsame naasbestaan handhaaf.

Deel/Stuur

17 Reaksies op “Die diplomasie van Orania”

  1. Schalk van Niekerk 26 Junie 2012 at 15:04 Permalink

    Ek het vanaf hierdie nuusblad verneem dat Orania 2000 hektaar aan die Weskus bygekoop het. Kan u dalk vir my se waar dit is en kan ons al daar begin huise bou? Ek stel belang!

    Waar kan ek uitvind wat erwe op Orania kos?

    Is daar besigheidsmoontlikhede op Orania en kan u vir my se wat dit is. Kan ons byvoorbeeld n “Franchise” besigheid begin?

    Groete

    • Sebastiaan Biehl 27 Junie 2012 at 06:59 Permalink

      Geagte Schalk,

      ja, Orania oftewel ‘n groep Oraniers wat ‘n maatsakppy gestig het, het ‘n plaas teen die Weskus gekoop. Erwe kan reeds bespreek word.
      Op Afsaal se webblad http://www.afsaal-op-orania.co.za is daar fotos en meer besonderhede.
      Die plaas is sowat 10 km suid van Groenriviermond, en die naaste dorp is Garies.
      Erwe kos R300 000 en het almal seeuitsig.
      Jy kan daar ‘n huis bou, voorwaardes geld ten opsigte van boustyl (Weskus Vissershuisstyl). Water sal beskikbaar wees, vir krag en riolering moet die koper son/windkrag en droë riool gebruik.
      As jy belang stel, stuur vir my jou besonderhede na afsaal@oranet.co.za en ek sit jou naam op ‘n lys.

      Groete

      Sebastiaan

    • Sebastiaan Biehl 27 Junie 2012 at 07:01 Permalink

      Schalk,

      erwe wat te koop is kan besigtig word op http://www.afsaal-op-orania.co.za

      Hier is tans ‘n gulde besigheidsgeleentheid: die Oewerpark Restourant is te koop. Kontak my gerus direk vir navrae in die verband by afsaal@oranet.co.za

      Groete
      Sebastiaan

  2. BJ de Jager 26 Junie 2012 at 17:34 Permalink

    Waar kan ek uitvind wat erwe op Orania kos?

    http://www.afsaal-op-orania.co.za/

    • Sebastiaan Biehl 27 Junie 2012 at 06:45 Permalink

      Beste BJ de Jager,

      die webadres van Afsaal Eiendomme is http://www.afsaal-op-orania.co.za
      As jy my e-pos by afsaal@oranet.co.za kan ek ook vir jou ‘n lys aanstuur, of jy kan my kontak by 053-2070040 of 0731649936

      Erwe kos so gemiddeld R130 000. Die goedkoopste een is tans R100 000, die duurste een R198 000.

      Groete

      Sebastiaan Biehl

  3. Louis 26 Junie 2012 at 19:59 Permalink

    Watter aansporings bied Orania aan die boere om volkseie arbied te gebruik?

    • Sebastiaan Biehl 27 Junie 2012 at 06:50 Permalink

      Beste Louis,

      in die beginjare van Orania is daar hard probeer om boere te oortuig van volkseie arbeid. Ongelukkig was feitlik niemand bereid om dit ‘n kans te gee, en stories (deels waar, deels opgeblaas) oor swak en onbetroubare blanke arbeid het die ronte gedoen. Die probleem is ook dat baie boere net nie die denkskuif kan maak van swart na wit arbeid nie, en nie weet hoe om wit arbeiders te hanteer nie, omdat dit ‘n nuwe konsep is.
      In die laaste tyd is daar wel van die boere wat van buite af kom en grond hier gekoop het wat genoeg gehad het van swart arbeid en wat werk met volkseie arbeid.

      Wat nodig is, is iemand wat ‘n span Afrikaner-plaaswerkers oplei en kontrakwerk doen, om die voordele aan boere te wys. ‘n Boer word nie oortuig deur ‘n politieke ideaal nie, maar deur iets wat werk.

      Groete

      Sebastiaan

      • Philip 1 Julie 2012 at 19:55 Permalink

        Beste Sabastiaan,
        Die feit dat omliggende boere lugtig is vir volkseie arbeid en die Volkstaat idee, laat my bekommerd. Hoe gaan ons ooit n Volkstaat vanaf Orania tot die see tot stand bring as ons nie verder as Orania se buurplase kan kom nie? Word Oraniers dan as vreemdelinge gesien deur die plaaslike mense met politieke idees wat nie so lekker inpas met die plaaslike nie? Hoeveel skaapboere is daar in Orania? Die nuwe pragtige video oor Orania wys nie n enkele skaap nie (of het ek verkeerd gekyk?). Ek is bevrees dat indien die Oranjerivier uit berekening gebring word, gaan Orania bars om n bestaan te maak. Dit wil my voorkom dat daar n te groot fokus is op die rivier en boerdery aktiwiteite wat daarvan afhanklik is, dat die hinterland in die rigting van die see grootendeels geignoreer word. Is dit nie tyd vir Orania om n skaapplaas aan te koop en vir die Bo-Karoo skaapboere te wys dat blanke arbeid beter skaaphanteerders as kleurlinge is nie? Deur te doen sal ons mense oortuig. Konferensies, vergaderings, berade en baie praat oortuig nie n skaapboer nie. Ons moet gaan kers opsteek in Australia en gaan uitvind hoe die “cattle station” konsep daar werk en dit hier toepas. Ek is oortuig daarvan dat n mens met n span skaap hanteerders wat op Orania woonagtig is, meer as een plaas kan bearbei. Dit is nie nodig vir n span arbeiders om permananent op een plaas te woon nie. Jy skuif hulle rond waar die werk is. Indien daar nie werk is nie, stuur jy hulle huis toe na Orania. Komaan Orania, ons moet n skaapplaas kry en gou ook. Anders gaan hierdie Volkstaat idee nooit verder as Kraankuil vorder nie. Laat staan nog Loxton.

        • Mike 3 Julie 2012 at 12:07 Permalink

          Goeie idee Phillip hoop die Oraniers neem kennis daarvan.

        • Sebastiaan Biehl 3 Julie 2012 at 12:19 Permalink

          Philip,

          in die beginjare het prof Carel en sy ondersteuners hard probeer om die boere te oortuig van volkseie arbeid. ONgellukkig het nie eers diegene wat Orania goedgesind was en hier ingeskakel het dit toegepas nie. Afrikaners is inherent konserwatief, en die boere in die besonder, en volksvreemde arbeid is ongelukkgi absoluut deel van hulle kultuur. Daar is gepraat oor ‘n volkseie skaapkibboets, maar dit het gebly by praat. In praktyk loop jy jouself altyd teen struikelblokke vas: grond moet ten duurste aangekoop word, jy moet aanvaarbare behuising voorsien vir jou werkers, jy sit met ‘n maatskaplike probleem van verveelde jong mans uit die laerklas, en jy moet kompeteer met iemand wat die grond by sy pa geerf het en wat met kleurlinge werk wat van feitlik niks kan lewe en ver genoeg van jou af bly dat hulle maatskaplike probleme jou nie skeel nie.
          Dit klink nie baie bemoedigend nie, maar vir die huidige moet ons fokus op dit wat werk. Volkseie arbeid werk, dit is egter makliker toepasbaar in velde waar ‘n mate van geskooldheid vereis word en waar jy nie met die armstes van die armes moet meeding nie.
          Uitendelik sal Orania se landbou waarskynlik, soos in Europa ook, meesal deeltyds wees: afgetrede mense wat ‘n bietjie groente op hulle plot verbou en verkoop, jong gesinne wat naweke ontsnap na hulle hoewe toe en daar ‘n bietjie boer. Hier en daar sal hoogs gemeganiseerde profesioenele en intensiewe plase ook wees, met ‘n gesin en dalk nog 2 of 3 werkers.

          • Louis 3 Julie 2012 at 19:49 Permalink

            Beste Sebastiaan,

            Jy praat baie sin, miskien is die beste roete om te help moderniseer die boere hul plase sodat hulle minder arbeiders gebruik.Orania kan help deur kapitaal of dienste sodat die boere sal geen ander keuse hê nie, maar deur integrasie met Orania.
            Als die beste vir jou en Orania vir die toekoms.

            Groete
            Louis

  4. D J C PUTTER 27 Junie 2012 at 16:37 Permalink

    Ek lees met verbassing van die blankes wat kla oor blanke arbeid,
    as n Waterberger wat saam met die Boshofs groot geword het,kan ek nog goed onthou van die blankearbeiders wat vir hulle n eerbare lewens
    bestaan met hande arbeid op die die destydse SAS&H gemaak het.Nou wonder
    ek net wat het van ARBEID ADEL geword?
    Ek sal baie graag die planne van die Karoo huise wil sien.
    Dankie.
    Danie Putter.

  5. Thys Basson 21 Julie 2012 at 08:45 Permalink

    Goeiedag Strydgenote

    Ek skryf sommer hier ‘n paar gedagtes, stem saam met Sebastiaan oor Orania se diplomasie, julle het meer geduld as ek. Nee ek bewonder ons(Orania) diplomate want hierdie week het ek my humeur lelik verloor tydens ‘n werksfunksie voor al my base en my naam redelik skade aangedoen.(As gevolg van ‘n Engelse konsultant wat vir ons kom help met ‘n nuwe inklusiewer benadering in die werkplek,(wat goed is), maar hy het heeltyd Apartheid en so gebruik as sy negatiewe voorbeelde en jy kon net sien hy kom uit die ANC kraal uit met sy woordkeuses en sekere redenasies)

    In elk geval ek verstaan waarmee julle heeldag te doene het en bid julle net sterkte toe. En Orania is weer op sy beurt vir my ‘n bron van inspirasie, om ten minste te weet dat my hele volk darem nog nie gaan lê het nie. Erens onder die as van al die gemors wat rondom en met ons gebeur, is daar darem nog ‘n kameeldoringkooltjie wat gloei…..

    Die een ding wat ek al lankal oor wonder is dit; Moet ons nie ons vryheidsideaal opbreek in kleiner stukkies wat makliker “afgebyt” kan word nie. In ander woorde ons moet eers fyn takkies op ons heilige kooltjie sit, om hom geleidelik te bring tot ‘n magtige vuur wat groot bloekomstompe met gemak kan verteer en dan tot ‘n geweldige veldbrand……….. Byvoorbeeld, die ideaal van ‘n staat wat strek vanaf Orania na die Weskus, dit is ‘n mooi ideaal, maar omdat ons nog nie genoeg mense daar gevestig het nie lyk dit nog vaag en moeilik haalbaar.

    So ek wil graag ‘n ander scenario skets, Veronderstel Afrikaners kan net een arm dorpie onafhanklik maak van die RSA. ‘n Dorpie wat vir meeste Suid-Afrikaners niks beteken nie en selfs lagwekkend en/of tragies lyk. Sou dit so moeilik wees, Sou Zuma Orania met tenks bestorm as hy homself sou onafhanklik verklaar? Hoe sou dit in die oë van die wêreld lyk?

    Gestel Orania kan dit regkry selfs al het hy net 1000 gevestigde inwoners en miskien 9000 arm Afrikaners wat niks het nie en in blikhuisies of tente bly. Dit is basies die profiel van meeste Suid Afrikaanse dorpe, met een uitsondering, ons is Afrikaners, eerstewêreld, vryemark tegnologies gevorderde mense, met aansienlike kennis(Volgens my gaan die nuwe ekonomie oor juis dit, Kennis eerder as natuurlike hulpbronne, Bv Japan(Kennis,kultuur,werksetiek, eer, geen goud, olie ens nie) versus Angola( Afrika kultuur, Sosialisties, Olie, Diamante ens)Oordeel self wie is die beste. Waar sou dit ons laat?

    Ek skat so ‘n staat sal vrek arm wees aan die begin, maar hy sal met sy nuutgevonde vryheid, werklik sy eie ekonomie kan opbou, volgens sy eie reêls, vryemark,hoogs mededingend, effektief. En omdat hy nie met al die Suid-Afrikaanse interne problematiek opgeskeep sit nie sal die belastinglas nie so hoog op sy burgers en maatskappye hoef te wees nie. Hy kan homself gunstig posisioneer as ‘n veilige, eersteklas, winsgewende plek om te belê,lae misdaad, lae belasting, bloedweinig staatsinmenging in die ekonomie of mense se private lewens, ‘n veilige poort na die res van Afrika. Ek dink ook dat hy dan vinniger nuwe immigrante sal kan lok.

    Kort voor lank sal Orania nie meer ‘n klien dorpie wees nie maar ‘n Wêreldstad, wat kan vergelyk met Windhoek, Bloemfontein,Pretoria. Net baie , Baie beter. So ‘n Stadstaat sal beskik oor ekonomiese en politieke mag. Nie net na binne nie maar ook na buite. En hy kan sy Afrikaners in die res van die wêreld polities ondersteun. Hy kan ‘n uitstekende hoogs tegnologies gevorderde lugmag en leër hê. Soos Israel tussen die Arabiere.

    En die toekoms lê oop, as daar dan Afrikaners aan die witwatersrand is wat ook hulle leefruimte wil bevry, dan kan Orania hulle help, en as Zoeloes of Vendas wil wegbreek van die RSA kan Orania hulle help. Uiteindelik kan die groot Suidafrikaanse Ondier finaal die nekslag toegedien word, met vrye Stadstate en Streke wat kan saamwerk as hulle wil en sonder om te wil baasspeel oor mekaar.

    En Afrikaners moet ophou om te dink dat as daar ‘n Afrikanerrepubliek in die Noordkaap is dat dit ‘n republiek in die Suidkaap of Gauteng, of selfs Suidwes-Afrika of in Timbaktoe sou uitsluit of teëwerk. Orals waar Afrikaners is wil ons hê dat hulle so vry as moontlik moet wees. Ons moet onsself so posisioneer dat enigiets moontlik is en nie met mekaar onnodig stry en baklei nie. Selfs Afrikaners sal meningsverskille hê, en ons moet dit probeer sien eerder as ‘n sterkpunt as ‘n swakpunt, Ons moet wegbeweeg van die ou denkwyse waar een leier of een groep alles weet of ooit kan weet en eerder sorg dat ons die beste word wat ons kan word en ‘n katalis kan wees wat groter veranderings kan teweegbring.

    Soos Neo in The Matrix, ons moet leer vlieg…..

    En dan op ‘n ander onderwerp, volkseie arbeid/of nie is grootliks’n funksie van ekonomiese werklikhede. Jy sal min Afrikaners kry wat bereid is om heeldag ‘n pik en graafman te wees vir R80/dag. En dit is ook nie wat ons vir ons mense wil hê nie. Ek het self witjongmanne gehad wat v ir my gewerk het en ongelukkig moet ek sê dit was nie baie suksesvol nie, Nie op daardie vlak nie, en dit geld nie net vir Suid-Afrikaanse blankes nie maar ook vir Bruinmense tot ‘n mate. Al mense wat vir jare bereid is om laaggeskoolde arbeid teen minimumlone te verrig is juis jou ongeskoolde mens wat min of geen kans op selfverbetering het nie. En ek kry hulle jammer en verstaan hoekom hulle sal staak en te kere gaan, wat dit is al wat hulle ken, en langtermyn dink ek nie ‘n ekonomie moet grootliks op handearbeid staatmaak in die eerste plek nie.

    Ons Suid-Afrikaanse agtergrond het dit vir ons maklik gemaak om herdes ongeskoolde werkers te gebruik, In die res van die wêreld is die nie die geval nie. Orals, in eerstewêreldlande is handearbeid baie duur. En dus word meganisasie ‘n baie lonender proposisie. Net kortliks maar iets wat ons nie moet vergeet nie.

    Dankie en Voorspoed, Ek staan agter Orania

    Thys Basson Perlemoenboer van Hermanus

  6. Thys Basson 21 Julie 2012 at 09:44 Permalink

    Ek het nog ‘n stertjie om by my storie aan te las. Kom ons kyk na die verskynsel van jongmense wat oorsee gaan werk. Ons kry byvoorbeeld selfs rykmense se kinders wat vir ‘n jaar of so gaan werk in Europa. Daar doen hulle enigeiets van kinders oppas tot konstruksiewerk en plaaswerk, Werk wat hulle nooit in Suid-Afrika eers sou oorweeg het nie. En as hulle terugkom kan hulle huise koop en besighede begin terwyl jou outjie wat hier plaaslik dalk in ‘n redelike bestuurspos sit met grade agter sy naam, net dankbaar is dat hy ‘n werk het en ‘n ou kar ry wat darem so nou en dan start. Is dit nie ‘n eienaardige situasie nie?

    Sou ‘n onafhanklike Orania nie dalk ook ‘n sterk geldeenheid kon hê wat jong Afrikaners kon lok om bietjie handearbied te verig terwyl hulle nog besluit wat om te gaan studeer nie.

    Dit hang van baie ding af wat nou moeilik is om te voorspel, maar tog net vir my laat wonder…

  7. Karooseun 21 September 2012 at 04:13 Permalink

    Ons vir jou Suid Afrika…..?

  8. Oomjan 21 September 2012 at 13:57 Permalink

    Ek stem saam met Thys. Ek wonder ook hoekom jong Afrikaners oorsee gaan om hande-arbeid te verrig, terwyl hulle hier verseg om dit te doen. Dalk is dit nodig om hulle opnuut die waarde van selfwerksaamheid aan te leer.

    In ons stamlande is eie arbeid ‘n eeu-oue gebruik. Wat maak dit dan so anders in Suid-Afrika? Die “goedkoop” volksvreemde arbeid is inderdaad nie so goedkoop as wat gedink word nie. Maak jou eie sommetjie: Minimum lone, byvoordele, lae produktiwiteit, stakings, arbeidswette, misdaad, en so voorts.

    Ons sal ‘n kopskuif moet maak.

    Groete.

  9. Frits 21 Oktober 2012 at 13:22 Permalink

    Ja, zinvol artikel, Sebastiaan.


Lewer Kommentaar

*