30 Mei 2018 ~ 6 Kommentare

Die Bittereinders se boodskap vir vandag

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Op 31 Mei 1902 het met die Vrede van Vereniging die Tweede Vryheidsoorlog oftewel Anglo-Boereoorlog geëindig. Die dag staan ook bekend as Bittereinderdag en word in Orania jaarliks herdenk met ʼn besoek aan Oranjerivier Konsentrasiekamp en ʼn eerbetoon aan die vroue en kinders wat gesterf het in die oorlog. Die naam Bittereinderdag kom daarvan dat op die tydstip net nog die “Bittereinders” geveg het, die verflenterde en uitgehongerde guerrillatroepe van genls. de Wet, de La Rey, Beyers, Botha, Hertzog, Kemp en ander, saam met die siek president Steyn wat tot die laaste nog in die veld was. Militêr is hulle nooit verslaan nie, maar die omstandighede van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe was net te erg om aan te gaan. Die Bittereinders het geveg tot die bittere einde, die vrede van Vereeniging, toe. In hulle eie woorde sou dit egter nie help dat hulle die republieke se onafhanklikheid behou en daar is geen volk meer oor nie. Die versigtig geskatte getal van 27 000 vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het weens ondervoeding, mishandeling en siektes was vir so ʼn klein volk soos die Afrikaner net te veel, om van die persoonlike lyding nie eens te praat nie. ʼn Winter was voor die deur waar die sterftes altyd nog meer was as onder normale omstandighede. Dus moes hulle ingee en vir vrede onderhandel.

Alhoewel hulle bitter en hartseer was oor die verlies van hulle vryheid en hulle republieke en veral oor die verskriklike lewensverlies en skade van die oorlog, was hulle nie gebroke nie. Hulle neerlaag en hartseer het nie gemaak dat hulle verbitterd was en hulle onttrek het nie. Nee, dit was juis die Bittereinders wat die stryd vir vryheid waarvoor hulle so hard geveg het, op ander terreine voortgesit het, naamlik op die politieke terrein.

Na die totale neerlaag het die gety gedraai. Die Britse regering het verander en die nuwe regeerders het spyt gekry oor wat hulle land gedoen het (al was daar nooit ʼn amptelike verskoning nie), veral te danke aan Emily Hobhouse se bewusmaking. Kompensasies is betaal (al was dit nie voldoende nie) en daar is besluit om die Boere by die regering van die land te betrek. Na minder as 6 jaar onder direkte koloniale beheer is daar in 1907 en 1908 selfregering aan die voormalige Boererepublieke Transvaal en Oranje-Vrystaat toegestaan. 1908 en 1909 is met die Nasionale Konvensie deur Britte en Boere saam die Unie van Suid-Afrika onderhandel wat in 1910 tot stand gekom het.

Dit was wel ʼn kompromis en nog steeds deel van die Britse Ryk as dominium, maar die unie het dit moontlik gemaak dat die Boere, later Afrikaners, stuk vir stuk hulle vryheid kon herwin deur die stembus en deur aktiwiteite op grondvlak. Dit was twee Bittereinders, Louis Botha en Jan Smuts, wat die eerste en tweede Eerste Minister van die Unie onderskeidelik was, al het hulle later te gedienstig aan Brittanje geword na menige Afrikaner se sin. Nietemin, die unie was ʼn merkwaardige sukses en het die geleentheid geskep vir Afrikaners se geleidelike opheffing en bemagtiging, polities, ekonomies en kultureel. Nog ʼn Bittereinder, generaal Hertzog, het in 1924 Eerste Minister geword en belangrike besluite geneem om die Afrikaner se selfbeskikking, simbolies en feitelik, te herwin en om die bande met Brittanje te verslap en Suid-Afrika se soewereiniteit te versterk. Die proses, wel gebriek deur die Tweede Wêreldoorlog en die Smelter-regering, het sy hoogtepunt presies 59 jaar na die Vrede van Vereniging, op 31 Mei 1961, met republiekwording onder eerste minister dr. HF Verwoerd bereik.

Dit was die Bittereinders, wat die hardste teen die Britte geveg het, wat by hulle vyande respek afgedwing het en daarom as waardige en gelyke onderhandelingsvennote gesien is. Die hensoppers en joiners se name ken niemand nie en die Britte het hulle as te onbetroubaar beskou om daarop ʼn toekomstige Brits-Afrikaanse unie te bou. Alhoewel hensoppers en joiners op die kenmerkende Boere-manier weer deel van die volk geword het, het hulle geen noemenswaardige politieke rol in die Suid-Afrika na die Tweede Vryheidsoorlog gespeel nie.

Die boodskap van die bittereinders vir vandag is: veg tot die einde toe vir ʼn regverdige saak en behou (anders as joiners en hensoppers) jou selfrespek en die respek van jou vyand. Al is jy verslaan (in die geval deur barbaarse en lafhartige metodes soos om sagte teikens soos vroue en kinders te gebruik), moet nooit die drang na vryheid verloor nie. Die stryd vir vryheid beteken egter nie altyd om die wapen op te neem nie (trouens, dit moet die laaste opsie wees), maar dit moet en kan deur ʼn politieke proses bereik word. Vat die stuk politieke mag wat jy kan kry en gebruik dit om jou seggenskap uit te bou. Al is algehele vryheid nog vêr, is die pad daarheen opwindend en bevredigend.

Die Vredesmonument op Vereeniging beeld juis daardie gees uit: gewond maar onoorwonne.

 

 

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Die Bittereinders se boodskap vir vandag”

  1. Ina Dreyer 31 Mei 2018 at 12:02 Permalink

    Dankie vir hierdie skrywe.Ek (70 jr) wil ook graag as Bittereinder bekend staan. Met die tot standkoming van die Republiek was ek 13 jaar oud en ‘n trotse lid van die Voortekkerbeweging vandat ek vyf jaar oud was tot 1971 as Staatmaker.My kinders het ook aan die beweging behoort. My moeder Sannie Nel (nee Pheiffer),was sedert die stigting van die Voortrekkers lid. My oupa (‘n Kaapse rebel wie se broer saam met Gidion Scheepers gefusilleer is) en ouma en 12 kinders het op Tweeling in die Vrystaat gewoon. Hierdie geskiedenis is vasgelê in ‘n blad wat tydens ‘n Pheifferbyeenkoms in Pretoria gehou is. Ook my familie Nel se geskiedenis is beskryf deur Hans Bornman in 2 boeke: “Die Nels van Nelspruit”. My vader en moeder (Jaap en Sannie Nel) het op Kleinfontein gewoon en is daar begrawe. Genadiglik is hulle hierdie chaos gespaar waarin ons nou gedompel is.

    • Johann 31 Mei 2018 at 19:31 Permalink

      Pragtig, al gaan dit hoe swaar, ek sal jy land nie verlaat nie, hier sal ek lewe, en sterwe.

      My oupa JCPF Lock was verban na Seylon nadat hy deur ‘n “boer” veraai, en gevange geneem is, en geweuer het om sy mede burgers te veraai. Ek kan bars van trots op my herkoms.
      Oranje Blanje Blou.

  2. Ina Dreyer 31 Mei 2018 at 12:07 Permalink

    Dankie vir berig

  3. Hendrik 31 Mei 2018 at 19:08 Permalink

    Baie goeie stuk. Dis seker “Gewond maar onoorwonne”, nie “Gewoond maar onoorwonne” nie.

    • Sebastiaan Biehl 1 Junie 2018 at 09:18 Permalink

      Dankie. Ons het die tikfout reggemaak.

  4. Willem Fourie 15 Junie 2018 at 17:45 Permalink

    Geagte leser,

    Die enigste rede dat die Ingelse bereid was om te praat is omdat hulle nie meer die oorlog kon bekostig het nie. Hulle het geen voorbehoud gehad om ons heeltemal uit te moor nie.

    Hulle het geweet dat as ons nog drie maande op die slagveld gebly het, het hulle die oorlog verloor. Dis dié dat hulle die volgende wapen in die diplomatieke arsenaal aangegryp het, naamlik omkoop.

    Mens wil nou nie verdeeldheid saai nie, maar dis nogal agterdogtig dat Botha en Smuts hoë poste aangebied was deur die Ingelse.

    Dis nie die enigste keer dat die Ingelse (en meer onlangs, die Yanks) plaaslike boewe aanstel om hulle eie bevolking te onderdruk nie. Dink nou maar aan al die nasies wat hulle “bevriend” het; die Midde-Ooste bv.

    Jopie Fourie het in Smuts se eenheid geveg in the 2de Vryheidsoorlog, maar is 10 jare later deur dieselfde Smuts vermoor.

    Gen. de la Rey se dood was ook te toevallig toe hy op pad na Gen. Beyers en Gen. Kemp toe was.

    Gedurende die Smuts/Botha tydperk was ons skandelik gedwing om die Ingelse “Empire” te steun in oorloë wat ons nie geraak het nie. Selfs Duits-Wes was vir die Ingelse gaan buit gemaak; heeltemal teen ons voorkeure.

    Mooi loop mense


Lewer Kommentaar

*