25 Julie 2017 ~ 3 Kommentare

Die ATKV en die Orania Beweging – koersloos voortslinger, of aanpas om koers te hou?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Feitlik alle Afrikanerorganisasies het oor die jare by die veranderende omstandighede aangepas. Party het aangepas om hulle doelwitte onder ander omstandighede te kan bly nastreef (die FAK, Voortrekkers, Solidariteit), ander het aangepas om hulle organisasie te red en daarby amper onherkenbaar verander (hier sou ek die Afrikanerbond of die AHI noem), weer ander het aangepas om te verdwyn, soos die NP. Party het glad nie aangepas nie en irrelevant geword, soos die HNP.

Lede van ʼn Afrikanerorganisasie is buigbaar genoeg om te besef dat ʼn organisasie die veranderende tydsomstandighede moet verreken en sekere aanpassings moet maak. Hulle is egter ook slim genoeg om die verskil tussen aanpassing om te oorleef en aanpassing tot irrelevansie of verandering ter wille van verandering te sien, en daarom verlaat lede sekere organisasies en bly getrou aan ander. Mense, ook Afrikaners, is bereid om veranderings te aanvaar mits dit wat vir hulle kosbaar is nog herkenbaar is. Daar kom egter ʼn punt waar ʼn organisasie of ʼn handelsmerk wat jy ondersteun, so drasties verander het dat jy niks daarvan wat jy waardeer meer herken nie.

Die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) is oorspronklik deur Henning Klopper, ʼn voorste kultuurleier onder Afrikaners, in 1930 gestig, met die doel om ʼn kultuurorganisasie vir Afrikaner spoorwegwerkers te begin, in ʼn tyd waar die Engelse taal en die Engelse kultuur in Suid-Afrika alles oorheersend was. Die ATKV het sterk gegroei en oor die jare al geweldig aangepas. Die vakansieoorde is vir meeste lede waarskynlik ʼn groter motivering om aan te sluit as die ledetydkskrif “Taalgenoot” en redenaarskompetisies. Nietemin, die ATKV roem daarop dat hulle nog steeds staan vir die bevordering van Afrikaans. Nou wil die nuwe uitvoerende bestuurder, Deidre le Hanie die ATKV deur die “Afrikaans plus” inisiatief meer inklusief maak deur na ander tale uit te reik en bruë te bou, aldus hulle eie werwing. Dit mag ʼn klein aanpassing wees, maar die ATKV, en talle ander organisasies wie se ruggraat Afrikaners is, vergeet blykbaar hoe hulle lede voel (sien goeie artikels oor die onderwerp van Eugene Brink en Herman Toerien op Maroela Media).

Afrikaners het vir jare aangepas en radikale veranderinge meegemaak ter wille van akkommodering van ander volke, ter wille van oorlewing ensovoorts, maar die laaste tyd is daar al hoe meer ʼn gees van “genoeg is genoeg” te bespeur. Dit is asof die toegewings en aanpassings wat Afrikaners maak nie waardeer word nie, in teendeel, dat vir die hand wat hulle uitsteek die hele lyf geëis word. Die hewige reaksie oor die eensydige skuldigbevinding van ʼn wit persoon in die Spur-onderonsie behoort vir almal wat in ʼn groot mate op Afrikaner-kliente of ondersteuners staat maak te wys dat dit nie nou die tyd vir nog verdere toegewings en verdere wegbeweeg van jou kerngroep is nie. Daarom, as jy ʼn nis beset het en daar suksesvol is, wees dan baie versigtig om nie jou plek daar te verloor nie, anders vul iemand anders daardie leemte.

Die ATKV se tydsberekening is swak en kom op ʼn tyd waar die laaste bastions van Afrikaans val en waar Afrikaners allermins voel dit is nou tyd om na “die ander” uit te reik deur meer van jou taal en kultuur op te gee. Ons mense het nou al te veel kere praatjies gehoor dat “Afrikaans nie weggeneem word nie, daar word net ander tale bygevoeg”, byvoorbeeld by die voorheen Afrikaanse Universiteite. Mev. Le Hanie verstaan moontlik nie daardie gevoel nie, want sy het groot geword in ʼn tyd waar Afrikaners (en ander blankes) alles gehad het en uit ʼn posisie van mag soms eerlik bedoel, soms om hulle gewisse te sus, na die minder bevoorregtes soos hulle bediendes uitgereik het. Dit is egter die een ding om uit jou oorvloed te gee, en die ander een om ʼn organisasie se rigting te verander sonder om jou lede te raadpleeg, veral in ʼn tyd waar die “voorheen bevoorregtes” self aan die agterspeen suig.

Die Orania Beweging het sedert sy stigting in 1988 deur prof. Carel Boshoff as Afrikaner-Vryheidstigting ook verskeie aanpassings gemaak. Die retoriek en die debatte is nie meer dieselfde as in die 1990’s nie, die naam en kenteken is aangepas, die voorkoms van die kantoor is verander, pleks van ʼn uitgestrekte landelike staat word eerder (ten minste vir nou) ʼn kompakte Afrikanerstad met sy landelike omgewing gebou. Dit was en is alles veranderings met die doel om jou ideaal en strewe beter te kan bevorder en om relevant te kan bly. Die doel en strewe van die Orania Beweging is nog steeds Afrikaner-vryheid in ʼn eie territoriale gebied, gebou op Christelike waardes en eie arbeid. Daarom groei die Orania Beweging se ledegetal en word ons meer en meer gereken. Sou ons egter nou besluit om dit waarvoor ons sedert die stigting staan en waarvoor ons lede ons ondersteun, vaarwel te roep en ons te herloods as “inklusiewe organisasie met die doel om ʼn beter Suid-Afrika vir almal te bou”, dan sou ons groot getalle ondersteuners verloor, sonder om nuwes te wen. Wie wil by ʼn ongeloofwaardige organisasie wat kort-kort sy rigting verander, aansluit? As die vertroue eers gebreek is, help gewoonlik geen verskoning en geen terug roei nie. Omdat die Orania Beweging ʼn alternatief tot die eenheidstaat Suid-Afrika skep, hoef ons nie oor elke verandering in windrigting bont te spring nie, maar kan koers hou. As ons uitreik, dan op ʼn basis van gelykheid en as een gemeenskap teenoor ʼn ander, nie as “bevoorregtes” teenoor “minder bevoorregtes” nie. Ons “minder bevoorregtes” is in elk geval ons mede-Afrikaners.

(Fotokrediet: www.atkv.org.za)

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Die ATKV en die Orania Beweging – koersloos voortslinger, of aanpas om koers te hou?”

  1. Barend Smit 27 Julie 2017 at 21:09 Permalink

    Boikot hulle, net soos Spur!

  2. Chris du plessis 28 Julie 2017 at 21:39 Permalink

    Die ATKV dink dat politieke korrektheid die pad voorentoe is. Al wat gaan gebeur is dat hulle Afrikaner lede gaan verloor. Hier is net nog n NP doodloop straat.

  3. Roussouw 29 Julie 2017 at 16:39 Permalink

    Stem 100% saam. Ek dink ook verder is dit maar ‘n voortsetting van “onder waaksame voogdyskap” ander kulture te probeer help. Dit het voorheen nie gewerk nie en sal nou ook nie. Ons gaan net nog van ons beperkte hulpbronne opgebruik en nog ‘n belangrike kultuur organisasie verloor in die proses.

    Indien daar regtig ‘n behoefte was, sou daar lank al soortgelyke organisasie(s) ontstaan het vir elkeen van die tale.


Lewer Kommentaar

*