15 Mei 2017 ~ 0 Kommentaar

Die arme Hellen Zille!

Geskryf deur Carel Boshoff

Zille-MaimaneNie gedag ek sal dit ooit sê nie, maar ek kry die laaste tyd vir Helen Zille jammer. Hoe moes sy ook nou geweet het dit sal nie help om te leer toyi-toyi nie? Of om jou party se leierskap vrywillig aan ’n meer verteenwoordigende leier af te staan nie? Of – lofwaardig soos dit is – van die verhoog af isi-Xhosa te praat nie? (Moeilik vir ’n grootmens om ’n nuwe taal aan te leer, en sy het gedoen wat ander hulle net voorgeneem het.)

Sy het dit gedoen, en nog baie meer glo ek, want ek weet mos nou nie van alles nie. En sy het probeer om eerlik en reguit te bly oor onderwerpe waarvan, nouja, sy ook nie alles weet of mooi gedink het hoe haar gehoor dit sal ontvang nie. Dit is natuurlik haar tweets oor die nalatenskap van kolonialisme waarop ek afstuur, en die vêrreikende gevolge daarvan.

Laat ek my haas om te sê: net die lot wat ons Boere republieke 110 jaar gelede aan die hand van Britse imperialisme te beurt geval het, sou my verhoed het om haar stellings te tweet, al dink ek dat 80% van die wit middelklas in Suid-Afrika nie eers sou opkyk as iemand dit in hulle geselskap sê nie. Die tweets kom daarop neer dat ons goed soos paaie, waterpypleidings en gespesialiseerde mediese dienste aan kolonialisme te danke het en dat die nalatenskap nie net sleg is nie, maar dat sy kolonialisme ongekwalifiseerd veroordeel en verskoning vra vir tweets wat misverstaan kan word.

Dit klink na genoeg om ’n lang rits heftige reaksies op Twitter uit te lok en, gegewe haar posisie en haar party se aspirasies, die nuus te haal. Ek het selfs ’n baie goeie diepte-artikel op ENCA Opinion raakgeloop waarvan sy nie te goed afgekom het nie, maar ’n dissiplinêre verhoor deur haar eie party? En ’n ondersoek deur die Menseregtekommissie vir klagtes van haatspraak en aanhitsing tot geweld? Dit klink nie moontlik nie – en tog is dit waar!

Die ondertoon van haatspraak en aanhitsing tot geweld was eerder by haar kritici te bespeur, iets waarvoor jy geen dieper analise hoef te onderneem nie. Maar oor gekrenkte waardigheid kan sy gerus weer dink, want soos een kommentator dit stel: jy kan nie jou verkragting regverdig deur te sê: “maar kyk watse mooi en slim kind het dit tot gevolg gehad, een wat ’n dokter geword het en vandag mense se lewens red” nie. Dit laat my dink sy was regtig nie gevoelig genoeg vir haar omgewing nie.

As dit dus nou net ’n kwessie was van ’n oud anti-Apartheidsaktivis wie se kierankies braai in die nuwe orde wat sy self gehelp vestig het, kon mens oorweeg het om dit daar te laat. Maar dit gaan oor meer – meer selfs as die bloot formele reg op vryheid van spraak. Dit gaan oor ’n kultuur van onverdraagsaamheid en die toepassing van sensuur deur aanhangers van ’n dominante ideologie; dit gaan oor wat wêreldwyd met goed- of afkeuring as Politically Correct (PC) beskryf word.

Die reaksie op Zille se onwyse uitlatings deur eers die publiek, toe die media, toe haar party en nou ’n staatsorgaan spreek van ’n totalitêre kultuur wat in Suid-Afrika posgevat en oorgevat het. Hierdie aksies is intimiderend en dit is bedoel om intimiderend te wees. Dit geld vir Zille, maar dit geld duidelik ook vir elke ander wit Suid-Afrikaner wat dit oorweeg om die kodes van politieke korrektheid uit te daag of te ignoreer.

Dit is slegte nuus, nie net vir liberale demokrasie in Suid-Afrika nie, maar ook vir Afrikaners wat as’t ware per definisie daarby betrek word. Oor die liberale demokrasie en individuele regte sal ander hulle koppe breek, ek het in elk geval my bedenkings daaroor onder Suid-Afrikaanse omstandighede. Dit is Afrikaners wat my bekommer, veral omdat min van hulle oor iets anders as ’n beroep op die reg tot vryheid van spraak beskik om hulle verontwaardiging met die huidige sensuur en intimidasie mee te  kenne te gee.

Grondwetlik gewaarborgde individuele regte kan ons vervreemding van vandag se Suid-Afrika nie omkeer of herstel nie. Om die waarheid te sê, ek vrees die tuisteloosheid van ons mense kan eerder meer sulke verontwaardigende gedagtes en uitsprake tot gevolg hê en gemoedere verder opjaag. Wat ons nodig het, is ’n tuiste – polities, kultureel, fisies. Onder verslegtende omstandighede veral fisies.

Daarom dat dit so dringend is om Orania uit te bou op die fondamente wat reeds gelê is.

 

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*