13 Oktober 2017 ~ 6 Kommentare

Die altyd wederkerende vraag oor arm en ryk

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Orania is nou al van sy begintyd af gewoond aan ewig dieselfde en wederkerende beskuldigings. Heel eerste is gesê dat ons nie water het nie omdat ons in die Karoo geleë is (al is ons teen die Oranjerivier geleë) en daarom nie kan boer nie. Nadat die groot landbouskema met pyplynstelsel en honderde hektaar waterregte aan die gang gekom het, het dié absurde beskuldiging verstom.

Volgende, en iets wat nog steeds so nou en dan sy verskyning maak, was die “verregse/rassiste” beskuldiging of vooroordeel. Iewers moes selfs die laaste ou besef, na besoeke van presidente Mandela en Zuma, Julius Malema, talle premiers en swart joernaliste, amptenare en besoekers en die ontspanne verhouding met bruin- en swart mense in die omgewing, dat ons nie sulke groot rassiste kan wees nie en so het dié cliché verdwyn. Net buitelandse joernaliste, wat in elk geval min van Suid-Afrika verstaan, hou nog daaraan vas.

Die volgende een (dikwels gelyklopend met die vorige een) was die een van agterlikheid en armoede. Ook hierdie vooroordeel is deur groei, ontwikkeling en netjiese voorkoms, en veral ʼn 0% werkloosheid ad absurdum gevoer.

Nou is die nuutste beskuldiging, nogal heel ironies, dat ons ʼn plek net vir ryk mense is (nadat ons onlangs toe nog kamstig ʼn plek net vir sukkelaars was).

Nou wat is die feite? Gelukkig is hier deesdae ʼn hele paar welvarende mense, óf wat hulle in Orania opgewerk het en suksesvolle besighede bedryf, óf mense wat hulle geld elders gemaak het en dit hier belê en bestee. Tensy iemand ʼn geharde sosialis is, is daar nie fout met die feit dat daar, soos orals in die wêreld, arm mense, middelklasmense en ryk mense is nie. In Orania is die rykes net enkeles en die armes nog steeds heelwat, maar die middelklas, wat die ruggraat van ʼn samelewing is, groei gelukkig.

Ons kan en wil nie ʼn welsynstaat wees nie wat hordes armes trek deur gratis huise, gratis medies, maandelikse toelaes ensovoorts, maar ons kan en wil ook nie ʼn selfsugtige, suiwer kapitalistiese stelsel hê nie waar party in perverse weelde lewe en ander krepeer. Daarom is daar heelwat (private) instellings wat help om die armes op te hef. Die Helpsaamfonds het nou al talle gesubsidieerde behuisingsskemas help borg, waar mense met ʼn kleiner inkomste (nie armes nie) teen ʼn heel billike huurtarief kan woon. Die behoefte oorskry verreweg die aanbod, maar ons beplan nog sulke skemas. Die Dorpskantoor het ook erwe teen kosprys beskikbaar gestel dat meer mense vir hulle ʼn eie huis kan bou en daarmee opgang maak na die middelklas en nie vir ewig afhanklik is van huurbehuising nie. Ongelukkig is dit so dat die groeiende navraag na huise, erwe en hoewes die pryse laat styg. Daar is diegene wat gierig raak en meer vir hulle huise vra as wat dit eintlik werd is, maar dit kan nie deur prysvasstellings bekamp word nie, want dan gaan jy geen ontwikkelaar meer kry nie. Lande wat huurpryse of eiendomspryse probeer aan bande lê het, het net ervaar dat die bouaktiwiteit tot ʼn stilstand kom. Die enigste remedie teen hoë eiendomspryse is ontwikkeling van nuwe, beter en goedkoper boumetodes, nuwe erwe en meer alternatiewe voorsiening van dienste.

Verder is daar gratis basiese medies, daar is ʼn tweedehandse klerewinkel en daar is die kerke en organisasies soos Helpende Hand en Orania Maatskaplike Raad wat op talle maniere help.

Die beste hulp om armes op te lig is egter werk, en hier is altyd werk beskikbaar. Iemand wat wil, kan homself ophef, maar ons kan ook niks doen aan die natuurwet nie dat iemand wat ʼn skaars kwalifikasie het eenvoudig meer verdien as iemand sonder kwalifikasie. Selfs hier word gehelp deur die tegniese skool, waar bouers en ander ambagslui ʼn kwalifikasie kan verwerf. Saam met ʼn diploma en beter vaardighede gaan ook ʼn beter vergoeding gepaard, of, nog beter, ʼn besigheid van jou eie.

Dit mag vir sekere mense onregverdig klink dat ʼn dokter of prokureur vir ʼn halfuur konsultasie meer kry as ʼn handlanger, wat die hele dag in die son staan en harde werk doen. Ons kan natuurlik maak soos Kuba en almal dieselfde betaal, wat daartoe lei dat later niemand meer werk nie en daar geen motivering is om te studeer en jou vaardighede te verbeter nie. Met so ʼn bestel sou net die na Orania kom wat hulp vra, en die wat bydra sou wegtrek. Om die rede is daar ook geen ekonomiese aktiwiteit in meeste lokasies nie. Die vaardiges en gekwalifiseerdes trek na die blink voorstede, die armes bly agter en leef van staatshulp. Is dit ons toekoms vir Orania? Dan is ons weer by die vorige beskuldiging.

Enige groei gaan saam met pyne en waar daar mense is, is daar ongelukkig altyd ook ʼn mate van onregverdigheid. Ons kan nie ʼn sosialistiese stelsel hê nie, want dit het nog nêrens gewerk nie, maar ook nie ʼn suiwer kapitalistiese een nie, want dit is onregverdig teenoor die swakkes in ʼn samelewing. Ons stelsel is miskien die naaste aan die “sosiale markekonomie” wat in Wes-Duitsland in die 1950’s en 1960’s gegeld het: jy laat die vrye mark toe om volgens vraag en aanbod, kompetisie en geleenthede te werk, maar instellings help nog steeds diegene wat sukkel om op die been te kom. Nie om permanente afhanklikheid te skep nie, maar om hulle uit die bose kringloop van armoede uit te lig.

 

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Die altyd wederkerende vraag oor arm en ryk”

  1. Tokkie van Vuuren 13 Oktober 2017 at 15:57 Permalink

    Dis ook die naaste aan n bybelse ekonomie

  2. eralda 13 Oktober 2017 at 19:38 Permalink

    Dis nou mooi gese Sebastiaan. Hier is niks fout in Orania nie. Werk is hier altyd en as mens wil,sal jy werk en as mens harder werk en beplan kan mens vooruitgaan. Hoop almal wat die “probleem” met “ryk” en “arm” het lees hierdie berig van jou.

  3. Pieter van Niekerk 15 Oktober 2017 at 18:39 Permalink

    Orania maak my trots om ‘n Afrikaner te wees!

  4. Charles 16 Oktober 2017 at 16:05 Permalink

    Oulik man! Afrikanertrots:)

  5. Sonja 18 Oktober 2017 at 12:30 Permalink

    Sensasie verkoop mos! Alles wat goed en mooi is moet eenvoudig afgebreek word! Hou aan, julle doen fantastiese werk!

  6. Rikus Mulder 18 Oktober 2017 at 13:43 Permalink

    100% korrek.Niks in hierdie lewe van ons kom verniet nie.Harde werk het nog niemand doodgemaak nie.Doe so voort.


Lewer Kommentaar

*