17 Februarie 2011 ~ 4 Kommentare

Die Afrikanertuiste moet "sielkundig" wees?

Geskryf deur Ebert Terblanche

Pieter du Toit en Lizel Steenkamp beeld’n boodskap van President Zuma uit waarin hy sê dat ons, Afrikaners, ’n ruimte moet vind waar ons veilig is en waar ons die vrymoedigheid het om dit wat vir ons belangrik is uit te leef.

Ek stem saam met mnr. Zuma, want Afrikaners kan in alle opsigte net beter af wees met ’n eie ruimte bo en behalwe die deel wat ons het in die Suid-Afrikaanse ruimte.

Wat ek egter nie mee saamstem nie, is dat daardie tuiste sielkundig moet wees.  Hoe stap ek saam met my gesin in ’n sielkundige straat af wat belyn is met Afrikaanse skole, Afrikaanse biblioteke, boekwinkels, koffiewinkels, wynwinkels, banke ‘n teater en ’n Afrikaanse universiteit?  Watter nut het ’n Afrikaanse skool vir die oordrag en uitbreiding van my kultuur as daardie skool net in my gedagtes bestaan?

Is die boodskap van mnr. Zuma dalk een wat sê hy verstaan wat ons behoefte is, maar dat ons net daaroor mag droom en niks meer nie?

Ek verstaan dat heelwat belastingbetalersgeld na Nkandla gevloei het sedert mnr. Zuma president geword het.  ’n Voorbeeld hiervan is die R65 miljoen wat op verbeteringe vir sy huis in Nkandla spandeer is.

Indien Afrikaners se tuiste slegs sielkundig is, sal dit vir die regering onnodig wees om soortgelyke fondse vir die ontwikkeling daarvan beskikbaar te stel.  Dit sal nog minder ’n bedreiging vir hul voortdurende sentralisering van mag inhou.

Ek woon nou reeds vir 4 jaar in Orania en ek het nog nooit gevind dat dit my weerhou om te deel in die res van Suid-Afrika nie, inteendeel, dit verhoog my waardering vir Suid-Afrika.

Orania is reeds vir duisende Afrikaners ’n kulturele tuiste en hulle is almal ryker daarvoor.  Suid-Afrika is ryker as gevolg van Orania se bestaan.  Meer Afrikaners kan gerus begin om Orania te aanvaar vir wat dit is: hul eie.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Die Afrikanertuiste moet "sielkundig" wees?”

  1. Rudolf Herbst 17 Februarie 2011 at 13:46 Permalink

    Hoor! Hoor!

    Ek het vir hom nuus as hy gedink het ons sal toelaat dat sulke belaglike uitlatings ‘n demper op ons Vryheids Ideaal sal plaas.

    Inteendeel, dit mag dalk net net res van die Afrikaner Volk,of ten minste ‘n groot gedeelte van hulle, aanhits om met hernude aandag na Orania en dan ook die konsep van vele alternatiewe groeipunte gebou op die Orania konsep, te bekyk en hopelik te oorweeg.

    Dit blaas dalk nes die Bono petalje in sy gesig op en gee dan juis vir ons die broodnodige platforms om ons Selfbeskikkings strewe te propageer en meer volksgenote betrokke te kry by wat jy Orania beskryf vir wat dit is.

    ELKE AFRIKANER SE EIE.

    Die voete moet nou net begin rigting kry en kom help bou aan ons gemeenskaplike doelwit.

  2. Jean Du Plessis 17 Februarie 2011 at 13:48 Permalink

    Eintlik wat hy sê is dat ons moet aangaan om net “sielkundig” na ons taal, kultuur ens. uit te leef. Met die verloor ons nageslagte hul identiteit, taal en kultuur in SA oor ‘n tydlike ruimte. Jy kan rotsvas wees soos jy wil, maar hoe gaan jou kinders oor 10 of 20 jaar Afrikanerskap sien in die “sielkundige” sisteem met eksterne liberale impakte.

    “Nie Orania nie” daardie stelling is baie negatief. Hoekom wil hy dit nie hê nie, raak hulle dalk bekommerd oor Orania se sukses/magsblok ? Wys ons die tyd om Orania toe trek raak al hoe meer nodiger.

  3. Rudolf Herbst 17 Februarie 2011 at 14:55 Permalink

    Stem saam Jacques.

    En as daar genoeg van ons in Orania is en ons stem almal vir die VF+ dan neem ons nog die munisipale gebied waaronder Orania ingedeel is ook oor deur beheer oor die stadsraad te verkry.

    ‘n Baie goeie vooruitsig sou ek sê.

  4. Ben le Roux 17 Februarie 2011 at 15:26 Permalink

    ‘n Staat binne ons skedels,voeg dit by die lang lys van oplossings wat ons gereeld aangebied word deur ‘n buitestander. Is die man dan nou heeltemal sielkundig afwykend.Vir ‘n gesin om as gesin tot sy reg te kom moet hulle nie in ‘n losieshuis loop bly nie maar in hul eie huis.Dieselfde geld vir ‘n etniese groep! Dit is tog die betrokke groep se besluit,niemand anders sin nie! Behalwe dat ons in die suidelike deel van dieselfde kontinent bly het ons min in gemeen.Al belang wat hy by ons het is dat ons sy rekeninge betaal.Nkandla instandhou ens. Ek sien eerder dat daai geld aangewend word om Orania instand te hou.Pleks van vandalisme eerder orde.Pleks van verval eerder groei.Die lys kan baie lank word.


Lewer Kommentaar

*