19 Maart 2014 ~ 0 Kommentaar

Die Afrikaner moet vermoë om nuut te kan skep herontdek

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Die Afrikaner se kort geskiedenis vertel die verhaal van ‘n besonderse skeppingsvermoë. Gaan stap jy deur die strate van Stellenbosch beleef jy die Afrikaner se vroeë argitektoniese vermoë. Dorpe regoor Suid-Afrika vertel hoe hierdie vermoë met tyd ontwikkel het om by omgewing, klimaat en beskikbare boumateriaal aan te pas.

Besoek jy enige goeie kunsmuseum soos die Pretoria Kunsmuseum vertel die werk van kunstenaars soos Pierneef van die Afrikaner se vermoë om wëreldklas kuns te lewer.

Nog ‘n hoogtepunt is die Nasionale Afrikaanse Literatuurmuseum en Navorsingsentrum in Bloemfontein. Die omvang van die Afrikaner se vermoë om oor 350 jaar ‘n literatuurskat saam te stel, word hier ten toon gestel en dit is ‘n bewys van ‘n hoogsgesofistikeerde volk.

‘n Groot skat van monumente, museums, beelde, skilderye, boeke en musiek lewer ‘n bydrae om ons te herinner aan ‘n tyd toe die Afrikaner op skeppende wyse, trots sy kultuur, tradisies en volkslewe vertoon het.

Die vraag vandag aan ‘n moderne Afrikanervolk is of ons steeds dieselfde skeppingsvermoë het. Voldoen die veiligheidskomplekse waar ons mense woon aan die vereiste van ‘n volk om goeie argitektuur te skep?

Voldoen die moderne kuns aan ons vermoë om soos Pierneef, Bettie Cilliers-Barnard en Johannes Meintjes wêreldklas kuns vorendag te bring?

Lewer Afrikanerskrywers vandag nog die gehaltewerk van Van Wyk Louw, Totius en Jan F.E. Celliers?

NP van Wyk Louw het geskryf: “…en al die pyn van ons volk-word moet eenmaal onder die volkere sin kry totdat hulle sê; “Daarom dan moes dié volkie so swaar hê en bly lewe… dat hy so ‘n skoonheid kon voortbring!”

‘n Volk bring skoonheid voort deur sy literatuur, argitektuur, musiek, beeldhouwerk, skilderwerk en ander skeppende kunste. Eens op ‘n tyd was die Afrikaner een van die skeppendste volke in die wêreld. ‘n Monument daarvoor staan in elke gebou, boek, liedjie, skildery en ander kunswerk wat oor eeue heen geskep is en vandag regoor Suid-Afrika en die wêreld vir almal te siene is.

Dit help egter veel indien ‘n volk nie kan aanhou skep nie. Regoor die wêreld sien ons vandag dat materialisme daartoe lei dat mense kitsskoonheid soek in plaas van skoonheid wat uit ‘n diepe besef van identiteit in die vorm van kuns na vore gekom het. Wie bou nog ‘n huis wat ‘n storie oor ons kultuur en tradisies kan vertel? Hoeveel films, musiek en boeke delf diep om die Afrikaner se wese te beredeneer en ten toon te stel?

Van Wyk Louw het ook geskryf: “As ‘n mens van die magtigste lande hul groot en blywende kuns wegneem, dan verloor hulle hul betekenis in die geskiedenis, dan word hulle net enorme versamelings menslike materiaal wat sinloos aankom en doodgaan.

So glo ook dat die taak van Suid-Afrika nie is om vet en ryk aan aardse goedere te word nie, maar om groot en mooi dinge voort te bring wat aan latere geslagte die betekenis van ons lewe hier sal openbaar. Die kuns maak die lewe sinvol, nie die lewe die kuns nie.” Laat ons as Afrikaners ons vermoë om skeppend te wees herontdek en daardeur ‘n bydrae tot ‘n sinvolle bestaan hier in Afrika vir onsself verseker.

 

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*