28 Julie 2011 ~ 1 Kommentaar

Deur die bekorende platteland na die koningstad Mandalay

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Van al die treinritte wat ons op hierdie reis aangedurf het, was die een van Rangoen na Mandalay die opwindendste en mees outentieke en ook die primitiefste. Terwyl ons vir die trein gewag het saam met die skare mense, almal Burmese en talle van hulle monnike met hulle rooi gewade, het die opgewondenheid gestyg. Ek is mal oor ‘n trein, veral een soos die een waarop ons nou geklim het, wat nog soos ‘n trein voel en nie soos ‘n vliegtuig nie. Die geklikklak van die spore is die musiek van ‘n treinrit, soos die golwe van die see die musiek van ‘n skeepsreis is. Die wa het by tye so gehop dat dit amper gevoel het asof die trein wil ontspoor. Die kompartement, kamstig eerste klas was maar beskeie genoeg, met muise wat af en toe op die vloer verbygeglip het en natuurlik ook maar lanklaas skoongemaak. Dit het gelukkig nog ‘n venster gehad wat jy kon oopmaak en die omgewing met sy geure en die alomteenwoordige hitte onmiddellik kon beleef. Ek het ook weer my longyi aangehad wat die inheemse gevoel versterk het.
Met die uitry uit Rangoen was daar orals ellendige plakkershutte teenaan die spoorlyn, en ‘n mens kon nie help om daardie ongemaklike gevoel van ‘n afloerder te kry as jy so naby met die trein verby ry, maar in jou eie wêreld is en dit net bekyk sonder dat jy enigsins daarby betrokke is. Maar sodra ons uit die stad uit was, het die bekorende platteland sy verskyning gemaak, met tonele soos uit ‘n ander era, of soos uit ‘n verbeeldingsvlug: groen ryslande wat geploeg word met ‘n houtploeg wat deur wit brahman-osse getrek word, palmbome tussen hutte uit gevlegte palmblaarmatte, mense met tradisionele klere en selfs nog die kenmerkende spits hoede wat met groot houtwaens met 2 enorme wiele wat deur osse getrek word ry, en goue pagodes tussen die lande. Ek kon amper nie glo dat ek so bevoorreg is om so iets nog te kon sien, iets wat in die ander lande reeds geskiedenis is, waar trekkertjies en motors die osploë en waens vervang het en Westerse kortbroeke en pette die tradisionele klere. By die stasies was dit ‘n gewoel van handelaars, vroue of jong seuns, met mandjies vol eetgoed wat hulle aan die passasiers verkoop het, mango’s, piesangs, hoendersosaties, gekookte mielies, nogal vergelykbaar met ‘n treinrit in Oos-Afrika.
Ek het in die geheim Ne Win en sy opvolgers bedank vir hulle isolasiebeleid wat hierdie gevriesde toestand moontlik gemaak het. Maar dit is een ding om as reisiger hierdie eksotiese tonele te bewonder, ‘n ander ding om so te moet lewe. Die meeste Burmese sou waarskynlik enige tyd wil ruil met hulle Maleisiese of Thaise bure en hulle meer voorspoedige en vryer lewens. Op hierdie reis het ek baie gedink, gewroeg en met my pa gedebatteer of voorspoed, ontwikkeling en ‘n beter lewe altyd verwestering, kommersialisering en die verlies van outentiekheid en identiteit moet beteken. Op die oog af is hierdie plattelandse Burmane wat hulle kultuur en gemeenskap het, genoeg om te eet en ‘n geordende lewe het, beter af as die uitgespoeldes in die plakkerskampe, wat deur die aanloklikhede van die groot stede ingesuig word en as geleentheidswerkers, bedelaars of diewe probeer oorleef en met dwelms, geweld en gebroke verhoudings worstel.
In die aand toe ons gereed gemaak het om te slaap, het ‘n ouerige monnik ons vergesel in ons kompartement. Vir ons was ‘n lang slaap nie beskore nie want reeds om 3 uur die oggend het ons in Mandalay gearriveer. Op die platform het mense orals gelê en slaap en die andersheid en derdewêreldse gevoel van Mandalay was selfs vir my vreemd toe ons, as enigste Westerlinge wyd en syd met die skares by die stasie uitloop en dan doodmoeg agter op ‘n flenter driewiel deur die donker strate gehop het. By die redelik netjiese “Silwer Swan” Hotel kon ons gelukkig ‘n kamer kry en het met verligting gestort en dan in die skoon en sagte beddens geval en ‘n paar ure geslaap.
Na ‘n Burmese styl ontbyt, gewoonlik brandende sop, gebraaide noedels en vrugte, het ons vir ons ‘n fietsriksja gekry, weer ‘n ander soort as in Georgetown, in hierdie geval sit die passasiers rug aan rug op twee sitplekke langs die fiets. Die ryding is so gehawend dat jy met albei hande moet vashou om nie af te val nie. As dit in sy gemoedelike trant die paaie kruis terwyl motors en motorfiets op jou afpeil sak jou hart in jou skoene want daar is niks wat jou beskerm nie. Gelukkig is die voertuie gewoond aan die riksjas en weet hoe om hulle verby te gaan.
Ons eerste taak was om die verdere reis na Bagan met die rivierboot te reël. Dit het ons die hele oggend gevat om na verskeie plekke te ry waar ‘n mens dalk ‘n kaartjie kon kry, niemand het presies geweet hoe werk die rivierboot nie en ons moes maar eers lank die regte plek soek en by die rivieroewer op en af en weer terug stad toe ry. Dit was die lae seisoen en die vinniger toeristeboot wat my pa sou verkies het ry nie nou nie, so moes ons noodgedwonge die inheemse rivierboot vat wat al die volgende dag sou vertrek (wat my goed gepas het, baie meer avontuurlik en outentiek!). Dit het beteken dat ons net ‘n dag in Mandalay gehad het. Reeds met die riksja-soektog na die skip kon ons veel van die stad sien.
Mandalay het ‘n mooiklinkende naam en is in karakter nog meer Burmees as Rangoen en is die sentrum van Boeddhisme. Pagodes, tempels en monnike is selfs nog meer volop as in Rangoen. Die stad self lyk nog armer en meer terug in tyd as Rangoen. Motors is skaars en ligte motorfietse, almal dieselfde goedkoop swart Sjinese maak, oorheers die strate. Ook fietse, riksjas en mense met stootwaens is dikwels te sien.
Die middestad self is niks besonders nie, ‘n argitektoniese mengelmoes van ‘n paar koloniale huise, tempels en kerke, niksseggende betonblokke uit die 60erjare, ellendige palmblaarhutte, kragdrade wat slap oor die pad hang en orals straatstalletjies met kos. Daar is geen werklike sentrale punt nie en die strate is almal in die skaakbord-patroon georden, ‘n nalatenskap van die Britte. Dit het eintlik maar soos ‘n tipiese derdewêreldse stad gelyk. Maar Mandalay is wel ‘n plek wat die lang reis die moeite werd maak en waar die eksotiese naam nie teleur stel nie. Die stad is redelik in die middel van Burma geleë en was die laaste koningstad gewees. Burma het, soos destyds al die lande van die streek (en vandag slegs nog Thailand), ‘n koning gehad en die koningshuis het gedurig van hoofstad verander. Mandalay is eers in 1858 gebou en die rede vir die soveelste verskuiwing van die hoofstad was nie strategies van aard nie, maar astrologies. Die Buddhiste glo sterk aan tekens wat sterre en datums vir hulle gee en die sterrewiggelaars het toe die koning oortuig dat die plek en tyd reg is vir ‘n nuwe hoofstad waar Mandalay vandag staan. Rangoen was die koloniale hoofstad en is reeds in die middel 19de eeu deur die Britte verower, terwyl die noordelike deel met Mandalay as hoofstad sy onafhanklikheid kon behou. Vir die Britte was Indië hulle kosbaarste koloniale besitting en die onafhanklike Burma wat gereeld aanvalle op Indië se Oosgrens uitgevoer het was ‘n gedurige bedreiging en irritasie. Dus het die Britte eers die Suide en later, in die 1880’s, die oorblywende deel van Burma onderwerp, Mandalay verower en die koning ontsetel. Die pragtige koningspaleis, van hout gebou, is tydens die verowering van Mandalay deur soldate in puin gelê.
Die paleis is wel gerekonstrueer en staan in die middel van die ou vierkantige koningstad wat met ‘n muur van 2.2 kilometers aan elke kant en met 4 ingange en ‘n watervoor omgewe is, blykbaar nogal soortgelyk aan Beijing se verbode stad (wat ek nog nie gesien het nie). Slegs met een ingang en een pad mag besoekers na die paleis in die middel van die ou stad gaan, die res van die ou stad is weermaggebied en ‘n mens mag glad nie van die pad afwyk nie of foto’s neem behalwe van die paleis self nie. Die paleis self bestaan uit 8 groot sale met toringdakke waar die koning se amptelike verrigtinge plaasgevind het, asook sowat 50 huise vir sy talle vroue en kinders. Die allesoorheersende kleur is wynrooi, met goud aangevul. Min besoekers was daar, en hulle was almal stil en waardige Oosterlinge, daaronder ‘n hele paar monnike met hulle wynrooi gewade wat uitstekend in die omgewing gepas het. Dit het die atmosfeer van die plek verhoog, en dit het nie veel verbeelding gekos om jou 150 jaar terug te dink nie.
Benewens die ou koningspaleis is Mandalay Hill met sy talle uitstaande pagodes bo op en rondom die ander groot besienswaardigheid. Met ‘n  pelgrimspad van bykans 1000 trappe wat by twee gevleuelde leeus as wagters begin en wat jy kaalvoet moet aandurf (want dit is alles heilige grond vir Buddhiste) klim ons toe die heuwel uit. Die hoeveelheid trappe is deur numerologie bepaal: elke trap was vir ‘n jaar sedert die dood van Buddha.
‘n Paar monnike, of gewone gelowiges loop gemoedelik op en af en stop by die talle goue Buddhabeelde en kleiner pagodes om te aanbid. Feitlik elke honderd trappe is daar ‘n beeld of pagode. Maer rondloperhonde en verflenterde katte lê op die klipbanke langs die pad, wat die hele tyd onder ‘n geroeste sinkdakgang loop. Langs die pad word aandenkings of kos verkoop of houtjuwele  gemaak, maar die verkopers is nie baie gretig vir besigheid nie, eintlik heel aangenaam as ‘n mens dit met plekke in Arabië vergelyk. Ook hier was ons feitlik die enigste Westerlinge.  Na die soveelste goue Buddhabeeld en plekke van aanbidding was ons uiteindelik bo by die hoofpagode. Daar was weer die kenmerkende goue koepel in die middel en een met stukkies van spieëls en blinkende groen teëls ryk versierde wandelgang rondom en ‘n platform met ‘n fantastiese uitsig oor die stad.
Talle foto’s van die diktator Than Shwe, wat wys hoe hy en sy vertrouelinge as gelowige Buddhiste ‘n besoek aan die pagode bring, was in die wandelgang uitgestal. Dit was egter die enigste keer dat ek Than Shwe se beeld in die openbaar gesien het, verder handhaaf die geheimsinnige leier ‘n lae profiel en is feitlik onbekend buite Burma. Sedert April van hierdie jaar is Than Shwe nie meer amptelik die leier van Burma nie, maar het na ‘n omstrede en sterk gemanipuleerde verkiesing die presidentskap aan sy vertroueling Thein Sein oorhandig. Die weermag speel egter nog steeds ‘n groot rol en dit is nog geen demokrasie nie, hoogstens ‘n eerste en versigtige stap in die rigting van demokrasie. In die land self word nie oor hom of oor politiek gepraat nie want mense is bang vir spioene en veral ‘n buitelander wat met hulle praat trek altyd aandag. Alhoewel ek self altyd in ‘n land se politiek geïnteresseerd is het ek my weerhou van enige vrae of opmerkings daaroor teenoor Burmese, om hulle en my nie in die moeilikheid te bring nie.
Nadat ons die naastenby duisend trappe weer afgestap het (daar is ook ‘n hyser, maar ons verkies die harde manier), het ons nog 3 pagodes besigtig wat aan die voet van Mandalay Hill geleë is, die Kyauwtawgyi, Sanda Muni Paya en Khutoda pagodes, almal ‘n klipgooi van mekaar af. Alhoewel elkeen natuurlik op sigself ‘n asemrowende gesig is, is dit ongelukkig soos met kerke in Rome: die blote hoeveelheid maak dat ‘n mens hulle later nie meer kan waardeer soos wat dit moet nie. Nogtans is geen pagode soos die ander een nie. Die Khutodaw pagode huisves “die grootste boek in die wêreld”, maar dit is natuurlik nie ‘n boek in die gewone sin nie. Rondom die eintlike pagode met die goue Buddhabeeld is honderde kleiner wit pagodas, omtrent 6 meter hoog, wat elkeen ‘n kliptafel bevat wat volgeskryf is met die kenmerkende Burmese kringskrif.
Verskeie vroue het om ons aandag meegeding.  Vier jong vroue wat, soos meeste jong Burmese vroue onder 30, soos tieners gelyk het, het ons so lang sjarmant-knaend gesmeek om vir hulle “lucky money” te gee tot ons nou maar klokke en halssnoere gekoop het. ‘n Ou en verrimpelde vrou met blou oë wat maar net ‘n bietjie geselskap gesoek het, het vertel van haar oupa wat ‘n Duitser was, wat haar blou oë verklaar. Mense van gemengde afkoms is deesdae egter ‘n rariteit in Burma, anders as in Singapoer, Thailand of Maleisië, want sedert die onafhanklikheid het feitlik alle Britte en ander Westerlinge die land verlaat en die golf ouerige Westerse mans op soek na ‘n jong eksotiese bruid het Burma nog nie bereik nie. Die regerende junta is openlik nasionalisties en teen buitelandse invloed gekant en die feit dat die demokrasie-ikoon Aung San Suu Kyi met ‘n Brit getroud was (wat sy tydens haar studies in Engeland leer ken het en wat intussen aan kanker oorlede is), is altyd teen haar gebruik om haar as ‘n agent van die Weste verdag te maak.
Met ‘n driewiel-taxi het ons ons laat terugvat na die hotel toe, dit was nou al spitstyd en die strate was vol motorfietse. Die aand het ons by ‘n tipiese restaurant geëet, soos dit hoort is ons met ‘n fiets-riksja tot daar gebring. Anders as dikwels in Europese restaurante, waar ‘n mens die kelner moet voorkeer voor hy aan jou aandag gee, het hier omtrent 5 jong seuns rondom ons gestaan en by die kleinste beweging in hulle rigting vir ons nog kos en bier aangedra.
Graag sou ons nog langer in Mandalay wou bly en ook meer van die omgewing sien, maar die rivierboot sou vroeg die volgende oggend vertrek.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Deur die bekorende platteland na die koningstad Mandalay”

  1. Zelda 31 Julie 2011 at 11:31 Permalink

    Mandalay, klokkieklinkend en moontlik essensie van die outentieke Burma ervaring en hoogtepunt van die reis met skommelende treine, hoppende fietsriksjas, ou boortvaart en besoek aan koningspaleis.

    Ek hou van jou skrywe ‘…die geklikklak van die spore is die musiek van ‘n treinrit, soos die golwe van die see die musiek van ‘n skeepsreis…’ Dit klink so lekker outyds soos toeka se dae en soos ‘n werklike rolprentbelewenis met mens self as karakter daarin.
    Ek geniet jou skryfstyl baie omdat dit soos ‘n storieboek voel as mens dit lees en ‘n mens dit goed kan voorstel en inleef.

    Die skaakbord-straatpatroon van die Britte het my onwillekeurig laat dink aan die tipiese Engelse roos (lekker deurmekaar).

    Hoe ironies dat maer honde en gehawende katte te siene is in so ‘n sogenaamde ‘heilige area’ asof Buddha nie veel omgee vir hulle nie.

    Baie dankie vir ‘n interessante skrywe van jou en jou pa se reis deur die Ooste. Dit is uiters interessant, veral met die belewenis as voorgrond en die geskiedenis as agtergrond.

    Gelukkig is ‘n lieweheersbesie (“ladybird”) vredeliewend en word nie so maklik verjaag soos ‘n vlieg nie. Dus volgende keer as jy ‘n “ladybird” op jou reistas sien, is dit dalk ek wat saamreis…


Lewer Kommentaar

*