17 Januarie 2011 ~ 2 Kommentare

Brief vandag in Beeld

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Afrikaner-selfbeskikking begin ná 20 jaar in Orania vergestalt

Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania-Beweging, skryf:

Leopold Scholtz verdien ’n pluimpie vir sy bereidwilligheid om weer die kwessie van Afrikaner-selfbeskikking op die tafel te plaas in sy rubriek “Soedan en die volkstaat” (Beeld, 14 Januarie).

Scholtz gee in sy rubriek ’n goeie ontleding van die historiese konteks van selfbeskikking, waar dit geslaag en misluk het en wat die slaggate is.

Wanneer daar oor Afrikaner-selfbeskikking gepraat word, is dit goed om die historiese konteks van selfbeskikking te ontleed. Die uitdaging is egter om die Afrikaner se unieke omstandighede daarmee te probeer versoen.

Afrikaners is tot 1994 vir van die wêreld se groot sondebokke uitgekryt. Ná 1994 het Afrikaners met ’n klomp skuldgevoelens rondgeloop, hetsy dit regverdig is of nie, en het die
ANC grootliks daarin geslaag om Afrikaners te laat verstaan dat die regstellingsproses nog lank sal duur.

Terselfdertyd het ’n groep Afrikaners begin besef dat hierdie etniese groep se voortbestaan van groter selfbeskikking sal afhang. Nou hoe vra jy vir groter selfbeskikking binne ’n eie grondgebied as die wêreld jou as ’n sondebok bestempel en jou land se regering glo dat daar eerder van jou weggevat as aan jou gegee moet word?

Binne hierdie konteks het Orania tot stand gekom. Amper alles het teen Orania getel en tog kan ons vandag, 20 jaar ná sy stigting, sê dat die strewe na Afrikaner-selfbeskikking in Orania begin vergestalt.

Selfbeskikking is egter ’n dinamiese term en wat vir een etniese groep in sy tyd en plek gaan werk, gaan nie noodwendig vir ’n ander werk nie. Tot dusver is Orania se selfbeskikkingsukses op hoofsaaklik drie dinge gegrond, naamlik eie grond, eie arbeid en eie instellings.

Dit behels dat grond aangekoop moes word, ’n nuwe ekonomie met Afrikaner-arbeid en -kapitaal tot stand moes kom en ’n munisipaliteit, skole, ondernemings, verenigings, ensovoorts geskep moes word.

Orania is vandag ’n gemeenskap met byna 900 inwoners en meer as 10 000 uitwoners of mense wat met Orania assosieer deur lidmaatskap,
eienaarskap of ’n ander vorm van formele assosiasie.

By pres. Jacob Zuma se besoek verlede jaar aan Orania moes hy self opmerk dat dit vreemd is om op die platteland ’n plek te kry waar dinge goed funksioneer, byna niemand werkloos is nie en niemand na die regering opkyk vir oplossings vir hul probleme nie.

Orania se sukses is ook Suid-Afrika en Afrika se sukses, veral wat doeltreffende bestuur, ekonomiese ontwikkeling en die beskerming van kulturele en etniese regte betref.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Brief vandag in Beeld”

  1. Henry 26 Januarie 2011 at 02:03 Permalink

    Die probleem is dat as julle te vinnig groei – sê bv daar word Platinum of iets ontdek – gaan baie swartes soontoe trek en daar is niks wat julle daaraan kan doen nie. Daar sal selfs aandele in die myn aan hulle gegee moet word.

    Veronderstel iemand kan ‘n groot internationale maatskappy oorreed om produksie na Orania te verskuif, gaan swartes in hul duisende soontoe trek en niemand kan hulle keer nie.

    Hoe kom mens daarby verby?

  2. Jaco Kleynhans 26 Januarie 2011 at 13:08 Permalink

    Henry,

    Orania is ‘n privaateiendom met aandeelhouers en om hier te kan woon en werk moet jy gekeur word. Afrikanerskap is een van die vereistes vir keuring.


Lewer Kommentaar

*