01 Julie 2016 ~ 7 Kommentare

Brexit, “die Volkstaat” en dié se vreeslike bagasie

Geskryf deur Carel Boshoff

Dat ’n meerderheid Britte die dapper stap geneem het om ’n nuwe verhouding met Europa aan te knoop, het natuurlik ’n hele kettingreaksie van Euroskeptisisme tot gevolg gehad. Hoewel dit akkurater sou wees om na Europese Unie-skeptisisme te verwys, want die meeste van dié kritici ondersteun steeds die gedagte van ’n Europese identiteit naas hulle nasionale en plaaslike identiteite. Egter nie ’n Europese superstaat nie, maar dit daar gelaat.

Selfs in Suid-Afrika het die Brexit veldtog mense opnuut oor ons “superstaat” laat wonder. Nie juis superdoeltreffend nie, maar “super” in die sin van ’n staat wat ’n groot getal volke, tale, streke, selfs koninkryke insluit en tot ’n nasionale eenheid wat sentraal geregeer word, probeer saamsmee. En seker nie té verrassend nie dat dit (nog) nie in die Zulu-koninkryk was nie, maar in die Wes-Kaap dat daar stemme vir ’n “afskeid en vertrek” van Suid-Afrika opgegaan het. En darem, hoewel tong in die kies, in Orania.

Ek kon natuurlik nie help om terug te dink aan die vormingsjare van die nuwe Suid-Afrika, sê maar 1991 tot 1996, toe ’n die voorwaardes vir ’n “Afrikaner exit” neergelê kon word, maar nie is nie. Onder daardie vloeibare omstandighede het die volkstaat-gedagte ’n hoogbloei beleef, maar gou uitgeblom om twee eenvoudige redes: die meeste aanhangers daarvan wou dit hê waar hulle reeds is en min van hulle het kans of rede gesien om na ’n kultuur van eie arbeid oor te skakel.

Die Volkstaat se verspeelde lente, kan mens dit noem – met die hoofletter “V-” nie per ongeluk nie. Mense het die woord soos ’n eienaam gebruik, orators het dit van verhoë af gebulder en plakkate is teen pale opgesit waar hoogstens een uit elke tien of twintig of honderd verbygangers volksgenote was, plakkate met “HIERDIE IS ONS VOLKSTAAT”. Agter die gebruik van die abstrakte term eerder as die naam van ’n werklike streek het die afwesigheid van ’n konkrete aanspraakmaker op selfbeskikking skuil gegaan.

En dit is natuurlik waar die woord se vreeslike bagasie vandaan kom. Nie dat ’n volkstaat vir Afrikaners onwenslik sou wees nie, maar dat die meeste Afrikaners dit nie eers amper begin oorweeg het om aan die voorwaardes daarvoor te voldoen nie, het die gedagte gekelder. Hoe warmer die retoriek, hoe onrealistieser die aansprake destyds; wat ook verklaar hoekom soveel gewone, regdenkende Afrikaners eerder teruggestaan het as om hulle gewig daarby in te gooi. Die gedagte moes as’t ware eers gelouter en getoets word, en die beste toets is tyd. Maar daarmee het ‘n goue geleentheid verbygegaan.

Nou tref die werklikheid talle “Volkstaters” tussen die oë: Afrikaners se verbintenis tot die Suid-Afrikaanse staat het vir ’n sterk sin vir selfstandigheid plek gemaak, maar daar is nog geen lewensvatbare exit-strategie nie. Dit is denkbaar dat die Wes-Kaap sy eie weg kan inslaan, hulle is immers ’n erkende staatkundige eenheid wat oor die meeste van die instellings en strukture beskik wat daarvoor nodig is. Dit is selfs denkbaar dat Orania mettertyd kan ontwikkel tot ’n staatkundige eenheid wat sy eie weg kan inslaan, maar vir nóú het ons nie wat nodig is nie.

Wat my by ’n onlangse verwysing in Rapport oor die woord “volkstaat” se “vreeslike bagasie” bring. Nie “vieslike” nie, dit was op die beste verkeerd gehoor, maar die verskil is ook nie so groot dat dit ’n polemiek regverdig nie. Die punt is dat die woord herwin sal moet word om weer in die omgang van veel waarde te wees, dat die onrealistiese en anachronistiese verwagtings wat daaraan verbind is, agtergelaat moet word as dit weer deel van ’n betekenisvolle gesprek oor ons staatkundige toekoms moet word.

Oor die wenslikheid al dan nie van so ‘n herwinningspoging verskil selfs lojale en vryheidsgesinde Afrikaners; vir sommige is dit geen voorwaarde vir uiteindelike vryheid nie. Self beywer ek my al jare vir ’n eenvoudige en onopgeblase gebruik van die woord; nie as ’n mantra wat alle moeilikhede sal laat verdwyn nie, maar as ’n woord met ’n ryk en geskakeerde betekenis wat kan help rigting gee as die bagasie van misbruik in die verlede agtergelaat kan word. En al is ek nie met die woord getroud nie, is te veel van die mense wat baie sterk daaroor voel, vir my te belangrik om dit as’t ware goedsmoeds weg te gooi.

Daarom dat ek nie graag wil hê dat Rapport se verwysing onder ons mense verwarring moet bring nie. Ek wil enigeen wat onthuts was oor dié verwysing aanraai om my boek “Verder as vryheid” te lees, want in ’n sin is dít waaroor die hele storie gaan. En mag daar ’n dag kom dat ons as Afrikaners weer behoorlike inspraak in ons staatkundige toekoms opneem, toegerus met die instellings, strukture en hulpbronne wat daarvoor nodig is. Juis dit is waaraan ons elke dag in Orania werk.

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Brexit, “die Volkstaat” en dié se vreeslike bagasie”

  1. Sebastiaan 1 Julie 2016 at 08:42 Permalink

    As daar iets “vieslik” is, dan is dit Naspers se ewige soeke na ‘n uitspraak uit Orania wat vir hulle die geleentheid gee om dit so te vertolk en te verdraai dat hulle die opskrif “Orania keer rug op volkstaat” kan druk. Daarom moet ons mense saam met elke Naspers-artikel oor Orania en die volkstaat ook die Oraniablog en boeke soos “Verder as Vryheid” en “Van dorp tot stad” lees.

  2. Trevin 1 Julie 2016 at 10:13 Permalink

    Ek dink die Afrikaner is stadig maar seker te ontwaak uit die diepe slaap van die reenboognasie illusie. Te stadig, maar dis wel besig om te gebeur. My gevoel is, wanneer ek met vriende, familie en kollegas praat, dat die tyd amper ryp is dat daar grootskaalse aanvaarding vir ‘n wegbreek kan wees as iemand net die visie suksesvol op groot skaal kan kommunikeer, maw, wat is die ‘end-game’ soos die Amerikaners se. Hoe lyk doe uiteindelike selfbeskikking/volkstaat prentjie. Daarin le deel van die probleem, weet enigiemand werklik wat dit is?

    • Jaco Grobler 12 Julie 2016 at 07:43 Permalink

      Die reënboognasie illusie soos jy dit stel is nodig vir ‘n suksesvolle SA. Let wel ‘n reënboog bestaan uit talle kleure wat saam ‘n boog vorm, elke kleur uniek en mooi op sy eie. Sou jy al die kleure saammeng, kry jy egter ‘n grou gemors wat skaars merkbaar sou wees in die hemele. Ons moet net mense se persepsie van die reënboognasie, en hoe dit moet/kan werk verander. Die Afrikaner sal na homself moet kyk, maar ook ander met die selfde begeerte moet help om die weg te vind, ‘n reënboog met een helder kleur is nie veel beter as ‘n grys ene nie. Ons het baie om te doen, en hou gouer ons tot die besef kom hoe beter. Skouer aan die wiel!

  3. Gert Janse van Rensburg 11 Julie 2016 at 17:58 Permalink

    Dankie, Carel. Ek wens ons kan weer die woord “Afrikanervolk” herwin. Dit lyk my trouens selfs die woord “volk” is gestigmatiseer. Jy hoor nooit die woord in ‘n positiewe sin gebruik nie. Ek kan tog nie my kulturele en biologiese wortels ontken of afsweer nie. Wil iemand nie vir ons hieroor leiding gee nie.

  4. Andries Maritz 12 Julie 2016 at 02:04 Permalink

    Dag Carel,

    Dankie, ek lees altyd met waarderng wat jy skrywe.

    Voorspoed en sterte aan jou en jou span met wat julle aldaar/Orania vermag en nog gaan bereik.

    Baie groete,
    Andries

  5. Simon 16 Julie 2016 at 03:27 Permalink

    Hallo Carel

    Alhoewel daar redes is hoekom ek nie met BREXIT saamstem nie herinner die skrywe my hoekom ek myself van die daaglikse en weeklikse juk van NASPERS publikasies verlos het.

    Ongelukkig maak die greep van die ironies Afrikaner beheerde NASPERS wat nie juis Afrikaner vriendelik is nie (buiten vir hul eie sakke) die moeilik om goeie, betroubare nuus in Afrikaans te kry.


Lewer Kommentaar

*