11 Julie 2011 ~ 4 Kommentare

Boekresensie “Politokrasie” van Koos Malan

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Geskryf deur Sebastiaan Biehl.

Die boek Politokrasie van prof Koos Malan handel oor die staat en sy ontstaan, en veral oor die absolutistiese aanspraak wat die staat op ons as mense het, en laastens ’n alternatief vir ‘n beter bestel.
Die staat is die enigste instelling wat ons onverdeelde lojaliteit opeis, bo godsdiens, ras, geslag, volk ens. Terwyl dit algemeen as ekstremisties beskou word om jou godsdiens, ras of taal bo alles te verhef en om alles daaraan te onderwerp, beskou die staat en sy apologete dit as reg en goed, selfs noodsaaklik, dat die staat bo alles verhef moet word. Optrede teen die staat is hoogverraad, optrede teen jou eie groep daarteen word met lof besing.
Dit is belangrik om daarop te let dat staat en nasie twee verskillende dinge is, al word hulle, veral in die Engelse taal, as wisselterme gebruik. Die moderne staat is in die meeste gevalle nie ‘n nasiestaat nie, maar ‘n territoriale staat.
Die ontstaan van die staat
Die staat word vandag as ‘n gegewe beskou en elke vierkante meter grond op aarde is onder beheer van ‘n staat en daar word algemeen gedink dat die staat van die begin van die mensdom af daar was.
Die staat is nie net ‘n relatief onlangse verskynsel nie, maar ook ‘n vorm wat tot in die 20ste eeu grootliks tot Europa beperk was. Voor die moderne territoriale staat (wat selde ‘n nasiestaat in die ware betekenis van die woord is) in die 17de eeu in Europa geleidelik ontstaan het, was daar die groot ryke in die Antieke tydperk soos die Alexanderryk, die Persiese Ryk en die Romeinse Ryk, en in die Middeleeue die Christelike Ryk, die verenigde Christendom in Wes-,Suid- en Sentraal-Europa onder die pous en die Duitse keiser as geestelike en wêreldse opperhoofde. Die tweestryd oor wie die groter een is, was die belangrikste politieke vraagstuk in die Middeleeue en is ten gunste van die pous beslis. Die idee van die Christelike Ryk was dat die gesamentlike Christendom onder een gesag saamgevoeg moes word. Etnisiteit het geen rol gespeel oftewel nog nie bestaan nie. Die politieke gesag was onderworpe aan God en moet God dien en die Christelike ideale help verwesenlik. Die Christelike Ryk het geen vaste grense gehad nie en was nie territoriaal van aard nie, maar het gegaan oor die keiser se gesagsuitoefening en waar mense hulleself as onderdane beskou het. Dis belangrik om daarop te let dat die keiser onregstreeks geheers het deur middel van vorste en vasalle wat weer oor hulle onmiddellike onderdane in hulle streek geheers het.
Die reg in die Middeleeuse Christelike Ryk was uit die aard van die saak veral kanonieke reg wat direk uit die kerk se tradisie afgelei kon word. Selfs die keiser was ondergeskik aan die Goddelike reg. Weens die uitgestrekte gebied met talle volke en tale en verskillende vorste het daar ook in elke gebied ‘n ander reg gegeld en geen universele reg vir die hele staat soos vandag nie.
Die Germane se tradisie het wel ‘n reg gehad wat deel was van oorgelewerde gebruike en wat nie universeel nie, maar volksgebonde was en bestaan het van die begin van die volk af. Die Reg was nie soewerein nie, maar die volk was, en die volk se oorgelewerde regsbegrip en beginsels was die reg: gewoontereg in Engeland, natuurreg in kontinentale Europa. Selfs konings en keisers was onderworpe aan die reg. Die absolutistiese beskouing dat die koning bo die reg verhewe is en as’t ware die reg en die staat is, het eers in die 17de eeu ontstaan.
Die moderne staat het sy ontstaan eers in die 17de eeu gehad, met die Vrede van Wesfale van 1648 wat algemeen as die beginpunt gesien word. Die Hervorming op godsdienstige gebied speel daarby ‘n belangrike rol: die universele gesag van die pous, en die Duitse keiser as sy politieke mede-regeerder, word uitgedaag; die klem op persoonlike verstaan van die Bybel beteken dat streekstale se rol opgeskaal en Latyn se rol afgeskaal word en daarmee saam nasionale identiteite ontstaan; en die kompromis in die vrede van Wesfale, dat elke territoriale heerser die godsdiens van sy onderdane kan bepaal, lei tot die ontstaan van godsdienstige staatjies pleks van ‘n universele Katolieke Ryk. Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die ontwikkeling enigsins in die rigting van “meer demokrasie” beweeg het nie. Die teendeel was die geval. Die state was meer sentralisties en die monarg se gesag groter en meer direk as in die Middeleeuse ryke. Die tendens het sy duidelikste uitkristalisering in Frankryk beleef, seker die eerste territoriale staat in die moderne sin, met streng sentrale beheer en ‘n absolute heerser, gesentraliseerde belasting, permanente burokrasie en leer en algemene regstelsel asook die gelykmaking van die onderdane en die gedwonge vorming van een Franse identiteit ten koste van streeks- en groepsidentiteite. Dit het onverdraagsaamheid meegebring en die Katolieke godsdiens het deel van die Franse staatsbestel geword en ander godsdienste is as bedreiging vir die nasionale identiteit en integriteit beskou. Daarom was daar ook die vervolging van die Protestantse Hugenote waarvan ons goed bewus is.

Denkers ten gunste van die sterk staat
Denkers soos Jean Bodin en L’Hopital het egter beweer dat godsdiensvryheid op die lang duur beter is vir staatlike behoud, want twis oor godsdiens sou die staat uitmekaar laat spat. As godsdiens minder belangrik en as private saak geag is, kan die heerser op wêreldse belange fokus en ‘n sterk staat opbou. Dit is die grondslag van Frankryk se sterk sekularisme.
Thomas Hobbes geld as die groot apologeet van die sterk territoriale staat. In sy werk “die Leviataan” word die staat daargestel as die waarborg van orde en stabiliteit vir die burgers. ‘n Absolute heerser is nie per definisie die Godgegewe gesag nie, maar werk die beste om streng sentrale beheer toe te pas en word dus voorgestaan. Hobbes begin die siening gewild maak dat die mens nie ‘n gemeenskapswese is nie, soos in die Middeleeue gegeld het nie, maar ‘n vryswewende individu. Die natuurstaat (wat deur Rousseau geïdealiseer is) word as sleg, chaoties en onbevredigend beskryf en die strewe na staatlike orde waarbinne alle sinvolle menslike aktiwiteite kan plaasvind en kultuur kan ontstaan, word bepleit. In die natuurstaat is dit die oorlog van almal teen almal, maar om dit te voorkom gee die individue deel van hulle regte af aan die staat wat hulle beskerm. Die staat het verpligtinge, eerder as wat individue regte het.
John Locke lê weer groter klem op individuele vryheid en regte en beperkinge van die staat as Hobbes en is klassiek-liberaal en kom modern voor. Maar ook hy sien mense as vryswewende individue wat toevallig in een grondgebied woon en alleen op grond van rasionale oorwegings ‘n staat of gemenebes stig.
Die staatlike paradigma
Volgens Artikel 1 van Montevideo-konferensie van 1933 moet ‘n staat beskik oor ‘n permanente bevolking, ‘n afgebakende grondgebied, ‘n regering en die vermoë om in verhouding met ander state te tree. Die staatsbegrip is in die eerste plek territoriaal: die skending van grondgebied van ‘n ander staat word as baie erger beskou as skending van menseregte binne ‘n staat. ‘n Staat word na die gebruiklike beskouing gedefinieer deur ‘n grondgebied, nie ‘n bevolking of volk nie. Dus moet ons eerder van die territoriale staat en nie die nasie-staat praat nie. Veral in die sogenaamde derde wêreld met sy taamlik onlangse, onlogiese en arbitrêre grense word oorheersing oor minderhede vasgeskryf. Die huidige staatsbeskouing kom van Hobbes en Locke, wat bo kortliks verduidelik is. Dus is die staatsbeskouing nie neutraal nie, maar bepalend beïnvloed deur die individualisties-liberale siening en nie die siening van volkskap nie. Vanaf die grondgebied word na bevolking gewerk, nie anders om nie (soos wat dit behoort te wees); die staat huisves ‘n bevolking, nie ‘ volk of gemeenskap nie. Die bevolking word hanteer as individue en die staat funksioneer as regsordening, met regsgesag binne ‘n omlynde gebied.
Regspraak
Nes die staatsbeskouing is ook die regspraak afhanklik van die gees van die tyd en die filosofiese rigting. Daar is nie iets soos neutrale regspreking nie.
Regte in die Middeleeue en 16de eeu was regte en nie aansprake wat mense op sosiale dienste en materiële dinge gehad het nie. Liefdadigheid was ‘n saak van die kerk en mense se morele gewete. Here en knegte het ‘n baie nouer leefwêreld gedeel en daar was ‘n paternalistiese verantwoordelikheid (vergelykbaar met die verhouding van blanke boere en hulle swart werkers). Die kapitalistiese stelsel het gemaak dat massawerkers anoniem geword het en geen interaksie tussen werkgewers en werknemers bestaan het nie. Die staat het die rol van maatskaplike versorger oorgeneem om opstande te keer en om die rol van die kerk te beperk.
Menseregte gee nie meer regte aan mense nie, nog minder aan groepe, maar skep meer magte vir die staat, al klink dit onlogies en al was die aanvanklike bedoeling van menseregte om die mense volgens die liberale beginsel teen die staat te beskerm. Intussen het dit egter so verander dat die staat die rol van die beskermer van die mense teen dinge soos armoede, maatskaplike toestande, en afdwing van godsdienstige en samelewingswaardes (wat diskriminasie kan insluit) beskerm. Die Staat wurm hom dus in die privaatsfere in om menseregte toe te pas. As daar ‘n toestand van wedersydse vertroue was, was dit nie nodig dat die staat menslike verhoudings reguleer nie. Dit skep ‘n regsregime, met ‘n magdom regsinstellings. Juriste is die nuwe hoogste klas, soos dit in die Christelike republiek die kerklike personeel was. Hoe meer regte mense het, hoe meer word hulle afhanklik van die juridiese klas.

Die staat is die opeiser van die finale gesag. Hoogverraad as delikt teen staat het ingekom. Mense behoort aan die staat, of hulle wil of nie. Voorbeelde van hoogverraad is die van Boere in die Kaapkolonie of swartmense in ou Suid-Afrika. Mense moet hulle eie volk verraai omdat hulle nie die staat mag verraai sonder ernstige gevolge nie.

Ook die internasionale reg giet die huidige staat vas deur die onskendbaarheid van kunsmatige grense vas te skryf en selfbeskikking nie vir volke nie maar vir omlynde gebiede te laat geld. Selfbeskikking van volke pleks van grondgebiede daarteenoor sal die huidige staatlike orde radikaal ondermyn.

Selfbeskikking in internasionale verband

‘n Nuwe paradigma het na die Eerste Wêreldoorlog ontstaan. VSA-president Woodrow Wilson se selfbeskikkingsidee het gelei tot die ontstaan van volkstate in Europa en gedeeltelik ook in die Midde-Ooste, maar nie elders nie. Omdat die konsep te veel ontwrigting sou veroorsaak en te veel teenstanders gehad het, veral die bestaande state, is eerder die beginsel van minderheidsregte binne bestaande state gevolg. Nasionale selfbeskikking het nie regsbeginsel geword nie, maar slegs politieke beginsel. Nogtans is dit ingesluit in die Verenigde Nasies se Handves van Regte.
Ongelukkig het nie Wilson se idee van selfbeskikking vir volke die heersende een geword nie, maar die een van Lenin. Lenin het selfbeskikking gelyk gestel met dekolonisasie, iets wat sterk die denke in die Derde Wêreld beïnvloed en ongelukkig ook vandag nog die oorheersende siening van selfbeskikking by die VN is. Lenin het wel nie ‘n flenter omgegee vir die regte van onderdrukte volke nie, hy wou die gekleurde massas teen die Weste ophits en as troepe vir die kommunistiese wêreldrevolusie gebruik en daarom moes hulle ontvoog word en onder Westerse invloed uitkom.

Daar is wel ‘n groeiende regsopinie ten gunste van selfbeskikking. Nogtans maak die VN-resolusies geen voorsiening vir die reg op afskeiding nie, maar eerder vir groepregte binne ‘n staat. Selfbeskikking word bely maar die logiese gevolg, die verandering van grense, verbied of ontmoedig dit.
Sesessie kom egter na die einde van Koue Oorlog weer kragtig na vore. Daarby word egter voorkeur gegee aan territoriale selfbeskikking (‘n reeds omlynde gebied met ‘n bevolking wat selde etnies homogeen is) teenoor nasionale selfbeskikking van ‘n volk wat binne sekere grense woon.
Die konsep van selfbeskikking is mak gemaak, nes demokrasie, om aan die staatlike paradigma onderdanig te word. Omdat die hele menslike politieke lewe georden is binne ‘n staatsverband, al speel die staat in talle gemeenskappe geen groot rol nie, kan die wêreldleiers aan geen ander uitlewing van selfbeskikking dink nie as binne die staat nie.

Politokrasie as antwoord

Politokrasie beteken die heerskappy deur die burger. Dit verskil dus in nuanses van die demokrasie, wat die heerskappy van die bevolking beteken, en dikwels op die heerskappy van die gepeupel neerkom, veral in die lande wat geen demokratiese tradisie het nie. Die tuistelike gemeenskap is die boublok vir politieke aksie en deelname omdat sulke gemeenskappe werklik lotsgebonde aan mekaar is. Ten spyte van globalisering vind die meeste interaksie nog steeds op die plaaslike vlak plaas.
In die politokrasie lê die klem nie op politieke regte nie, maar op deelname aan die gemenebes. Dit is ‘n regeringsvorm vir tuistelike gemeenskappe. Regte is grootliks betekenisloos sonder gemeenskap. Politokrasie is geensins ‘n heerskappy deur enkele adelikes nie, maar deur die burgery, wat aan die staat gebonde is. Dit vind sy voorbeeld in die Griekse stadstate, waar die begrip van die burgers mense bedoel het wat ‘n aanspraak op hulle stad het en wat daarmee vereenselwig. Mense kan deel van die burgery word, maar dit is onsinnig om enigiemand wat volwasse is, deel van die burgery te maak as die persoon nie gebonde is aan die staat nie. Die politokrasie werk dus ook net in ‘n oorsigtelike staatsopset met ‘n klein en homogene bevolking wat aan mekaar verantwoordelik is en waar die enkeling se belang met die belang van die gemeenskap verweef is.
Die elite van die politokrasie is nie staties van aard nie maar vloeiend en betrek gedurig nuwe burgers en faseer ander uit. Politieke deelname is dus in beginsel oop vir almal. Die “poli” in politokrasie verwys na die veelvoud, en politokrasie glo dus ook aan veelvoudige deelname en ‘n verspreiding van mag na vele onderdele toe. Dit maak die konsentrasie van mag in die hande van ‘n klein elite feitlik onmoontlik. Besluitneming vind deursigtelik en verkieslik deur konsensus plaas. Dit wat partye net altyd belowe, naamlik regering nader aan die mense, maar weens ‘n sentralistiese bestel nie kan toepas nie, word deur politokrasie moontlik gemaak. Voorvereiste is egter ‘n kopskuif weg van staatsgerigte denke na gemeenskapsgerigte denke en om ‘n bedeling anderkant die almagtige staat te dink en dan te doen.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Boekresensie “Politokrasie” van Koos Malan”

  1. Ben le Roux 11 Julie 2011 at 15:23 Permalink

    Ek is besig met hom Jaco,geniet dit baie!

    • Ben le Roux 11 Julie 2011 at 15:27 Permalink

      Skuus,nie Jaco nie! Sebastiaan.

  2. Reint Dykema 12 Julie 2011 at 12:43 Permalink

    Koos Malan verduidelik op STube wat beteken politokrasie:
    http://www.stube.co.za/4.0/video/437/Boekbekendstelling-Prof-Koos-Malan

  3. Chris 13 Junie 2012 at 14:38 Permalink

    Politokrasie sal net so min werk as demokrasie in RSA eenheid staat nie. RSA het te veel verskillende groepe, nie net ras of etnies nie maar ook welstand. Indien RSA b federasie of Konfederasie was, sal politokrasie kan werk.


Lewer Kommentaar

*