28 Junie 2013 ~ 9 Kommentare

Argumente ten gunste van ‘n Afrikaanse universiteit

Geskryf deur Henri Boshoff

Henri Boshoff is tans besig met ‘n Magister in Finansiële Wiskunde aan die Noordwes-Universiteit.
Hierdie artikel is in ‘n debat oor transformasie op kampus gebruik.

10 Mei
Die agtergrond waarteen ek skryf:

In die jongste Wapad (kampuskoerant van die Noordwes-Universiteit), is ‘n volle bladsy besteee aan die vraag of transformasie op kampus genoeg bereik. Die Mail & Guardian probeer baie hard om ‘n karikatuur van Potch te maak as ‘n laaste vesting vir konserwatiewe, eksklusiewe, wit Afrikaners. Hulle noem byvoorbeeld dat al die bordjies Afrikaans is – en dis waar. Hulle laat egter na om te sê dat die bordjies ook in Setswana en ook in Engels is. The Citizen het gekies om hulle berig oor Thabang se dood direk langs ‘n foto van ‘n eerstejaar te plaas wat a Nazi-vlag dra ‘n rekwisiet vir ‘n eerstejaarskonsert waarin hulle die spot gedryf het met die Nazi’s, maar wie’t nou ooit gedink daardie feit dra betekenis… Johnathan Jansen, rektor van Kovsies, (so kom ons gee nou nie voor dat hy sonder vooroordele oor hulle kompetisie skryf nie) skryf ‘n artikel in Beeld wat die gevare van Universiteite uitlig wat hulleself isoleer deur vas te klou aan ‘n minderheidstaal en/of openlik gelowig is.

Ek is Afrikaans én ‘n Christen. So dit sal vir my wonderlik wees as ‘n universiteit albei hierdie eienskappe met my deel. Ek glo dat die gemiddelde lid van ‘n ander taal- of kultuurgroep ook daarvan sal hou om ‘n graad in hulle eie taal te verwerf. Dié wat nie hiervoor wens nie, sê dis omdat hulle nie dink ‘n graad in hulle eie taal is so waardevol of van gelykstaande gehalte as ‘n Engelse graad nie. Tog sou hierdie klag waarskynlik verdwyn as die kwaliteit van sodanige graad hoog is.

Wat is transformasie?
Die HAT definieer transformasie as ‘n gedaanteverwisseling, die oorbring in ‘n ander vorm of ‘n verandering in die samestelling van iets.

Wat egter bedoel word wanneer hierdie woord in verband met tersiêre instellings gebruik word, is onduidelik. ‘n Mens sou die universiteit se wapen kon verander, dan die Lettere en Wysbegeerte skuif na waar Ekonomie was, Ekonomie na waar Ingenieurswese was, Ingenieurswese na Teologie, Teologie na Regte en Regte na waar Lettere en Wysbegeerte was. Die resultaat, is ‘n dramatiese verandering vir die universiteit en voldoen dus streng gesproke aan die definisie, maar niemand sou werklik kon glo dis die transformasie wat nodig is nie. Die vraag is dan: “Transformasie na wat toe?” Dit is ‘n vraag wat onbeantwoord bly.

‘n Mens sou ook kon verwys na die transformasie waarvan Barber, Donnelly en Rizvi in hulle artikel oor transformasie van tersiêre instellings praat. ‘n Transformasie om in te pas in die inligtingera – transformasie in die tegnologie wat gebruik word en die aanpas van die leerplan om beter in te pas by klimaatsverandering en so aan. Dis ook nie die transformasie waarvan ons kort-kort hoor nie, hoewel dit waarskynlik meer relevant is.

Sover ek dit verstaan kry, beteken transformasie dat ons wegbeweeg van instellings wat vasklou aan een taal en geloof. Die feit dat die Potch-kampus van die NWU oorwegend Afrikaans is en die feit dat sy geskiedenis Christelik is, maak van hom ‘n teiken vir transformasie-sprekers wat ‘n negatiewe voorbeeld soek. Dis glo agterlik en onwetenskaplik. Ironies genoeg sal ‘n universiteit wat ateïsties en Engels is, waarskynlik as hoogs wetenskaplik en getransformeerd beskou word!

Die werklike beleide wat in plek is
Neem die taalbeleid van UP as voorbeeld. Dis basies die beleid van TUKS: Afrikaans en Engels met die weglaatbare addendum dat Sepedi as ‘n kommunikasietaal bygevoeg i). Op grondvlak word Engels bevorder, so daarom word hulle as beter getransformeerd beskou. Jy kan in Afrikaans klas hê, mits daar “genoegsame belangstelling is… en as die program akademies en ekonomies regverdigbaar is” wat die regsweergawe is van “jy kan nie in Afrikaans klas hê nie”. Hulle bied dieselfde toegewing vir enige taal. Daar moet net genoeg belangstelling wees om dit akademies en ekonomies lewensvatbaar te maak. So in teorie kan jy in Venda klas kry as jy net genoeg ander mense kan oortuig om dit te eis en as jy ‘n goedkoop dosent kan kry om die klas aan te bied.

Soek ‘n bietjie ‘n taalbeleid op Wits se webtuiste Die enigste skakel wat jy kry, is een wat jou lei na kursusse waarin jy kan studeer om taalbeleide op te stel. Hulle is wel trots daarop om betrokke te wees by die ontwikkeling van gebaretaal. Probeer egter in enige ander taal as Engels iets soek en moenie iets sinvol verwag nie.

UJ het vier amptelike tale: Afrikaans, Engels, Sesotho en isiZulu. So, wat kan ek in Afrikaans swot? Afrikaans-Nederlands. Wat anders wil jy dan in Afrikaans leer? Die enigste rigting waarin ek in ‘n amptelike taal van die universiteit kan studeer, is die studie van daardie taal! Ek raai dis seker soortgelyk vir die ander twee. Jy sou waarskynlik ‘n studentevereniging van ‘n aard kon saamstel in een van daardie tale, as jy net self die studente bymekaar kan kry. Die punt is egter dat, as die vereiste vir ‘n taal om ‘n amptelike taal van ‘n universiteit te wees, is dat jy die vak moet aanbied, dan voel ek dis tyd dat ons raaksien dat ons ‘n horde Griekse universiteite in ons land het.

Ek gaan egter nie meer tyd daaraan spandeer om ander instellings swart te smeer nie, dat ons teen hulle gemeet beter kan lyk nie.

My argument
Ek sal argumenteer dat AS daar ‘n universiteit in Suid-Afrika was wat ‘n openbare voorstander vir Afrikaans of Christenskap of beide was, sou dit die ideaal gewees het. Dit dra selfs by tot transformasiedoelwitte. Dis vir my tragies dat die PUK kritiek ontvang dat hy vir die oningeligtes voorkom of hy kultuur-, taal- of geloofspesifiek is.

Geloof
Die idee dat wetenskap geloofsneutraal is (of selfs kan wees) is ver uit die mode in vandag se akademie. Almal het geloofs-en ander voorveronderstellings waarmee hulle begin as hulle navorsing doen. ‘n Eksplisiete erkenning in hierdie verband behoort verwelkom te word, nie bespot nie. Om die waarheid te sê: daar is universiteite wat dit van hulle studente eis – dis bloot goeie navorsing. As jy sou voorgee dat jou standpunte selfs in die mees gevorderde takke van die mees eksakte vakke, lees Doktoraal in Suiwer Wiskunde enigiets anders is as gekleur deur jou eie wêreldbeeld, is dít die opinie wat bespotlik is. Roy Clouser argumenteer dat ons geloofsperspektiewe nie net ons opinies kleur wanneer ons navors nie, maar ook bepaal watter navorsing enigsins aangepak sal word.

Dus ‘n instelling wat hom verbind aan ‘n spesifieke wêreldbeeld, is nie ‘n unieke eienskap van die PUK nie, en dis as ons aanneem die skuif weg van CHO af was net om buitestaanders ‘n rat voor die oë te draai. ‘n Uitstippeling van hierdie wêreldbeeld sal eintlik vordering wees.

Taal en Kultuur
Kom ons neem aan eenheid in diversiteit is ‘n goeie doelwit. Ek dink op hierdie vlak behoort elkeen, ongeag sy posisie op die politiese of geloofspektrum in Suid-Afrika, saam te stem. Maak ek enigsins ‘n gedagtesprong as ek dan byvoeg dat diversiteit gekoester moet word? Ek kan nie dink dat daar teenstand behoort wees nie. Maar as jy aan die einde van die stuk kom en besef jy stem nie saam nie, dan is dit hier waar ons van mekaar verskil.

Hoe behou ‘n mens dan diversiteit? Antropologies moet ‘n kultuur aan sekere minimumvereistes voldoen om voort te bestaan. Hulle is
• ‘n Geografiese nis. Daar moet iewers ‘n plek in die wêreld wees waar ‘n kultuur domineer, anders sal hy ophou bestaan. Sonder Sjina sal alle Sjinese binne drie generasies deel word van die kulture waarbinne hulle leef. Russel Peters meen byvoorbeeld dat hy ‘n Kanadees is met twee dinge aan hom wat Indies is: sy ma en sy pa.
• Basiese kommunikasie. As jy in jou motor gaan ry en jy kan nie name vir Kar, Straat, Sypaadjie, Straatlig, Robot, Stuurwiel, Remme, Rat, en so aan, in jou eie taal kry sonder om ‘n ander taal as ‘n kruk te gebruik nie, dan is dit minder moeite om net die taal te praat wat al hierdie dinge kan benoem. Dit lei dan tot die volgende twee punte se belangrikheid.
• Letterkunde. Die kern van wat ‘n taal is, is die vermoë om wat ons voel en dink en doen in woorde om te sit. ‘n Hoë gehalte letterkunde is die manier waarop taal ontwikkel. Ons het nodig om oulike maniere te kry om te sê wat ons wil sê. As jy Shakespeare byvoorbeeld met sy tydgenote vergelyk, is hy oneindig meer leesbaar. Dis omdat hoe hy dinge gesê het, deel geword het van die taal, terwyl die res die taal van die tyd gepraat het. Engels het toe weg ontwikkel van wat dit in die Middeleeue was.
• Hoër onderwys in ‘n taal. Vliegtuie het nie bestaan in 1880 nie. Ook nie rekenaars minstens nie soos ons nou dink as ons die woord hoor nie, selfone, satelliete (behalwe as jy die Maan vir ‘n natuurlike satelliet reken), digitale horlosies en so aan nie. Vandag dink ons nie aan trekkers as modern nie. Ons glo ook nie eintlik rekenaars is nuut nie. As jy in jou twintigs is, dink jy waarskynlik selfone is nie baie nuut nie. Satelliete en hulle toepassings in terme van TV, internet, GPS en kommunikasie is alledaags. Universiteite is waar die ontwikkeling plaasvind van idees wat lei tot die produkte wat oor nog honderd jaar alledaags gaan wees.

Dus, vir die voortbestaan van ‘n taal met die naam Xhosa* moet daar ontwikkeling van nuwe dinge in Xhosa wees. Daar moet rekeningkunde in Xhosa gedoen word. Nuwe produkte mag nie eenvoudig i-(Engelse naam vir wat ek beskryf) wees nie, iemand moet Xhosa-name vir hulle kry. Daar moet goeie boeke en gedigte en flieks en liedjies en toneelstukke in die taal wees. As dit nie gebeur nie, word Xhosa i-Engels en dan los ons later net die “i-”.

Dan is Xhosa nie meer ‘n beskrywing van ‘n taal nie, maar van ‘n kultuur. Omdat daar egter nie ‘n taal is waarin die kultuur bestaan nie, word dit binne ‘n paar geslagte ‘n woord wat jou voorouers omskryf en dan verloor die woord betekenis vir almal behalwe historici.

Kwaliteit van Opleiding
Volgende bespreek ek die impak wat taalverandering op verstaan het. Dat opleiding optimaal plaasvind in jou eie taal, is nie regtig ‘n opinie nie, dis eerder doodgewoon ‘n feit. Natuurlik sal jy beter verstaan as jy nuwe begrippe kan baasraak sonder dat jy die helfte van jou tyd mors in die vertaal van daardie begrip. Die Departement van Onderwys stel dit so: “Om kinders te motiveer om hulle huistaal te los, ondermyn hulle persoonlike en begripsfondasie vir die leerproses.”

Hulle verwys hier na grondslagfase-onderwys. Ek praat dan van tersiêre instellings. Nou sou ek kon voorstel dat die enigste mense wat onderrig in ‘n taal kan gee, die mense is wat onderwys in of vir daardie taal geswot het. Dis egter hopeloos te lig in die broek. Die voordele van moedertaalonderrig is veel wyer. Selfs wanneer Coleman ‘n artikel skryf wat globalisering aanbeveel, stel hy voor dat mense “hulle eie taal vir plaaslike en kulturele kommunikasie gebruik waar hulle persoonlike identiteit betrokke is en ‘n ander taal vir internasionale, formele en praktiese kommunikasie”. Hy bestudeer die uitslae van Engelse opleidingsprogramme, waar Engels as onderrigmedium gebruik is, maar een of ander ander kuns geleer moes word. Die beste resultate vir ‘n EOP in Italië is waar studente dieselfde gevorderdheid bereik as studente wat in Italiaans leer. Die resultate is heterogeen, hoewel universiteite almal probeer het om die fokus op inhoud eerder as onderrigtaal te hou en hoewel die kursusse duurder is om aan te bied.

Studente wat dus in ‘n tweede taal op tersiêre vlak leer, lewer ten beste soortgelyke resultate en ten slegste bemeester hulle nie die inhoud nie en eerder as dat hulle ‘n internasionale graad het, het hulle nou geen graad nie. Die beste beleid sal dan eerder wees om die inhoud in jou huistaal te leer en as jy nog ‘n taal nodig het, doen ‘n kort kursus in, sê maar Besigheidsengels. Dit was in elkgeval vir jare lank die NWU se beleid. As dit Engels is wat jou laat sukkel, druip jy net die kursus, nie jou graad ook nie.

Hoekom Engels?
As die bogenoemde beskou word, sal ‘n mens begin wonder hoekom Engels die norm is vir universiteite in ‘n land met 11 amptelike tale en nog ‘n paar ander in gebruik. Tipies is die antwoord dat Engels die besigheidstaal is of dat Engels die taal van die wêreld is.

Kom ek begrawe gou hierdie idee.

Engels as taal domineer Hollywood. Dis omtrent dit. Die demografie van Amerika is besig om te verander en siende dat hulle nie ‘n amptelike taal het nie, gaan hulle toekomstige regeringstaal Spaans wees. Die vinnigsgroeiende universiteite is hoofsaaklik Mandaryns. Die gemiddelde Hollander ken vier tale aangesien handel in Europa in die taal gebeur van die land waarin jy deelneem: Duits in Duitsland, Vlaams of Frans in België, Duits in Oostenryk, Nederlands in Nederland, hoewel jy wonderlik sal regkom as jy net Engels magtig is – die vier tale ding is mos al genoem, Frans in Frankryk om die waarheid te sê, is dit ‘n goeie toets van jou braafheid om iets in Parys in Engels te probeer koop, Spaans in Spanje, Italiaans in Italië, Grieks in Griekeland… Die grootste ekonomieë in die wêreld is die G8. Onder hulle is Engels die oorheersende taal van twee lande: die VSA en Brittanje. In Kanada kan jy ewe goed met Engels of Frans regkom. Die res is Rusland, Duitsland, Frankryk, Japan en Italië, waarvan nie een Engels verkies vir besigheidsredes of enige ander redes nie.

Die rede dat ons Engels gebruik om “almal in ag te neem”, is eenvoudig: hulle het die kolonie besit. Die enigste rede dat alle universiteite in die land Engels moet wees, is ‘n variasie op die Stockholm-sindroom!

Gevolgtrekking
Ek glo ek het bewys dat ter wille van die behoud van diversiteit behoort daar verskillende universiteite te wees waar ‘n spesifieke taal as hooftaal gebruik word en nie as ‘n sekondêre taal nie, maar as ‘n primêre kultuurtaal. Dit kan nie universiteite wees wat ‘n taal as ‘n stertjie aanlas in een of ander beleid nie, maar tale waarin jy kan klasdraf en toets skryf.

Ons kan nie 11 tale onderhou nie. Om te dink ons kan, is wensdenkery. Dit is egter moontlik om universiteite te hê in Afrikaans, Engels, een van of beide Zoeloe en Xhosa en een van die Sotho’s. SeTswana het na my mening die beste kans, siende dat Mafikeng klaar baie vordering daar gemaak het. Dis min genoeg afgebyt dat almal wêreldklasinstellings kan wees. Daarom is dit die perfekte tipe “transformasie” vir ons tersiêre instellings, want dit maak leer toeganklik vir meer mense.

Uiteindelik kan ons kies om universiteite in verskeie tale te hê en daarmee saam kulture red, of ons kan erken ons wil almal Engelse wees, hierdie “multicultural society” is mos eintlik ‘n lastigheid! Indien dit die laasgenoemde is, wil ek dit net graag weet. Moenie vir my lieg terwyl jy tegelykertyd my opleiding nutteloos probeer verklaar nie.

Ek sal verkies om my taal en my kultuur te onderhou.
.

*Vervang hier ad libitum Zoeloe en met klein aanpassings geld die argument ook vir Venda, Sesotho, Sepedi ens.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Argumente ten gunste van ‘n Afrikaanse universiteit”

  1. Jacques 2 Julie 2013 at 06:01 Permalink

    Henri jou wel bereneerde argumente is sinvol, maar ongelukkig sal elkeen op dowe ore van as dit by die ANC kom. Die verengelsing van die Afrikaanse Universiteite het niks met ‘n misplaaste dryf tot goeie onderwys te maak nie. Om die waarheid te se ek dink nie eens ideologie (nl een nasie een taal of so iets) speel veel van ‘n rol nie, andersins sou die ANC nie onlangs vol lof vir Zululand Universiteit gewees het in hul besluit om Zulu as vereiste te stel nie.
    Nee wat, die verengelsing van Afrikaanse universiteite het alles met wraak te make. Dis dieselfde logika wat gebruik word om ons uit die ekonomie te druk, ons plekname te verander ons skole te verengels ens. Uiteindelik sal Potch verengels word en mettertyd sal dit wel verswart.
    Hierdie is die gevolg van die oorgawe deur die ou NP regering wat ons met geen mag gelaat het nie. Ons moet ons kwansuis beroep op wetlike instellings wat eintlik niks werd is nie.
    Dit gaan oor die totale uitwissing van die Afrikaner Kultuur en van die Afrikaner as groep. Dis ‘n soort kruipende volksmoord en ons het geen oenskynlike mag om dit te stop nie.
    Die grootste fout wat universiteite maak is om ‘n kompromerende benadering te volg. Dit ly tot ‘n glybaan waar die een opoffering na die ander gemaak word. Al wat hierdie mense verstaan is mag en jy moet ten minste optree asof jy glo jy het mag. Potch moet onverbiddelik staan by sy beleid en ditself wend tot die hof en selfs internasionale forums, want as kultuurgemeenskap het ons die reg tot ‘n universiteit. Potch moet nie een sentimeter afstaan nie.
    Ongelukkig is Potch se personeel reeds geintimideer. Ek het onlangs versoek om ‘m M tesis in een van die sosiale wetenskappe daar te doen. Aanvanklik was die betrokke department baie geintereseerd in my as student. Toe ek die voorkeur onderwerp vir my studies noem het hulle verdwyn en ek het nooit weer van hulle gehoor nie. My voorstel was om ‘n ondersoek te doen na die eskalsie van geweld teen Afrikaners met spesifieke verwysing na die International Genocide Watch se opgradeing van SA na vlak 6. Dit spreek boekdele.
    Solank Afrikaners bang is vir die ANC sal ons net agteruit boer.

    • Waldo 3 Julie 2013 at 19:06 Permalink

      Ek stem saam. Dit gaan alles oor wraak en “wettige” uitwissing.

  2. Gerhardus 2 Julie 2013 at 14:15 Permalink

    Henri
    ‘n Pragtige stuk en tog so waar. Jacques, hierbo beskryf dit so mooi dit is nie transformasie nie maar blote “wraak”, waar ek wel verskil is stuk oor dat dit blyk dat ons geen verweer het nie. Die Boere en veral Afrikaans sprekendes het dieselfde probleem gehad onder die Engelse (magtig maar hulle is lastig hierdie Engelse of dit nou hulle is of die taal is) maar Afrikaans Seuns is gestig en die einste PU vir CHO is gestig met minder as 30 studente en (ek kan verkeerd wees) 8 dosente – kyk wat het later van die PU vir CHO geword – ‘n eersteklas universiteit. Nou vertel my… hoeveel is nodig om ons eie Afrikaanse Universiteit op die been te bring?

  3. Gerrie Venter 3 Julie 2013 at 16:52 Permalink

    Ek was onlangs erf geskok oor Mnr. boshoff se uitlatings ten gunste van die ANC wat oor die nuus om sewe oor TV uitgesaai is.

    • Jaco Kleynhans 11 Julie 2013 at 12:23 Permalink

      Beste Gerrie. Carel Boshoff het nie uitlatings ten gunste van die ANC gemaak nie. Kan jy asseblief presies sê oor watter woorde jy ongelukkig is?

  4. Ben 15 Julie 2013 at 16:53 Permalink

    Het gisteraand ‘n program oor Nelson Mandela op TV gesien; en ‘n vergadering waar hy FW de Klerk oor uitlatings geroskam het. Volgens Mandela was die ou NP regering ‘n onwettige minderheidsregering en ek twyfel of daar ‘n egte respek vir Afrikaans by hom en die regerende party is. Andersins sou die kultuurgeskiedenis van universiteite buitendien nie ‘n twispunt gewees het nie, om mee te begin. Engels is gerieflik want dis ‘n internasionale besigheidstaal en die regering sal altyd wil flikflooi om minerale te wil verkoop. Dis dalk simplisties gestel. Multikulturele samelewing: dit sal net slaag as daar respek vir die waarde van elke kultuur is, wat impliseer dat Afrikaners nie daarvan weerhou moet word om hulle taal en kultuur tot op enige vlak te wil ontwikkel nie. Dis onbillik van dosente om te verwag om in ander tale klas te gee, en as Afrikaners gerieflikerwyse na Engels wil oorskakel sal dit ook ‘n trotslose gebaar wees…

  5. Ben 15 Julie 2013 at 16:55 Permalink

    om van dosente te verwag

  6. willem van staden 15 Julie 2013 at 20:50 Permalink

    Dagsê Volksgenote, ek is seker ek gaan baie moeilikheid kry met my volgende stellings maar so ook het baie van die mense en selfs Jesus baie moeilikheid in Sy tyd op aarde gehad.
    Ek het vrede met ander se tale, ek praat 8 en help myself met omtrent 10 ander tale maaaar, Afrikaans is my taal, hoekom? omdat Deut.28:47 en verder dit sê, God sê Hy het vir hom n Volk berei, n eie Volk om Hom te dien, maar as die Volk hom nie dien nie bring hy al die dinge oor hom in Deut 28 {dink net, hoe bring hy mense vinnig soos n arend van die uithoeke vd aarde, met n taal wat jy nie verstaan nie, dink maar self soos wat jy verder lees!!] so as JY een van hulle is, Dien Hom dan! Hoe? Maklik, gaan terug na die Woord en leef volgens die Woord! Ek gaan aan die einde hiervan vir u gedeeltes gee om te lees, laat my net toe om vir u te sê, ek is nie fanaties nie, tewens ek haal my hoed af vir die moslems wat 5keer per dag bid en fanaties oor hul geloof is en ons skel as honde, terloops hulle mag, maar as ek hulle enige iets noem is ek een of ander ????? wat die kat in gedra het, sien en lees wyd en u sal vind dat die Christene wêreld wyd die mense is wat die meeste onderdruk word en so veral die Afrikaner want dit is in ons natuur omdat ons God dit so bepaal omdat ons nie Sy bepalings in Sy Woord onderhou en doen nie. Ek het artikels van die buiteland af wat beweer dat die Afrikaner die MEES onderdrukte Volk tans, in die wêreld is!
    So, mag ek dan net vir u sê, My God kyk en sorg vir my en Hy sal my lot bepaal en Hy sal besluit wat ek moet doen, intussen probeer ek sovêr moontlik doen wat Hy vir my in Sy Woord sê:
    Ps119:160
    2Tim 3:16
    Mat 28:19
    Joh 8:31,47,51 en wat gaan op die oomblik in die land aan? Woord vir Woord uitgespel in god se Woord in esegiel 22:23 en verder aan, woord vir woord vir jou gekryf as jy Kind van God is, as jy is, sal jy dit verstaan en jou wee verander!!!!!!
    Prys Sy Naam
    Willem

  7. Rian Genis 16 Julie 2013 at 11:39 Permalink

    ‘n Pragtige en goed deurdagte artikel. Baie dankie. Daar kan geen twyfel by enige iemand bestaan dat eie skole, ‘n eie universiteit, eie ambagsonderrig deel moet uitmaak van ons toekomsvisie en volkstrategie. Ons kultuur, taal en volksbegrip is gedoem daarsonder.

    Dit is nie net die verengelsing/”africanising” van ons skole en universiteite en daarmee saam ook ons taal en kultuur wat die probleem is nie. Ons verval algaande in ‘n moeras van afplatting en waardeverlies. Ons as volk word toenemend soos die beeld wat die wêreld en ander volkere om ons van ons geskep het. Ons loop die gevaar om aan die einde van die spiraal van verval nie anders te wees as dit wat ons toegewens/toegedig word nie.

    Ons sal goed doen om terug te gryp na ons stamlande se tale en kulture en waardestelsels (die goeie dele daarvan) en om hulle weer onder die knie te kry. As jy met Duitsers wil besigheid doen, sal dit nie net deug om Duits te kan praat nie (taal is maar een faktor) maar sal dit ook baie deug om die Duitse sakekultuur te verstaan (presisie, deugsaamheid, waarheid, stiptelikheid, kwaliteit).

    Die kulturele eienskappe van ons stamlande is iets waarvan ons as Afrikaners ongelukkig tydens die jare van afsondering weggedwaal het. Daar het baie van Afrika en Engeland in ons oorgespoel. Ons sal goed doen as ons hierdie “verval” teenwerk en ons kultuur (asook taal) verryk met Duitse, Vlaamse, Franse en Nederlandse kulturele invloede.

    Daar lê vir ons ‘n lang en moeisame pad voor. Gelukkig het heelwat Afrikaners die kopskuif begin maak. Veral julle klomp op Orania is die res van ons ‘n paar spronge voor :)


Lewer Kommentaar

*