18 Desember 2012 ~ 8 Kommentare

Anderkant gelykheid: die ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni

Geskryf deur Carel Boshoff

Die pasgetekende ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni was kennelik vir baie mense ’n verrassing. Baie Suid-Afrikaners vind dit steeds vreemd dat twee tradisievaste en konserwatiewe gemeenskappe by mekaar aansluiting vind, vreemd net omdat die een swart en die ander wit is. Ironies genoeg is dit meestal moderne liberale wat normaalweg gereed is om die agterosse van versoening in die kraal te kry, wat die gebeure met agterdog bejeën. Seker omdat dit nie aan hulle eie individualistiese vooroordele voldoen nie.

Die punt is dat ‘n verhouding tussen hierdie landelike, tradisionele Oos-Kaapse Isixhosa gemeenskap en die gemoderniseerde, dog konserwatiewe Afrikaners van Orania nie by die gelykheid van alle mense geëindig het nie, maar daarby begin het. Toe ons die eerste keer op Mnyameni besoek afgelê het en hoofman Siphiwo Mdledle ons oor die grasgroen heuwels met huisies en beeste en klein landerye laat uitkyk het, het hy my eenkant toe geneem en gevra: “Glo julle mense dat ons almal gelyk is of glo julle dat sommige mense bo ander geskape is?” En ek kon met al die vrymoedigheid van ’n sendelingseun antwoord: “Ons glo dat God ons gelykwaardig gemaak het en dat ons mekaar se erkenning en respek verdien. Ons sien onsself nie bo of onder enigiemand anders nie.” Enigiets minder sou die besoek dalk op ’n gawe geleentheid laat doodloop het waarop geen verdere verhouding sou volg nie.

Feit is dat die teendeel gebeur het. In die loop van die volgende maande is heelwat telefoonoproepe en e-posse uitgeruil, het mnr Mdledle ’n afvaardiging Orania toe gebring, het ons aan die memorandum van verstandhouding begin werk en is ons onderskeie gemeenskappe deeglik daaroor geraadpleeg. Uiteindelik was die raakpunte van twee geordende gemeenskappe met ’n uitdruklike voorkeur vir selfstandigheid en ’n afkeer van staatsafhanklikheid vrugbare grond vir ’n vaste ooreenkoms. Met die ondertekening daarvan is werklikhede wat oor die afgelope maande geskep is, maar net bevestig en wêreldkundig gemaak. Die ontginning daarvan lê nog voor.

Dit was seker te wagte dat die volgende vraag van waarnemers en joernaliste sou wees na spesifieke projekte en na die voordele wat elke gemeenskap kan verwag om daaruit te trek. Vriendskap word egter nie in die eerste plek aan geldwaarde gemeet nie en ons verwagtings is uit die staanspoor nie deur die vloei van fondse of voordele bepaal nie, maar deur onderlinge ondersteuning, solidariteit en advies. Orania het die pad van ontwikkeling sonder staatshulp al geloop en kan sy ervaring daarvan deel; Mnyameni se interne kohesie en sy afstand van die verbruikersekonomie is ’n voorbeeld vir enigeen wat in ekologiese volhoubaarheid belangstel. Dit is dinge waarmee ons mekaar onderling kan verryk namate ons dit beter leer ken.

Dit sluit natuurlik nie projekte rakende toerisme en ontwikkelingsbefondsing of landbou en inligtingstegnologie uit nie, sulke beplanning is reeds aan die gang. Dit beteken gewoon dat ons mekaar op sleutelpunte sal bystaan soos vriende dit doen – nie sonder voordeel nie, maar ook nie vír die voordeel nie. Dit beteken dus nie dat ons voorgee om geen voordeel in die oog te hê nie en ons onderskeie belange behoort uitgespel eerder as verswyg te word, dit is immers duidelik in die getekende ooreenkoms gedoen.

Mnyameni se belang lê by ekonomiese ontwikkeling en selfstandigheid en Orania kan dit help bevorder. Hulle ervaar hulleself as verwyderd van die groot ekonomiese kragte wat verstedeliking bevorder en die landelike bestaan in die skadu stel. Hulle wil toegang tot dié ekonomiese kragte hê, maar nie teen die prys wat normaalweg daaraan gekoppel word, naamlik selfprysgawe nie. Orania se belang lê by politieke ontwikkeling en selfstandigheid en Mnyameni kan dit help bevorder. Ons ervaar onsself as gestereotipeer en dikwels uitgesluit van die politieke diskoers waaraan ons wil help rigting gee, maar ons sal onsself ook nie prysgee ter wille van deelname daaraan nie.

Daarom dat die grondslag van identiteit, wedersydse erkenning en plaaslike bemagtiging, ’n federalistiese eerder as ’n sentralistiese uitkyk op Suid-Afrika se verskeidenheid, vir ons so aantreklik lyk. Om die waarheid te sê, beide Orania en Mnyameni is van mening dat wat ons besig is om te doen nie net vir onsself van groot belang is nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse samelewing waarvan ons in die breedste sin deel is. Soos die ooreenkoms dit stel: die vraag van ontwikkeling is nie net ekonomies van aard en individueel van omvang nie, maar kultureel, polities, sosiaal, ekonomies en eties van aard en kommunaal, regionaal en individueel in omvang.

Dit is goed en wel dat Suid-Afrika, na ’n geskiedenis van ongelykheid en rassisme, die vraag van onderlinge gelykheid vir eens en vir altyd wou bylê. Dit is nou gedoen en Afrikaners, ook Oraniërs, is bly daaroor. Maar nou is die vraag: wat volgende? Wat lê anderkant dié gelykheid? Ons antwoord is: gemeenskapsgebaseerde ontwikkeling op grond van erkenning; dit is die volhoubare alternatief vir die individuele selfverryking wat die nuwe elite tans kenmerk.

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Anderkant gelykheid: die ooreenkoms tussen Orania en Mnyameni”

  1. Boere Party 18 Desember 2012 at 20:07 Permalink

    ons 4 helde doen wat hulle doen vir Afrikaner eie volkstaat.
    moenie veroordeel nie. Hulle is nie dom nie en bereid om vir Afrikaners tronk toe te gaan.
    Ondersteun hulle direk sonder enige middelman.
    Bewys van u beleid is nou in u hande..

    • Gemsbok 18 Desember 2012 at 23:41 Permalink

      Ek weet nie wat hierdie skrywe van Boere Party met die artikel toe make het nie. Lyk vir my na ‘n trol wat ‘n skrywe probeer kaap. Wat wel dom is, is om vir Afrikaners tronk toe te gaan, want daarin lê geen voordeel vir Afrikaners opgesluit nie.

      Geluk aan Orania vir hierdie stukkie medemenslikheid. Ek hoop dit dra verder by tot die dorp se groei in omvang en statuur.

  2. Philip 20 Desember 2012 at 13:21 Permalink

    Ek plaas n kopie van my kommentaar hier wat ek ook elders geplaas het:

    “Geluk met hierdie inisiatief Orania! Moet jul nie steur aan diegene wat die negatiewe daarin sien nie. Die kritici vind dit nou eers moeilik om Orania op die stereotipe politieke skaal te plaas. Vir sommige is ons nou te links, terwyl vir andere is ons te regs. Beide is verkeerd. Orania is beslis nie links of regs en boer beslis nie agteruit nie. Orania is voor en heelbo. Ja, Orania mag moontlik miskien hierdeur n paar ondersteuners na “regs” verloor, maar was hulle regtig onmisbare woord en daad ondersteuners tot nou toe? Dis goed dat daar n uitskud proses plaasvind sodat Orania van sy onregverdig toegedigte “verregse” stigma kan ontslae raak. Orania gaan met hierdie inisiatief meer vriende win as verloor. Dis gewis.”

  3. Jacques du Toit 25 Desember 2012 at 03:05 Permalink

    Orania kan nie verkeerd gaan met hierdie inisiatief nie. Orania sal alleen voordeel trek hieruit. Baie geluk!

  4. Danie Smit 26 Desember 2012 at 03:21 Permalink

    Stem ten eerste saam met gemsbok ek sou net die t met ‘n d vervang het. Geluk Orania bestuur hou SA op hoogte van julle fisiese betrokkenheid en waar die plek in Ooskaap is.

  5. Johan 23 Januarie 2013 at 10:31 Permalink

    Als buitenstaander kan ik enkel zeggen :

    De toekomst zal het uitwijzen.
    Doch mag orania evenveel moeite doen om ook met andere Afrikanergemeenschappen zo een relaties op te bouwen.

  6. Victor v Rooyen 1 April 2013 at 06:54 Permalink

    FANTASTIES ORANIA !! Ons gaan binnekort kom kuier, en is BAIE nuuskierig hoorjulle.
    Groete,
    Victor.

  7. Sonia 4 April 2013 at 13:42 Permalink

    So ‘n verstandhouding tussen gemeenskappe kan net goeie gevolge inhou, ek het net een bekommernis: Het ons afrikanerleiers nie ook maar gedink hulle het ‘n goeie verstandhouding met die anc leiers gehad destyds nie, en kyk hoe het daardie anc leiers, onder die godjie
    Nelson Mandela, daardie vertroue verraai. Hoop nie dieselfde gebeur hier by Orania nie.


Lewer Kommentaar

*