12 Januarie 2012 ~ 14 Kommentare

Agterhoedgevegte of die Groot Idee?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Al vir dekades heers daar in Afrikanergeledere spanning tussen diegene wat ‘n mens as pragmatiste kan beskou en dié wat idealiste genoem kan word. Dan is daar nog diegene wat glad nie in volkskap en identiteit belang stel nie en net toevallig Afrikaners is en hulleself eerder iets anders noem. Hierdie groepering streef gewoonlik net na meer van die materiële en lewe asof daar geen toekoms en geen nageslag is nie. Van hulle praat ons nie eers nie.

Die pragmatiste is tipies diegene wat wel Afrikaners wil wees en wil bly, maar wat met die werklikheid werk en dit as onveranderlik beskou. Dit is tipies die Afrikaners wat die Nasionale Party in sy laaste jare oorheers het.

Swart magsoorname in ‘n verenigde Suid-Afrika is as onvermydelik beskou en die Afrikaners moes daarbinne opereer en die maksimum voordele bly behou. Die groot idee, destyds apartheid, is opgegee in die hoop om die voordele daarvan soos eie skole, eie woonbuurte, kultuurorganisasies, veiligheid en ‘n skoon omgewing – kortom die voortsetting van die Afrikaner-leefwyse en leefstyl – te kan behou.

Die idealiste was nog altyd die minderheid van die Afrikaners: hulle glo aan die groot idee. In die beginjare van die Unie van Suid-Afrika was die groot idee die herwinning van die Afrikaner se vryheid na die totale neerlaag van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit moes bereik word deur eers weer Afrikanertrots te laat herleef en om te keer dat die Afrikaner verengels. Die standaardisering van Afrikaans as inheemse en nasionale taal van die Afrikaner was daarmee saam ‘n belangrike instrument. Later het apartheid soos veral deur Hendrik Verwoerd verkondig, die groot idee geword wat aan almal sou reg laat geskied. Afrikaners (en ander blankes) se minderheidsposisie sou beveilig word en gelyktydig sou swartmense hulle ten volle kon ontwikkel.

Namate apartheid nie meer ‘n regverdigbare groot ideaal was nie, maar ‘n toenemend onverdedigbare en selfs lelike ideologie van meerderwaardigheid en permanente onderdrukking geword het, het die idealiste die stig van ‘n eie Afrikanerstaat met eie arbeid as die groot ideaal aangegryp en daarvoor begin steun werf. SABRA, die Oranjewerkers en later Volkswag en die Afrikanervryheidstigting het uit die idealiste ontstaan. Die idealiste was egter altyd ‘n minderheid, selfs binne behoudende en vryheidsgesinde partye soos die KP en later die VF+.

Die idealiste het eweneens geweet dat uiteindelike swart magsoorname ‘n gegewe is, maar anders as die pragmatiste was hulle nie bereid om te glo dat dit die einde van Afrikanerselfbeskikking beteken en dat slegs nog agterhoedegevegte oor die klein dinge gevoer moet word nie.

Die idealiste staan in die tradisie van die Boerehelde soos De Wet, De la Rey en Hertzog, wat ook na die verpletterende neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog geglo het en gewerk het aan die herstel van die Afrikaner se vryheid, en nie, soos Smuts en Botha, Britse oppergesag aanvaar het en die beste vir die Afrikaner daaronder wou beding deur so aanpasbaar as moontlik te wees nie.

Die pragmatiste het wel ‘n punt en hulle benadering kan nie sonder meer afgeskiet word nie. Hulle bereik van tyd tot tyd oorwinnings, soos die haatspraak-uitspraak teen Julius Malema, die uitstel van pleknaamveranderings of die behoud van ‘n Afrikaanse skool, meesal deur ‘n kombinasie van regsaksies en die gebruik van die grondwet en betogings en petisies wat simpatiek deur die media gedek word. Hierdie suksesse gee mense weer hoop en maak hulle lewensomstandighede vir ‘n ruk weer draagliker. Die redenasie van die pragmatiste is gewoonlik dat die ideaal van selfbeskikking goed en wel is, maar dat dit min met mense se werklike probleem en bekommernisse te make het en dat hulle nou, en daar waar hulle woon, gehelp moet word. ‘n Mens kan egter ook sê dat  die pragmatiste agterhoedgevegte veg en aan Afrikaners ‘n fopspeen gee.

Die pragmatiese benadering sonder om die groot ideaal in gedagte te hou beteken egter min. Die blankes in Zimbabwe was pragmaties: hulle het besigheid gedoen, geboer, die land opgebou en in stand gehou, hulle uit die politiek uit gehou en voortgegaan met hulle klubs en gesellighede. Dit alles het nie verhoed dat hulle grond gevat en hulle verdryf of vermoor is, of ‘n armoedige bestaan moes voer omdat die ekonomie geruïneer is nie.

Die groot idee alleen sonder die vermoë om dit uit te voer beteken egter ook min: al vir dekades ontwerp sekere idealiste kaarte en grondwette van Afrikanerstate maar het nog steeds geen plek opgebou waar dit in praktyk werk nie.

Wat ons moet doen is om die twee benaderings te trou as pragmatiese idealisme: Die ideaal wys die weg. Die uitvoering is egter pragmaties solank die doel nooit uit die oog verloor word nie. Met die benadering van pragmatiese idealisme kan ons byvoorbeeld sê dat ons vir die oomblik tevrede is om slegs een dorp as groeipunt uit te bou want ons kapasiteit vir meer ontbreek tans nog. Maar ons moet nooit so pragmaties raak dat ons sê een dorp is vir ons genoeg en ons aanvaar vir altyd die vreemde bewind oor ons nie!

Pragmatisme wat die strewe vir vryheid en ‘n eie land uitskakel en slegs versagting van die permanente onderhorigheid probeer bewerkstellig beteken min. Idealisme wat nooit tot die daad oorgaan en wat weens suiwerheid net met niemand kan saamwerk nie, beteken egter nog minder.

Die idealisme wat ons voorstaan is die idealisme van die daad. Sien die goue toekoms op die horison, en bou die pad daarheen nou.

Deel/Stuur

14 Reaksies op “Agterhoedgevegte of die Groot Idee?”

  1. Xander de Kock 12 Januarie 2012 at 15:45 Permalink

    Kom ons kyk bietjie prakties hierna. n Droom en die nastrewing van n ideaal beteken noodwendig dat jy nie die (huidige)werklikheid as finaal aanvaar nie. Om suksesvol aan n droom te werk mag jy NIE die werklikheid as werklik aanvaar NIE. (n paar Bybelse voorbeelde 1 Daniël en die leeukuil. 2. 2 vissies en 5 brode. 3 Dawid en Goliat ens ens)

    Om suksesvol aan n droom te werk moet jy begin met die einde in sig. Moet NOOIT die einde van die droom uit sig verloor nie. Dit bepaal jou rigting.

    Dit moet egter nie by droom bly nie. Om iets reg te kry moet daar tot AKSIE oorgegaan word. Mooi so Orania – Doen so voort.

    Die krag om aan n droom te werk kom egter van ons Hemelse Vader af. Hy moet altyd die bron van alles wees. Hy het ons reeds die vermoeëns gegee(in ons Messias deur die Heilige(Afgesonderde) Gees) Deur gehoorsaamheid aan Sy Woord en verordeninge word ons geoefen om self minder te word terwyl Hy meer word. Sodoende word ons vermoeëns ontsluit.

    Ons droom moet egter in lyn met ons Vader se wil wees. Hy het vir ons n droom(as individu en as volk) Ons uitdaging is om Vader se wil(droom) vir ons te ken en verstaan. Dit kom net deur skuldbelydenis, verootmoediging, gebed en voortdurende soeke na die waarheid van Sy Woord en Sy wil vir ons. Ons moet dus ook op die uitkyk wees vir misleiding, veral deur ons leiers(wat verleiers word/is)sodat dit ontmasker kan word. As jy die leuen kan identifiseer, sien jy uiteindelik die waarheid.

    Ek dink ons as “volk” en ons leiers doen te min om Vader se wil(droom) vir ons te ken. Ons doen so vinnige gebedjie of open vinnig met skriflesing en klaar. Ons smeek nie biddend as volk Vader se wil af nie. Ons kom nie as volk ons geloftes na nie – ons soek nie rerig in ons vergaderings na Vader se teenwoordigheid nie – Ons noem ons Vader nie eens op Sy ware Naam nie. Die Naam wat bo alle name is. In hierdie omstandighede kan ons tog nie verwag om self minder te word sodat Hy meer kan word nie. Ons kan dus nie Sy seën oor ons as volk verwag nie.

    Sonder om al die drome en vergaderings en planne en dinge agterweë te laat(want dit is belangrik), kom ons fokus daarop om ons volk(en sy doen en late) asook onsself(met ons eie doen en late) rein voor ons Vader(YHWH) te kry. Sodra dit in plek is sal Vader ook al die praktiese werklikhede verander om in plek te kom.

  2. Arnold de Beer 14 Januarie 2012 at 07:56 Permalink

    Ja, daar kan baie gesê word oor die droom van Afrikaner selfbeskikking.
    Hoekom is daar so baie Afrikaners wat nou nie meer ‘n vlenter vir patriotisme voel nie.
    Hulle het niks en niemand wat hulle motiveer nie. Hulle voel dat die stryd verloor is. Ons is oor die aarde verspreid en is nou onder ander invloede. Ons het nie die geldelikke vermoë om ons drome te bewaarheid nie.
    Min mense weet nie van Orania nie. Daar is talle wat daarheen wil verhuis.
    Orania is op die oomblik net ‘n plek vir ryk mense.Meesal afgetrede ryk mense.
    Die bestuur van Orania gee die indruk dat hulle die Afrikaners wat daarheen wil verhuis eers ‘n soort toelatings onderhoud laat ondergaan om te bepaal of jy goed genoeg is.
    Inderdaad is dit nodig om ongewenste elemente daar weg te hou, maar die Afrikaner is al keelvol vir hierdie resep, want dit word ook hier in die nuwe Suid Afrika ook op hom toegepas.
    Daar moet dan nie gewonder word oor waar is die Afrikaner se “Guts”nie.
    Orania het nou in die omgewing van 8000 hektaar grond.
    Wat is hulle plan daarmee.
    ‘n Massiewe groot Volkstaat sonder inwoners is niks werd nie.
    Die meerderheid Afrikaners het verarm.
    Hoe gaan hulle ooit op eie stoom op hulle voete kom as daar reeds soveel klippe in hulle pad is?
    Grond op Orania is vir meeste Afrikaners onbekostigbaar.
    En vir solank as wat daardie hindernis in hulle pad is, sal die inwonertal laag bly.

    Ek stel voor;
    Identifiseer ‘n stuk van daardie 8000 hektaar grond waar daar genoeg water is, en maak dit ‘n vrye tydelikke woongebied.
    Laat dit volkome in die hande van nuwe Afrikaner intrekkers om self hulle heil daar uit te werk.
    Daar sal uiteraard ‘n vorm van beheer toegepas moet word om orde en dissipline te handhaaf, maar los die res aan die mense self.
    Ons Afrikaners het ‘n oordosis van beheer oor ons lewens gehad in die verlede, en is sat daarvan.
    Boer maak ‘n plan.
    Maak hierdie “Vrye ontwikkelings gebied” Orania se tweede dorp en noem hom ook VRYHEID. Soos die dorp in Natal.
    Op hierdie wyse sal die Afrikaner weer ‘n identiteit ontwikkel, en dit dan verdedig.
    Kry die Afrikaners eers bymekaar, waar hulle vir mekaar kan sorg.
    Orania beskik oor daardie hulpmiddel want dit is Afrikaners wat dit in plek gesit het.

    • Sebastiaan 16 Januarie 2012 at 07:53 Permalink

      Beste Arnold,

      ons het inderdaad inwoners nodig.

      Die keuring is nodig, want as daar geen keuring was, kon enigeiemand, krimineel, mense van ander volke en gelowe, mesne wat niks voel vir die Afrikanersaak, mense wat net wil geld maak, mense wat hulle anderskleurige werkers saambring ens in Orania bly, en dan was dit ‘n dorp soos enige ander een.
      Keuring het niks te doen met “goed genoeg” wees nie, maar daarmee, dat jy verstaan waaroor dit gaan en jou daartoe verbind.
      Talle mense hier, ek ook partymaal, wens eintlik die keuring was strenger, want in 90% van gevalle word mense gekeur, ook diegene met erge maatskaplike probleme wat n las vir die dorp is.

      Vreemd dat jy sê Orania is ‘n plek vir ryk mense. Die persepsie was vir baie lank dat dit ‘n plek vir meesal arm mense is. Nie een van die twee is waar nie. Ons hete nige soort Afrikaners hier, maar indien ons meer van iets nodig het, dan is dit juis middel- en hoër middelklasmense, want dit is hulle wat enige samelewing dra, betrokke is, belasting betaal ens.

      Dit is so dat hier ‘n groot behoefte aan huurplek is en dat ons baie meer mense kon vestig as daar meer huurhuise was. Die vraag is egter wie dit moet skep. Ons het nie ‘n staat nie wat met belastinggeld gesubsideerde behuising kan skep nie. Danksy donasies en danksy Orania Beweging word egter woonstelle vir enkellopende (en finasieel eerder swak gestelde) persone geskep.

      Ons moet egter staat maak op ons ondersteuners buite om te help met behuising. Daarom ons versoek aan die uitwoners: belê in eiendom en skep ‘n geleentheid vir ‘n gesin of selfs net ‘ enkelpersoon om heir te kan bly deur ‘n huis te koop en te verhuur, of ‘n erf te koop en ‘n huurhuis te bou. Die grond is hier, die dienste is hier, die werk is hier, die bouspanne is hier, maar die groot geld is buite by ons ondersteuners.

      Gegroet

      Sebastiaan

    • Prof Louis 13 Desember 2012 at 21:24 Permalink

      stem absoluut saam
      5000 Afrikaners naby Pretoria het GEEN heenkome nie!
      Langs Vaal rivier plak 17 mense ens. ens
      Gee net 2 hektaar van 8000 h om te sien as n proef wat gebeur.

  3. Theo Wassenaar 18 Januarie 2012 at 12:46 Permalink

    Arnold.
    Ek hou van jou gedagte van ‘n vrye ontwikkelingsgebied. Dit herinner aan die vroeg-Friese geskiedenis, veral tydens die Friese Vryheid (1000 nC – 1500nC) toe enige persoon kon grond opneem. Die enigste probleem was dat die grond onder water was. Hy moes dit verdien het deur dit self droog te le. So ‘n gebied kan natuurlik ook in ‘n soort plakkerskamp ontaard, dus is kapitaal ook nodig. Stel grond beskikbaar, vereis ontwikkeling oor ‘n sekere tydperk of anders val die grond terug. Aansporings is nodig.

    Die ander probleem wat jy noem van ‘n te eng keuring is dat slegs Afrikaners met ‘n spesifieke ideologie(?) en geloofsoortuiging toegelaat word (soos ek dit verstaan). Ek meen dat dit een van die grootste hindernisse van die CVO beweging is. Waarskynlik Radio Pretoria ook. Is dit nie dalk die grootste probleem van Orania nie; die persepsie by baie van ons mense dat dit eksklusief vir ‘n klompie Calvinistiese Konserwatiewe mense is nie? Ek reis gereeld deur Orania en stop graag daar. Tog ervaar mens ‘n mate van terughoudenheid by inwoners. Dit is dalk ‘n veralgemening, vergewe daarvoor, maar dit kom veral voor by “geslote” gemeenskappe.

    Die vraag is, is ‘n vrydenkende Etniese Afrikaner wat die gedagte van vryheid deur eie arbeid ondersteun, welkom?

    Die moedswilligheid daar gelaat. Sebastiaan, goeie ontleding hierbo.Die geskiedenis sal die pioniers van Orania nog met deernis oordeel.

    Vrede

    Theo Wassenaar

    • Jaco Kleynhans 18 Januarie 2012 at 13:59 Permalink

      Beste Theo.

      Dit is ‘n interessante stukkie kommentaar. Ek moet egter sê dat mens Orania net werklik goed begin verstaan wanneer jy hier woon. Ek woon nou al vir amper 18 maande in Orania en kan sê dat baie van die opvattings wat jy lys (en wat algemeen onder Afrikaners voorkom) nie so is nie.

      Eerstens moet mens verstaan dat dit ten minste tot onlangs ‘n interessante soort persoon geverg het om Orania toe te trek. Orania was nog ‘n pioniersdorp en nie almal beskik oor die vermoë om die aanpassings en opofferings wat dit vereis, te maak nie.

      Ek dink glad nie dat ons eng is in ons toelating nie, maar wel dat die media soms veroorsaak het dat slegs mense wat op sekere maniere dink Orania toe wou trek. Ook dit verander soos wat meer van ons mense Orania beter leer verstaan, maar veral dit waarvoor ons staan (Afrikanerselfbeskikking) beter leer verstaan en dit hul eie droom begin maak.

      Dit sou dus glad nie sin gemaak het vir iemand wat selfbeskikking teenstaan om in Orania te kom woon nie. Verder is ons egter glad nie ‘eng’ oor die verskeidenheid ideologiese standpunte wat ons graag in Orania verwelkom nie. Dieselfde opvatting oor die CVO-skole is ook verkeerd.

      Ek hou nie van jou neerhalende verwysing na Calvinistiese Konserwatiewe mense nie. Wat is verkeerd daarmee om Calvinisties Konserwatief te wees? Daar is darem ook Konserwatief en Konserwatief. Ek is konserwatief, maar nie verkramp, eng, rassisties of agterlik nie. Ek glo wel in dat die noodsaak van verandering eers bewys moet word voordat alles net eenvoudig getransformeer moet word. Ek glo in die belang van ‘n duidelike waardestelsel, wat nie afgedwing word nie, maar wat sodanig uitgeleef word dat andere ook daarna smag.

      Om dus die vraag in jou tweede laaste paragraaf te beantwoord: Ja so ‘n persoon is sekerlik welkom!

  4. Sebastiaan 18 Januarie 2012 at 13:33 Permalink

    Ek moet verskil, Theo. Dit is ‘n persepsie dat net sekere, eng omlynde Afrikaners gekeur word. Mense wat in Orania wil bly moet wel Christene wees en God Drie-enig aanvaar, maar daar is geen denominasievoorkeur nie. Die grootste groep is deesdae, soos waarskynlik orals, die charismate en nie die gereformeerdes nie.
    Natuurlik moet mense wat hier wil kom vestig ten minste met die mond die volkstaatideaal ondersteun, want waarom is ons dan hier? As dit net gaan oor ‘n rustige en veilige plek waar Afrikaans gepraat word, is daar baie dorpe in die Karoo en Wes-Kaap waar ‘n mens dit kry.

    Redes om nie gekeur te word is ‘n ernstige misdaadrekord (nie verkeersboetes en sulke goed nie, maar inbraak, aanranding ens) of ernstige sielkundige probleme. Omdat ons iets opbou, het ons mense nodig wat kan bou, nie mense wat deur die gemeenskap gedra moet word nie.
    Partymaal wens ek ons was meer homogeen wees as wat ons inderdaad is, want te veel verskille oor kerk of sosiale stand kan tot konflik lei. Ek wil my verstout om te sê dat Orania baie meer divers is as byvoorbeeld Pretoria-Oos (almal stem DA, het ‘n goeie inkomste, werk in kantore, ry dubbelkajuitbakkies, bly in Toskaanse spoghuise, kyk rugby op saterdae en skreeu vir die Bloubulle, gaan na ‘n charismtiese massakerk toe op ‘n sondag en vaar dan die winkelsentrums in ens). Ek sê dit tong in die kies, maar dit is hoe ek dit beleef het toe ek daar gebly het (Centurion, maar dit is dieselfde opset). Op Orania het ek die hele spektrum van Afrikaners eers leer ken, nie in Pretoria nie.

  5. Gerhard Kotze 18 Januarie 2012 at 16:08 Permalink

    Sebastiaan

    “Mense wat in Orania wil bly moet wel Christene wees en God Drie-enig aanvaar”

    Ek hoop waarlik nie dat hierdie mening die amptelike standpunt rakende n toekomstige Volkstaat is nie. Geen staat in die wereld is 100% “dit” of ‘dat” nie. Selfs Isreal is nie 100% “Joods” nie.

    Ek het dit alreeds teen sekere regse groeperinge wat n teokrasie of/en outokrasie voorstaan in n volkstaat. Ons moet pasop dat ons nie karaktertrekke ontwikkel wat Iran en Noord Korea sal trots maak nie.

    • Jaco Kleynhans 19 Januarie 2012 at 07:26 Permalink

      Gerhard. Orania funksioneer binne die Christelike tradisie. Jy moet dus met die manier van doen saamstem. Niemand word forseer om by ‘n kerk aan te sluit, die Bybel te lees en te bid nie. Ons open egter vergaderings met gebed, ens – dus die Christelike tradisie van dinge doen.

  6. Sebastiaan 18 Januarie 2012 at 16:23 Permalink

    Gerhard, enige staat of gemeenskap met ‘n spesifieke doel het die prerogatief om vereistes te stel aan mense van buite wat wil inkom. As jy burger van die VSA wil word, moet jy hulle grondwet aanvaar en jou tot die Amerikaanse stigtingsetos verbind, wat ook teen sekere mense diskrimineer. Ek het dit ook teen die idee van ‘n eng teokrasie, maar as jy nie ‘n Christen is nie, hoekom wil jy dan in ‘n Afrikaner-Volkstaat met ‘n christelike karakter woon?
    Nord-Korea is ‘n besonder skewe vergelyking, want daar word Christene juis doodgemaak oor hulle geloof.
    Niemand kan jou poliseer oor wat in jou kop of hart aangaan nie, en nie alle Jode is godsdienstig nie, dit is waar, maar ook as jy na Israel wil emigreer as permanente burger, moet jy na my wete ‘n Jood wees, of ten minste ‘n konvertiet.

    As iemand in die volkstaat gebore word en later besluit om ‘n ateis te word, sal so iemand nie verban word nie, maar vir mense wat wil inkom kan en moet daar sekere vereistes gestel word.
    As ons net ‘n land wil wees waar almal alles kan wees, waarvoor doen ons dan al die moeite? Daar is reeds Suid-Afrika waar jy enigiets kan wees, ‘n “Suid-Afrikaner” besit geen spesifieke kenmerke nie, behalwe ‘n SA paspoort.
    Laastens, as ons ‘n volkstaat wil hê net om die duiwel in Afrikaans te dien, sal niks van ons poging kom nie.

  7. Theo Wassenaar 19 Januarie 2012 at 07:11 Permalink

    Goeie more almal hierbo.

    Ek meen wyle NP van Wyk Louw sou goedkeurend die kop geknik het: die Oop Gesprek. Sebastiaan, jy kan tevrede voel dat ‘n uiteenlopende klomp jou artikel gelees het!

    Darem net ‘n regstelling of twee. Jaco, ek is self ‘n Christen en Gereformeerd, dus ‘n Calvinis. Dus kon my opmerking nie neerhalend gewees het nie, en was ook nie so bedoel nie. Ek woon in Pretoria amper-oos en vind Sebastiaan se opmerking oor die algemene aard van die Oostelike bewoners binne hierdie konteks baie raak en amusant. Dog ook veralgemenend en nie heeltemal waar nie. So sien ons mekaar in verskillende skakerings van dieselfde Afrikanerskap.

    Dit bring my by my oorspronklike opmerkings. My opmerking oor ‘n terughoudendheid is nie gegrond op ‘n persepsie nie, maar wel op ‘n waarneming gemaak oor ‘n redelike lang tydperk. Ek het nog nie die geleentheid gehad om vir langer periodes aan die mense daar blootgestel te word nie. Dalk sal ek anders dink. Tog is so ‘n waarneming nie minder geldig nie.

    My belangstelling het daarmee te maak dat Orania deel uitmaak van ‘n groter Afrikaner Vryheid. Hierdie Vryheid sal ook die politokratiese (Malan 2011), die volkstaatlike en welke ander vorm insluit. Dit sluit ook nie die ‘ekspatriat’ uit nie. Hierdie groot groep, hierdie ‘Afrikaner Libertas’ bevat mense met menings en oortuigings byna so wyd as die Heer se genade. Ook die charismate, twyfelaars, materialiste, erg-konserwatiewe, vrydenkende, moeilikheidmaker, intellektuele, ens. Sonder die groter volk sal al die pogings bloot gelokaliseerd bly.

    En die inwoners van Orania moet van hulle bewus wees. Net soos ons van julle bewus moet bly.

    O, terloops, Sebastiaan. Ek is wel omgekrap oor die Blou Bul-veralgemening. Daar is ook Vrystaters in Pretoria!

    Vrede

    Theo Wassenaar

  8. Gerhard Kotze 19 Januarie 2012 at 08:06 Permalink

    Theo, jy stel dit so mooi!

    Ek worstel al lank met die kwessie rakende n “groter Afrikaner vryheid”. Sedert 94 het die Afrikaner veranderinge geondergaan. Sommige van hierdie veranderinge is/was goed terwyl ander nie so goed is nie.

    Daar bestaan dus al hoe meer subkulture onder Afrikaner. Orania is tans nie n werklike ‘weergawe” van wat Afrikaners besig is om te word nie.

    Indien n volkstaat dus na wense ontwikkel sal n meer diverse Afrikaner gemeenskap begin vorm aanneem.

    Jaco, my vraag is dus hoe hierdie model bestuur gaan word?

    • Jaco Kleynhans 19 Januarie 2012 at 08:26 Permalink

      Gerhard. Orania is die somtotaal van sy inwoners en ondersteuners en dit waarvoor hulle staan en waarmee hulle, hulself besig hou. Dit is dus ‘n dinamiese konstante veranderende entiteit/idee.

      Ek dink die beginsels van selfbeskikking deur beheer oor eie grond, arbeid en instellings is een wat reeds gedurende die 1960’s en 1970’s deur SABRA (die instelling wat op die ou einde die konsep van Orania ontwikkel het – Persone: Prof Carel Boshoff en Dr Chris Jooste) geskep is en wat oor die afgelope 20 jaar stadig maar seker deur ‘n groep pioniers (vir wie ons lof moet hê weens die opofferings wat hulle gemaak het) hier in Orania ontwikkel is.

      Soos Orania groei (en ons sien konstant ‘n toename in groei in getalle inwoners en ondersteuners asook die ontwikkeling van ons ekonomie, ens) sal die inhoud en praktiese toepassing van bogenoemde beginsels dus verder ontwikkel. Ek, jy en elke ander Afrikaner het die geleentheid om daaraan te werk.

  9. Prof Louis 14 Desember 2012 at 08:37 Permalink

    TOUCHING STORY:

    A young man was getting ready to graduate from college. For many months he had admired a beautiful sport car in a dealer showroom, and knowing his father could well afford it, he told him that was all he wanted.
    As Graduation Day approaches, the young man awaited signs that his father had purchased the car.. Finally, on the morning of his graduation, his father called him into his private study. His father told him how proud he was to have such a fine son, and told him how much he loved him.
    He handed his son a beautiful wrapped gift box. Curious, but somewhat disappointed, the young man opened the box and found a lovely, leather-bound Bible, with the young man’s name embossed in gold.
    Angrily, he raised his voice to his father and said, “With all your money you give me a Bible? “and stormed out of the house, leaving the Bible.
    Many years passed and the young man was very successful in business. He had a beautiful home and wonderful family, but realized his father was very old and thought perhaps he should go to him. He had not seen Him since that graduation day.
    But before he could make arrangements, he received a telegram telling him his father had passed away, and willed all of his possessions to his son.
    He needed to come home immediately and take care of things.
    When he arrived at his father’s house, sudden sadness and regret filled his heart. He began to search through his father’s important papers and saw the still new Bible, just as he had left it years ago.
    With tears, he opened the Bible and began to turn the pages. His father had carefully underlined a verse, Matt 7:11 ,
    “And if ye, being evil, know how to give good gifts to your children, how much more shall your Heavenly Father which is in Heaven, give to those who ask Him?” As he read those words, a car key dropped from the back of the Bible. It had a tag with the dealers name, the same dealer who had the sports car he had
    desired.. On the tag was the date of his graduation, and the words…
    PAID IN FULL.

    MORAL LESSON:
    How many times do we miss God’s blessings because they are not packaged as we expected?

    A PRAYER FOR YOU!
    May you never miss God’s Christmas gift for you just because its not wrapped and packed as you expect it.


Lewer Kommentaar

*