18 April 2013 ~ 5 Kommentare

Afvaardiging van 12 Oraniërs vir steunwerwing op pad na Europa

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Twaalf lede van die Orania Beweging, insluitende die President, Onderpresident en Uitvoerende Hoof van dié organisasie, vertrek binnekort na Europa vir ‘n skakeltoer van drie weke, wat besoeke aan vyf lande insluit. Orania het tans ondersteuningsgroepe en ambassadeurs in verskeie oorsese lande.

Volgens Jaco Kleynhans, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, is die doel van vanjaar se skakeltoer om bestaande steun vir Orania in Europa te versterk, asook om groter bewusmaking van Orania en die Afrikaner moontlik te maak. “Die Orania Beweging bou reeds vir jare aan sy internasionale steunbasis. Ons het veral sterk steun in Europa en wil met vanjaar se skakeltoer hierdie steun verder uitbrei, maar ook groter insig oor ons selfbeskikkingstrewe by meer partye vestig.”

Die Orania Beweging beplan om tydens die Europese toer Nederland, België, Duitsland, Switserland en Italië te besoek. “In Nederland wil ons bande bou met taal- en kultuurinstellings wat tans toenemend na die Afrikaner uitreik. Ons sal ook met politieke partye in Den Haag gesprek voer. In België beplan ons om die Vlaamse Parlement, die Europese Unie en verskeie Vlaamse gemeenskappe en organisasies te besoek. Die President van die Orania Beweging, mnr Carel Boshoff, sal ook ‘n lesing by die Universiteit van Antwerpen lewer. Die klein Duitse minderheid in die suide van België sal ook besoek word. In Duitsland sal ons met die Orania-ambassadeur in Duitsland ontmoet en in die semi-outonome provinsie Suid-Tirool in Italië sal daar ook met die Orania-ambassadeur en ondersteuners gesprek gevoer word. Die afvaardiging uit Orania sal ook met die premier van Suid-Tirool, asook ander politici, joernaliste en beleggers gesprek voer. ‘n Spesiale Orania-lesinggeleentheid word by die Modelhof-instituut in Mullheim, Switserland aangebied. Ondersteuners en belangstellendes uit Switserland en die suide van Duitsland sal by dié geleentheid teenwoordig wees.”

Volgens Kleynhans gaan dit nie net oor politieke steun vir die Afrikaner se ideaal van groeiende selfbeskikking nie. “Ons doel met vanjaar se skakeltoer is ook om praktiese steun vir projekte in Orania te verkry. Daar is veral belangstelling in ons ekonomiese ontwikkelingsmodel, asook die manier waarop Orania as ‘n oplossing vir Afrikanerarmoede aangebied word. Ons het die afgelope twee jaar toenemende finansiële ondersteuning vir ons maatskaplike projekte vanuit Europa gekry en sal dit graag wil uitbrei. Verder wil ons ook individue en instellings oortuig om in die ekonomiese ontwikkeling van Orania betrokke te raak.”

Die Orania Beweging wil ook deur sy skakeltoer sy eiesoortige blik op Afrikanerselfbeskikking beklemtoon. “Die hele debat oor die Afrikaner se toekoms aan die suidpunt van Afrika word dikwels gedomineer deur verregse ekstremiste aan die eenkant en deur anti-Afrikanersentimente aan die anderkant. Ons wil dié polariserende benadering deurbreek met ‘n konstruktiewe benadering tot selfbehoud. Ons doelwit is om vir die wêreld te wys dat daar toenemende steun is vir groeiende Afrikanerselfbeskikking in ‘n omgewing wat wedersydse respek en die erkenning van kulturele en taalkundige gelykheid aanhang,” sê Jaco.

Carel Boshoff en Jaco Kleynhans vertrek eerskomende Sondag na Europa, terwyl die ander tien lede van die afvaardiging op Vrydag 26 April vertrek. Die Orania Beweging staan slegs in vir die basiese koste van President en Uitvoerende Hoof terwyl die ander 10 lede almal vir al hul eie kostes verantwoordelik is. Dit sal die grootste Orania-afvaardiging wees wat Europa nog ooit besoek het.

Deel/Stuur

5 Reaksies op “Afvaardiging van 12 Oraniërs vir steunwerwing op pad na Europa”

  1. Anthony Schlemmer 18 April 2013 at 14:12 Permalink

    Sterkte Jaco ! Ek wens julle ‘n reuse suksesvolle reis toe.

    Kom vertel!

  2. Ebert 19 April 2013 at 02:21 Permalink

    Beste Jaco,

    Ek dink die tweede-laaste paragraaf van jou skrywe slaan die spyker op die kop. Die huidige polariserende atmosfeer van die debat oor ons toekoms is ‘n groot struikelblok vir normale verhoudinge met die hoofstroom mense in ons stamlande.

    Wanneer hierdie atmosfeer deurbreek word met goeie kontak en persoonlike verhoudings, sal daar geleentheid wees om nie net steun vir Helpsaam se projekte te probeer monster nie, maar ook handelsbande en ekonomiese belegging.

    Besighede in die Westerse wêreld smag na geleenthede om produksie uit te plaas na gebiede waar produktiewe arbeid bekostigbaar is, arbeidsverhoudinge stabiel is, bokoste soos grond, boukoste, elektrisiteit en water goedkoop is.

    Tans is Indië en China die grootste teikens van beleggings in nuwe kapasiteit, maar namate daardie lande industrialiseer en hulle geldeenhede teenoor die Weste versterk en arbeiders loonpremies begin eis, word hulle al hoe minder aantreklik. Afrika word reeds uitgekyk as die volgende teiken vir groeibeleggings.

    Orania beskik oor al die voordele wat Suid-Afrika bied insluitende relatief goeie en betroubare infrastruktuur, kompeterende (lae) geldeenheid en bekostigbare arbeid, terwyl dit al die nadele (soos misdaad, onbetroubare en swak opgeleide werkers en kultuurverskille, verswakte) vryspring.

    Wanneer Orania ‘n reputasie kan bou as ‘n stabiele, redelike, polities-aanvaarbare en beleggingsvriendelike gemeenskap, kan skakeling met handelskamers in Europa groot ontwikkeling ontsluit. Veral Vlaandere (wat die grootste handelshawe in Europa het in Antwerpen met direkte toegang tot Duitsland deur die Rynrivier en met ‘n tradisie van ondernemerskap wat meer as 6 eeue oud is) bied ontsaglik baie moontlikhede. As Orania dit kan vervaardig, sal hulle dit kan verkoop.

  3. tulp 21 April 2013 at 16:13 Permalink

    Ag Jaco, kan julle nie die toespraak van CarelBoshoff video nie en dit set op youtube nie? Of miskien nog beter, n video maak van die reis en dit op youtube set nie? Dit sal so lekker wees om te loer en ook sal dit goeie reclame wees vir die volkstaat.

  4. Frank 24 April 2013 at 16:33 Permalink

    Sterkte.

    [ Moet asb nie al die leiers op dieselfde vliegtuig, skip of trein laat reis nie ]


Lewer Kommentaar

*