07 Oktober 2013 ~ 3 Kommentare

Afrikaners moet tot intellektuele verset oorgaan

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Prof. Koos Malan het onlangs ‘n studie gedoen oor onderskeidelik die Baske en die Katalane se oorlewingstryd teen Spaanse oorheersing (veral tydens die Franco-diktatorskap van 1939 tot 1975) en hulle onderskeie strategieë bekyk.

Kortliks is sy bevinding die volgende: Die Baske, ‘n klein volk met ‘n unieke taal wat aan geen ander taal verwant is nie, het die onderdrukking met gewelddadige verset beantwoord. Nasionalistiese groepe soos ETA het met bomontploffings, ontvoerings en sluipmoorde op Spaanse gesagsdraers teen die oorheersing geveg. ‘n Bloedspoor loop deur die Baskiese versetpoging en is natuurlik hardhandig deur Spanje beantwoord en het simpatie en steun vir die Baske buite hulle gebied beperk.

Nie almal het die gewelddadige opsie gekies nie en daar was nasionalistiese partye ook wat die politieke pad gevolg het. Maar hulle was almal op die een of ander manier aan ETA gekoppel en het geweld as opsie verdedig. Die Baskiese taal het blykbaar net ‘n ondergeskikte rol gespeel en is nooit ontwikkel tot die vlak van ‘n volwaardige akademiese taal nie. Die Baske het toe uiteindelik teen die einde van die Franco-era en geleidelike toegewings van die Spaanse regering ‘n mate van outonomie bereik.

Die Katalane het ‘n ander benadering gevolg. Hulle het die kulturele en taalonderdrukking beantwoord met ‘n koestering en uitbou van hulle taal. In die tyd van onderdrukking was die ruimte vir politieke verset beperk en daarom het die Katalane ‘n soort intellektuele verset gevolg. ‘n Magdom publikasies in Katalaans het in dié tyd die lig gesien, daar is toneelstukke opgevoer en daar was kultuurfeeste.

Alhoewel die Franco-diktatorskap dit beslis nie aangemoedig het nie, het hulle dit ook nie kon verhinder nie want dit was nie onwettig nie. Alhoewel Spaans die amptelike taal ook in Katalonië was, het niks die Katalaanse skrywers verhoed om in hulle eie taal vir hulle eie mense te skryf nie. Teen die einde van die Franco-era het die Katalane ook, soos die Baske, geleidelik outonomie bereik en staan vandag polities sterk, met hulle eie deelstaat en eie regering. Daar is selfs sprake van afskeiding.

Afrikaners leef eweneens onder ‘n bewind wat onsimpatiek is teenoor hulle strewe en kultuur en wat graag een ideologie, een taal en een identeit op die land wil afdwing.

Die huidige onderdrukking van Afrikaners is nie so erg dat geen ander uitweg behalwe gewelddadige verset oorbly nie. Gewelddadige verset, so wil dit voorkom, is ook nie deel van die Afrikaner se kultuur nie (anders as by die Baske, aldus prof. Malan) en die paar pogings tot geweldpleging was almal onsuksesvol, as ‘n mens dink aan die AWB se Bophuthatswana-inval of die bestorming van die Kempton Park Konferensiesentrum of meer onlangs die Boeremag se optrede. Die militante Afrikaner-organisasies is deurspek met spioene en agents provocateurs en anders as die Baskiese ETA het die Afrikaners nie die hart om verraaiers te vermoor nie.
Boonop is Afrikaners versprei en het geen etniese basis soos die Baske vanwaar  hulle kan opereer nie en leef die meerderheid ‘n gemaklike middelklasbestaan wat nie bevorderlik is vir terrorisme nie.

Die Katalaanse opsie van intellektuele verset is wel ‘n pad wat gangbaar is en wat reeds gedeeltelik deur die Afrikaner gevolg word. Anders as die politieke oorheersing van die ANC, wat dikwels met geweld en aggressie onderskraag word (as ons dink aan die onverdraagsaamheid teenoor ander politieke partye en die uitskakeling van teenstanders), is die kulturele oorheersing nie iets wat afgeforseer kan word nie.

Natuurlik word ons gebombardeer met reënboognasiesepies in Engels of in gemengde “Englikaans” en propagandafilms oor die euwels van die wit beskawing, maar dit is iets waaroor Afrikaners ‘n keuse kan uitoefen of hulle daaraan blootgestel wil word. Die politieke oorheersing deur die ANC word deur meeste Afrikaners tans as onvermydelik aanvaar (al is dit met klagtes en tandekners), maar die pogings tot die swart “nasiebou-ideologie” word deur die oorgrote meerderheid Afrikaners verwerp en hulle inneem van Engelse ligte vermaak het meer te doen met ‘n gebrek aan verskeidenheid as ‘n bewustelike keuse.

Die veld vir intellektuele verset lê wyd oop en word toenemend deur Afrikaners betree. Die begin is gewoonlik in die kategorie “ligte vermaak”, wat ons in die geval van die Afrikaner al vir ‘n geruime tyd beleef deur die kunstefeeste, musiekblyspele en films. Toenemend ontstaan daar egter dieper kulturele werke, soos sangers wat onomwonde die bewind aanvat en hulle volk se haglike toestand bekla, films wat Afrikanertemas simpatiek en met begrip behandel en wegbeweeg van die “wit skuld” en apartheidtema en skrywers wat nie meer ontvlugtingsprosa skryf nie, maar versetliteratuur.

Die terrein van gewelddadige verset is nie iets waarop Afrikaners hulle in aansienlike getalle en nog minder met sukses begeef nie. Die terrein van die partypolitiek bied min ruimte met die gesegmenteerde de facto-tweepartystelsel (altans in die algemene persepsie waar daar net tussen ANC of nie-ANC gekies word) en die Afrikaner se ekonomiese onmisbaarheid is ook reeds as ‘n drogbeeld bewys. Verder is al die genoemde pogings dié van reaksie, om iets te behou eerder as om iets nuuts te verwerf, naamlik kulturele selfgelding wat uiteindelik in vryheid moet uitmond.

Die terrein van intellektuele en kulturele verset is nog nie behoorlik ontgin nie. Nog steeds lees Afrikaners hoofsaaklik Engelse boeke en kyk Engelse televisieprogramme en films. Op die musiekterrein is Afrikaans taamlik prominent, maar ‘n mens hoop vir meer uitgesproke en gelyktydig kwaliteitmusiek. Die terrein van skryf is seker nog die minste ontgin en voer ‘n randverskynselbestaan.

Laat ons die ruimte vir intellektuele verset dus beset terwyl ons kan. Latere politieke selfbeskikkingspogings kan in elk geval nie slaag as daar nie ‘n ryk kultuur is wat tot sy reg moet kom en waarvoor die stryd die moeite werd is nie. Om maar net ‘n blanke Westerling in Afrika te wees is niks spesiaal nie, maar om ‘n Afrikaner met ‘n ryk geskiedenis, literatuur- en kultuurskat te wees is wel besonders en is iets wat nie verlore mag gaan nie.

*Hierdie artikel het vroeër vanjaar in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Afrikaners moet tot intellektuele verset oorgaan”

  1. tulp 9 Oktober 2013 at 10:11 Permalink

    Uitstekend artikel, Sebastiaan. Bedankt.

  2. Sebastiaan 11 Oktober 2013 at 16:49 Permalink

    Dankie vir die kompliment.

  3. Johann 18 Oktober 2013 at 18:32 Permalink

    Sebastiaan, hierdie is inderdaad ‘n uitsekende artikel – soos tulp ook se. Niks van die gegil en geskree wat ander Afrikaner en anti-Afrikaner media deesdae kenmerk nie.


Lewer Kommentaar

*