07 Januarie 2014 ~ 14 Kommentare

Afrikaners moet konserwatiewe tradisie herstel

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Afrikaners het ‘n lang en mooi geskiedenis van konserwatisme. Reeds aan die begindae is die konserwatiewe agrariese kultuur van die Nederlanders wat in die Kaap gevestig het en die sterk waardes en diepe geloofsoortuigings van die Hugenote uit Frankryk saamgevoeg in ‘n besonderse konserwatiewe kultuur.

Terwyl die res van die Westerse wêreld gedurende die 1960’s en 1970’s in opstand teen die konserwatisme gekom het, het Afrikaners steeds tot in die 1990’s grootliks hierdie kultuur behou. Gedurende die laat 1980’s het meer as 80% van Afrikaners nog weekliks kerk toe gegaan.

Vandag sien ons egter dat Afrikaners in allerhande rigtings van sy konserwatiewe wortels afdwaal. Met die opkoms van vêrregse organisasies in die 1980’s is die persepsie ook geskep dat konserwatiewe Afrikaners en regse Afrikaners dieselfde ding is. Daar is egter ‘n groot verskil. Konserwatiewe mense glo in die voortdurende behoud van die goeie en om deur die aanvaarding van realiteite om ons die beste uit ons verlede te neem en daarmee ‘n realistiese beter toekoms te bou.

Konserwatiewe mense is pro-aktief, maar versigtig en beginselvas, dog buigsaam en realisties. Konserwatiewe mense is ook op die positiewe ingestel en glo in die roeping en die moontlikheid om in moeilike omstandighede steeds gelukkig en suksesvol te wees. Konserwatiewes laat hulle deur hul beginsels en die werklikhede om hulle lei terwyl regses meestal deur emosie gedryf word.

Regses is meestal ook beginselvas en opregte Afrikaners wat diep besorg is oor hul mense. Hulle is ongelukkig dikwels ook reaksionêr en  glo veel meer in revolusie en grootskaalse verandering ten einde by hul doelwitte uit te kom. Sulke Regse bewegings hou risiko’s vir die Afrikaner in, omdat diesulkes nie besorg is oor die gevolge van hul woorde en dade nie, maar eerder fokus op die grootskaalse omvorming van die omgewing waarin hulle hulself bevind. Die gevolge van hul dade is iets waarmee hulle later sal saamleef.

Sedert die 1990’s het die konserwatiewe tradisie onder Afrikaners ook na links weggekalwe. Dit is eenvoudig sigbaar in die groot afname in kerkbywoning onder Afrikaners, die omhelsing van die verbruikerskultuur en individualisme en die aanvaardiging van die totale afbreek van ‘n eens waardegedrewe gemeenskap deur wetgewing wat aborsies, pornografie, homoseksuele huwelike en ander dergelike sondes goedkeur. Baie Afrikaners doen vandag op Sondae inkopies, spandeer al hoe minder geld op maatskaplike en kulturele akitwiteite in hul gemeenskappe en het lankal egskeidings as “normaal” begin aanvaar.

Indien ons vir onsself ‘n toekoms in Suid-Afrika wil skep, sal ons as Afrikaners terug moet draai na ons konserwatiewe tradisie. ‘n Tradisie gebou op instellings soos die gesin, ons kerke, die gemeenskappe waarbinne ons woon en ons kulturele en burgerlike organisasies.

Die leiers in ons gemeenskap moet ouers, onderwysers, predikante en die leiers van burgerlike organisasies wees. Ons moet ons toekomsplanne bou op ons geloof, kultuur, tradisies en ‘n besef dat jou verstand eerder as jou emosies ‘n beter rigting sal aantoon. Met ‘n roepingsbesef en ‘n herbeklemtoning van die gesin, die gemeenskap en die volk sal ons vir Afrikaners hoop op ‘n beter toekoms kan skep.

Deel/Stuur

14 Reaksies op “Afrikaners moet konserwatiewe tradisie herstel”

  1. Edward Pauw 8 Januarie 2014 at 06:08 Permalink

    Ek is ‘n Amerikaner. (Verskoon my. My Afrikaans is nie soo goed nie.) Dis ‘n probleem in alles van die Weste. Die probleem is die ateis / naturalis wereldbeskouing. ‘N Christelike moet oor die aannames van die ateis / naturalis wereldbeskouing praat. (Gaan na die webwerf http://www.reasonablefaith.org en http://www.rzim.org. Hulle het baie hulpbronne.)

    Die probleem is dieselfde in Amerika.

    (Algemeen) Christelike mense kan nie die aannames om te verduidelik nie.

    Die Christelike wereldbeskouing het die beter aanword oor die kwessie van lewe. (But we as Christians generally lack the ability to explain our worldview in a way which people today (who are imbued with atheist / naturalist ideas) can hear, listen to, and view our answers as reasonable.)
    What is happening in SA has been happening in the US for a long time.

  2. Andre 8 Januarie 2014 at 08:20 Permalink

    Harde woorde, maar waar.
    Ek dink die meeste van ons bevind onsself op die breë weg, maar hunker tog daarna om na die smal weg terug te keer.
    Dit is nie so maklik nie maar dit is moontlik.

    Doen so voort Jaco, ons het n stem soos joune nodig om gedurig ons gewete te prikkel!

  3. Tertius 8 Januarie 2014 at 13:55 Permalink

    Jaco,(ek stem nie met alles in jou skrywe saam nie), ek sou se die Afrikaner sal sy konserwatiewe tradisie moet herstel in terme van sy geskiedenis, taal, kultuur, Godsdiens (nie kerk organisasies nie), burgerlike organisasies en sy God-geinspireerde waardes.

    Die Afrikaner kan gerus weg doen met alle politiekery (vir my is politieke konserwatisme = nonsens) en kerk organisasies/denominasies en globalisme. Dit is vir my ‘n moeilike ding wat jy aanraak want jy kan nie noodwendig ‘alle’ gedane sake omkeer (herstel) nie.

    Die ‘behou uit die verlede en bou die toekoms’ is baie belangrik want dit sluit innovasie, modernisering en verbetering in sonder om die konservatiewe ingesteldheid prys te gee.

    Ek wonder net hoe gretig en gereed is die Afrikaner van die toekoms om sy christelike basis/fondasie en waardes te herstel, om mede-Afrikaners te kan verdra ten opsigte van so baie sake waarmee ons van mekaar verskil, want sonder dit kan ons vergeet van sukses hiermee.

    Dankie vir jou skrywes – ek dink die Afrikaners kan meer met mekaar oor sake soos hierdie gesels sodat ons weer mekaar kan vind op gemeenskaplike terrein.

    • Jaco Kleynhans 8 Januarie 2014 at 14:59 Permalink

      Tertius. Dankie vir jou sinvolle kommentaar. So ‘n artikel is natuurlik in ‘n sin maar idealisties en ‘n sterk persoonlike perspektief. Ek skryf dus oor waarvoor ek hoop en hoe ek dink terwyl jy reg is dat die Afrikaner se houding ten opsigte van so ‘n ‘herstel van konserwatisme’ tans betwyfel kan word. My fokus is ook nie op politieke konserwatisme nie, maar eerder op die konserwatisme van ‘n herontdekking van ‘n waardestelsel wat jou as volk juis uniek kan maak. Ek stem 100% met jou saam oor innovasie en modernisering. Die Afrikaner is ‘n moderne volk en sal nooit soos die Amish in ‘n sekere era kan vashaak nie. Terloops: Ek het groot respek vir die Amish, maar ons is ver van hulle verwyder.

  4. Chris 8 Januarie 2014 at 18:17 Permalink

    Die vraag is egter wat Orania (of beter: Afrikaners) se konserwatiewe tradisie is. Is dit “republikeinse waardes” uit die 1950s, wat onder leiding van die NP gehandhaaf is en geskoei is op rassistiese ideologie van Nicolaas Diederichs (gaan lees sy pro-Nazi-artikels uit die ’30s) en Geoffrey Cronjé (‘n Tuiste vir die Nageslag), waaruit apartheid ontstaan het? So ja, kan Orania se Verwoerd-verering ook hieraan “gelink” word? Indien nie, watter vorm van konserwatisme hang Orania aan?

    Afrikanerpolitiek (of die ontwikkeling daarvan) het sedert die 1950s stil gestaan. Onder sensuur kon Afrikaners nie dieselfde debat voer soos dit in lande sonder sensuur gevoer is nie. Die periode vanaf 1990 het ook nie bygedra nie, omdat die politieke speelveld van die Afrikaner grootliks weggeval het. So as Orania die grondbeginsels van Diederichs en Cronjé verwerp, (1) vanwaar kom die politieke (!) grondbeginsels van Orania vandaan en (2) hoe kan dit “gelink” word aan Orania se konserwatisme?

    • Gemsbok 9 Januarie 2014 at 22:35 Permalink

      Chris, ek vermoed Orania se konserwatisme kan raakgelees word in 1 Tim 5:8. Verder verwys ek jou ook graag na prof Koos Malan se boek Die Politokrasie

      • Gemsbok 9 Januarie 2014 at 22:42 Permalink

        Prof Malan se werk kan afgelaai word by http://www.pulp.up.ac.za/cat_2011_01.html

        Ek stel ook voor jy bestudeer prof Danie Goosen se vele kontemporêre artikels oor die republikeinse tradisie en sy boek Die Nihilisme.

        Laastens verwys ek jou ook graag na Prof Carel Bishoff se outobiografie “Dis nou ek”.

        Ek vertrou dat bogenoemde bronne sal meehelp om Orania te verstaan.

  5. Peet 11 Januarie 2014 at 11:28 Permalink

    Jaco jy slaan die spyker so op sy kop! Ek kan myself 100% vereenselwig met jou idealistiese en weldeurdagte benadering. Versterking in die geloof, vertroue op die Allerhoogste, bestudering van Sy Woord en gereëlde kerk bywoning waar medegelowiges mekaar ondersteun en versterk in die geloof is volgens my die eerste prioriteit. Dit sal aanleiding gee tot die herstel van morele waardes en wedersydse respek vir mekaar.

    Dan moet ons jongmense deur hul pro-aktiewe benadering, hoë ideale en harde werk hulle merk maak in die lewe en sodoende respek afdwing by die res van ons land se bevolking en die wêreld.

  6. Gerhard Kotze 12 Januarie 2014 at 18:45 Permalink

    Ja, die vraag is watter soort konserwatisme? Ek ondersteun nog altyd Afrikaner soewereinitiet en Vryheid. Ek is egter gekant teen die “konserwatisme” van die verlede: Jou God, Jou volk, jou land” en dan natuurlik die inperking van vryheid van spraak waar boeke en inligting verbied en verban is ens. Dit was natuurlik nie alles sleg nie en ek is nie bewus dat die regering te velde getrek het teen Moslems, Jode, Hindoes en ongelowiges nie. Daar was dus vryheid van spraak.

    Ek kan egter nie meer hierdie rigiede Afrikaner kultuur van “jy moet so maak” of “dit doen” onder sommiges om n “ware Afrikaner” te wees voorstaan nie. Ek is gekant teen aborsies omdat dit moreel en wetenskaplik nie regverdig kan word nie alhoewel dit in sekere gevalle natuurlik wel geregverdig kan word.

    Konserwatisme beteken vryheid van spraak, keuses,individuele- en groepsvryheid. Ja, ek is seker nie “konserwatief” nie maar eerder n libertyn.

    Afrikaners moet wegkom van hierdie epog dat net konserwatiewes n volkstaat ondersteun. Ek is daarvan oortuig dat sosiale liberales, libertyne en ander groepe ook n volkstaat kan en wil ondersteun. Met alle respek is dit dalk outokratiese sosiale konserwatisme wat voornemende volkstaters afskrik.

    Isreal het in 1948 tot stand gekom, nie omdat dit n klomp fundamentalistiese godsdienstige Joodse mense was wat die staat geondertsteun het nie, maar daar was n hele klomp verskillende soorte mense wat die idiaal geondersteun het: Sosialiste, gematigdes,sentraliste, arbeiders, ongelowiges, konserwatiewes en vele ander.

    Isreal is vandag die enigste demokrasie in die Midde-Ooste. Wanneer die Likud Party (konsewatiewes)wen dan aanvaar die Arbeiders (meer links)die uitslag en visa virsa terwyl koalisies gevorm word.

    Hierdie liberale en konserwatiewe nonsens van die verlede kom uit ons geskiedenis waar ons in kontak gekom het met die VOC, Britanje en ander inheemse groepe. n liberaal was byvoorbeeld n voorstander van samewerking met britanje soos die Afrikanerbond van Jan Hofmeyer in die kaapkolonie en Jan Stockenstroom aan die kaapse grens. n ander liberaal was pres. Burgers van die ou ZAR wat wetenskap in skole wou vestig maar natuurlik die konserwatiewe burgers omgekrap het. Die konserwatiewes was natuurlik mense soos Treurnicht en Paul Kruger.

    Wat mense natuurlik miskyk is dat Paul Kruger n aardskonserwatis was terwyl Genls. de la Rey en de Wet progressief was en oorlog teengestaan het, modernisasie van die Republieke voorgestaan het en Kruger teengestaan het. Die “progressiewe” de la Rey het natuurlik vir Siener van Rensberg aangehang. Dit is egter n gesprek vir n ander dag.

    Vandag, so loop die narratief, kan net n konserwatiewe en n regse n volkstaat ondersteun terwyl die liberales dit nie ondersteun nie. Voordat die Afrikaner eers werklik vry kan wees moet ons hierdie nonsens stop. Die Afrikaner is deesdae n spesie met verskillende sieninge en lewensbeskouinge. Hy moet nie noodwendig terugkeer na “dit of dat” nie

    Ons moet n breek met die verlede maak. Ons moet n Afrikaner demokrasie vir alle Afrikaners vestig met ware “wigte en teenwigte” vir alle Afrikaners (links, regs of wat ook al). n volkstaat vir “konserwatiewe” Afrikaners en outokratiese neigings is n resep vir mislukking.

    Paul Kruger en sy “aardskonserwatiewes” wat van die eerstes wat misluk het. Kruger het Switzerland toe gehardloop en “Genl” Cronje het die een fout na die ander gemaak weens uitgediende oorlogstaktiek terwyl die jong turke en progresiewes soos de Wet en de la Rey met nuwe groot indruk gemaak het en op die slagveld gebly het.

    Konserwatisme is nie n voorgeskrewe “moet” vir n volkstaat en die Afrikaners nie. Demokrasie en die nuwe Afrikaner kultuur is groter as die konserwatisme en liberalisme. Werk eerder daaraan om alle Afrikaners op die boot te kry……

    • Ebert 13 Januarie 2014 at 03:35 Permalink

      Gerhard,

      Ek dink Orania het nog altyd vanuit die staanspoor gewerk dat dit ‘n tuiste vir ‘n volk wil skep en nie slegs ‘n ideologiese splintergroep of geloofsekte nie.

      Daarom is daar ‘n merkwaardige verskeidenheid van idees en mense wat Orania ondersteun.

      Ons is in die besonderse posisie waar ons die beste elemente van verskillende denkskole kan neem en implementeer.

      Ek dink nie Jaco het gepoog om ‘n outokratiese sensuur op idees te bevorder nie, maar het bloot die goeie van die konserwatiewe tradisie uitgelig, en dit het beklemtoning nodig want konserwatisme word baie beslis in vandag se wêreld ‘n koue skouer gegee.

      Maak geen fout nie, ook die liberale denkskole bevorder (wanneer hulle oor ‘n monopolie van media beskik, soos tans) ‘n sensuur op alternatiewe idees en is dit nie alleen ‘n oortreding wat voor die voete van konserwatiewes gelê kan word nie.

      Maar jy is reg, hoe gouer ons die epog van onderlinge twis kan agterlaat en mekaar ten eerste as mense respekteer, hoe gouer sal ons vorder.

  7. Gerhard Kotze 12 Januarie 2014 at 18:48 Permalink

    Tel Aviv – Modern en liberal

    Jerusalem – konserwatief en die setel van 3 gelowe

    Dus is daar plek vir verskillende soorte jode in die staat van Isreal……..

  8. Sebastiaan 13 Januarie 2014 at 12:22 Permalink

    Baie goeie artikel, en baie tydig. Nie orals waar “konservatief” op staan is ook konservatief in die pakkie nie. Te veel mense dink by konservatief aan die KP of HNP, aan die ou bedeling van streng onderwysers en bulderende predikante. Ons jonger mense wat die ou Suid-Afrika amper net van stories ken of net die stuiptrekkings daarvan beleef het, kan nou sonder ‘n skuldgevoel of ‘n vertraagde rebellie teen die ouergeslag konserwatisme aangryp as lewensbeskouing. Ek het ‘n jaar of drie terug ook ‘n artikel op die blog geskryf oor “konserwatisme as wêreldbeskouing”.
    Dit moet onthou word dat die “ou Suid-Afrika” die enigste land was waar konserwatisme ‘n bepalende rol gespeel het, en vir diegene wat in die 1960’s of 1970’s grotgeword het mag konserwatiewe idees oorkom as alles oorheersend. Oor die algemeen is konserwatiewes egter gedurig in ‘n minderheidsposisie en wen konserwatiewes selde verkiesings en is hulle invloed beperk. Die links-liberalisme is die heersende ideologie feitlik orals in die Weste en konserwatiewes is die ware rebelle, maar rebelle met ‘n saak, nie rebelle ter wille van rebeleer nie. Enige ideologie wat te lank bestaan en te oortuig van sy eie saak is word outoritêr en onverdraagsaam. Ons sien dit aan die nuwe linkse absolutisme van “verdraagsaamheid”, wat juis die teendeel van verdraagsaamheid is, naamlik onverdraagsaamheid teenoor almal wat nie die linkse sienings aanhang nie.
    Vir Afrikaners sal dit help om minder Naspers te lees en SABC te kyk, want dit breinspoel ons juis met links-liberale ideologie en self-haat, en om meer die Bybel asook oorspronklike denkers te lees.

  9. Awie 21 Januarie 2014 at 12:59 Permalink

    Ongelukkig, het die Afrikaner (diegene wat hulself nog so wil noem) ver afgedwaal. Een ding wat hier vergete raak in die debat tussen konserwatief en liberaal is, wat is die wortels van die Afrikaner. Algemeen aanvaarde geskiedenis en herkoms van die rasegte Afrikaner is dat bykans almal van hoofsaaklik Europese afkoms was, baie Trekkers en Voortrekkers was, hoewel ek nie setlaars in die Kaap wil uitsluit nie. Slegs ‘n minderheid Afrikaners het nog hul kultuur, tradisies, herkoms en selfs tot godsdiens behou. Die ontnugtering met die ou bedeling se NP (die NP sedert 70erjare tot met FW se oorgawe), die susterkerke, veral NG kerk se verbastering met charismatiese invloede het, volgens my, Afrikaners vervreem van die ou instellings en politiese sienings. Asof daar ‘n vakuum ontstaan het en die gepaardgaande groot verdeeldheid tussen Afrikaners en wit Nuwe Suid-Afrikane

  10. Awie 21 Januarie 2014 at 14:42 Permalink

    Askuus, ek het vorige kommentaar onderbreek- Ek praat van veral die jonger geslag Afrikaanssprekendes wat onder ‘n nuwe bedeling met integrasie groot word. Dus die gevaar bestaan nou dat die meeste “Afrikaners” van hierdie geslag geen erg meer het aan hul herkoms en dus in die reënboognasie bedeling hul identiteit gaan verloor en dus dat die Afrikaner-jeug die uiterlike en innerlike kenmerke gaan aanneem van die “nuwe SA”. Hopelik sal die minderheid die Afrikaner nog voortbestaan of vir hul volksbesef of oorlewing. Die verwydering van die ou morele waardes en konserwatisme kan slegs omgedraai word indien die ouer en jonger geslag hul verootmoedig, want daar was werklike afdwaling deur meerderheid sogenaamde Afrikaners van taal, kultuur en hoofsaaklik geloof in God-dit is waar die wortels van Afrikaner is. Dit hang ook af van leierskap, wat daar klaarblyklik maar weinig van is in ware Afrikanergeledere tans.


Lewer Kommentaar

*