05 Maart 2012 ~ 9 Kommentare

Afrikaners en die samelewing wat die ANC bou

Geskryf deur Ebert Terblanche

Heelwat ideale is vir die nuwe Suid-Afrika gehuldig. Voorheen benadeeldes het waarskynlik uitgesien na geleenthede en deelname wat voorheen slegs in die tuislande vir hulle beskore was, ekonomiese regstelling en die geleentheid om te presteer binne die groter poel van hulpbronne, potensiaal en ontwikkeling wat Suid-Afrika bied.

Afrikaners het uitgesien daarna om verlos te wees van die verantwoordelikheid en las om ander te regeer en op te hef, na die geleenthede wat toegang tot internasionale markte en sportkompetisies bied en om hul kultuur en taal beskerm te sien deur die grondwet en die instellings wat daardeur geskep word.

Die ANC, onder leiding van Nelson Mandela, het vernuf en karakter getoon tydens die onderhandelingsfase en kon die NP uitknikker op beginsels wat aanvanklik ononderhandelbaar vir die NP was. Dit sluit in magsdeling, werksekerheid vir staatsamptenare, meganismes wat korrupsie sou beperk, desentralisasie van mag, bevoegde veiligheidsdienste en die beskerming van Afrikaanse skole en woonbuurte.

1994, hoewel die jaar waarin die ANC die politieke mag oorgeneem het, was egter nie ‘n waterskeidingsjaar waarna die ANC kon maak soos hy wou nie. Die welwillendheid van die internasionale gemeenskap moes behoue bly en benut word om finansiële hulp te werf en toegang tot markte te verkry. Die deurslaggewende faktor was egter dat die enjinkamer van die regering (die staatsdiens) en sy tande (polisie en weermag) nog tot ‘n groot mate deur Afrikaners beman en bestuur is (44% van staatsdiensposte was in 1994 deur Afrikaners gevul).

Daarom was beginsels en prosesse wat onder die vaandel van “versoening” geval het aanvaklik vir die ANC baie belangrik. ‘n Samelewing van strydende belange kan egter nie vir altyd in ‘n toestand van “versoening” verkeer nie, want dit is ‘n hindernis in die uitvoering van die wenner se toekomsbeeld.

Namate die ANC hom sedert 1994 in die internasionale gmeenskap gevestig het as regeerder van Suid-Afrika en die staatsdiens getransformeer het deur die ontplooiing van sy kaders, het sy aanvanklike ligte houvas op die hefbome van mag in Suid-Afrika verander in ‘n ystergreep.

Hierdie verstewiging en konsolidasie van die ANC se magsbasis laat hom toe om minder aandag aan “versoening” te skenk en meer aan die bou van die samelewing wat hy in die vooruitsig stel.
Hoe lyk daardie samelewing wat die ANC in die vooruitsig stel en besig is om te bou? Sekere beleidsdokumente van die ANC soos die “Kliptown Freedom Charter” en die “Adopted Strategy and Tactics of the ANC: Building a National Democratic Society” bied vir ons ‘n blik op daardie samelewing.

Meningsvormers soos Frederik van Zyl Slabbert het aanvanklik verskeie items binne hierdie beleidsdokumente as onrealisties en onhaalbaar verwerp en gereken dat hulle nie baie ernstig daarmee kan wees nie. Onder meer omdat baie daarvan nie tred hou met die verwikkelde aard van Suid-Afrika se geskiedenis, ekonomie en die verstedeliktheid van die bevolking nie. Duidelik Marxisties-ingestelde beleidspunte is immers gesien as onrealisties na die val van die Berlynse muur.

Dit blyk egter asof die ANC volhard met die bou van sy ideale samelewing volgens sy beleidsdokumente soos wat die verwikkelinge in hierdie verband demonstreer:
• Die hersiening van die rol van die Grondwetlike hof (wat op ‘n hersiening van die grondwet self neerkom)

• Die muilband van die vrye media deur drakoniese wetgewing (reeds gedeeltelik gedoen)
• Die heroorweging van private eiendomsreg (voorstel dat grond aan die staat behoort wat gebruiksreg toeken), die instelling van ‘n waardeerder-generaal (voorstel) en die onteiening sonder vergoeding van waterregte en minerale regte (dit is reeds gedoen)
• Die druk op alle instellings in die land om uit ‘n meerderheid “Africans” te bestaan en hulle te verteenwoordig wat daarop neerkom dat nie-“Africans” oor geen eie instellings mag beskik nie (Die ANC se “Strategy and Tactics” definieer “Africans” as: “The indigenous inhabitants of the country principally composed of the Zulu, Xhosa, Pedi, Sotho, Tswana, Tsonga, Swazi, Venda, Ndebele, Khoi and San”)

Dit is ook duidelik dat Afrikaners vir altyd tot die klas van “colonists of a special kind” (en anders as die meer bevoorregte klas, genoemd “Africans”) gerelegeer word. Dit kan gesien word uit die volgende optredes:
• Die konseptaalwet wat Afrikaans behandel as ‘n mindere koloniale taal (in teenstelling met ‘n inheemse taal)
• Die steun van die ANC vir die sing van “Skiet die Boer”
• Druk op Afrikaanse skole en universiteite om te verengels
• Die verdryf van Afrikaans in vakonderrig by technicons, tegniese kolleges en internskappe
• Die verdryf van Afrikaans se invloed in die sakesfeer en die howe
• Die druk op Afrikaanse kunstefeeste om “meer verteenwoordigend” te word
• Die druk op sportsliggame om minder Afrikaners te kies vir rugby, netbal, krieket, atletiek en swem.

Die samelewing wat in die vooruitsig gestel word is dus duidelik een wat op Marxistiese ekonomiese teorie geskoei word waar ‘n individu se vaardighede nie sy loon bepaal nie, maar eerder hoe die staat hom sien, terwyl Afrikaners ‘n permanente tweede-burgerklas vorm wat nie op eie instellings en skole kan aanspraak maak nie.

Dit is duidelik dat die ANC besig is om ‘n omvangryke hervorming van die samelewing te bewerkstellig.

Verder is dit ook duidelik dat die ANC die steun van die meerderheid van die Suid-Afrikaanse kiesers geniet vir sy hervormingsprogram. Dit is ‘n feit wat deur enige politieke party wat hoop om die bewind oor te neem, in ag geneem moet word, wat ook beteken dat enige ander party soortgelyke maatreëls sal moet voorstaan. Die invloed hiervan blyk al duideliker uit die DA se soeke na leierskap wat beter aanklank by swart kiesers sal vind en hul onbereidwilligheid om die Departement van Korrektiewe Dienste aan te vat oor hul beleid om nie verdere Afrikaanse bruinmense aan te stel of te bevorder in die Wes-Kaap nie.

Dit is duidelik dat bogenoemde samelewing nie een is wat Afrikaners gaan toelaat om te leef, te groei en te gedy nie.

Hoe gaan Afrikaners op hierdie omvangryke hervorming reageer?

Daar is wel diegene wat Suid-Afrika permanent gaan verlaat (of reeds verlaat het). Diegene wat egter hoop om terug te keer of wat nie oor die nodige jeug, gesondheid, finansies en opleiding beskik om te emigreer nie sal egter na ‘n uitkoms op Suid-Afrikaanse bodem moet soek.

Daardie Suid-Afrikaanse oplossing sal egter ‘n omvangryke oplossing moet wees wat die impak van die ANC se hervorming volledig in ag neem, ander sal dit deur daardie hervorming meegesleur word.

Selfhelp en steun op die howe is ‘n eerste stap in die regte rigting, maar dit bied nie ‘n omvangryke oplossing nie. Op sy eie is dit ‘n strategie wat niks langer sal duur as die onafhanklikheid van die regbank nie.

Afrikaners sal vir die duur moet bou aan ‘n magsbasis wat daartoe in staat is om toegewings van die staat te wen. Daardie magsbasis moet binne Afrikanergeledere gebou word, moet op grond wat deur Afrikaners bewerk en bewoon geanker en volhoubaar gemaak word en moet ook uitstrek na alle Afrikaanssprekendes en na die buiteland.

Tot dan sal Afrikaners hulself moet verwyder van die magskonflikte wat al meer gereëld in Suid-Afrika gaan afspeel, want anders loop ons die risiko om deur die maalstene fyngemaal te word. Ons moet daarom afsydig en onverbonde staan tenoor diegene wat die mag beheer en diegene wat dit begeer, want ons kan dalk net vir die honde gevoer word om hul ondersteuners te beïndruk. Soos ZB du Toit gesê het: “‘n Minderheid moet hom nie laat tel nie.”

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Afrikaners en die samelewing wat die ANC bou”

  1. Frits 5 Maart 2012 at 12:34 Permalink

    Enige persoon wat net logies dink sal weet dat n Volkstaat al hierdie probleme in een keer sal oplos.

    So dankbaar vir Orania

  2. Coen de Milander 6 Maart 2012 at 11:32 Permalink

    Baie dankie vir hierdie uitstekende artikel wat sonder omhaal van woorde presies uitstippel waarheen die Afrikaner onder die huidige bestel op pad is.

    Ek wil aan die hand doen dat u dit vir Dr Roodt by Praag aanstuur vir publikasie aldaar om wyer blootstelling te kry.

    Groete

  3. Gawie Snyman 7 Maart 2012 at 17:53 Permalink

    Baie goeie insig en artikel, dankie Ebert!

  4. Patrick Cox 16 Maart 2012 at 11:01 Permalink

    Hoe word ‘n plek soos Orania dan beskerm onder die “veranderinge” van die ANC ? Indien die ANC die alleen heerser is enook die privaat eiendomsreg wegneem – hoe kan Orania dan “oorleef” ? Die ANC kan dan dood eenvoudig Orania opeis – nadat Orania alles in plek gesit het en alles op dreef is en dinge goed werk. Niks kan dan die ANC verhoed om alles wat in Orania opgebou is ook te vat – net soos wat huidiglik die geval is. Ek hoor graag verdere kommentaar. Dankie

    • E Terblanche 21 Maart 2012 at 11:28 Permalink

      Wanneer Afrikaners Orania se ontwikkeling met vrymoedigheid begin ondersteun, sal die ANC Orania se ontwikkeling as Afrikanergemeenskap net so min kan stuit as wat die NP die ontwikkeling van Soweto of Kayalitsha kon stuit.

      Ons is ons eie grootste opposisie. Nie die ANC nie.

      Die gevegte waarmee die ANC homself besig gaan hou, is hoe om ‘n monopolie op die rykdom van Suid-Afrika te bewerkstellig en te handhaaf. Daardie rykdom word gekonsentreer in 5 metro-gebiede. Indien ons uit daardie stryd bly, is ons kanse goed om ons eie toekoms te bou en om ongesiens te vorder tot waar ons onsself kan handhaaf teen die ANC.

    • Mike 21 Maart 2012 at 12:25 Permalink

      Patrick die ANC sit met soveel interne probleme hulle sal nie belangstel om Orania en veral die buiteland ook nog vyande van hulle te maak nie. Ek is oortuig daarvan dat die buiteland nie meer so beindruk is met die ANC nie, veral nie met al die negatiewe nuus wat hulle gereeld ontvang nie. As Orania te groot word sal dit ook onmoontlik wees om hom net te vat, ek glo hulle sal eerder vra vir samewerking.

  5. Sebastiaan 21 Maart 2012 at 13:54 Permalink

    Die laaste paragraaf is vir my veral belangrik. Ons moet aan die een kant nie die fout maak nie wat blankes in Zimbabwe of Kenya gemaak het, naamlik “om ons koppe laag te hou” in die hoop dat die regering ons nie sien nie en uitlos. Dit het nie gewerk nie. Aan die ander kant is dit ook verkeerd, soos Ebert te reg sê, om in te meng in ‘n stryd van twee boelies (ANC en DA/Cope) wat jou altwee onsimpatiek gesind is. Dit is soos twee boelies wat mekaar op die skoolterrein toetakkel, en die nerd met die dun arms wil ingryp ten gunste van een van hulle: in die ou einde slaan hulle hom altwee omdat hy hom aanmatig om in te meng in hulle sake.
    Nee, wat ons moet doen is om ons energie te gebruik om die alternatief te skep. Ryk Afrikaanse boere gee miljoene vir hofsake by die wêreldhof oor grondonteiening, wat goed en edel is, maar dit sal nie grondonteiening op langtermyn stuit nie. Afrikaanse sakemanne gee miljoene vir die DA of Cope in die hoop om die ANC te keer, en ook dit sal niks oplewer nie. Daardie miljoene kon ons al gebruik het om honderde Afrikaners in Orania te vestig, grond en eiendom te ontwikkel en ‘n werklike waterdigte alternatief vir die ANC-bewind te skep. Afrikaners het genoeg geld, genoeg kundigheid, genoeg energie, maar die fokus ontbreek nog.

  6. Alan de Lange 20 April 2012 at 12:01 Permalink

    Waar maak n plek soos Orania voorsiening v arm blankes? Ek dink vlugtig aan al die wit plakkerskampe, hoe gaan daai mense inpas by n samelewing soos Orania?

  7. Simon 27 April 2012 at 14:46 Permalink

    Alan soos ek dit verstaan sal Orania soveel mense kan akkomodeer soos vir wie daar werk en blyplek voorsien kan word.

    Hoe meer investering daar is en hoe meer werk geskep word hoe meer Afrikaners kan geakomodeer word.

    Addisionele grond vir akkommodasie kan bygekoop word sou dit nodig wees.


Lewer Kommentaar

*