14 Januarie 2011 ~ 12 Kommentare

Afrikaner-selfbeskikking het unieke karakter

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Dr Leopold Scholtz

Leopold Scholtz verdien ‘n pluimpie selfs al is dit net vir sy bereidwilligheid om weer die kwessie van Afrikaner-selfbeskikking op die tafel te plaas in sy Beeld-rubriek “Soedan en die volkstaat” (Vrydag, 14 Januarie 2011). Scholtz gee in sy rubriek ‘n goeie ontleding van die historiese konteks van selfbeskikking, waar dit geslaag en misluk het en wat die slaggate is. Marieke Ehlers, ‘n gesoute navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut het ook onlangs ‘n reeks in diepte artikels oor dieselfde tema op Solidariteit se blog gepubliseer.

Wanneer daar oor Afrikaner-selfbeskikking gepraat word is dit goed om die historiese konteks van selfbeskikking te ontleed. Die uitdaging is egter om die Afrikaner se unieke omstandighede hiermee te probeer versoen. Dit is waar die probleem inkom en dit is ook die enkele terrein waar ek dr. Scholtz se rubriek as te lig bevind. Afrikaners is tot 1994 as van die wêreld se groot sondebokke uitgekryt. Na 1994 het Afrikaners met ‘n klomp skuldgevoel, hetsy dit regverdig is of nie, rondgeloop en het die ANC grootliks daarin geslaag om Afrikaners te laat verstaan dat die regstellingsproses nog lank sal duur. Terselfdertyd het ‘n groep Afrikaners begin besef dat die voortbestaan van hierdie etniese groep van groter selfbeskikking sal afhang. Nou hoe vra jy vir groter selfbeskikking binne ‘n eie grondgebied indien die wêreld jou as ‘n sondebok sien en jou land se regering glo dat daar eerder van jou weggevat as vir jou gegee moet word?

Binne hierdie konteks het Orania tot stand gekom. Amper alles het teen Orania getel en tog kan ons vandag, 20 jaar na die stigting van Orania, sê dat die strewe na Afrikanerselfbeskikking in Orania begin vergestalt. Selfbeskikking is egter ‘n dinamiese term en wat vir een etniese groep in sy tyd en plek gaan werk, gaan nie noodwendig vir ‘n ander werk nie. Juis daarom is die leierskap van Orania realisties oor wat vir die Afrikaner deur selfbeskikking vermag kan word. Tot dusver is Orania se selfbeskikkingsukses op hoofsaaklik drie dinge gebaseer, naamlik eie grond, eie arbeid en eie instellings. Dit behels dat grond aangekoop moes word, ‘n nuwe ekonomie met Afrikanerarbeid en kapitaal tot stand moes kom en instellings soos ‘n munisipaliteit, skole, besighede, verenigings, ens. geskep moes word. Orania is vandag ‘n gemeenskap met byna 900 inwoners en meer as 10 000 uitwoners of mense wat direk met Orania assosieer deur lidmaatskap, eienaarskap of ‘n ander vorm van formele assosiasie.

Met President Zuma se besoek aan Orania gedurende 2010 moes hy self opmerk dat dit vreemd is om op die platteland ‘n plek te kry waar dinge goed funksioneer, byna niemand werkloos is nie en niemand na die regering opkyk om oplossings vir hul probleme te vind nie. Orania vergestalt dus reeds ‘n sterk vorm van selfbeskikking, al is dit nog nie op die tradisionele nasionalistiese wyse nie. Die geskiedenis het ons gewys dat selfbeskikking suksesvol is in gevalle waar goeie samewerking tussen die verskillende gebiede of lande moontlik bly. Vir Orania sal dieselfde voorwaarde geld en daarom sit ons nie en hoop dat Suid-Afrika moet vergaan nie, maar werk ons eerder daaraan om vir Afrikaners ‘n plek te vestig waar Afrikanerkultuur kan bly voortbestaan in samewerking met ander volkere van Afrika. Die groot voorwaarde hier is dat niks ten koste van iemand anders gedoen moet word nie. Orania se sukses is ook Suid-Afrika en Afrika se sukses, veral op die terrein van effektiewe bestuur, ekonomiese ontwikkeling en die beskerming van kulturele en etniese regte.

Die feit dat dr. Scholtz egter sover gegaan het om weer die vraag oor Afrikanerselfbeskikking te vra, is veelseggend, veral in ‘n tyd waar kommentators in die media meestal die debat binne die ou-apartheidsdenke van Afrikaners se groot skuld probeer plaas. Soos ‘n belese inwoner van Orania gereageer het: “One small step for Leopold Scholtz, one giant leap for Orania”!

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Afrikaner-selfbeskikking het unieke karakter”

  1. Swartskaap 14 Januarie 2011 at 12:38 Permalink

    Goeie Artikel,

    Ek wonder of iemand presies weet of die Afrikaner oor ʼn groot genoeg arbeid mag sal geskik om die voorgestelde volkstaat streek kan ondersteun. Wat is die ondersteunings vlak alreeds in die voorgestelde streek wat tot Vredendal strek m.a.w. hoe voel mense in die area oor die volkstaat idee en ondersteun hulle die idee?

    Voorwaarts!

    • Ben le Roux 14 Januarie 2011 at 13:00 Permalink

      Swartskaap,die Orania Beweging sit nie keplomps met die verantwoordelikheid van ‘n groot gebied wat eensklaps dmv ‘n politieke ooreenkoms aan hulle toegeken is nie.Soos met ‘n lekker stukkie koek vat jy elke keer’n happie en kou hom voordat jy hom insluk.Maw,dit is ‘n stelselmatige proses waar elke ding in plek kom voordat daar voort gegaan word.Daar is groepe wat dmv onderhandelings ‘n gebied wil bekom en nou owerhede verkies wil kry om die plek te bestuur.Ek wil maar eers sien of daar ‘n behoorlike verkiesing deur hulle gereel kan word! Die verskil kom daarin dat die Orania Beweging die woord by die daad gevoeg het en iets tot stand gebring het.Iets wat nou besig is om sy merk in die markplek te maak.

      • Swartskaap 14 Januarie 2011 at 13:16 Permalink

        Heel interessant Ben,
        Praat jy oor die VVK? Wat is Orania se siening oor die VVK? Ek meen is hulle ʼn klomp regse bliksems wat irrasioneel redeneer of kan Afrikaner Vryheid daaruit baat vind?

  2. VDS Brink 17 Januarie 2011 at 08:32 Permalink

    Dit was ons voorreg om die vakansie Orania te besoek. Lank beplan en alles probeer uitvind. Die doel van die brief is opbouend en sien enige kritiek ook in daardie lig. Net met een doel, om ‘n iets moois dalk nog mooier te maak.

    Met ‘n groot belangstelling oor wie ons is en waar ons vandaan kom, moes ons eenvoudig gaan. Oop ouderdom tien kon ek Dr Verwoerd se hand skud en jare later studeer onder leiding van Prof Wilhelm Verwoerd en dit het die belangstelling net verder aangeblaas.

    ‘n Oorweldigende ervaring, soveel vreemd en anders. Die suiwer wit gemeenskap, almal groet vriendelik, geen veiligheidshekke en alarms. Ek het my duur kamera by die Verwoerd standbeeld vergeet en ‘n halwe dag later was dit steeds daar!

    Die verhaal van die standbeelde met Verwoerd, Hertzog, Malan en Stridom daar en veral wie nie daar is nie: Treurnicht, Vorster, Botha en De Klerk. Die grootste Afrikaner van alle tye en gereken as ons land se enigste universele genie, JC Smuts, is geen teken van nie.

    Soveel interessante dinge en soveel vrae. Die jong wit mans wat amper doelloos in die strate loop. Die klein gemeenskappie met etlike skole. Ses kerke getel met die NG Kerk wat die nuutste en blinkste vertoon.
    Die pragtige gemeenskaps inisiatiewe, radiostasie, selfs ‘n teater. Sou wonderlik wees as ons oral so kon leef.

    Daar is soveel teenstellings. Die gesukkel om met mense kontak te maak. Om verblyf te reël ‘n eindelose proses, kredietkaarte werk nie, dit is silwerskoon maar onkruid groei hoog in die tuine. Die OK Bazaar is verfrissend Afrikaans en ‘n wit man tap vir jou petrol in. Die Kleingeluk dorp wat die indruk van ‘n wit township gee. Wie woon daar? hoekom lyk dit so? Hoekom so apart?

    Dosyne eiendomsagente en skoonheidsalonne. Etlike prokureurs maar geen dokter gesien nie.

    Miskien die slegste was dat niemand met ons sinvol wou praat nie. Etlike oproepe en e-posse na die sentrale kantoor om op ‘n toer kan gaan bly onbeantwoord en met ons besoek daar..”kan julle nie help nie, ons maak toe tot Maandag”. Die frustrasie om na die skatte van die Verwoerd Museum deur die vuil vensters te kyk met geen aanwysing oor hoe om met wie kontak te maak nie. Ewe so so soektog na die eie geldeenheid, die Ora. By etlike winkels gaan vra, maar niemand het regtig geweet wat ek bedoel nie.

    Is daar ‘n vorm van kollektiewe boedery? Die onkruid in die vrugte boorde vertel dalk dieselfde tragiese verhaal van die tipe boerdery wêreld wyd. Ek het lang tye gewerk in die ou Sowjet Unie en Vietnam en die mislukking daarvan oral ervaar. Ongelukkig dikwels ook so in ons land met stamme wat grond terug ontvang het.. Dit werk eenvoudig nie, behalwe op net een plek: kiboetse in Israel. Hoekom sou Orania anders wees?

    Ons het hard probeer om met mense te praat, maar net niksseggende antwoorde gekry..”Dis baie lekker hier..”. Hoe lyk die finansies, wat keer ‘n swart mens om daar in te trek? Hulle is deel van Suid Afrika hoe werk dit?. Hoekom bly mense daar? Niemand kan of wil daaroor praat nie. Is dit Die Volkseie ideaal/veiligheid/wegkruip vir die werklikheid/naakte rassehaat?

    • Jaco Kleynhans 17 Januarie 2011 at 09:25 Permalink

      Beste mnr. Brink,

      Baie dankie vir u kommentaar. Ons aanvaar kritiek as ophouend en waardeer u moeite om volledig op u ervaring uit te brei.

      Dit is eerstens belangrik om te onthou dat Orania ‘n pioniersgemeenskap is waar ‘n unieke model van ontwikkeling gevolg word. Orania is opgebou met Afrikanerarbeid en Afrikanerkapitaal en dit was nie altyd maklik nie.

      Ek reageer graag spesifiek op ‘n paar van u punte:

      1. Monumentkoppie
      Die monumentkoppie is nog glad nie voltooi nie en baie ander Afrikanerleiers kan en moet ook nog daar vereer word. Tot dusver is borsbeelde aan ons geskenk en dit wat geskenk is, is daar geplaas. Indien iemand dus ‘n beeld van Smuts skenk kan hy ook daar geplaas word.

      2. Jong wit mans wat doelloos in die strate loop
      Ek kan u verseker dat hier nie juis mense is wat ‘doelloos’ in die strate loop nie. Orania het byna geen werkloosheid en jy kan net in Orania oorleef indien jy bereid is om te werk. Soos enige gemeenskap het Orania egter ‘n groot werkersklas en hierdie persone het baie keer nie motors of ander vervoermiddelle nie. Hulle moet dus nootgedwonge loop. Ons moedig egter juis mense aan om minder in Orania te ry en eerder te stap of fiets te kry. Ek kan egter verstaan dat die gesig wat u gesien het ongewoon was – iets waaraan Afrikaners gewoond sal moet raak. U was waarskynlik ook tydens die skoolvakansie hier en dan loop die skoolkinders (omdat dit veilig is en hulle dus kan!) heeldat in die strate rond oppad swembad, rivier, winkels, ens toe.

      3. Die gesukkel om kontak te maak
      Dit is baie jammer om hiervan te hoor, omdat ons eintlik glad nie ‘n probleem hiermee ervaar nie. Orania word daagliks deur geweldig baie vakansiegangers, toeriste en ander mense besoek. In baie gevalle is dit die eerste keer wat mense in Orania aandoen. Mense word deur ons verblyfplekke na die Orania Beweging-kantoor verwys waar ons hulle op inligtingstoere neem. Gedurende Desember het ons meer as 100 toere onderneem! Ons is altyd bereid om na-ure en op Saterdae toere te doen en verblyfplekke beskik ook oor die selfoonnommers van ons toerleiers. By ons inligtingskantoor gee ons vir besoekers inligtingstukke en alles wat hulle nodig het om Orania te verstaan en beter te leer ken. Ek sal dus graag wil weet wanneer u hier was sodat ek kan vasstel hoe dit gebeur het, want u ervaring is nie die norm nie.

      4. Reël van verblyf
      Die Orania Beweging-kantoor het ‘n lys van alle verblyfplekke wat beskikbaar is en daar is ook ‘n lys op ons webblad. Ek sal graag meer spesifiek wil weet wat die probleem was sodat ek dit met verblyfplekke in Orania kan uitsorteer. Ons is baie sterk op toerisme ingestel en ek kan wel sê dat die verblyfgeriewe in Orania gewoonlik oor ‘n Desembermaand baie vol bespreek is.

      5. Gebruik van kredietkaarte
      Ons is bewus daarvan dat dit ‘n probleem is en dat baie min besighede in Orania kredietkaartfasiliteite het. Ons werk ook daaraan en soos die gemeenskap groei sal dié probleem hopelik uitgeskakel word. Die Orania Beweging-kantoor, Orania Hotel, OK, brandstofstasie en moontlik een of twee ander plekke het wel kredietkaartfasiliteite.

      6. Onkruid in tuine
      Ons doen as gemeenskap geweldig baie om ons dorp netjies te maak. Desember en Januarie is egter moeilike maande omdat dit soms baie kan reën (wat die afgelope tyd wel die geval was) en onkruid dan baie vinnig groei. Ons het die afgelope drie of wat weke abnormaal baie reën gehad en dit was moeilik om alle openbare areas netjies te hou, maar ons munisipaliteit doen moeite om tans alle sypaadjies netjies te maak, ens. U moet egter ook onthou dat baie van Orania se inwoners daagliks hande-arbeid verrig en dit dus vir hulle moeilik is om dan nog u eie erwe ook netjies te hou – iets wat verstane is, maar nie ‘n verskoning vir die dorp om sleg te lyk nie.

      7. Kleingeluk
      Kleingeluk is hoofsaaklik ‘n werkersklas woonbuurt, maar baie bestuurspersone en selfs leiers van Orania woon ook daar. Ek woon self met my gesin in Kleingeluk, Frans de Klerk die uitvoerende hoof van die Dorpskantoor woon ook daar, sowel as Ebert Terblanche die korporatiewe bestuurder van die dorpskantoor. Dit is baie jammer dat Kleingeluk so eenkant is, maar ons kan ongelukkig niks daaraan doen nie omdat ons in 1991 ‘n bestaande dorp gekoop het en Kleingeluk in die 60’s en 70’s ‘n kleurlingwoonbuurt was. Ons werk egter daaraan om gemeenskappe te integreer en daar gaan meer behuising in die volgende jare tussen die ‘Hoofdorp’ en Kleingeluk opgerig word. Ek sou dink dat Kleingeluk baie beter as die gemiddelde ‘township’ lyk, maar weer eens dat baie wit mense nie noodwendig gewoond is daarom om ander wit mense so te sien bly nie. U moet asseblief onthou dat hierdie mense baie hard werk en baie klein salarisse (tot so min as R2500 per maand) verdien wat dit moeilik maak om self alles in stand te hou. Ons munisipaliteit kan ook nie bekostig om inwoners se eie persele in stand te hou nie.

      8. Dokter
      Orania het ‘n privaatkliniek met ‘n voltydse dokter en verpleegkundige. Die spreekkamers is by die een aftree-oord se versorgingseenheid.

      9. Die Ora
      Ek verstaan u opmerking glad nie. Die Ora kan tydens kantoorure (dit maak tog seker sin) by ons plaaslike bank (OSK) geruil word. Die twee banktellers in Orania mag ongelukkig net Rande uitbetaal.

      10. Onkruid in vrugteboorde
      Weer eens: Ons het baie reën gehad en baie arbeiders was met verlof tydens die vakansieseisoen. Ons kan ook nie ‘n kleinhoewe eienaar forseer om sy onkruid uit te trek nie!

      11.Gesprekke met inwoners
      Die leierskap van Orania is altyd bereid om besoekers te woord te staan en ek ontvang byna daagliks besoekers in my kantoor wat net oor Orania wil gesels. Carel Boshoff (iv) en Frans de Klerk is ook altyd bereid om besoekers (enige tyd van die dag) te woord te staan. Weer eens ek weet nie wanneer u hier was nie. Het u by die plek waar u gebly het aangedui dat u graag met Orania se leiers sal wil praat?

      Ek hoop dit beantwoord darem u vrae so ‘n bietjie en dat u sal besluit om Orania weer te besoek. Ons sal u graag hier ontvang!

      Jaco Kleynhans
      Uitvoerende Hoof: Orania Beweging

  3. VDS Brink 17 Januarie 2011 at 08:35 Permalink

    Orania het my nie negatief gelaat nie, ook nie positief nie, net met soveel meer vrae as antwoorde.

    Ek wou so graag met Orania praat, Orania wou nie antwoord nie.

  4. Jean Du Plessis 17 Januarie 2011 at 12:39 Permalink

    Geagte Mnr. Brink

    Dis jammer om te sien dat u nie Orania as vakansieganger so ervaar het soos ons gesin dit die vakansie ervaar het nie. Graag sal ek my ervarings en ‘n paar wenke wil gee.

    My 2de keer te Orania en my gesin se eerste keer, vanaf 5 Jan – 11 Jan 2011. Die doel van ons besoek was nie net om daar vakansie te gaan hou nie, maar spesifiek te kyk hoe kan ons daagliks in Orania bly en leef, vir die toekoms vorentoe. Uiteraard het ek ook vir elke lid van die gesin laat verstaan, dat ons slegs eendag Orania toe sal trek, as elke lid 100 % daar wil bly. Dit geld natuurlik selfs vir ons 5 jarige dogtertjie, al verstaan sy nog nie so baie nie. Die twee groter kinders kan maklik al redeneer.

    Met ‘n glimlag op my gesig, het ek dag 2 in Orania van hulle verneem dat hulle sonder versuim eendag Orania toe wil trek. Nou die vraag is hoekom my vrou en die kinders dan juis so ‘n vinnige besluit kan neem. Die antwoord is eenvoudig, omdat hulle gesien het watse voordele Orania vir hulle inhou.

    Soos reeds ervaar, laat Orania sekere indrukke op jou, wat verskil van mens tot mens. As mens kyk na verblyf, stel ek voor dat vakansiegangers ten minste 5 dae aan Orania moet oorbly. In die week wat ons daar was, het ons baie mense gesien wat skaars een aand oorslaap, die volgende dag nog ‘n biedjie rondry en dat weer terug na hul bestemmings was. Dis heeltemal te kort. Selfs in ons 6 nagte daar, was dit onmoontlik om alles te doen wat ons juis in die eerste plek wou gedoen het.

    Ons het by “Aan-die-Oewer” tuis gegaan. Elke dag is gekenmerk met interaksie met die mense wat daar werk, mense wat in woonwaens naby die rivier vakansie hou, Oraniërs wat na die rivier se vlakke elke dag kom kyk, mense wat elke aand by die restourant kom eet, asook elke tweede aand amper nuwe bure langs jou te hê. Boon-op het ons amper elke dag nog visgevang, so dit was baie maklik om met baie inwoners en uitwoners van die dorp te kan gesels. Van nature is ek maar ‘n skaam mens, maar ek het glad nie ‘n probleem gehad om enigsins met iemand te kon gesels nie. Het selfs Prof. Boshoff by die Oewer hallo gesê en sy hand geskut. Ook elke dag lekker gesels met die jong manne wat in die dorp werk en die trots en selfstandigheid in hul gesigte gesien.

    Dan is daar die Dorpswembad. Elke dag veral na 17h00 is daar baie mense wat daar kom swem. Die hout bankies onder die skadu nette is naby genoeg om ‘n lekker gesels met jou vreemde buurman aan te knoop, of privaat te bly as jy dit nodig het. Al drie my kinders het op daaglikse basis hier baie nuwe vriende gemaak met veral dorpskinders, asook mense van elders.

    Kleingeluk – het die keer baie stadig deur kleingeluk gery. Volgens my lyk Kleingeluk se huise en tuine beter versorg as mense in die hoofdorp. Nie eens te praat hoe beter dit lyk teenoor huise in my eie dorpie nie. Het die vakansie ook wel met ‘n meer liberale buurman een aand gesels wat se siening is dat daar te veel plakkers hutte in Orania voorkom. Ek het maar net vir myself gelag oor die stelling en hou my needrig voor God. Jy kan mos nie luukse stedelike woonbuurte vergelyk met die platteland nie.

    “Die Volkseie ideaal/veiligheid/wegkruip vir die werklikheid/naakte rassehaat?” As jy vir ‘n ruk in Orania kuier dan ervaar jy elke dag die postiewe uitkyk van die Dorpenaars asook mense wat daar kom vakansie hou. Die positiewe groeiende atmosfeer groei letterlik op jou. En dan terug in die buite land, kry jy te make met die taxi wat voor jou in jaag, die musipalitiet wat nie water en elektrisiteit elke dag aan jou kan verskaf nie, jou kinders wat op die straat/winkels geteiken word ens. ens. Wonder waar het mens groter rasse probleme.

    Vir my is Orania wat jy daarvan maak, sy geboue, sy museums, sy huise sy aktiwiteite, sy kerke, sy skole en natuurlik sy menslike vriendelikheid. Van ons kan sonder aanpassing daar gaan bly, vir ander sal dit ‘n groter uitdaging wees. Dinge gebeur ook nie als in een dag nie. Soms moet jy ‘n biedjie tyd gebruik om dit te ervaar.

    Dankie vir Orania en sy mense, wat ons ‘n werklike onvergeetlike vakansie laat ervaar het. Sien julle binne kort weer !

    • Jaco Kleynhans 17 Januarie 2011 at 13:00 Permalink

      Jean,

      Ons het baie meer ouens soos jy in Orania nodig! Ek is bly julle het lekker gekuier.

      Jaco

  5. Waldo 17 Januarie 2011 at 15:26 Permalink

    VDS Brink klink vir my soos iemand met ‘n trojaanse motief. Dalk maak die 10 000 uitwoners iemand nervous.

  6. tviljoen 17 Januarie 2011 at 17:46 Permalink

    Mense dink oor die algemeen te groot en dan voel alles soms bietjie oorweldigend.
    Probeer bietjie aan Orania dink as ‘n kleiner oase, ‘n koelteboom, ‘n gemeenskap en wat dit vir mens as individu, familie en gemeenskap beteken of kan beteken.
    Dit is ‘n tasbare, volhoubare en werklike alternatief.
    Groei kom stadig maar seker en is nie iets wat ten alle koste nagejaag moet word nie.
    Ek self is dankbaar vir die helderheid van verstand en groot omsigtigheid waarmee voortbeweeg word.

  7. Len Smalberger 17 Januarie 2011 at 18:21 Permalink

    Ek is van mening dat indien Orania nie meer vrae as antwoorde vir besoekers laat nie dit my bekommerd sou maak. Aangesien Orania nog op pad is na ‘n ideaal waarvan die mylpale in ‘n dinamiese omgewing en kontinent gereeld verskuif (en moet verskuif) mag Orania nie nou al met “antwoorde” tevrede wees nie.
    Dit sou te beperkend wees om Orania met enige vooropgestelde idees of verwagtinge te besoek. Ek glo dat die Orania konsep en Orania se gemeeskap so radikaal verskil (en selfs ‘n reuse toekoms sprong is)van dit waaran ons gewoond is dat dit wel uiters moeilik kan wees om Orania te verstaan.
    Sonder om die saak te oorvereenvoudig moet onkruid in vrugteboorde en lang gras in tuine dalk nie gemeet word teen die afwesigheid daarvan in tuine en boorde in ander dele van die RSA of selfs die wereld nie. Die waarde wat daaraan geheg word, of die maatstaf om ‘n tuin of boord met ‘n “netjiese” voorkoms in stand te hou, moet dalk eerder beoordeel word. Dalk is ‘n radikale omkeer na ‘n “veld” of selfs ‘n “woestyntuin” die antwoord en dalk nie.
    Ter afsluiting dink ek dat dit belangrik is om geduldig te werk en te vorm aan die Orania ideaal en moet ons aanpasbaar en dinamies bly. Dit is belangrik om te besef dat die vrugte van ons arbeid dalk eers 400 jaar in die toekoms gepluk sal word. 100 Jaar in ‘n Volk se geskiedenis is maar ‘n druppel in die emmer en 20 jaar net ‘n damp….. Wat die gemiddelde Wereldburger se opinie vandag oor ‘n konsep soos selfbeskikking is sal nie noodwendig oor 20 jaar meer relevant wees nie.

  8. Henk 18 Junie 2011 at 18:14 Permalink

    Ek wil graag weet of daar iemand is wat my kan help met meer inligting om werk daar te kry en behuising? Laat weet my asb want ons wil graag daar kom woon en die kinders in skole inskryf.


Lewer Kommentaar

*