12 September 2017 ~ 9 Kommentare

Afrikaner 2050: Geografiese oplossings vir demografiese uitdagings

Geskryf deur James Kemp

`n Onlangse artikel uit die pen van die bekende demograaf, prof Flip Smit, dui daarop dat Afrikaners in die jaar 2030 sal moet erken dat hulle die getalleoorlog verloor het. Teen 2050 gaan die situasie nog meer benard wees. Die middeljaarraming plaas Suid-Afrika se totale bevolking op 56,5 miljoen. Die blanke deel van daardie bevolking word op 4,5 miljoen gereken en die Afrikaanstalige deel van die blanke bevolking word op 2,7 miljoen gereken. Prof Smit wys verder daarop dat Suid-Afrika se blanke bevolking met 40 000 per jaar afneem, die Afrikaanssprekende deel van daardie groep met 24 000 per jaar. Prof Smit reken dat daar teen 2030 slegs 1,8 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika sal wees en teen 2050 slegs 900 000. Dit beteken dat die Afrikaner teen 2050 minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking sal uitmaak. (Sien onderstaande grafika wat oorspronklik op Netwerk 24 verskyn het.)

Faktore soos emigrasie speel `n rol maar daar word gereken dat daar tans 10 000 meer sterftes as geboortes is. Wat emigrasie betref, reken prof Lawrence Schlemmer dat 750 000 Afrikaanstaliges tussen 1990 en 2010 geëmigreer het. Prof Smit skets in sy artikel `n somber prentjie oor die toekoms van die Afrikaner. Dit is `n artikel wat duidelik uitwys hoe daar anders gedink en beplan moet word in tye waar nóg getalle nóg politieke mag aan jou kant is. So uitstekend nagevors soos die artikel is, stop prof Smit tog na my mening kort van `n daadwerklike oplossing. In die laaste deel van sy artikel verwys hy na twee groepe Afrikaners. Die een groep onttrek hulle van die samelewing en vestig hulle binne sekuriteitsgebiede en agter veiligheidsheinings. Dit is diegene wat die pad van politieke korrektheid of die minste weerstand volg. Dan, reken prof Smit, is daar ook `n tweede groep. Dié groep maak bydraes tot die welstand van alle mense en lewer onbaatsugtige diens aan die breër gemeenskap. Sodoende sal hierdie groep hulself onmisbaar maak.

Prof Smit is wel korrek dat bovermelde twee groepe bestaan. Daar is inderdaad die groep wat, na die verlies van politieke mag, hulself uit die samelewing onttrek het. Hulle vestig hulle op ‘golf estates’ en vermy politieke gesprekke uit vrees dat hulle geteiken kan word. Daar is inderdaad ook die tweede groep wat poog om hulself onmisbaar te maak. Ek twyfel egter of die groep al daarin geslaag het om hulself onmisbaar te maak. Ongeag die harde werk wat sommige van die persone in die staatsdiens lewer, sal hulle steeds in die slag bly wanneer dit by regstellende aksie kom. Die gedagte dat jy kan hard werk en jouself sodoende onmisbaar maak, is verskeie kere sedert die implementering van die Wet op Gelyke Indiensneming in 1996 verkeerd bewys.

Die onderstaande kaart wys die bevolkingsverspreiding na afloop van die 2011 sensus. Die groen kolletjies dui die swart bevolking aan, die oranje kolletjies die bruin bevolking en die pers kolletjies die blanke bevolking.

Wat ons uit die kaart moet neem is dat Afrikaners kan onttrek na hulle veiligheidskomplekse of hard werk om te probeer om hulself onmisbaar te maak, maar hulle sal nie met een van bogenoemde opsies hulle politieke situasie verbeter nie. Slegs waar `n minderheid `n meerderheid in `n geografiese gebied vorm, kan hy besluit hoe munisipale belastinggeld bestee word, wat die taalbeleid in plaaslike skole is en wat die naam van die straat is waarin hy bly. Slegs dan sal Afrikaners werklik weer seggenskap hê oor dit wat hulle direk raak. Prof Herman Giliomee word aan die einde van die artikel as volg aangehaal: “In die 20ste eeu het die opkoms van Afrikaners as etniese groep en van Afrikaans as openbare taal groot aandag in die Westerse wêreld getrek. Die kans dat albei in die loop van die 21ste eeu kan verdwyn is nie meer so vergesog nie.”

Indien ons besef dat konsentrasiepolitiek swaarder kan weeg as getallepolitiek hoef ons nie prof Flip Smit se projeksies as `n apokalips-scenario te sien nie.

 

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Afrikaner 2050: Geografiese oplossings vir demografiese uitdagings”

  1. Flip Buys 12 September 2017 at 15:01 Permalink

    Die berekening dat Afrikaners tot 900 000 sal val en net 1% sal uitmaak is nie feitlik reg nie. Die Solidariteit Navorsingsinstituut is nou al ‘n geruime tyd met bevolkingsnavorsing besig, en sal eersdaags besonderhede bekendmaak. Dis wel so dat Afrikaners se probleem nie ons min getalle is nie, maar ons yl verspreiding. Daarom ís groter konsentrasie in ou en nuwe stede , streeksdorpe en ander instellings die enigste oplossing vir oorheersing. Maar die tipe verkeerde syfers en persentasies wat deesdae in die koerante publiseer word is verkeerd en maak Afrikaans verniet swartgallig.

  2. Appie Pienaar 12 September 2017 at 15:51 Permalink

    Treffende opskrif vir ‘n artikel! Ons Afrikaners se probleem is nie ons getalle nie, maar dat ons verspreid is. Baie kleiner volke oorleef omdat hulle gekonsentreerd woon en nie deur ander groepe verswelg word nie. As mens na die kaart kyk, is dit baie duidelik waarheen Afrikaners moet trek as hulle nie verswelg wil word nie.

  3. Christo J Hattingh 12 September 2017 at 16:05 Permalink

    Die werklikheid van hierdie artikel word daagliks in Suid Afrika bevestig. Daarmee saam word verdraagsaamheid teenoor blankes (en Afrikaners) al minder. As mens die saak aanroer dan gaan baie van die toehoorders gewoonlik in ‘n apatiese onttrekking. Ek probeer dit tuis bring dat die verskynsel ‘n werklikheid is en solank ons die werklikheid aanvaar en dan dit doen wat die Afrikaner se toekoms verseker, is daar ‘n goeie oplossing: Konsentreer in een area. Dit is besig om te gebeur en soos die proses van verdunning in Suid Afrika voortduur, versnel die Afrikaner se konsentrasie. Hoe gouer elke Afrikaner dit besef en die regte ding doen, hoe beter sal sy eie en die geheel se toekoms lyk. Insgelyks geld dit alle kultuurgroepe en sal ons meer parallelle sien ontstaan. Sien maar die Kaap groep wat nou ook skielik die Kanton stelsel begin raak sien, terwyl Oraniërs dit al meer as 20 jaar terug raakgesien het.

  4. Hanno Visagie 17 September 2017 at 05:36 Permalink

    Staan op die waarheid dat die Afrikaner hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is, Afrikaans as huistaal praat en Christus volg. Mense van ander etniese bevolkingsgroepe soos die Khoi-San en huistaal-Engelssprekers is nie ook Afrikaners nie.

  5. Christo Conradie 18 September 2017 at 16:28 Permalink

    Wel, volgens hierdie grafiek is ek dan teen 2099 die enigste Afrikaner wat hier rond sal wees, want ek gaan nerens! Maar dit is net statistieke en grafieke. Ek glo die verloop sal anders wees, want ons is n innoverende volk wat al klaar besig is met uitkoms-gebaseerde planne wat verseker, as dit die Here se wil is, sal werk. Pyne sal daar wees, maar ons skrik nie!

  6. JOHAN LOOCK 18 September 2017 at 18:20 Permalink

    Hierdie syfer van 750 000 Afrikaners wat kwansuis geëmigreer het….een uit elke 6 van ons uit elke dorp en stad? Dis tog ooglopend moewies verkeerd.

    As mens aanvaar dat meeste Australië toe sou gaan….en mens kyk na die Australië regering se sensussyfers, dan is daar 162,000 Suid-Afrikaans gebore immigrante in Australië in 2016. Ons kan dus skat dat helfte daarvan dalk Afrikaners was. Dis 80 000, so waar is die ander 670 000 Afrikaners van Schlemmer heen?

    • Sebastiaan Biehl 19 September 2017 at 10:55 Permalink

      Ek het nie syfers nie, maar “anekdotiese getuienis” is dat ek amper nooit meer mense kry wat nie ten minste een kind in die buiteland het nie. 20% van ons mense kan maklik in die buiteland wees, al is dit dan net tydelik.

      • JOHAN LOOCK 19 September 2017 at 11:42 Permalink

        Dat die persentasie hoog is binne sekere ouderdomsgroepe en binne sekere sosiale kringe, kan mens nie betwyfel nie, maar die sensussyfers van die hoof emigrasiebestemmings wil ander stories vertel.

        Nieu-Seeland het maar 54 000 mense wat in Suid-Afrika gebore was. Weereens, as mens die 80 000 plus die 25 000 in Nieu-Seeland bymekaartel, is dit 105k. Dis vrek ver om te gaan na 750k sonder lande om die mense in te verdeel.

        Maar dis steeds ‘n reuse slag, veral as mens reken dat sou ons slim en georganiseerd genoeg wees om dit reg te kon kry om 105 000 Afrikaners in die Karoo-Weskusarea te vestig, sou ons bykans alle munisipaliteite in die area kon beheer.

        • Ebert Terblanche 21 September 2017 at 01:42 Permalink

          Ek het self ‘n tyd gelede na ander lande se sensusdata gekyk om te probeer vasstel hoeveel Afrikaners daar in die buiteland is. Die inligting wat ek kon versamel is in hierdie artikel op die blog:

          http://www.oraniablog.co.za/n-buitelandse-blik-op-orania-se-inwonertal/

          Ek vermoed dat die 750 000 getal aannames insluit oor die hoeveelheid kinders wat vir emigrante in die buiteland gebore word, aangesien baie mense wat emigreer jonk is en hul kinders in die buiteland kry en dan ook daar in plaaslike skole sit.

          Dit neem nie weg van die belangrikheid van die artikel se punt dat dit nie ons absolute getalle is wat die probleem is nie maar ons verspreiding. Onder die regte omstandighede en met die regte beleide is dit relatief eenvoudig om bevolkingsaanwas te stimuleer.


Lewer Kommentaar

*