05 Januarie 2018 ~ 9 Kommentare

Afrikaans, Engels, nasiebou en vervreemding

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

So pas is waarskynlik die laaste veldslag oor die behoud van Afrikaans as hoër onderwystaal verloor deur die uitspraak met betrekking tot die Universiteit van die Vrystaat. Aan die een kant is dit hartseer, aan die ander kant sou ʼn ander besluit die lyding net uitgerek het. Ten minste is dit nou vir almal duidelik om te sien: daar is geen toekoms vir Afrikaans (behalwe binne die private ruimte nie) binne die ANC-staat nie, want die vereiste van “transformasie” staan voorop, voor taal- en kultuurregte. Dit behoort ook vir ons mense te wys dat ons nie ons hoop op die grondwet of die howe moet bou nie. Afrikaner, jy is op jou eie.

Die argument van die universiteitsbestuur, en die regering, is dat Engels verenigend is, omdat dit die wêreldtaal is, en omdat dit in Suid-Afrika die lingua franca is, almal se tweede taal (behalwe vir die klein groep Engelssprekende blankes) is en dat Afrikanerstudente nie die voordeel van onderwys in hulle eie taal mag kry nie, want dit gee hulle ʼn voordeel bo swart studente en veral weerhou dit hulle van interaksie met hulle swart studentemaats en verhinder nasiebou en versoening.

Daar kan baie gesê word oor die “wêreldtaal” Engels: in groot dele van die wêreld kan jy maar vergeet om met Engels iewers te kom, enige reisiger wat uit die “Commonwealth” kring uitbeweeg kan dit betuig. Selfs anderkant Komatipoort kom jy met Engels nie ver nie. Ook in Suid-Afrika is beslis nie almal Engels magtig nie, en wat as Engels deurgaan is dikwels ʼn soort verkorte Pidgin-omgangstaal wat min met standaard-Engels, wat vir die universiteit nodig is, gemeen het.

Belangriker is egter die vraag of Engels die verenigende faktor is, wat dit na bewering van die regering en sy meelopers is. Engels het sekere nuwe wêreldlande soos die VSA, Kanada, Australië of Nieu-Seeland op die kleinste gemene deler verenig, maar selfs daar moet die stelling met ʼn knippie sout gevat word: Franssprekende Kanadese staan sterk op hulle taalregte, in die VSA brei Spaans in veral die Suide uit en word Engels die bedreigde taal. Spaans, Frans of Portugees, terloops, is net sulke “wêreldtale” en vervul dieselfde funksie as Engels in hulle streke.

Die huidige bewind maak die fout wat al die Engelse bewind in Suid-Afrika honderd jaar gelede gemaak het: verklaar Afrikaans minderwaardig en bemark Engels as die taal wat toegang en status gee en nasiebou bevorder. Enkeles mag dit aangryp, maar die meerderheid sal dan eers lief raak vir hulle eie en besef dat daar vir hulle in Suid-Afrika geen plek is nie. Die logiese gevolg is verset en die soeke na jou eie plek en die bou van jou eie instellings.

Die verengelsingsbeleid van ʼn Lord Milner het nie van Afrikaners Engelse gemaak nie, maar aanleiding gegee tot die stigting van private, Christelik-nasionale skole en die hele oplewing van Afrikaner-nasionalisme aangevuur, wat later uitgeloop het op die Nasionale Party se segetog. Ons kan ook verwys na voorbeelde in Europa: Die diktator Mussolini wou die Duitssprekende Suid-Tirolers gedwonge veritaliaans, maar hulle het hulle met ondergrondse skole verset en veg steeds vir al hoe groter outonomie. In Spanje wou die diktator Franco Spaans op almal afdwing en het daardeur juis Katalaanse en Baskiese taalnasionalisme aangewakker, wat gelei het tot eie streke met ʼn groot mate van selfbeskikking en selfs ʼn strewe na onafhanklikheid.

President Mandela se benadering ten opsigte van Afrikaans was baie slimmer en meer bevorderlik vir nasiebou, en daarom so veel gevaarliker vir die Afrikaners: smeer hulle heuning om die mond in Afrikaans, gee vir hulle die illusie dat Afrikaans sal voortbestaan, en integreer hulle geleidelik op al hoe meer multi-kulturele universiteite en skole, al word daar nog ʼn bietjie hier en daar Afrikaans gepraat. Is dit nie juis in Afrikaanse gemaksones soos Stellenbosch of in die Naspers-koerante nie, in ‘n kamstig veilige Afrikaanse omgewing, waar die nasiebou-narratief in Afrikaans so suksesvol verkondig is? Dit is hier waar Afrikaans sonder weerstand geoffer word, omdat niemand meer weet wat dit geverg het om ʼn Afrikaanse universiteit of ʼn Afrikaanse media te bou nie. Ek voorspel dat dieselfde binnekort in Potchefstroom sal gebeur, en dat daar ook min weerstand sal wees.

Nou word Afrikaners uitgestoot, nie net die studente nie, maar ook die Afrikaanse ouers en alumni, wat finansieel wesenlik tot instellings soos die voorheen Afrikaanse universiteite bydrae. Selfs die laaste een besef nou dat die toekoms vir Afrikaanse onderwys slegs in eie private Afrikaanse instellings lê, soos Akademia, Soltech, CVO en ander. Dit verteenwoordig ʼn verdere stap van die Afrikaner se speenproses van die staat en na selfstandigheid. Miskien lewer die doodskoot vir Afrikaanse onderwys by staatsuniversiteite iets goeds op vir vryheid.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Afrikaans, Engels, nasiebou en vervreemding”

  1. Hanno Visagie 5 Januarie 2018 at 12:58 Permalink

    Onlangse vraag : “Wanneer vind Gelyke Kanse (met adv Jan Heunis) se grondwethofsaak teen die US-bestuur en -raad plaas?”
    Antwoord : “Ons wag nog vir ‘n datum van die hof.”
    Aan Afriforum en Orania : Hoekom ignoreer julle bg? Is adv Jan Heunis se kanse so sleg? Gaan hy en Gelyke Kanse nou onttrek?

  2. Piet Bliksem 6 Januarie 2018 at 11:34 Permalink

    Uitstekende artikel Sebastiaan! Ek is ook sterk van mening dat selfs op die tv kanaal KykNet ( wat nog altyd 100% suiwer en afrikaans was ) deesdae n groot bydrae maak tot die ” reenboognasie ” idee. Tv sepies, kookprogramme, realiteitsprogramme ens. altyd mense betrek van verskillende tale, kulture en geloof. Dit blyk dat al die tv programme n ” melting pot ” wil maak deur mense wat bykans niks in gemeen het nie ( lyk en dink nie dieselfde nie ) bymekaar wil voeg en se ” kyk hier,diversiteit werk en almal wat daaraan deelneem is gelukkig ” . In realiteit is dit egter nie die geval nie, kyk net hoe Duitsland se misdaad syfers styg soos Merkel meer en meer immigrante inlaat. In SA is plaasmoorde n doodskoot vir diversiteit, alhoewel die media dit tot die minste moontlike hoeveelheid rapporteer. Duidelik is die gevoel van diversiteit net een kan toe en ons ontvang dit nie terug om n vreedsame bestaan te voeg nie. Wanneer mense emigreer na n land vra die mense altyd ” Why did you leave SA ?! ” , dan het daardie mense nog nooit van iets soos plaasmoorde gehoor nie. Let wel ons is die enigste land waar dit so gevaarlik is om n boer te wees. Ek persoonlik is nie ten gunste van emigrasie uit SA nie en voel ons moet die probleme oplos in ons eie land. Dit is hoekom ek Oranie ondersteun, en vir altyd sal! Verskoon tog as my brief deurmekaar klink, ek skryf maar soos die gedagte vloei!

  3. Andre 6 Januarie 2018 at 12:27 Permalink

    Weldeurdagte artikel.

    Die Mandela stadige gif metode was en is steeds baie effektief, aldus baie wat steeds sal glo dat n artikel soos die dalk oordrewe is. Die koeel is egter baie duidelik deur die kerk – Afrikaans as onderrigtaal en Afrikanerkultuur as geheel se voortbestaan is van hier af net aangewsese op die wat werklik daarin glo en bereid is om daarvoor op te offer. Met aanvaarding kom die realiteit dat daar werk en toewyding vereis gaan word om dit te behou en dat dit net vermag kan word deur te bou aan n onafhanklikke alternatief wat met jaloesie en erns bejeen moet word.

    Gelukkig is Afrikaanse kultuurskatte en n breedvoerige taalagtergrond met instansies soos die FAK reeds bestaande en ons moet dit net bewaak en nie nou verraai deur lamsakkig te wees nie. Gelukkig het versiendes reeds n Orania, n Akademia, n Soltech ens. op die been gebring om as vuuraansteker te dien.

    Woorde is maklik en dade vereis heelwat meer. Ek sien baie uit na die bou van eie instellings. My een seun (wat ook n Orania lid is) is reeds ingeskrewe by Akademia vir 2018 en ek ondersteun die Boufonds en FAK al vir etlikke jare. Ek sien baie uit na die voorgsetelde Universiteit by Orania en sal dit in gees, akademies en finansieel steun soos en waar ek en my gesin kan.

    Sebastiaan, sodra sinvol, bring ons asb. op hoogte rondom die bou van die Universiteit op Orania. Ek sal bv. wil weet of dit n uitbreiding van Akademia / die Boufonds gaan wees of n totaal onafhanklikke projek, watter fakulteite eerste prioriteit gaan kry ens.

    Alle sterkte, Andre

  4. Rudolf 11 Januarie 2018 at 11:22 Permalink

    “Miskien lewer die doodskoot vir Afrikaanse onderwys by staatsuniversiteite iets goeds op vir vryheid.”

    Ek stem 100% saam met jou en glo eerder dat dit juis nodig is om die planne tans te versnel en meer simpatie uit Afrikanergeledere te bewerkstellig om, wanneer die hulp gevra gaan word vir die bou van ‘n eie universiteit op Orania, meer mense betrokke sal wees en hul beursies oop sal gaan om ook die gedoen te kry.

  5. Piet Potgieter 21 Januarie 2018 at 19:48 Permalink

    Geld vir ‘n universiteit sal invloei as doelwitte duidelik en gereeld gestel word en as finansiële kundiges vir belastingbetalers prakties kan verduidelik hoe skenkings aan ‘n universiteit aftrekbaar is.

  6. Rob 30 Januarie 2018 at 10:24 Permalink

    Uitsteekende artikel, maak iemand trots om Orania te ondersteun, die begin van ‘n nuwe toekoms vir die Afrikaners.

  7. Janna 14 Februarie 2018 at 08:22 Permalink

    Ek dink dis gemeen van julle om te praat van n wit plakkerskamp julle dink julle kan nie daar beland nie maar dis tipies van julle afrikaners kyk neer op ander plaas van om hulle te help dis hoekom afrikaners nie kan saamstaan nie swak van julle maar ons in plakkerskampe staan saam want ons weet wat

    • Sebastiaan Biehl 14 Februarie 2018 at 08:38 Permalink

      Waar lees u iets van ‘n wit plakkerskamp in die artikel? Dit gaan oor Afrikaans. Juis in Orania kyk ons nie neer op arm Afrikaners nie, maar help hulle om uit die plakkerskampe te kom, binne ons vermoeë.

    • Revo 23 Februarie 2018 at 16:07 Permalink

      Janna, vasbyt, die tyd dat sommige onder ons volk gaan wakker skrik, is amper daar. Dan gaan hulle, gedryf deur die liefdesywer van die Meester, hulle hand na julle uisteek.

      Innige groete, Re^Vo^H (In ‘n Noord-Italiaanse dialek beteken hierdie werkwoord : EK KOM !


Lewer Kommentaar

*