01 Julie 2011 ~ 1 Kommentaar

Aantekeninge oor ‘n reis deur die Verre Ooste (Suid-Oos-Asië)

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl

 

Dit was my eerste kennismaking met Asië (afgesien van Arabië, wat eintlik ‘n vasteland op sy eie is, en min met die “regte” Asië in gemeen het) en die doel was eenmaal om ‘n nuwe kultuursfeer te leer ken en ook om spesifiek Myanmar (Burma) te sien solank dit nog sy oorspronklikheid het, danksy internasionale isolasie en ‘n militêre bewind en gebrekkige toerisme-infrastruktuur wat meeste toeriste afskrik. Verder het ek ook die geleentheid gebruik om ‘n vurige Orania-ondersteuner, mnr Jan Stam, in Singapoer te besoek en om besigheid- en uitruilgeleenthede vir Orania te verken.
Die reis het in Singapoer begin, deels omdat my pa, wat my reisgenoot was, daar vriende het by wie ons kon oorbly en wat wonderlike gashere was, deels omdat Singapoer as hoogs geglobaliseerde en hipermoderne megastad ‘n maklike inleiding tot ‘n onbekende streek sou wees. Ons het toe, soos wat die tyd aangestap het, al hoe meer terug beweeg in tyd, van die amper futuristiese geglobaliseerde megastad Singapoer oor die oorgangslande Maleisië en Thailand tot in Myanmar, waar ‘n mens 50 jaar teruggeplaas voel. Soos wat die geriewe en die voorspelbaarheid afgeneem het van Singapoer oor Maleisië en Thailand tot in Burma, het die eksotiek en die avontuur toegeneem.
Van Singapoer het ek nie veel meer as ‘n onpersoonlike, oorvol megastad verwag nie en was eintlik aangenaam verras. Dit was werklik ‘n aangename tyd in Singapoer, al was dit natuurlik nie die “ware” Ooste nie (dit sou ons later beleef), maar ‘n wêreldstad met ‘n hele paar Oosterse elemente. Die klimaat, deur die jaar tropies warm, vogtig en meestal effens bewolk, is aangenaam, maar by tye ook uitputtend. Die stad is sowat 50 km noord van die ewenaar en daar is geen seisoene nie. Die kontras tussen die sauna-agtige temperature buite en die dikwels op 15 grade verkoelde kantore en hotelle is opvallend en ‘n skok op die liggaam. Veral in die nagte koel dit nie eintlik af nie en ‘n mens moet met die lugreëling aan slaap.
Wat die uiters dig beboude stadlandskap wel duidelik versag en verfraai is die tropiese plantegroei en lanings feitlik orals, asook heelwat natuurreservate waarin mense kan stap. Dit is natuurlik alles gekontroleerde en gemanikuurde natuur, geen wildernis soos ons dit ken nie. In Singapoer word niks aan die toeval oorgelaat nie.
Singapoer is ‘n uiters suksesvolle stadstaat met sowat 4.5 miljoen mense, saamgedruk op ‘n klein oppervlakte en as gevolg daarvan word in die lug gebou. Om ‘n alleenstaande huis met groot erf te hê soos ons dit in Suid-Afrika gewoond is, is ‘n amper ongehoorde luukse, selfs gegoede mense bly in woonstelblokke. Wat die behuising betref is daar bekostigbare en redelik eenvoudige, maar nog steeds skoon  staatlik gesubsidieerde woonstelblokke vir die inheemse Singaporiane, en luukse, baie netjiese woonstelblokke met tennisbane en swembad vir veral die “expats”, die Westerlinge wat op langtermyn in Singapoer woon en werk. Lewenskoste is besonder hoog, en vir rugsaktoeriste is Singapoer dus ‘n bestemming wat hulle eerder vermy. Volgens inligting gaan Singapoer net oor twee dinge, naamlik koop en eet. Daar is winkelsentrums waar jy kyk, maar sulke plekke het gelukkig geen bekoring vir my of my pa gehad nie, en dit was nie die rede hoekom ons soontoe is nie. Die eet was egter wel iets wat ons gereeld beoefen het. By die selfhelp eetareas in winkelsentrums, of by die inheemse straatrestaurante kan jy ook billik en nog steeds lekker eet. In Little India en op ander plekke buite die blink sakesentrum  is daar ook goeie inheemse restaurante en die Indiese kos met sy wye verskeidenheid geure veroorsaak ‘n smaak-ontploffing in jou mond en leer jou watter geur-sensasies daar is wat ‘n mens nooit van bewus was nie. Sjinese kos is natuurlik net so volop, en ook Maleisiese kos en ander Oosterse kos. En natuurlik jou kitskos-kettings, maar hulle het ons nie besoek nie. Weens die hitte word baie ystee, deels met eksotiese smake soos roos- of chrysanteemgeur, gedrink, of die alomteenwoordige en lekker Tiger Lagerbier.
Wat Singapoer wel interessant maak is die verskeidenheid bevolkingsgroepe wat elkeen hulle stempel afgedruk het en ook sorg vir ‘n mengelmoes gelowe en plekke van aanbidding. Die meerderheidsvolk in Singapoer is die Sjinese, met 75%. Hulle is al vir geslagte lank in Singapoer, en is deur die Britse koloniale bewind in die 18de en 19de eeu soontoe gebring. Hulle beheer die politiek sowel as die ekonomie. Godsdienstig hang hulle allerhande Buddhistiese kulte en Sjinese volksgelowe aan, alhoewel ‘n groot deel ook sekulêr is. Die vertoonkas van die Sjinese se tradisionele leefwyse en kultuur is Chinatown, ‘n gerestoureerde enklave van die ou Singapoer tussen wolkekrabbers, maar deesdae meer ‘n toeristegebied as ‘n werklike outentieke Sjinese woonbuurt.
Die ander twee groepe, omtrent ewe sterk in getalle, is die Indiërs en die Maleiers. Die Indiërs is deur die Britte as werkers ingebring maar is vandag hoofsaaklik in die handel betrokke. Hulle is veral Hindoes. In veral Little India staan heelwat indrukwekkende maar vreemde Hindoe-tempels en is ‘n paar strate uit die koloniale era gered en herstel. Veel van Singapoer se eertydse geboue is ongelukkig afgebreek as gevolg van die ekonomiese vooruitgang, die behoefte aan nuwe behuisingskemas en kantoorgeboue en die tekort aan plek.
Die Maleiers is die meerderheidsvolk van Maleisië en het ook in Singapoer gewoon voor dit ‘n Britse kolonie geword het. Hulle is in die konteks van Singapoer die armer deel van die bevolking en oorverteenwoordig by die handearbeid, maar natuurlik ook in enige ekonomiese bedryf verteenwoordig. Hulle is veral Moslems.
Dan is daar ‘n beduidende komponent Westerlinge uit alle oorde, Britte, Duitsers, Nederlanders, Amerikaners, ens. wat veral in bestuursposisies sit en meesal “expats” is, tydelike hoë-profielwerkers. Hulle is ekonomies meestal welvarend (die vereistes vir n werkspermit is streng en net diegene met skaars vaardighede word toegelaat) en lewe ‘n geglobaliseerde lewenstyl. Diegene wat nie sekulêr is nie, is meestal Christene. Vermenging tussen veral ouer Westerse mans en jonger inheemse vroue kom gereeld voor en stabiele huwelike van Westerlinge vanaf dieselfde land is eerder die uitsondering.
Laastens is daar nog ‘n beduidende aantal gasarbeiders en huisbediendes uit arm lande van die streek, soos mans uit Bangladesj wat as konstruksiewerkers tydelik werk, en vroue van veral Indonesië, wat as huisbediendes werk. Hulle moet geregistreer wees en toetse aflê en ten spyte van uitbuiting wat voorkom en lae lone in die konteks van Singapoer is die werk gesog want dit stel hulle in staat om hulle armer familie in hulle land van herkoms te onderhou.
Wat die besienswaardighede betref is daar natuurlik indrukwekkende argitektuur. Aan die een kant is daar verstommende nuwe wolkekrabbers wat nie net hoog nie maar ook konseptueel verbasend is, soos die Marina Bay Hotel met drie toringgeboue op wie ‘n effens geboë platform rus wat soos ‘n skip lyk en ‘n restaurant en casino huisves, of die Singapore Flyer, ‘n reuse wiel waarmee ‘n mens ‘n uitsig oor die stad het. Daar is ook die klassieke koloniale argitektuur. Laasgenoemde was vir my van besondere bekoring. Die pronkstuk van die koloniale geboue is seker die Raffles’ Hotel, wat in sy ou glorie herstel is en die gevoel van die koloniale era van sowat honderd jaar gelede versprei. In die pragtige kroeg met houtvloer en houttoonbank, word die bekende cocktail Singapore Sling teen astronomiese pryse deur kelners met strikdasse en afgeronde maniere bedien. Op die rottangtafels  staan bakke met grondbone in hulle doppe en gaste mag soos die koloniale here van ouds die doppe op die vloer gooi sodat ‘n nostalgiese kraakgeluid by die trap daarop opkom. Ook andersins is Singapoer nie skaam oor sy koloniale geskiedenis nie. Omdat dit ‘n multikulturele stad is met talle invloede, is van die begin af bepaal dat geen etnies homogene verinheemsing sal plaasvind nie en dat alle inwoners Singaporiane is, ongeag of van Sjinese, Indiese, Maleisiese of Europese afkoms. Die straatname is nog steeds in Engels en die stigter van Singapoer, Sir Thomas Raffles, se standbeeld staan op ‘n prominente plek. Die amptelike taal van Singapoer is Engels, maar Sjinees en Maleisies word ook gepraat en kennisgewings is twee- of drietalig.
Benewens die argitektuur is daar natuurlik ‘n magdom restaurante langs die Singapoer Rivier in ou hawegeboue wat herstel en omskep is in plekke van ontspanning. Ook uitstekende museums is in die gebied. Op Sentosa Eiland voor Singapoer se kus is ‘n pretpark, wandelpaaie, ‘n gholfbaan, strande en swembaddens en ‘n groot akwarium met ‘n 200 meter lange tonnel onder die water.
Singapoer se ekonomie is gebou op die groot hawe. Dit was nog altyd weens sy strategiese ligging by die Seestraat van Malakka en die kruispunt tussen Indiese Oseaan en Suid-Sjinese See ‘n belangrike handelskruispunt, en is dit vandag meer as ooit. Talle groot maatskappye en banke se kantore is in Singapoer. Produksie was sterk in Singapoer en is nog steeds ‘n faktor, maar weens hoë lone verander die ekonomie al hoe meer in die rigting van dienste. Opleiding word hoog aangeslaan deur die mense van Singapoer en talle universiteite, kolleges en besigheidskole is daar gevestig. Sukses in die beroep en geld word hoog aangeslaan en in talle opsigte is dit ‘n hiper-kapitalistiese samelewing met min tyd en begrip vir alternatiewe idees en lewensstyle.
Die mense is feitlik altyd hoflik, vriendelik en hulpvaardig. Dit hang saam met die Oosterse mentaliteit om altyd in iemand se goeie boekies te wees, selfs iemand wat jy nooit weer sien nie (to save one’s face). Kleredrag is gewoonlik elegant en konserwatief, tipiese kantoordrag. Westerse slenterdrag is gewoonlik beperk tot Westerse toeriste, en die Asiatiese terughoudendheid en hoflikheid kontrasteer met die Westerse reguit manier en dikwels lomp optrede.
Veiligheid is baie goed, ook maar te danke aan drakoniese wette en swaar strawwe, selfs vir klein oortredings soos rook of fietsry op die verkeerde plekke. Dwelmverslaafdes, bedelaars, straatsmouse, grypdiewe, ens. sal ‘n mens net nêrens sien nie. Doodstraf vir ernstige misdade, en ook lyfstraf met die bamboesroede word toegepas. Rommelstrooi, ou motors en onversorgde huise word net nie geduld nie. Die polisie en owerheid is nie sigbaar nie, maar die bewustheid van die Groot Broer is daar deur die talle verbodtekens en ook elektroniese kontroles. Inwoners moet gereeld hulle huise verf en hulle huise teen peste spuit en alles word gereguleer deur ‘n almagtige staat.
Motors is ontsettend duur weens hoë invoerbelasting, maar aan die ander kant is die openbare vervoer uitstekend, betroubaar en bekostigbaar. Die moltrein, van die modernste in die wêreld, het ‘n wye netwerk, dan is daar talle busroetes en ook huurmotors wat betreklik goedkoop is. In die moltrein is daar geen gestamp en gestoot en gevloek nie, mense stap soos afgerigte diere in en uit, elkeen weet waar hy moet staan en wanneer en waar om in of uit te klim. Selfoonverslawing neem groot afmetings aan, feitlik almal staar in die moltrein op sy selfoon- of Ipod-skerm, feitlik niemand lees meer koerant soos ‘n mens dit van die Londen se moltrein gewoond was (dalk nou ook nie meer nie), en daar is ook glad nie moltreinsmouse of ouens wat onbeheers begin skreeu of mense lastig val nie. Voorvalle soos in Duitsland, waar jeugdiges ander mense beledig of selfs aanrand, rook en die banke besmeer is ondenkbaar in Singapoer.
Die veiligheid, netheid en funksionering van hierdie perfekte gereguleerde samelewing kom natuurlik teen ‘n prys. Persoonlike vryheid is min, die lewe is duur, spasie vir persoonlike uitlewing beperk. Politieke betrokkenheid buite die staatsparty Peoples Action Party of nuwe en radikale idees word nie graag gesien nie. Singapoer is uiterlik modern, maar wat die samelewing betref inherent konserwatief en versigtig vir eksperimente. Maar in ‘n stad met so vele verskillende volke en godsdienste werk ‘n sterk en outokratiese bewind seker die beste. Immers het Singapoer in ‘n kwessie van 3 dekades van ‘n vuil derdewêreldstad vol siektes, misdaad, verkeerschaos, prostitusie, ens. verander in ‘n hoogs suksesvolle en funksionerende eerste wêreldse staat en samelewing. Dat dit daardeur natuurlik net so ontipies vir die “egte” Ooste is soos wat Sandton ontipies vir die “egte” Afrika is, is voor die hand liggend.
Kortweg, dit was ‘n aangename 5 dae in Singapoer en ons het baie gesien en lekker gekuier by ons vriende, en Singapoer het my verwagtinge oortref, maar ek self sou waarskynlik nie in Singapoer wil bly nie want ek smag na die outentieke en na Vryheid en na die gemeenskap van ‘n volk, nie na ‘n duur, gereguleerde en individualistiese, multi-kulturele wêreldstad nie. Nogtans was dit opwindend en insiggewend om daar te wees en sal ek nie omgee om weer daar te kuier nie.
Van Singapoer het ons die trein geklim na Maleisië en het die 2de skof van ons reis aangedurf. Voortsetting volg.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Aantekeninge oor ‘n reis deur die Verre Ooste (Suid-Oos-Asië)”

  1. Zelda 1 Julie 2011 at 11:24 Permalink

    Baie interessant en volledig! Dit spaar my `n “trip” na die Ooste want na die lese van jou skrywe voel dit of ek ook dit beleef het.
    In dieselfde asem maak dit my uiters lus om die Ooste te besoek.
    Nou weet ek ook hoekom boboti (vanaf Maleise afkoms) so lekker smaak!

    So kan mens van ander kulture baie leer (terwy jy jou eie kultuur behou en selfs verbeter).Reise verryk beslis mens se denke.

    Aanbeveling: Jy kan gerus `n Afrikaanse skrywer raak vir ‘reise in die buiteland’


Lewer Kommentaar

*