02 Mei 2013 ~ 24 Kommentare

Dui kritiek ernstige gebreke in Orania se strategie aan?

Geskryf deur Ebert Terblanche

Eenstemmigheid heers in Afrikanerkringe dat daar wel groot onsekerheid bestaan oor hoe ons kultuur en lewenswyse daaruit sal sien na 50 of 100 jaar van nou af.

Afrikaners het geen invloed meer op wetgewing wat in Suid-Afrika aangeneem word en ons ten nouste raak nie (soos vergestalt in die muilbandwetgewing wat die ANC besig is om deur te voer) of die wyse waarop ons belastinggeld uitgegee word nie. Daarbenewens is Afrikaners deur regeringsbeleid verban uit poste in die staatsdiens en is ons teenwoordigheid in bestuursposte in die private sektor en in die regbank onder groot druk.

Die van ons jonger geslag wat nie self in die buiteland werk nie, het nabye familie of vriende wat reeds uitgewyk het in ‘n poging om geleenthede te vind wat nie in Suid-Afrika vir ons beskikbaar is nie.

Diegene wat ‘n positiewe prentjie probeer skets, verwys na die groei in die gebruik van Afrikaans volgens die 2011 sensus en die goeie bywoning van kultuurfeeste. Tog is die persentasie groei van Afrikaans binne die statistiese foutkoers van die sensus en is die kultuurfeeste nie volksfeeste nie. Tewens, daar word baie moeite gedoen om die Afrikaner uit die kollig van die kultuurfeeste te definieer.

Tog weet ons dat harde werk, deursettingsvermoë, liefde vir ons kultuur en ons medemens en geloof in ons Skepper ‘n onstuitbare krag ten goede is.

Onder hierdie omstandighede het die Orania Beweging en inwoners van Orania ‘n trotse tradisie om nie in konflik met mede Afrikaners te tree oor wat beskou behoort word as die beste strategie vir die verskansing van ons voorbestaan as volk, om op eie voorwaardes te leef, groei en gedy nie.

Ons as ondersteuners van Orania glo dat die boom geken sal word aan die vrugte wat hy dra; dat ons op grond van dit wat ons bereik beoordeel sal word, eerder as op dit wat ander van ons sê of skryf.

In hierdie opsig het ons vaste vertroue dat Orania se strategie nie lukraak uit die lug gegryp is of op enkele jare se akademiese studie van die internasionale reg rus nie. Die aanloop tot die vestiging van Orania is deurgrond met navorsing wat deur SABRA (Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede) gedoen is sedert die 1950’s, eers onder leiding van Dr Gerrit Viljoen en later deur Dr. Chris Jooste.

Dit sluit in die praktiese lesse wat geleer is uit die mislukking van die beleid van afsonderlike ontwikkeling (waarby SABRA ten nouste betrokke was) en die pogings om ‘n Afrikaner heimat te skep in die Transvaalse Hoëveld met die projek van die Oranjewerkers in Morgenson aan die spits gedurende die 1980’s.

Daar kan met groot vrug verwys word na die publikasies van SABRA tot en met die beëindiging van die werksaamhede van die Volkstaatraad. Hierdie materiaal word in Orania se argief bewaar. Sedertdien word SABRA se werk voortgesit onder die vaandel van EPOG.

Tog word daar stellings gemaak op publieke webwerwe en op Facebook wat slegs ten doel het om twyfel te saai oor die deurdagtheid van Orania se strategie. As ondersteuner van Orania wat vir bykans 14 jaar betrokke is by die wel en weë van Orania wil ek graag in persoonlike hoedanigheid op enkele van hierdie stellings reageer.

 

Afrikaners het geen historiese aanspraak op grond in die Noord-Kaap nie

Die stelling word gemaak dat Afrikaners in die verlede nie selfbeskikking in die Noord-Kaap geniet het nie, en daarom nie in die toekoms op selfbeskikking in die Noord-Kaap aanspraak kan maak nie.

Dit is waar dat ons as Afrikaners nie in die verlede afsonderlike selfbeskikking in die Noord-Kaap geniet het nie (ons het wel tussen 1910 en 1994 die gebied regeer). Ons beskou dit egter nie as ‘n struikelblok vir ons strewe om selfbeskikking in hierdie gebied nie.

Erkende selfbeskikking in die verlede is nie die enigste vorm van aanspraak op grond nie. Afrikaners beskik vir bykans twee eeue eiendomsreg van groot gedeeltes van die Noord-Kaap, soos bewys deur rotstekeninge op Orania en inskrywings in die aktekantoor in Kaapstad. Slagvelde van die Tweede Vryheidsoorlog en die grafte van ons vroue en kinders in konsentrasiekampe naby aan Orania bevestig dat ons aanspraak op grond in die Noord-Kaap meer as net ‘n vlugtige ingewing van die oomblik is en dat ons vir baie lank reeds ‘n permanente teenwoordigheid in hierdie gebied handhaaf.

Daarby het minister Valli Moosa (minister van Grondwetlike Ontwikkeling) reeds in 1998 in antwoord op ‘n vraag deur die Vryheidsfront in die Parlement onomwonde die volgende gestel: “Die strewe deur die VF en ander Afrikaners na die ontwikkeling van ‘n spesifieke deel van die Noord-Kaap as ‘n `tuiste’ vir Afrikaner-taal en -kultuur binne die raamwerk van die Grondwet en die Handves van Menseregte, is na die mening van die regering  inderdaad ‘n legitieme strewe”. Verwys gerus na Hansard in hierdie verband.

Ons strategie se plooibaarheid word bewys deur die feit dat ons onsself nie slegs op eksterne selfbeskikking hoef te beroep nie. Ons kan deur die beoefening van ons regte as gewone burgers van Suid-Afrika reeds ‘n groot mate van outonomie (interne selfbeskikking) bereik deur ons reg op vrye beweging en op assosiasie uit te oefen en in die Noord-Kaap te gaan woon. Dit is fisies moontlik vir Afrikaners om die meerderheid kiesers in die Noord-Kaap se munisipaliteite en selfs die provinsiale wetgewer te vorm omdat die totale bevolking van die Noord-Kaap getallegewys minder is as die Afrikanervolk. Dit kan gedoen word sonder dat enige bestaande grense verskuif of veranderings aan bestaande wetgewing aangebring hoef te word. Ons het daarom nie nodig om onsself in die eerste instansie tot die internasionale reg te wend vir bereddering van ons situasie nie.

Die selfbeskikking wat inwoners van Kosowo onlangs verwerf het, dien egter as onteenseglike bewys dat die permanente, vrywillige skuiwing van mense aanvaar word. Kosowo word vandag deur ‘n meerderheid etniese Albaniërs bewoon, maar dit was nie altyd so nie. In die verlede het etniese Serwiërs Kosowo bewoon en die uitdrukking van hul kultuur daar reeds eeue gelede is oral te sien. Tog is die werklikheid gevestig dat Kosowo vandag deur ‘n meerderheid etniese Albaniers bewoon word en het die Internasional Geregshof in Den Haag bevind dat daardie “nuwe” inwoners van Kosowo ook op die reg op selfbeskking aanspraak kan maak volgens die reëls van die internasionale reg. Serwiese aansprake tot die teendeel en besware ten spyt.

Etniese Albaniërs het nooit in die verlede oor selfbeskikking in Kosowo beskik nie, maar tog is hul reg op selfbeskikking aldaar deur die Internasionale geregshof bevestig. Afrikaners kan dieselfde in die Noord-Kaap bereik.

 

Orania se strategie is strydig met die regte van die Noord-Kaap se inheemse bevolking

Die internasionale gemeenskap, by monde van die Verenigde Nasies, erken en beskerm die regte van die “eerste bewoners” of inheemse volke van lande. Onder hulle word getel die Aborigenes van Australië, die Maori’s van Nieu-Seeland, die Indiane in Amerika, die Suomi in Noord-Europa en les bes die San en Khoe van Suid-Afrika. Vervolgens mag inheemse bevolkings nie verdryf word, van hul grond onteien word, gedwing word om te verskuif of van hul reg op selfbeskikking ontneem word nie.

Daar word deur sommige gestel dat Orania se strategie (te wete meerderheidsbesetting deur Afrikaners in ‘n deel van die Noord-Kaap) neerkom op ‘n skending van die beskermde regte van die Noord-Kaap se “eerste burgers”.

Dit is egter niks anders as ‘n kwaadwillige valse voorstelling nie. Alle grond wat deur Oraniërs bewoon en bewerk word, is op wettige wyse verkry op grond van die beginsel van vrywillige koper en vrywillige verkoper. Geen wettige bewoners van grond is ooit of sal ooit teen hul wil verskuif hoef te word om Orania se strategie tot volle uitvoering te bring nie. Daarby sal alle inwoners van die Orania-gebied se reg op private eiendom en op selfbeskikking erken en gerespekteer word. Ook elkeen se reg om hul unieke kulture te bevorder en aan hul kinders oor te dra op die wyse wat hulle goeddink.

Dit is juis omdat dit vir Afrikaners moontlik is om ‘n meerderheid in die Noord-Kaap te vorm sonder dat enige iemand wat reeds daar woon of werk hoef pad te gee, dat die Noord-Kaap uitgesonder is as haalbare gebied vir  Afrikanerselfbeskikking deur die navorsing van SABRA.

Orania het lank reeds ‘n gevestigde tradisie van samewerking met alle burgers van die Noord-Kaap, insluitend die nasate van die San en die Khoe, waarvan die meerderheid ‘n taal met ons deel. Ons sien uit na die voortsetting van hierdie goeie bande. Tewens, ons weet dat ‘n Oraniabedeling groter steun vir die regte van die San en die Khoe sal bied as die bedeling van die ANC, soos bewys deur Solidariteit se hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste se diskriminasie teen die Bruin bevoling van die Wes-Kaap (insluitend die San en Khoe).

 

Daar bestaan reeds ‘n gebied waarin Afrikaners die meerderheid van die bevolking vorm

Die stelling word gemaak dat daar reeds ‘n gebied bestaan waar Afrikaners die meerderheid vorm; ’n gebied wat groot genoeg is om as selfstandige en selfonderhoudende staat te funksioneer. Daar word geargumenteer dat die bestaan van sodanige gebied dit onnodig maak vir Afrikaners om na die Noord-Kaap te trek om ‘n meerderheid in ‘n selfregerende gebied te vorm.

Dat daar geen enkele munisipaliteit binne die sg. aangewese gebied bestaan met ‘n Afrikaner as burgemeester nie, dien volgens my as voldoende bewys dat sodanige Afrikanermeerderheid slegs ‘n mite is.

Neem byvoorbeeld die munisipaliteit van Mafube in die Oos-Vrystaat. Dit is reg in die middel van die mitiese Afrikanermeerderheidsgebied, sluit talle groot Afrikanerdorpe soos Frankfort en Villiers in en tog is hierdie gebied se plaaslike munisipaliteit se personeel en raad stewig onder die beheer van ‘n demokraties-verkose ANC meerderheidsregering. Om inwoners van Bloemfontein en Pretoria (onderskeidelik 360 en 200 km van Frankfort af) by te sleep om ‘n “Afrikanermeerderheid” in Mafube te vervaardig, druis teen alle aanvaarbare norme van regverdige grensafbakening in. Ek sien daarna uit dat hierdie benadering in die Internasionale Geregshof getoets word, want dit sal die onregverdigbaarheid daarvan vir ieder en elk uitwys.

 

Die omvang van Orania se vordering na 20 jaar dui daarop dat Orania misluk het

Daar word maklik gesê dat Orania se bevolking van “slegs” 1,000 inwoners na 20 jaar daarop dui dat Orania misluk het. Wat moeiliker is om te doen, is om alternatiewe selfbeskikkingsbewegings aan te dui wat in dieselfde tydperk (of gedeelte daarvan) dieselfde of groter sukses behaal het.

Indien ons slegs na die laaste twee jaar kyk, het Orania daarin geslaag om byna 200 nuwe intrekkers die geleentheid te gee om vir die eerste keer in meer as ‘n dekade ‘n mede Afrikaner verantwoordelik te hou vir die bestuur en beleid van hul dorp (nie net ‘n woongebied nie, maar ‘n hele dorp met ‘n selfonderhoudende ekonomie). Meer as 300 kinders is blootgestel aan selfbeskikking-in-praktyk, geleer van die waarde van eie arbeid en geleer dat hulle dit waardig is om oor hulle eie lot te beskik. Meer as 20 nuwe woonhuise is gebou. Orania se bank is deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank erken. Orania se grondgebied is aansienlik uitgebrei met die aankoop van Vluitjeskraal Noord. Wie, insluitende ons kritici met hulle mitiese Afrikanergebied, het meer die afgelope twee jaar bereik vir Afrikanerselfbeskikking?

Orania se groeiende steun onder Afrikaners, groter internasionale bewustheid deur skakeling, groter samewerking met ander kulture deur wedersydse erkenning en groeiende ontwikkeling deur belegging is vir my ‘n riem onder die hart; wat elke dag in harde werklikheid wys dat ons strategie nie slegs in teorie goed klink nie.

Dit beteken egter nie dat ons tevrede is met ons beskeie sukses nie. Ons sal graag meer wil doen. Baie meer. Ons werk elke dag daaraan. Gideonsbendes kan die gang van die geskiedenis omkeer.

Vir ons leunstoelkritici sê ek: “Sluit aan by ons werklikheid en geniet die geur van ons varsgemaalde koffie”.  Hou hierdie stad in wording gerus dop.

Deel/Stuur

24 Reaksies op “Dui kritiek ernstige gebreke in Orania se strategie aan?”

  1. Quintin Diederichs 2 Mei 2013 at 09:41 Permalink

    Ek is bly dat ek gou ingeloer het by Orania Blog! Wat ‘n ongelooflik toonaangewende stuk skryfwerk!! Boekmerk gerus hierdie bladsy want hier word ‘n string feite en argumente vervat wat deur vele van ons in die toekoms gebruik gaan word.

    “Dat daar geen enkele munisipaliteit binne die sg. aangewese gebied bestaan met ‘n Afrikaner as burgemeester nie, dien volgens my as voldoende bewys dat sodanige Afrikanermeerderheid slegs ‘n mite is.”

    Dis ironies dat, uit byna driehonderd munisipaliteite, Timothy Nast (Midvaal, GT) en Ewald Loock (Baviaans, OK) die enigste blanke burgemeesters buite die Wes-Kaap is.

    Verder is dit ironies dat Orania die enigste erkende dorp in Afrika is wat deur Afrikaners bestuur word.

    Ek sou graag Cor Ehlers se teenargument wou hoor (in minder as 250 woorde)…

  2. Anthony Schlemmer 3 Mei 2013 at 08:40 Permalink

    Mnr Terblanche is ‘n Afrikaner wat weet waarvan hy praat.

    Orania gaan nog al hierdie liberaliste, spotters, onnosele esels ens. hulle woorde laat sluk!

    Om konstante groei te wys oor die laaste 20 jaar, onder die moeilikste omstandighede denkbaar, is prysenswaardig.

  3. Piet Pompies 6 Mei 2013 at 00:05 Permalink

    Amen

  4. Ben le Roux 7 Mei 2013 at 05:21 Permalink

    Ek stem saam met jou Quintin, nie meer as 250 woorde vir die heer Ehlers nie.

    Ek kan soos Piet Pompies ook net amen hierop sê.

  5. Dewald Scholtz 7 Mei 2013 at 08:16 Permalink

    Woorde wek maar dade trek.

    Die kritiek dui eerder die ernstige gebreke in die die kritici (wat NIKS het om te wys nie) se meesterplanne aan?

    Moet net nie ophou doen wat julle reeds doen nie.

  6. Gawie Snyman 7 Mei 2013 at 09:11 Permalink

    Baie dankie vir ‘n uitstekend beredeneerde stuk, Ebert!

  7. Wynand 7 Mei 2013 at 13:07 Permalink

    Inderdaad die allerbeste stukkie skryfwerk wat ek in die laaste dae gelees het. Die vordering van die laaste 2 jaar is natuurlik gebou op die fondamente van die 20 jaar wat dit voorafgegaan het. Meer as een keer in die laaste 20 jaar (ek het op 17 Mei 1993 in Orania ingetrek)het ek vir myself gesê: Soveel mense kan nie so aanhoudend so hard en met soveel opregtheid werk sonder dat resultate verwag kan word nie.

    Die feit dat ons die geleenthede van interne selfbeskikking gebruik, laat sommige kritici sê ons is tevrede daarmee. Natuurlik is ons nie tevrede daarmee nie, nes my veertienjarige seun nie met sy trapfiets tevrede is nie. Maar vir eers is dit wat ons kan bereik, en suksesvolle uitoefening daarvan skep die springplank na ons doel van eksterne selfbeskikking.

    Ek het al ouens wat net sulke armgatte soos ekself is, hoor vertel hoe ‘n mens eintlik maak om geld te maak. Ek voel dieselfde oor hulle as oor ouens wat vertel hoe maklik dit is om ‘n volkstaat te skep.

  8. Dante Strauch 7 Mei 2013 at 17:48 Permalink

    Mooi so! Demografie is tog op die ou einde waaroor dit gaan. En dit is Orania se voordeel: 100 persent Afrikaner! Daar is wel een ding wat die demografiese prentjie in die direkte omgewing drasties kan verander en dis die ontginning van skaliegas. Daar word beraam dat tussen 300 000 en 700 000 werksgeleenthede geskep kan word. Ek bly in die omgewing van die Medupi kragstasie waar daar maar 17 000 werke geskep is en ek kan julle belowe dit verander n plek vir die slegste! Weet julle dat Orania binne so n voorgestelde ontginnings gebied is? Dan gaan hidrobreking nog biljoene liter water benodig ook en dit kan tog net van die Oranje rivier gekry word…dit plaas ons geliefde Orania reg in die spervuur! Ek sal graag julle opinies hieroor wil hoor.

  9. Marna 8 Mei 2013 at 00:39 Permalink

    Geluk, Ebert, baie mooi bedink en beskryf…

    Dante, Orania is heelwat noord van die beoogde skaliegasontginnngsgebied geleë… Maar jy is reg die hele storie gaan vele aspekte van die omgewing en die bestaan van die mense beïnvloed…

    Ek het dit in redelike besonderhede in ‘n praatjie in Orania in 2011, beskryf…

    Ons sal beslis geraak word, veral as die vragmotors ons teerpad uitvind…

    • Dante Strauch 8 Mei 2013 at 07:43 Permalink

      Marna Orania is wel noord van Shell se eksplorasie gebied maar dit is omtrent in die middel van die prospekteer area van n maatskappy genaamd Sungu Sungu. Hier is n kaart: http://www.petroleumagencysa.com/files/Hubmap0911.pdf http://www.treasurethekaroo.co.za/fracking-facts/applications-for-shale-gas-exploration

    • Jacques du Toit 8 Mei 2013 at 10:27 Permalink

      Hoe ver is hierdie skaliegas ontgunning van Orania? Dit is baie slegte nuus.

      • Marna 8 Mei 2013 at 18:43 Permalink

        So 15km suid van Colesberg, 35km suid van Hanover.
        So 135 – 145km suid van Orania soos die kraai vlieg.
        Ons val in ‘n primêre en sekondêre opvanggebied wat uit die beoogde skaliegasontginningsgebied na die Oranje dreineer….

        • Jacques du Toit 8 Mei 2013 at 22:29 Permalink

          Hallo Marna, dankie vir jou terugvoer. Wat is die impak vir Orania?

        • Dante Strauch 9 Mei 2013 at 07:23 Permalink

          Ek het gister n boodskap met internet skakels gelos maar lyk my dit wil nie deur gaan nie. Marna jy weet seker beter as ek maar ek het afgekom op inligting wat dui daarop dat Orania wel noord is van Shell se ekplorasie gebied maar Orania val reg in die middel van die gebied van n gaseksplorasie maatskappy genaamd Sungu Sungu. As jy dit google sal jy die kaart kry wat dit aandui. Gaan kyk ook na “tkag” wat redelik inligting bevat saam met n kaart.

  10. Ben 13 Mei 2013 at 11:05 Permalink

    Gaaf dat daar ‘n Afrikaner kultuurdorp is, in ‘n “demokratiese” bedeling.

    Ek dink wel wyle Prof. Boshoff het gehoop op ‘n groter en vinniger instroming. Dit wat oor meer as 300 jaar opgebou is kan ook nie so maklik agtergelaat word nie.

    Dit gaan ook nie so gou gebeur dat almal in die Noordkaap vir die Vryheidsfront stem nie. In watter mate kan die gebied hoe ekonomiese ontwikkeling (in Afrikaans dra)? Die nuwe skaliegas ontwikkelaars gaan seker nie Afrikaans as amptelike taal gebruik nie… so-ook nie mynmagnate nie.

    • E Terblanche 14 Mei 2013 at 15:05 Permalink

      Ben, dankie ons hou ook nogal van Orania.

      Ek dink egter almal van ons, en nie net wyle prof. Boshoff nie, sou graag groter betrokkenheid en meelewing van Afrikaners in Orania se ideaal vinniger wou ervaar. Niks kom egter vanself nie en die harde werk om steun te werf vorder wel, stadig maar seker.

      Die gedagte dat “dit wat oor 300 jaar opgebou is, nie so maklik agtergelaat kan word nie” dui op die belangrike aspek van sentimentele waarde wat ons aan ons geskiedenis, die plekke waar ons groot geword het en ons gewerk het, heg. Ons moet egter ook versigtig wees vir sentiment, want soos met Lot se vrou kan sentiment ons nie van ‘n werklike tragedie red nie.

      Orania se ekonomiese ontwikkeling sal gedryf moet word deur die belegging van Afrikaners wat nie tans op Orania bly nie. Dit moet gebeur, maar dit hoef nie gouer te gebeur as wat Afrikaners reg is daarvoor nie.

  11. E Terblanche 14 Mei 2013 at 14:51 Permalink

    Die vraag oor die impak van hidrobreking en skaliegasontwikkeling op die demografie en ekonomie van die Noord-Kaap is ‘n interessante een.

    Uit die aard moet daar eers kommersieël-ontginbare reserwes gevind word en dit is waarom daar tans met eksplorasie begin is. Hoewel ek ‘n leek is, lyk dit egter nie vir my of die groot getal werksgeleenthede by die punt van ontginning geskep word nie, maar eerder stroomaf in elektrisiteitsopwekking en die effek wat goedkoper energiekoste op die algemene ekonomie het, byvoorbeeld verbeterde kompeteerbaarheid van plaaslike vervaardiging en verhoging in die spandeerbare inkomste van huishoudings.

    Vir elke 1 werk wat daar dus in die Noord-Kaap geskep word deur skaliegasontginning sal daar seker 100 in die res van Suid-Afrika geskep word. Onthou dat moderne hidrobreking ‘n hoogs gemeganiseerde proses is. Daar het in die VSA nie nuwe stede ontstaan rondom die gasbore nie.

    Die negatiewe impak op Orania daarvan sal moontlik eerder wees in die vorms van besoedeling van water, grondwater en die deutrap van paaie deur trokke wat die ontginde gas aanry. Dit sal jammer wees, maar die res van die land, veral die Transvaalse Hoëveld, is reeds erger daaraan toe wat dit betref.

  12. Jaco P 16 Mei 2013 at 20:35 Permalink

    Praat vermag niks, Orania is die enigste wat iets omtrent Afrikaner selfbeskikking doen. Lyk my die ander ouens dink die ANC gaan vir hulle ‘n volkstaat gee as hulle dit net eis. Ek dink dit is dagdromery om te dink hulle gaan selfs net ‘n gedeelte van ‘n stad soos Pretoria afgee. Selfbeskikking sal ook nie verwesenlik word as jy steeds volksvreemde arbeiders in jou huis en tuin wil gebruik nie.

    • E Terblanche 20 Mei 2013 at 13:50 Permalink

      Heeltemal reg Jaco.

      Tydens die inhuldiging van Suid-Soedan (nuutste erkende staat in die wêreld), het Susan Rice (die VSA se ambassadeur aan die VN) die volgende gesê: “Independence was not a gift you were given. Independence is a prize you have won.”

      So werk dit maar in die regte lewe.

      Selfs Thabo Mbeki het die uitdaging soortgelyk aan pro-volkstaters tydens die onderhandelinge voor 1994 gerig: “Go and create a de facto reality and the ANC will deal with it de jure.”

      Iets wat nie in praktyk bewerk is nie, kan nie wetgewers se hande dwing tot erkenning nie.

      Dit is waarom Orania sukses behaal; elke bietjie praktiese vordering bring verhoging in status en verdere erkenning. Dit stel ‘n werklikheid, wat soos met Soweto tydens Apartheid, nie deur die regering van die dag bloot weggewens kan word nie.

  13. Paul 20 Mei 2013 at 22:36 Permalink

    Ebert, uitstekende artikel. ‘n Boom word sowaar aan sy vrugte geken, en as ek kyk na dit wat alreeds op Orania bereik is sonder staatshulp en met Godshulp, dan is daardie boom aan die groei, stadig maar seker (of ons mense dit nou wil erken of nie).

    Kyk mens na die bome buite Orania wat geplant is vir ons mense se behoud en voortbestaan, wel, dan moet mens terug staan en jouself in alle erns en eerlikheid afvra: Waar is ons gevoel van gemeenskap heen? Waar is ons gevoel van volkswees heen? Waar is ‘n groot gedeelte van ons taal heen? Waar is ‘n groot gedeelte van ons kultuur en godsdiens heen? Waar is al die werksgeleenthede heen?

    Dit is vir my so duidelik soos daglig, in elk geval waar ek staan, dat Orania ons as Afrikaners se belange die beste op hierdie stadium, nie slegs verteenwoordig nie, maar uitleef. Dit is natuurlik ‘n mede burger se volste reg om met my te verskil in hierdie verband, maar dan wil ek graag he U moet vir my wys watter organisasie, groep, plek of invidividu dra ons belange beter as Orania op die hart. Ons kan dan vrug met vrug vergelyk en prestasie volgens dit meet.

  14. Lydia 21 Mei 2013 at 11:16 Permalink

    Ek wil net op een ding kommentaar lewer, nl die uitslag van die sensus van 2011, of dit nou presies die ware syfers weergee of nie: dat Afrikaans die taal is wat tweede meeste gebruik word in ons land. Dit was ook die uitslag van die vorige sensus. As dit dan waar is – selfs al lê ons dalk derde en steeds meer as Engelssprekendes – WAAROM hoor ons julle nie? Is daar dan net 1000 Afrikaanssprekendes wat sigbaar is? Hoe is dit moontlik dat daar soveel Afrikaners in ons land is en daar kan nie ersntig genoeg kapsie gemaak word teen Engelse of enige ander oorheersing nie? Dankie vir die nuwe Afrikaanse flieks en dankie vir al die derduisende nuwe Afrikaanse liedjies al is dit ook wat … Maar waarom stap ons in ‘n oorwegend Afrikaanse dorp by ‘n bank in en alle geskrifte is in Engels. Waarom laat ons toe dat hierdie promosie-mense jou tyd op die telefoon en selfoon mors en dit in – meesal – geradbraakte Engels. Waarom kan mens baie effektief van hulle ontslae as jy net daarop aandring om in Afrikaans aangespreek te word. Waarom sal die meerderheid Afrikaanse winkeleienaars – weereens, op die hoofsaaklik Afrikaanssprekende platteland – Engelse of uitheemse name vir hul winkels gebruik, buitelandse produkte na-aap, alles in Engels adverteer “want die meeste mense verstaan Engels.” Ek het hoegenaamd niks teen Engels of enige ander taal of kultuur nie. Ek wonder net waar is die stem van die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes en waarom is ons dan so bang dat ons taal gaan verdwyn. Hoekom GEBRUIK ons dit nie net nie? Op Facebook is dit beslis nie sigbaar onder LW – Afrikáánssprekendes nie! Ons sal net onsself kan blameer beide vir die kwaliteit en / óf vir die voortbestaan daarvan. Ek is nie ‘n Oraniër(?)nie, so as hoofsaaklik Oraniërs hierdie blog besoek is my hele betoog seker verniet.

  15. Revo, Revas, Revat 21 Mei 2013 at 18:37 Permalink

    Wat sal ‘n mens van al hierdie dinge se^?

  16. Revat = HY KOM ('n verbuigde vrom vna my naam) 22 Mei 2013 at 03:31 Permalink

    Nadat ek laasnag my opmerking hierbo geplaas het, het ek omtrent half-een vanoggend wakker geword en het Ebert se skrywe weer na my gekom. Ek is nie ‘n geleerde mens soos baie van julle nie, ook is ek nie baie vaardig met die woord nie, maar ek vrees die TWEEVOUDIGE MAGTIGE VAN WAAARHEID EN LIG, en dit is hierdie eerbied wat my dwing om sekere vrae te vra en aanklagtes te maak. Mag my woorde en vermaninge die verstandiges onder ons aanspreek.

    Eers sy woorde: Eenstemmigheid heers in Afr.kringe dat daar wel groot onsekerheid bestaan oor hoe ons kultuur en lewenswyse daaruit sal sien na 50 of 100 jaar van nou af.

    Ek vra: In Wie se Hand is en was ons lotgevalle tot nou toe gewees? Ek verwys na die wonders soos met die slag van Bloedrivier en Majuba, maar dan ook na die minder bekende gevalle waar duisende individue onder ons wonderbaarlik van ongelukke bewaar gebly het?

    Dit klink amper paradoksaal, maar wat is die onderliggende Dryfkrag wat hierdie dinge bepaal? Blykbaar verstaan ons nie die Skrfte mooi nie, maar die profeet Esegie-el bewoord die Almagtige se probleem soos volg: Hy sit met ‘n volk wat Hy ten aanskoue van baie volke uit die slawehuis met groot krag en majesteit gelei het; direk met hulle vanuit die vuurkolom/wolk gespreek het; Sy edele wet in hulle midde aan hulle gegee het; maar ook die se-eninge en vloeke aan hulle voorgehou het wat sou volg wanneer Sy ewige wet onderhou of verwerp sou word.

    Dan moet ons veral let op die bepaling dat, sou Sy volk volhard en nie na Hom luister nie, Hy hulle uiteindelik van Sy Aangesig sal verdryf (wegwerp) tot aan die eindes van die aarde, en daar sal hulle hulle vyande dien!

    Dan die wonder, ten spyte van al hierdie verskriklike dinge sal HY TER WILLE VAN SY GROTE NAAM WAT HULLE VERAG HET, TOG WONDERBAARLIK MET HULLE HANDEL (Bloedrivier, Majuba en al Sy wonderhaarlike handelinge met van ons mense); ook sal Hy dink aan Sy verbond met die vaders en terwille van Sy grote Naam dit weer in gedagtenis roep.

    So, wat se^ al hierdie dinge vir ons? Is ons nie miskien die nageslag van oortreders oor wie al Sy woorde waar geword het nie? En het ons nie vanaf ons tweede heerser (Shelomo) wie die wysste man op die aarde was, deur al ons geslagte heen gruwelooslik teenoor Hom oortree nie? Ten aansskoue van al Sy hemelinge stel ons tot vandag toe Hom, DIE EWIG-LEWENDE, gelyk aan vreemde magtiges, dinge wat Hy ons verbied het.

    En hoe doen ons dit? Het julle nie geweet dat G-O-D, H-E-R-E, L-O-R-D, H-E-I-L-I-G almal name is van sonaanbiddings-idole nie? Sonder om navraag te doen of dinge te ondersoek, het ons deur ide eeue heen hierdie tendens gevolg. Maar dit was veral na Messias toe ons oorgegee was aan die verwarrende gees van Babel (en hoe kragtig is sy verwarring nie!?) dat Satani-el en sy bende ons op sleeptou geneem het. Hoe is die ewige Naam van ons Meester (Ja-ho^-shua = JAHH [DIE EWIG-LEWENDE] IS VERLOSSING!) nie kwaadwillig met die Grieke se genesingsidool j-e-s-u-s vervang nie? En ons het gedink ons gaan hiermee wegkom! Kyk net ‘n bietjie na al die elende wat ons oorval het!

    Hierdie saak is nie so eenvoudig nie, die Siener het immers gesien dat dit nog stikdonker vir ons gaan word. Maar was dit nie vir Hom wat tog nog goeie gedagtes aangaande ons koester nie (ter wille van sy grote Naam wat ons verag het!) wat sou van ons geword het oor 50 of 100 jaar vorentoe? Dankie tog vir wat die profeet ook hier gesien het: Vanaf anderkant die riviere van Kus (midde A-f-r-i-k-a* = die naam wat die Romeine aan hierdie kontinent gegee het na hulle dit oorwin het, ter ere van hulle oorlogs/oorwinnings-idool A-F-R-I-Q-E) vandaan sal MY VERSTROOIDE GEMEENTE MY GESKENKE BRING! WAT ‘N VOORUITSIG, WAT ‘N WONDER!

    * EN ONS NOEM ONS MET TROTS A-F-R-I-K-A-N-E-R-S!? G’n wonder dat die siener gesien het ons kry ‘n nuwe TAAL! GELOOF! REGERING!

    Verdra my asb, maar ek kan nie meer stilbly nie.

  17. Sebastiaan 31 Mei 2013 at 11:13 Permalink

    Uitstekend beredeneerd, Ebert.


Lewer Kommentaar

*