11 Februarie 2013 ~ 2 Kommentare

Al ooit van Bhutan gehoor?

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Die Amerikaanse ekonoom Richard Easterlin het vasgestel dat ‘n groeiende inkomste slegs tot op ‘n sekere punt vir ‘n individu geluk kan bring. Iemand wat onder die broodlyn leef en weens ‘n skielike styging in inkomste nie meer hoef te twyfel oor waar môre se bord kos vandaan gaan kom nie, kry sekerlik ‘n ‘geluksinspuiting’, maar ‘n persoon in die boonste deel van die middelklas het heelwat meer as net ‘n groeiende inkomste nodig om gelukkig te wees.

Die Westerse wêreld sien volgens verskeie opnames ‘n toename in ongelukkigheid onder mense wat eintlik finansieel heeltemal goed vaar. Ekonomiese onsekerheid skep byvoorbeeld in lande soos die VSA, Spanje en Italië grootskaalse ongelukkigheid.

Dit bring my by Bhutan. Dié klein landjie in Asië het ‘n bevolking van slegs 738 000 mense. Bhutan het egter ekonome regoor die wêreld anders na ekonomiese vraagstukke laat kyk met hul besluit om ‘n Bruto Nasionale Gelukkigheidsindeks (BNG) in te stel. Dié monargie gebruik BNG reeds sedert 2008 as ‘n belangriker maatskaf as die tradisionele Bruto Binnelandse Produk (BNP), om regeringsvordering te bepaal.

Waarom hierdie alternatiewe fokus in Bhutan? Die huidige eerste minister van Bhutan noem in ‘n onderhoud met die tydskrif Time dat hulle probeer om ‘n alternatief vir die geweldige druk wat met die Westerse fokus op materialisme saamkom, te skep. Sy opvatting is dat mense se strewe na ‘n groter inkomste in Westerse lande tot ongelukkigheid en selfs depressie aanleiding gee. Die fokus in Bhutan is op vier pilare, naamlik volhoubare ekonomiese ontwikkeling, omgewingsbewaring, die bewaring en handhawing van kultuur en goeie regering. Hierdie model van Bhutan word reeds deur ekonome beskou as ‘n interessante alternatief tot die Westerse kapitalisme wat tot dusver in baie lande ‘n negatiewe effek op die gesinslewe, die omgewing en ‘n gemeenskap gebou op gelykheid en samewerking, gehad het.

Die Bhutan-model stel voor dat geluk iets is wat van onder af moet ontwikkel, eerder as iets wat deur ‘n regering aan sy mense gegee kan word. Die regering in Bhutan onwikkel dus alle regeringsplanne en beleid met ‘n fokus daarop om die individu, die gesin en die gemeenskap te bemagtig om hul omgewing te beskerm, volhoubare ekonomiese praktyke daar te stel, hul kultuur te beskerm en met trots te kan beoefen en ‘n kultuur van goeie regering op elke vlak te ontwikkel en te koester.

In 2010 het Bhutan vir die eerste keer hul gelukkigheidsindeks getoets deur onderhoude met 8000 landsburgers te voer. Vrae wat gevra is, sluit in: Op hoeveel mense kan jy vir steun staatmaak sou jy vandag siek word? Wanneer laas het jy saam met jou bure gekuier? Hoe gereeld praat jy oor geestelike sake met jou kinders?

Die vraag wat ons in ‘n groeiende Orania onsself moet afvra, is wat vir ons belangrik is. Weeg ons ons geluk slegs aan ‘n groeiende inkomste? My oortuiging is dat daar groot ooreenkomste tussen Orania en Bhutan is en kan wees. Indien ons die vier pilare waarop die Bhutan-model gebou is, navolg, kan ons oplossings vind vir die toenemende probleme van ongelukkigheid en ‘n onbevredigende lewe wat vandag deur soveel Afrikaners gelei word. Orania kan deur die Bhutan-model ‘n alternatief bied vir die baie Afrikaners wat ten spyte van ‘n goeie inkomste moet saamleef met onvolhoubare ekonomiese praktyke (regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, grondhervorming, die welsynstaat, ens.), praktyke wat die omgewing groot skade berokken, ‘n toenemende vertrapping van ons kultuur en ‘n falende, korrupte regering waarvan die regeringspraktyke reeds tot op verskillende vlakke van ons samelewing deurgedring het.

Ons kan beter doen en ‘n goeie begin kan wees deur die ontwikkeling van ‘n unieke ekonomiese model vir Orania, gebaseer op die modelle van Bhutan, maar ook talle ander lande waar geluk nie net oor geld gaan nie.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Al ooit van Bhutan gehoor?”

  1. Johan 21 Februarie 2013 at 18:42 Permalink

    Jaco, Ek het jou bydrae baie interesant gevind en kan bevestig dat in die stad waar ek bly baie min kontak met bure voorkom. Elkeen hou hom maar besig met sy eie belange en probeer so veilig as moontlik bly agter die hoe mure en elektriese heinings. Die buurt verteenwoordig ook al hoe meer verskillende kulture wat nie veel in gemeen het nie, so vrywillige kontak word grootendeels vermy. Van die vier pilare waarna jou artikel verwys, is daar min om waar te neem in Suid Afrika en bly dit maar ‘n droom by baie van ons mense. My mening is dat Orania ‘n Buthan in Afrika kan word en dat in ‘n mate drie pilare reeds suksesvol nagejaag word. Die pilare is omgewingsbewaring, die bewaring en handhawing van kultuur en in ‘n mate goeie regering (sover as Dorpbestuur aangaan). Die vierde pilaar is egter in my opinie die grootste uitdaging want sonder volhoubare ekonomiese ontwikkeling sal min afrikaners kan oorleef en gelukkig wees in Orania. Ek praat nie van die najaag van materialisme nie, maar eenvoudige ordentlike oorlewing! Dit sal interesant wees on ook so ‘n BNG indeks te bepaal onder huidige Orania inwooners en dit te vergelyk met uitwooners soos ek se BNG indeks?

  2. Simon 2 Augustus 2013 at 01:50 Permalink

    Die web blad skakel het ‘n paar aantal grafieke wat o.a. b.g. beaam en ander insigte opbring. Kyk b.v Suid Afrika se verskuiwing in posisie in grafiek nommer drie.

    http://www.worldvaluessurvey.org/wvs/articles/folder_published/article_base_56


Lewer Kommentaar

*