28 November 2017 ~ 4 Kommentare

3de Carel Boshoff Gedenklesing: Kinders van die tagtigs. Nagedink oor oom Carel se Voortrekkerjeug vanuit eietydse konteks.

Geskryf deur Dr. Danie Langner

Hierdie 3de Carel Boshoff Gedenklesing is op 9 November 2017 deur dr. Danie Langner in Pretoria gehou.

 

Inleiding

Dankie aan EPOG en die Boshoff-familie vir die voorreg om op die dag waarop Professor CHW Boshoff, negentig sou word, die Carel Boshoff-gedenklesing aan te bied.  Dit is gepas om op die spesiale dag te reflekteer oor ’n saak wat oom Carel, soos ons hom in Die Voortrekkers geken het, na aan die hart gelê het, naamlik die Afrikanerjeug.

Die gedenklesing fokus hoofsaaklik op oom Carel se bydrae as Hoofleier van Die Voortrekkers vanaf 1981-1989. Die risiko bestaan dat sy unieke bydrae in Die Voortrekkers amper ongesiens verby kan gaan. In sy outobiografie verwys hy in ’n enkele hoofstuk, skaars 20 bladsye, na sy betrokkenheid by Die Voortrekkers waarvan 4 bladsye handel oor sy agtjaar as Hoofleier. Dalk is dit ook nie sonder goeie rede nie, want die belangrikste Voortrekkerwerk gebeur in die span en plaaslike gemeenskap. Dit is goed om 16 bladsye daaraan te spandeer. Die 4 bladsye sê egter heeltemal te min van sy nalatenskap en dienswerk as Hoofleier. Dit laat egter nie reg geskied aan sy unieke bydrae en nalatenskap as Hoofleier nie. Dit laat ook die deur oop vir ‘n risiko dat sy wye betrokkenheid op ander samelewingsterreine as maatstaf aangelê kan word vir die evaluering van sy twee termyne as Hoofleier, sonder dat sy unieke bydrae binne die konteks kulturele raamwerk van Die Voortrekkers beoordeel word.

Hoekom nadink oor oom Carel se Voortrekkerjeug? Tydens die afgelope kongres is veertien jeuglede van die tagtigs op die nuwe Hoofbestuur verkies, waaronder die Hoofleier en drie van die vyf gebiedsleiers. Oom Carel het Hoofleier geword toe ek standerd 1 (graad 3) was en uitgetree toe ek in standerd 9 (graad 11) was. ’n Groot getal Voortrekkeroffisiere en ouers wat vandag by Die Voortrekkers is was die tagtigerjare jeuglede. In ’n sekere sin is ons nie vanaand net besig met die geskiedenis nie, maar ook met die toekoms van die Voortrekkers. Inge Kühne, adjunkredakteur van Rapport, self ’n kind van die tagtigs en vandag ’n Voortrekkerouer, verwys in ’n ongepubliseerde artikel na die Boetmandebat wat in 2000 afgespeel het. Chris Louw het in ’n brief teen Wimpie de Klerk en die Afrikaner-establishment te velde getrek wat sy geslag in ’n verlore stryd teen die ANC ingetrek het en toe by die onderhandelingstafel só swak bedeling beding het dat hulle weens regstellende aksie wéér die spit afgebyt het. Uit die openbare reaksie was dit duidelik dat daar duisende Boetmanne is wat baie kwaad is. Die invloede op en belewenisse van die Boetman-generasie is baie goed gedokumenteer, terwyl daar nog bittermin oor die kinders van die tagtigs gepubliseer is.  Kühne wys tereg daarop indien Chris Louw geleef het, was hy vandag 62, terwyl die matrieks van 1989 vandag ongeveer 45 jaar oud is. Dit is duidelik dat die kinders van die tagtigs nie deel van die Boetman-generasie is nie. Miskien lewer die gedenklesing ‘n klein bydrae om oom Carel se Voortrekkerjeug te begelei tot selfinsig in die ontwikkeling van ons kulturele denke en die eietydse toepassing daarvan op ons kultuurtoekoms.

Oom Carel word Hoofleier Vir Afrikaners en Die Voortrekkers was 1981 ’n belangrike feesjaar. Op 31 Mei 1981 het die Voortrekkers die twintigste jaar van Republiekwording herdenk en op 30 September van dieselfde jaar het Die Voortrekkerbeweging hulle halfeeufees gevier. Tussen die twee gebeure het die Feeskongers in Bloemfontein plaasgevind waar Die Voortrekkers 50 jaar vantevore gestig is, en die eerste Voortrekkers deur genl. JBM Hertzog ingelyf is.  Alhoewel Hoofleier Badie Badenhorst reeds tydens die laaste Hoofbestuur sy uittrede by die kongres aangekondig het, was sy onverwagse dood kort voor die kongres ’n groot skok. Oom JFP (Badie) Badenhorst was geliefde Hoofleier van 1966 tot 1981.

Oom Bennie Badenhorst wat vanaf 1972 as Hoofsekretaris gedien het, is op 10 Julie 1981 as Hoofleier verkies om die kongres in die oorgangstyd te lei totdat ’n nuwe Hoofleier verkies kon word.  Oom Carel was nie onbekend in Die Voortrekkers nie. In Pretoria was hy kommandoleier van Suiderkruis Voortrekkers waar hy verskeie Leeuspanne tot by Hoofleierswag en Presidentverkennervlak begelei het. Suiderkruis-kommando het meer as 1000 lede gehad en was die grootste Voortrekkerkommando in die land. Terloops, Suiderkruis is vandag steeds die grootste Voortrekkerkommando in die land onder die bekwame leiding van oom Carel se oudtste seun, Professor Willem Boshoff.  Oom Carel is bygestaan deur sy baie dinamiese eggenote, mev. Anna Boshoff, wat baie Voortrekkeroffisiere gemeen het, self ’n uitstekende keuse vir Hoofleier van Die Voortrekkers sou wees.  Op die laaste dag van die feeskongres, 15 Julie 1981, word oom Carel as die sesde Hoofleier verkies. Terselfdertyd is mev. Magriet Muller van Kaapland tot Onderhoofleidster verkies en mnr. JC (Jan) Oelofse, ’n prokureur van Pretoria in oom Bennie se plek as Hoofsekretaris verkies. Slegs twee jaar later bedank mev. Magriet Muller as Onderhoofleidster en word deur mev. Miems Swanepoel van Kaapstad opgevolg. Terselfdertyd word die Hoofdagbestuur uitgebrei deur die toevoeging van ’n Adjunkhoofsekretaris, latere Hoofsekretaris, in die persoon van mnr. Izak Lessing. Die splinternuwe span leiers moes Die Voortrekkers koers gee in ’n tyd waar die onweerswolke al digter saamgepak het oor die Afrikanerstaat.    Oom Carel saam met onderhoofleidster Miems Swanepoel van Kaapstad.

Jeugweerbaarheid Statistiek toon dat Die Voortrekkers se ongekende getallegroei in die laat sewentiger- en tagtigerjare direk verband hou met die uitbreek van die Sowetoonluste en Suid-Afrika se betrokkenheid by die Grensoorlog. Teen 1984 het Die Voortrekkers ’n hoogtepunt met ongeveer 60 000 lede bereik. Kühne vertel hoe kinders in Afrikaanse skole noodplanne ingeoefen het: “Een lang fluit vir ’n brand. Twee langes vir ’n bom. En die groot meneer: kort-lank-kort. Dit het beteken daar was terroriste in die skool.”  In 1981 meld die kwartaallikse blad, Hou Koers, die kommer oor die merkbare verskerping van stedelike terreur. In die 50-jaar Feesboek word verduidelik: “Om weerbaar en paraat te wees moet ’n mens jou land en sy vyande ken. Ook hierin skool Die Voortrekkers ons jeug. Baie vaardighede soos kaartlees en kompaswerk, skietkuns, selfverdediging, vermomming en bekruipkuns word in die loop van Voortrekkerwerk aan jongmense oorgedra.”  Die verhouding tussen die Weermag en Die Voortrekkers was in die sestiger- en sewentigerjare uitstekend. Die Weermag het Die Voortrekkers logisties ondersteun. Betrokkenheid by Die Voortrekkers is saam met jeugweerbaarheidsperiodes, veldskole en skoolkadette, gesien as die ideale voorbereiding vir latere diensplig vir die seuns en vrywillige opleiding vir dogters by die SA Leërvrouekollege in George. Die gevoel van ’n staatsbedreiging en ‘n totale aanslag wat in die tagtigerjare toenemend ’n greep op die psige van die Afrikaners ’n houvas gekry het, word ook in die Voortrekkersangbundel weerspieël. Die lied is o in die 50-jaar Feesgedenkbundel aangehaal:

Aan ons grense maak die vyand  planne om ons land te vat,  ons grond te bevlek met ons bloed; in die veld sal ek my vaderland verdedig en oorwin of val soos ’n man as dit moet.

Soos wat die politieke klowe tussen Afrikaners verdiep het, het daar in die laat tagtigerjare ’n mate van vervreemding tussen die Voortrekkers en die SWA begin intree. Volgens genl. Gert Opperman was daar ’n gevoel dat Die Voortrekkers, deur politieke assosiasie met die regse vleuel van die Afrikanerpolitiek, “gekontamineer” geraak het. Om die vervreemding te oorbrug, het die Hoofdagbestuur op uitnodiging van pres. PW Botha, destyds Die Voortrekkers se Hoofbeskermheer, met ’n straalvliegtuig na die grens gevlieg om nader kennis te maak met die toestande op die grens waaraan Afrikanerjeug blootgestel is.  Mnr. PW Botha het opdrag gegee (waarskynlik op aanbeveling van genl. Magnus Malan), dat genl. Gert Opperman, toe Militêre Sekretaris, die Hoofdagbestuur na die grens sal vergesel. Genl. Opperman was gedurende die tydperk van 1984 tot 1988 ook die Kommandant van die Uit-en-Tuis Voortrekkerkommando in die parlementêre dorp Akasiapark, waar Afrikaners van regoor die politieke spektrum as Voortrekkeroffisiere gedien het. In die paar dae is besoek gebring aan al die hoofbasisse van die operasionele gebied. Op Rundu was oom Carel die geleentheid gebied om op ’n parade met ’n groot groep swart soldate van die Kavango te praat. Genl. Opperman onthou: “Groot was ons, en die soldate, se verbasing toe sy hele, onvoorbereide praatjie vlot in ’n swart taal gelewer is. ’n Mens het onwillekeurig die gevoel gekry dat hy hulle situasie goed verstaan en baie effektief met hulle gekommunikeer het.”

Ten spyte van die grensoorlog, binnelandse geweld, ekonomiese sanksies, het die kinders van die tagtigs tog in ’n geborge gemeenskapslewe grootgeword waar kerk, skool en kultuur in noue vennootskap was. Die oorlog was op die grense en die geweld hoofsaaklik beperk tot swart woonbuurtes. Baie oud-Voortrekkers wat in dié era jeuglede was, dink steeds nostalgies terug aan die kampe, groot parades, bruin uniform, die reuk van die weermagtente en die aangrypende sang van ’n duisend kinderstemme.

Afrikaner skeurings Teen 1982 het die vraag om Afrikaners se voortbestaan en ’n volhoubare politieke oplossing akuut geword. Die politieke skeuring in 1982 tussen dr. Treurnicht, destyds Transvaalse leier van die Nasionale Party en Eerste Minister PW Botha met sy Kaapse magsbasis, het soos ’n warm mes in botter regdeur die Afrikanerwêreld gesny. Feitelik elke Afrikanerinstelling, van kerkrade, skoolbestuursrade, kultuurrade tot dorpsrade is hierdeur geraak.  Dit was nie ’n skoon breuk of ’n geniepsige broedertwis nie. Die skeuring van die Nasionale Party in 1982  het intense en bitter gevegte tot gevolg gehad wat ook uiteindelik sou lei tot die skeuring van die NG Kerk in 1986 en die FAK in 1988.  Op feitlik elke terrein het Carel Boshoff sentraal in die brandpunt gestaan as voorsitter van die AB, professor in Teologie, direksielid van die FAK en later as voorsitter van die Afrikaner Volkswag.

Soos in elke Afrikanerinstelling het die spanning ook Die Voortrekkers intens geraak. In die Hoofbestuur het Transvaal en Kaapland, Noord en Suid teenoor mekaar te staan gekom. In die Hoofdagbestuur is oom Carel as Hoofleier en, ironies genoeg, die Kaapse onderhoofleidster Miems Swanepoel as regs beskou. Laasgenoemde was werksaam by die maatskappy van Europese immigrasie in Kaapstad, wat later jare by AfriForum sou inskakel. Hoofsekretaris Jan Oelofse en Izak Lessing is as polities liberaal beskou.

Politieke spanning in Die Voortrekkers was egter nie iets nuuts nie. Die Voortrekkers is in 1931 gestig te midde van ’n polities en ekonomies onstuimige tyd. Met die stigting van Die Voortrekkers het die eerste Hoofleier, dr. NJ van der Merwe, wat tegelyk ook Vrystaatse leier van die Nasionale Party en LV vir Wepener was, verklaar dat twee dinge onverhoord in Die Voortrekkers uitgesluit word, naamlik partypolitiek en rassehaat. “Daar is nasionale belange wat die volk hegter aanmekaar bind as wat hy verskeur word deur die verskille van partypolitiek.” Kort na die stigting van Die Voortrekkers het ’n politieke skeuring plaasgevind tussen die Gesuiwerde Nasionale Party van dr. Malan en die Smelter-regering van genl. Hertzog.  Beide dr. Van der Merwe as Hoofleier en mev. MM Jansen, die onderhoofleidster, het hulle polities aan die kant van dr. Malan bevind. Hiervoor is hulle skerp aangeval. Die Volksblad, ’n sterk ondersteuner van genl. Hertzog, het geëis dat beide die Hoofleier en onderhoofleidster hulle verbintenis met Die Voortrekkers as kultuurbeweging verbreek.  Die twee Voortrekkerleiers het hulle teen die openbare eis gestaal en hulle verbind om binne die Voortrekkers niks anders as die grondslag, wese en doelstellings van die beweging na te streef nie.

Die spanning in Voortrekkergeledere het ’n hoogtepunt bereik met die herverkiesing van oom Carel as Hoofleier tydens die 1985kongres. Kort voor die kongres het mev. AO Lemmer aan hom geskryf: “U sal ware heldemoed aan die dag lê en toon dat u die Afrikaner se belange op die hart dra indien u as Hoofleier van Die Voortrekkers uittree. Duisende ouers sal hulle kinders onttrek of nie laat aansluit nie indien u weer verkies word.” Aan die ander kant stel Schalk van Vuuren, destyds ’n Voortrekkeroffisier in Kranskop-kommando in Nylstroom en later adjunk-Hoofleier Finansies onomwonde: “Indien oom Carel sou loop, sou meer as die helfte van die Voortrekkerbeweging sonder twyfel saam met hom geloop het.”  Die kongres op Stellenbosch was een van die bes bygewoonde kongresse in Die Voortrekkers. Die Kaapland provinsieleier en latere Hoofleier, prof. Tom Dreyer, het homself as uitgesproke teëstander teenoor oom Carel opgestel. Oom Carel het die Hoofleiersverkiesing met net 23 stemme gewen. ’n Simptoom van die verdeeldheid onder Afrikaners.    “Indien oom Carel sou loop, sou meer as die helfte van die Voortrekkerbeweging sonder twyfel saam met hom geloop het.”

 

Waarom het Die Voortrekkers nie geskeur nie?  Die ooglopende antwoord is omdat oom Carel, soos dr. NJ van der Merwe, met die aanvaarding van Hoofleierskap, hom doelbewus voorgeneem het om die grondwet en tradisies van die beweging te eerbiedig. Hy bevestig die verbintenis ook in sy outobiografie. Hy het tydens die 1985-kongres na die politieke klimaat van die dertigerjare terugverwys en in eietydse konteks toegepas.

Dit was ook die waarneming van Izak Lessing dat die spanning “nooit tot so ’n mate was dat die werksaamhede van die Beweging nadelig geraak is nie omdat ’n benadering van Voortrekkerdoelstellinggerigtheid altyd die botoon gevoer het. Vir my persoonlik het my gesindheid teenoor prof. Boshoff totaal verander van ’n aanvanklike groot mate van wantroue oor ons politieke verskille tot ’n gevoel van totale waardering van oom Carel as mens se Christenskap – ek beskou hom as een van die mees volkome Christene waarmee ek ooit te doen gehad het. Waar krisisse ontstaan het, het hy dit rustig hanteer sonder om groot bohaai daaroor te veroorsaak. Hy het deurgaans uiters versoenend opgetree, sonder om sy persoonlike oortuigings prys te gee.”  Sensitiwiteit vir die unieke aard van ’n kultuurorganisasie tesame met ’n lewenshouding van respek was die leierskapsleutel waarmee oom Carel binne Die Voortrekkers ’n klimaat van wederkerige verdraagsaamheid bewerkstellig het. Dit is 100% te danke aan die integriteit van Oom Carel se leierskap. Die verbintenis alleen sou nie genoeg wees om in die klimaat van die tagtigs ’n skeuring te verhoed nie. Oom Carel se wyer betrokkenheid het Die Voortrekkers voor ’n paar voldonge keuses gestel.  • Die keuse tussen eendersheid of die akkommodering van diversiteit? • Die keuse tussen staatsafhanklikheid of kulturele selfstandigheid? • Meer belangrik, wat was die verhouding met die Nasionale Party?

Veral die laasgenoemde vraag was vir Die Voortrekkers krities om te beantwoord. Die verhouding met die Nasionale Party was vir Die Voortrekkers net so groot risiko as die regse politiek.  Al wou sommige nasionaliste vanweë oom Carel se politieke oortuigings glo dat Die Voortrekkers deur regses gekaap, of in genl. Opperman se woorde “gekontamineer” is, is die teenoorgestelde eerder waar.

“ek beskou hom as een van die mees volkome Christene waarmee ek ooit te doen gehad het.”

“Wat was die verhouding met die Nasionale Party?”

Sedert die stigtingsjare was daar ’n noue verbintenis tussen Die Voortrekkers en die Nasionale Party. Na die NP-oorwinning in 1948, het Die Voortrekkers al meer ’n kulturele stutorganisasie van die nuwe regering geword. Mettertyd het daar by die Nasionale Party ’n toe-eiening van Die Voortrekkers ontstaan met die verwagting dat die kultuurorganisasie ten alle koste lojaal aan die party sal bly. Nasionale Partyleiers soos Staatspresident CR Swart, BJ Vorster, PW Botha, Pik Botha, Gerrit Viljoen en vele ander het ’n noue verbintenis met Die Voortrekkers gehandhaaf. Die Minister van Verdediging, genl. Magnus Malan was bekend die aanhaling: “my eerste uniform wat ek gedra het, was ’n Voortrekkeruniform.”  Tydens Voortrekkerkongresse van die sestiger- en sewentigerjare is die lojaliteit bevestig deur sprekers soos Eerste Minister BJ Vorster. Die toenemende bedreiging van kommunisme en terrorisme het ’n appèl op Die Voortrekkers se verbintenis tot burgerskap gemaak. In die Hou Koers kwartaalblad van 1978 doen onderhoofleidster Magriet Muller ’n beroep op die kweek van ’n “positiewe lojaliteit teenoor die weermag, polisie, die regering en ons leiers op alle terreine.”  In 1984, kort na die instelling van die driekamerparlement en aanvaarding van die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet, het die Hoofbestuur seker een van die mees belangrikste Hoofbestuursbesluite in die geskiedenis van Die Voortrekkers geneem, met verreikende gevolge tot vandag toe.  In kort behels die besluit dat:  “die Hoofbestuur die feit aanvaar dat die leiers van Die Voortrekkers ook leiers op ander gebiede van die samelewing is.  Dat daar nie verwag kan word dat die standpunt van ’n leier ten alle tye deur alle lede van die organisasie waarin hy dien, onderskryf moet word nie.  In elke organisasie geld die grondslag en doel van die betrokke organisasie en samewerking word op daardie basis verkry en nie op grond van eenstemmigheid oor al die ander sake van openbare belang nie.”

Met dié besluit het Die Voortrekkers die standpunt van dr. NJ van der Merwe dat daar in die kultuurorganisasie geen plek vir partypolitiek is nie, herbevestig. Vir die eerste keer sedert die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, is doelbewus erkenning gegee aan die feit dat die Nasionale Party en Die Voortrekkers nie meer stalmaats was nie.  Die waarheid is dat die Voortrekkers nie polities regs of links was nie. Die Voortrekkers het met die besluit kulturele selfstandigheid bo partypolitieke lojaliteit gekies en sodoende ruimte geskep dat uiteenlopende standpunte kruis en dwars deur kultuurgeledere kan en mag loop.  Deur die doelbewuste akkommodering van uiteenlopende standpunte het die organisasie ’n veerkragtigheid ontwikkel wat in bykans geen ander Afrikanerinstelling in die tagtigerjare teenwoordig was nie.  Die ruimteskeppende benadering het selfs teweeggebring dat die skikking oor Suidwes-Afrika in 1988 en onafhanklikheid in 1989 dit vir Die Voortrekkers moontlik gemaak het om oor landsgrense heen kulturele burgerskap te vestig, verskillende simbole en identiteite te akkommodeer, terwyl ander Afrikanerorganisasies daarenteen na onafhanklikheid hulle van die nuwe Namibië onttrek het. Vandag is Namibië Voortrekkers ’n vinnig groeiende en finansieel volhoubare gebied.  Die besluit het Die Voortrekkers selfs deur die kulturele skeuring tussen die FAK en Afrikaner Volkswag, waarvan oom Carel die voorsitter was in 1988, gedra. Gedurende 1988 is die 500 jaar van Diaz en die 300 jaar van die koms van die Hugenote na Suid-Afrika op kulturele terrein feestelik herdenk.  Die beplanning en uitvoering van die 150-jarige Groot Trek-herdenking sou die breuklyne in Afrikanergeledere ook op kulturele gebied op die spits dryf. Die uiteinde was dat twee groepe ossewaens oor die land trek – dié van die FAK met die leuse “Suid-Afrika Vorentoe”, en dié van die Afrikaner Volkswag met die leuse “Op trek na ons eie”. Die Voortrekkers was, soos oom Carel, by beide feeste se geleenthede betrokke.  “Die waarheid is dat die Voortrekkers nie polities regs of links was nie. Die Voortrekkers het met die besluit kulturele selfstandigheid bo partypolitieke lojaliteit gekies”

Tydens die hoogtepunt van die 150-Groot Trekfees het oom Carel eers saam met Die Voortrekkers by die Voortrekkermonument gekamp, voordat hy sy verpligtinge by die fees op Donkerhoek nagekom het.  Die deurvoer en konsekwente toepassing van 1984 se Hoofbbestuursbesluit, is myns insiens oom Carel se grootse nalatenskap as Hoofleier.

‘n Geslag tussen  diskontinuïteit en kontinuïteit Waarin vind oom Carel se Voortrekkerjeug vandag, in ‘n nuwe eeu en ander konteks as die tagtigs kontinuïteit met hulle grootwordjare?

  1. a) Weerbaarheid Inge Kühne skryf die kinders van die tagtigs is “steeds hier. Hul omstandighede het van hulle entrepreneurs gemaak. Hulle is planmakers. Maar hulle is besig om moedeloos te raak. Dis amper veertig jaar nadat hulle met die noodplan die skrik op die lyf gejaag is en hulle is weer bang. Hierdie keer vrees hulle nie terroriste nie, maar hulle vrees dat daar na alles wat gebeur het weens korrupsie en kortsigtigheid nie vir hulle of hul kinders ’n toekoms in hierdie land gaan wees nie.” In eietydse konteks het weerbaarheid ’n nuwe relevansie gekry. Die oorlog is nie meer op die grense van Suid-Afrika nie, maar in ons woonbuurtes. Weerbaarheid is nie net selfverdediging nie, maar ook ideële en morele weerbaarheid. In 1985 het oom Carel weerbaarheid beskryf as ’n opstaan teen die ideologie van gelykheid wat die uniekheid en eiesoortigheid van taal, kultuur en selfs individu wil afbreek tot die grysheid van ’n middelmatige niks. Weerbaarheid het ook vir hom behels om saam met die jeug na te dink oor die gevolge oor die impak van seksuele losbandigheid en redes vir tienerselfmoord.  Chris Chameleon, self ’n Voortrekkerjeuglid van die tagtigs, skryf: “Ek is oortuig dat Die Voortrekkers ’n belangrike taak vervul in die weerbaarheid van ons jeug. Die

Oom Carel gee die fakkel aan vir die nuwe Hoofleier, ds. Johan van der Walt, tydens die 1989-kongres.

aktiwiteite, die geestelike benadering, die dissipline, die samewerking en vele ander aspekte speel almal ’n rol in die versterking van ons jeug. Dis toerusting waarmee ons jeug op die verantwoordelikhede van volwassenheid met vertroue kan reageer.”

  1. b) Van staatsbedreiging tot gemeenskapsgeborgenheid Daar is reeds vroeër gewys op die paradoks van kinders wat in ’n bedreigde staat veiligheid en gemeenskapsgeborgenheid beleef het. Vandag sien ons dit weer. Staatsbedreiging is vir die kinders van die tagtigs geen nuwe nuus nie. Die rolspelers het verander. Politieke partye het verander, selfs die totale aanslag op staatsbates lyk anders as in die tagtigerjare. Waar die staat sy burgers faal, tree gemeenskappe met ’n nuwe selfvertroue na vore om die vakuum te vul. Die gemeenskap word weer die plek waar individue en gesinne geluk in deelname vind; waar elkeen se dienswerk tel en waar daar werklik ’n praktiese verskil gemaak kan word. Die Voortrekkers weet dat ’n diensbare leierskap met ’n gemeenskapfokus lei tot skeppende energie en volhoubare voortbestaan.
  2. c) Van ’n statiese staatstut tot ’n veerkragtige kulturele selfstandigheid Om diversiteit en uiteenlopende standpunte onder Afrikaners nie as ’n bedreiging te hanteer nie, maar as ’n kulturele bate te beskou, word vandag as algemene Voortrekkerpraktyk aanvaar en gekoester. ’n Kultuurorganisasie hoef nie die spieëlbeeld van die staat of enige politieke party te wees nie. ’n Besluit wat gelei het tot die trek van kulturele grense oor landsgrense, help vandag Die Voortrekkers om met dieselfde veerkragtigheid na kultuurgrense anderkant die beperking van staatsgrense te kyk
  3. d) Die krag van ’n ideaal

Kinders van die tagtigs grootgemaak is om te veg vir ’n Afrikanerstaat wat nie meer bestaan nie. Die kinders van die tagtigs was die enigste geslag wat in ’n noodtoestand grootgeword het en ook die laaste geslag Afrikanerkinders wat apartheid as landsbeleid geken het. Toe oom Carel in 1981 Hoofleier word, het die grensoorlog in felheid toegeneem. Ten tye van sy uittrede in 1989, was die oorlog verby. In my matriekjaar is die twee jaar grensdiens verminder tot een jaar en kort daarna is die verpligte grensdiens afgeskaf.  Kinders van die tagtigs het nie die groot nasionale saamtrekke van Afrikanernasionalisme van die sestigs en sewentigs geken of ervaar nie, maar wel die bitter gevegte van politieke verdeeldheid.  Die kinders van die tagtigs was, anders as hulle ouers en grootouers, nie voorstanders, bouers of die vegters vir die Afrikanerrepubliek nie. Ook nie die erfgename daarvan nie. Kinders van die tagtigs het op skool en Voortrekkerkampe gesing, “Laat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly.” Hulle eerste verkiesing was 1989 se laaste nasionale wit verkiesing. Voordat die geslag die Afrikanerstaat as erfgename kon ontvang, het ’n nuwe bedeling aangebreek wat die die toekomstige rol van Afrikaners totaal herdefinieer het.  Die verandering beteken nie dat ons geslag minder verbind is tot ons toekoms in Suid-Afrika, of dat die geslag hulle idealisme verloor het nie. In oom Carel se eie woorde is daar “niks in ’n mens se lewe wat soveel krag kan bolwerk, soveel inisiatief kan ontsluit, soveel energie kan ontketen as ’n ideaal om na te strewe nie.”

Wat is die ideaal wat die kinders van die tagtigs steeds inspireer? Doodgewoon, ’n toekoms vir ons kinders. ’n Toekoms waar ons kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees. Dit is die ideaal wat moderne Voortrekkers steeds bind aan Die Voortrekkers van ouds wat saam met hulle kinders op ’n reis gegaan het op soek na ’n beter toekoms.  Oom Carel het Die Voortrekkers beskryf as ’n vrywillige vennootskap tussen volwassenes en kinders wat saamreis na die toekoms. Hierdie vennootskap staan vandag sterk. So ook Die Voortrekkers se verbintenis om saam met ons Afrikanerjeug en almal wat vrywillig met ons assosieer te soek na antwoorde om die ideaal eietyds te verwerklik.  In die woorde van Oom Carel: “Aan die leiers van more behoort die Afrikaner se toekoms, sy voortbestaan, sy vryheid, sy roepingsvervulling.”

 

“Oom Carel het Die Voortrekkers beskryf as ’n vrywillige vennootskap tussen volwassenes en kinders wat saamreis na die toekoms”

HOU KOERS!

Deel/Stuur

4 Reaksies op “3de Carel Boshoff Gedenklesing: Kinders van die tagtigs. Nagedink oor oom Carel se Voortrekkerjeug vanuit eietydse konteks.”

  1. Tokkie van Vuuren 28 November 2017 at 16:54 Permalink

    ,n Besonder goeie atikel en baie insiggewendeleesstof.

  2. Krokodil Botha 28 November 2017 at 20:08 Permalink

    Can we not re launch the Ossewa Brandwag ?

    • Sebastiaan Biehl 29 November 2017 at 08:31 Permalink

      I don’t see any connection between the Ossewa Brandwag and Orania. The Ossewa Brandwag belonged to a certain era which cannot be repeated.


Lewer Kommentaar

*