22 Julie 2011 ~ 11 Kommentare

Lesse wat die Afrikaner en Orania by die Amish kan leer

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Ek lees vandag weer ‘n interessante artikel oor die geweldige toename in die Amish-bevolking van Noord-Amerika en ongelooflike wyse waarop hulle daarin slaag om ten spyte van ‘n vinnig veranderende wêreld hul kultuur en tradisies behou te laat bly. Hoewel Afrikaners ‘n moderne volk is wat nie soos die Amish vernuwing vermy nie, is daar tog talle lesse wat ons by hulle kan leer. Ek dink vinnig aan die volgende:

 

  • Die Amish slaag uitstekend daarin om in 28 Amerikaanse state en in meer as 400 gemeenskappe goed met ander Amerikaners saam te leef hoewel hulle integrasie binne daardie gemeenskappe teenstaan. Die Amish is in elke dorp en gemeenskap waar hulle aangetref word duidelik identifiseerbaar, maar tog ook geliefd. Amerikaanse owerhede vanaf plaaslike tot op federale vlak doen moeite om die Amish se unieke waardes te eerbiedig en hulle word selfs van die Amerikaanse “Social Security” verpligte aftreevoorsiening vrygesteld. Die redes hiervoor is waarskynlik dat die Amish oor en oor bewys het dat waar ookal hulle, hulself bevind hul waarde tot gemeenskappe toevoeg veral deur die dienste en produkte wat hul lewer. Hulle is ook vredeliewende mense wat geen bedryging inhou nie. Die Amish is sekerlik dié groep in die VSA wat vir die minste geweld, korrupsie en watter ander misdaad ookal verantwoordelik is. Hoewel hulle sterk teen integrasie gekant is, isoleer hulle nie hulself nie en is hulle en die gemeenskappe om hulle interafhanklik van mekaar.
  • Die Amish het ‘n paar baie eenvoudige, duidelik gedefinieerde waardes wat hul as gemeenskap/groep/volk saambind. Hul geloof, sterk kerkleierskap, baie spesifieke uitkyk op hul rol op aarde en ‘n belangrike fokus op die gesin bind hul as gemeenskap saam. Minstens 85% van Amish bly hul hele lewe deel van die groep, iets waarvoor ons net in Orania kan wens! Een van die konstante uitdagings wat ons het is die vraag oor ons mededingende voordeel. Waarom ‘n Afrikaner in Orania wees eerder as net ‘n Suid-Afrikaner in Johannesburg of Kaapstad of net nog ‘n wêreldburger in Sydney, Londen of New York? Die mededingende voordeel in Orania kan nie goeie werksgeleenthede en veiligheid wees nie. Natuurlik moet ons alles in ons vermoë doen om ons veilige lewensomstandighede te behou en die vooruitsig vir beter werksgeleenthede in ons dorp te realiseer, maar dit alleen kan nie ons samebindende faktor wees nie. Slegs ons kultuur, tradisies, taal en gedeelde geskiedenis kan dit doen. Ons sal dit egter beter moet verpak om ‘n lewe van volheid Afrikanerwees in Orania te verseker.
  • ‘n Volk wie se bevolkingsaanwas klein is, se voortbestaan sal altyd bedreig wees. Die Amish se bevolking het gedurende die afgelope 20 jaar verdubbel en groei tans jaarliks met 5%. Dit word slegs meegebring deur die feit dat die Amish groot gesinne het en glad nie deur ‘inkommers’ wat in elk geval baie min voorkom nie. Die Afrikaner sal op die glybaan na uitwissing bly solank as wat ons nie daarin slaag om ons eie mense te behou (emigrasie te verlaag) en die grootte van ons gesinne uit te brei nie.  Ten spyte daarvan dat Orania ‘n konstante toename in inwonergetalle het is daar verlede jaar slegs 7 babas in die dorp gebore en mag dit vanjaar selfs minder wees. Daar trek elke week mense Orania toe, maar elke tweede week verlaat daar weer mense ons dorp. Ons bevolkingsaanwas is dus heeltemal te klein en ons slaag glad nie daarin om ons mense te behou nie.
  • Die laaste ding wat my oor die Amish opgeval het, is dat hul baie goed regkom sonder sterk oorhoofse leiers. Die Amish is ook nie betrokke in die land, staat of selfs dorpe waar hul woon se regerings nie, maar het suiwer weens hul sterk posisie in gemeenskappe (bevolkingsgetalle, produkte en dienste wat hul bied, ens) tog heelwat mag. Geen groot leier hou die Amish bymekaar nie, maar eerder wel ‘n sterk stel gedeelde waardes. Soos wat die Amish uitbrei gebeur dit gereeld dat ‘n Amish-gesin in ‘n omgewing gaan vestig waar hulle die eerste Amish inwoners is. Dit verhoed hulle egter nie om steeds met presies dieselfde lewensstyl voort te gaan as waar hulle vandaan gekom het nie. Soos wat nog gesinne na die nuwe omgewing verhuis ontstaan ‘n nuwe Amish-gemeenskap wat in ‘n groot mate net soos die baie ander Amish-gemeenskappe lyk. Dit alles is moontlik sonder groot strategiese planne en lang onderhandelings. Alles gebeur omdat elke lid van die Amish weet wat sy doel op aarde is.

Daar kan ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees. Daar kan ook ‘n seker toekoms vir Orania wees. Ons sal egter die volgende moet regkry:

  • Ons mededingende voordeel in ‘n wêreld met groot materiële trekpleisters duideliker definieer.
  • Ons gedeelde waardes en dit waarvoor ons bestaan beter verduidelik.
  • Emigrasie drasties verlaag en selfs Afrikaners in die buiteland kry om terug te kom.
  • Ons bevolkingsaanwas heelwat verhoog.

Die suksesresep van die Amish mag dalk net die bloudruk vir ‘n seker toekoms vir Afrikaners wees!

Deel/Stuur

11 Reaksies op “Lesse wat die Afrikaner en Orania by die Amish kan leer”

  1. Gawie Snyman 23 Julie 2011 at 13:07 Permalink

    Baie goeie stuk Jaco.

    Ek stem saam, dat die Afrikaner gerus by hierdie gemeenskap kan gaan leer oor hoe om vry te leef, ongeag waar jy jou bevind.

    Maar ook te let op die gesagstrukture binne hierdie gemeenskappe, wat glad nie aan die hand van populariteit (demokraties) verkies word nie.

    Ek stel ook voor mense lees die volgende boek, wat baie belangrike opmerkings in hierdie verband maak: http://www.amazon.co.uk/Democracy-Economics-Politics-Monarchy-Natural/dp/0765808684/ref=sr_1_1?s=books&ie=UTF8&qid=1311425914&sr=1-1

  2. Werner 24 Julie 2011 at 12:21 Permalink

    Hi Jaco

    Wat is die redes vir die mense wat uit Orania trek? Kan daardie redes aangespreek word?

    • Jaco Kleynhans 24 Julie 2011 at 18:05 Permalink

      Ek sou dink die belangrikste redes is:
      1. Probleme met behuising (huur ‘n huis en dan word die huis verkoop en kry geen ander verblyf, kan verblyf nie meer bekostig, ens)
      2. Mense met verskillende probleme: Gesondheid, familie, ens.
      3. Materialisme. Ongelukkig! Mense verlaat Orania van tyd tot tyd omdat hulle meer geld elders kan verdien ten spyte van alles wat die gemeenskap bied. Party gaan selfs oorsee!
      4. Mislukking van besigheid.
      5. Moeilike aanpassing weens klimaat, afstand vanaf familie, ens.

      Jy is reg: Ons moet meer pro-aktief optree om hierdie probleme aan te spreek. Die beste manier is egter om mense te laat besef dat dit waarmee ons besig is, die opoffering werd is en dat geen van hierdie redes dus goed genoeg is om op te gee nie.

      • Ebert Terblanche 27 Julie 2011 at 00:06 Permalink

        Jaco,

        Jy moet versigtig wees om negatiewe eienskappe toe te dig aan diegene wat hoewel hulle Orania steun, nie noodwendig daar kan of wil aanbly nie. Hulle was darem bereid om vir ‘n tyd lank ‘n bydrae te lewer en is in baie gevalle steeds bereid om dit te doen.

        Daar moet vrede mee gemaak word dat mense se omstandighede, strategieë en behoeftes van persoon tot persoon en van jaar tot jaar sal verander. Dit is uiters onredelik om van Orania te verwag om op hierdie stadium aan soveel verskillende behoeftes te kan voorsien.

        Jou vyfpuntlys kan heelwat uitgebrei word en daarmee nader aan die menslike waarheid kom.

        • Jaco Kleynhans 27 Julie 2011 at 06:21 Permalink

          Ebert,
          Ek dink jy het dit verkeerd gelees, want dit is glad nie wat ek gedoen het nie. Ek kan twee voorbeelde noem wat glad nie by enige van hierdie lysie van my inpas nie: Jy en Gawie.
          Dit is egter so dat daar mense is wat suiwer weens materialisme Orania verlaat en selfs oorsee gaan vir meer geld. Hier praat ek veral van mense wat Orania agter hulle plaas en selfs hul Afrikanerskap agter hulle plaas om permanent oorsee te gaan bly.
          Ek het groot vrede met mense se “omstandighede, strategieë en behoeftes” en het soos ek ook aan jou genoem het voordat hy en Annabe oorsee gegaan het groot begrip en rustigheid daaroor.
          Dit bly egter ‘n feit dat Orania oor sy 20 jaar van bestaan baie inwoners aan oorsese lande (hetsy tydelik of permanent) afgestaan het en dat dit jammer is.
          Ek was hartseer, teleurgesteld en baie jammer dat julle Australië toe is, maar verseker nooit kwaad of verwytend nie en ek hoop steeds diep in my hart dat julle weer terug sal kom wat ek ook weet (as ek reg verstaan) deel van jul langtermynbeplanning is.
          Moet dus asseblief hierdie kommentaar glad nie as ‘n reaksie op jul skuif sien nie. Dit was ‘n baie algemene opmerking uit my ervaring met die optrede van sommige ander persone.
          Wil jy nie miskien self bietjie op my lys uitbrei nie? Jy het self lank in Orania gewoon. Selfs dalk ‘n aparte bloginskrywing daaroor?

          • Ebert Terblanche 27 Julie 2011 at 07:05 Permalink

            Jaco,

            Ek het jou kommentaar as algemeen verstaan.

            Twee redes waarom veral jongmense Orania verlaat is opleiding en ondervinding. Om by ‘n volledige lys uit te kom sal navorsing verg.

            Dit is myns insiens onredelik van mense om Orania negatief te beoordeel omdat mense die dorp verlaat. Orania kan weens sy beperkinge eenvoudig nie op hierdie stadium alle behoeftes bevredig nie.

            Namate Orania groei en al meer instellings gevestig word wat aan die verskeidenheid van menslike behoefte voorsien, sal daar al minder gevalle wees van mense wat die dorp weer verlaat.

            Dit is natuurlik belangrik om mense in Orania te probeer hou want direkte betrokkenheid in die dorp is die grootste bydrae wat ‘n persoon kan lewer, daarom is dit te verstane dat dit sleg is vir Oraniërs as mense weer gaan. Ek het dit self ervaar in my vier jaar op Orania.

            Dit hoef egter nie net sleg te wees nie, maar kan ook ‘n geleentheid vir die Orania Beweging bied, want elke voormalige inwoner kan weer ‘n aktiewe uitwoner word.

            Dit gebeur dikwels dat ondersteunersgroepe buite Orania platval wanneer sleutelfigure na Orania trek. Uitgeweke Oraniërs kan dus teoreties goeie boustene word vir nuwe belangegroepe buite Orania, maar dan moet daar ook empatie wees vir die redes waarom hulle Orania verlaat.

  3. D N 25 Julie 2011 at 21:37 Permalink

    I live in USA. Ohio , The Amish, Hutterites and Mennonites are a Ana baptist community and church. They remain totally separate from American culture,, they have no phones, electricity, cars, anything modern.
    They grow due to fact that anyone born in these communities is unable to function in the broader society. They must learn to pay bills, live on there own,, when the amish turn 16-18,they are to leave the community to experience life ” in the World” so that they came decide at adult baptism whether to stay for life in the community. Nearly all amish, Hutterities, decide to stay in the community.
    some live communal, own no personal property, others live in Amish communities but own their own homes .
    orania must develop a culture that is welcoming, safe and provide a reason for the younger people to stay and raise their families

  4. D N 25 Julie 2011 at 21:37 Permalink

    I live in USA. Ohio , The Amish, Hutterites and Mennonites are a Ana baptist community and church. They remain totally separate from American culture,, they have no phones, electricity, cars, anything modern.
    They grow due to fact that anyone born in these communities is unable to function in the broader society. They must learn to pay bills, live on there own,, when the amish turn 16-18,they are to leave the community to experience life ” in the World” so that they came decide at adult baptism whether to stay for life in the community. Nearly all amish, Hutterities, decide to stay in the community.
    some live communal, own no personal property, others live in Amish communities but own their own homes .
    orania must develop a culture that is welcoming, safe and provide a reason for the younger people to stay and raise their families

  5. Cliff 28 Julie 2011 at 15:09 Permalink

    Ek kan onmiddellik aan baie mense in ons kontrei dink wat graag op Orania wil en sal gaan bly. Ek is een van die persone wat al die droom koester vir meer as 15-18 jaar. Ongelukkig moet mens seker beplan en sonder skuld wees om die droom te verwesenlik. ‘n Vriendin het net gister aan my vertel dat sodra haar man sy dinge in die Kaap agtermekaar het, hulle ook wil verhuis na Orania.

    Nou kan ons ook redeneer dat die Voortrekkers sak en pak oornag getrek het en ek sou dit ook wil doen. Ek wil tussen my mense smôrens wakker word en saans gaan slaap met die wete “Dis my mense en ek is veilig tussen Christen-Volksgenote” wat ook al hulle geloofsoortuiging.

    Kleiner inkomstes, volksliefde is twee aspekte wat jou verhuising bepaal. Ek persoonlik is nie baie lief vir die monitêre stelsel nie en glo aan BARTER. Dus sal stap een nie vir my ‘n probleem wees nie. Ek sien nie neer op my armer volksgenote nie en sal selfs in ‘n hartebeeshuisie sonder krag en basiese dienste woon. Dus is stap twee ook maklik vir my.

    Maar hier kom die saak. Nie almal koester die vryheid en geluk om saam met volksgenote te woon op die selfde vlak as ek nie. So is daar mense wat nie sonder die MALLS en BIOSKOPE kan klaarkom nie. Laasgenoemde trek die skaal swaarder as vryheid. Mense laat toe dat materialisme die oorsaak is dat hulle slawe word van ‘n stelsel wat selfs selfmoord teweegbring indien die balju die kar kom neem of die “flat screen” op die veiling sit.

    Ek is ‘n buite-blyer en probeer ‘n ambassadeur vir Orania wees. Die media deesdae begin positief oor Orania berig. Meer mense praat van “gaan vakansie hou daar…..” ens. Gee kans mense! Misdaad is besig om die mense moedeloos maak. Hulle sal daar kom woon. Veral diegene wat sy werk vanaf ‘n rekenaar en selfoon kan bestuur. Daardie persoon (soos myself) praat “ORANIA”. Ek gaan tot ‘n vlag van Orania voor my kantoor laat hang.

    Ek hoop om eersdaags daar te kom intrek sodra daar ‘n huisie vir my is. :)

  6. Marlene Spies 29 Julie 2011 at 10:08 Permalink

    Lank gelede het ek ‘n skriftelike voorstel aan Frans de Klerk gemaak dat diegene wat Orania verlaat, ‘n vorm voltooi en ‘n rede(s)daarvoor moet gee. Dit kan as statistiek dien en terselfdertyd ‘n hulpmiddel wees tot daardie pro-aktiewe optrede waarna Jaco verwys. Ek het min of meer 10 redes in my voorstel aangehaal, maar ook ruimte gelaat vir “persoonlik.” Frans het gedink dit is ‘n goeie idee en dit na Willie du Plessis verwys. Dit sal interessant wees om te hoor wat van my voorstel geword het?

  7. Celéste van Niekerk 26 Januarie 2012 at 21:57 Permalink

    29 Julie is lank gelede, maar laat my asseblief toe om ook op die blog-bus te klim.
    Die Amish is so uitsonderlik uniek in hul totale lewens- en wêreldbeskouing. Dit is ‘n belewenis om na hulle te kyk – hoe hulle aantrek, hul vorme van vervoer, die wyse waarop hul hul wonings inrig weens die feit dat hulle sonder moderne toerusting klaarkom, die wyse waarop hul hul besighede bedryf – boerdery, veral – selfs hul taalgebruik en kommunikasiemetodes onderling! ‘n Amish kan jy op twee myl uitken. DIT maak hul so uniek in ‘n algehele klas van hul eie – in die eerste instansie omdat hulle anders LYK.
    Jy sal nie ‘n Oraniër in Pretoria as ‘n Oraniër kan identifiseer nie. Jy sal hom waarskynlik net op een aspek as ‘n Oraniër identifiseer en dit is die feit dat hy nie hand-op-die-blaas is met al wat ‘n ander-rassige persoon, is nie. (Kyk gerus na Sebastiaan Biehl se brief oor sy Gaboenese lughawe-kennis) Maar, selfs dit is ‘n fyn riglyn wat tog van persoon tot persoon verskil. ‘n Oraniër LYK nie anders as ‘n Pretorianer nie.
    Om sigbaar anders te lyk, maak assosiasie soveel makliker. En, ons weet mos dit maak jou deel van iets en baie mense heg baie waarde daaraan om te “behoort”, maar hoe gemaak as ons aantrek soos die deursnee mens aantrek, woon soos die deursnee mens woon, ensovoorts? Wat moet gedoen word om die Boer/Afrikaner so ver te kry om onder ‘n ideologiese banier/sambreel eenheid te VOEL sonder uitwendige en vir-die-wêreld sigbare tekens van samehorigheid – soos die ANC wat geel t-hempde moet dra omdat hulle ook nie meer daarsonder ‘n enerse eenheid is nie. Kommunisme is moontlik ‘n voorbeeld wat karaktertrekke besit wat nader aan ons probleem kom. Kommunisme kan jy ook nie sigbaar uitken nie. Dit is ook ‘n ideologie – behalwe vir ‘n gesigsuitdrukking wat lyk soos iemand wat onverwags ‘n suur jellie tot in die mond gestop is – lyk hul soos enige iemand anders, maar, vanselfsprekend sou geen gerespekteerde ideologie homself wou vereenselwig met indoktrinasie, opsweping en die inboeseming van vrees nie.
    “Tradisie, taal, kultuur en gedeelde geskiedenis” (soos jy uitwys) se basis is TROTS. Jy moet trots wees op jou tradisies, trots wees op jou taal, trots wees op jou kultuur en trots wees op jou geskiedens. Wys my ‘n Pretoriase tiener in ‘n staatskool wat op sy Boer/Afrikanerskap TROTS is. Een wat hoendervleis uitslaan by die aanhoor van ‘n Skilpadsaal vol mans en vroue wat Die Stem of Die Transvaalse Volkslied uit volle bors sing sonder begeleiding van enige aard – nie op Loftus as ‘n Steve Hofmeyer ‘n skare blikkerig met ‘n mikrofoon met ‘n bastervolkslied voorsing nie! Ken jy so ‘n kind?
    Dit is met SO ‘n kind/geslag wat Orania ‘n sekere toekoms het. Tyd vlieg. Voor ons ons oë uitvee sit ek en jy in een van Orania se afree-oorde en AL wat ons dan vir onsself sal kan afvra is:
    HET ONS ORANIA SE KINDERS REG GROOTGEMAAK?
    En, die vet weet, ons doen dit NIE! Ons hou ons op met die onmiddelike. Ons dink ons kan ‘n nuwe wêreld skep met diegene wat halfpad graf toe is. Indien ons Verlosser ons nie vroeër kom haal nie, is ons KINDERS Orania se voortbestaan. Ons energie, ons breinkrag, ons inisiatief, ons kreatiwiteit, ons TYD en ons GELD moet ALLES gaan vir ons KINDERS se kulturele, tradisionele, taalkundige, geskiedkundige opvoeding met intense klem op intellek en geloof in die Almagtige Vader.
    Die tyd is oorryp. Ons skeep ons kinders af en ons kinders sal dit wat hier tot stand gebring is, afskeep as ons nie kragdadig tot aksie oorgaan nie.
    Ons kan en mag nie hierdie probleem afskuif op die skole en dit hulle verantwoordelikheid maak nie. Die ouer en die skool, natuurlik, maar wat van die gemeenskap? Wat doen ons gemeenskapsinstellings soos die media, die privaatsektor, die dorpsraad, maatskaplike sake hieromtrent? Ek is bevrees: ek sien niks. Waar is ons kinders as hulle nie in die skool is nie? Waarmee hou hulle hulleself besig? Moet hulle, omdat die gemeenskap nie na hul omsien nie hulleself besig hou met dit wat die wêreld hul in die hand stop soos mxit, facebook, twitter en wat nog. Ek sien al dwarsdeur daardie welige baarde hoe die Amish ooms spierwit word om die kiewe as hul hul kinders besig vind met die tipe dinge!
    Ja, ons bevolkingsaanwas moet drasties verhoog – ons wag met vreugde julle derde, vierde, vyfde en sesde enetjie in, Jaco – maar, as ons produktief aan die werk wil kom om die Amish in hul voorbeeld van onverpoosde, doelgerigte voortgang wil volg, is ons KINDERS ons EERSTE en ERNSTIGSTE prioriteit.
    Wat gaan ek en jy hieraan doen?


Lewer Kommentaar

*