01 Oktober 2012 ~ 31 Kommentare

10 stellings oor ons strewe

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die volgende artikel verskyn in die nuutste uitgawe van Voorgrond:

1.    Vryheidstrewe sonder konflik

Vir die Orania Beweging is vryheid vir die Afrikaner in ‘n eie grondgebied die uiteindelike doel.  Vir ons is vryheid primêr om oor onsself te regeer, onsself ekonomies te handhaaf en om ‘n gebied volgens ons oortuigings, geloof, taal en politieke denke in te rig en te bestuur. Vryheid is vir ons nie uitsluitlik nie. Dit mag dus nie ten koste van ander mense en volke se vryheid wees nie.

Ons glo daaraan dat Suid-Afrika groot genoeg is om aan alle groepe en volke wat die behoefte en strewe na vryheid het, dit te gun. Om dié rede kies ons ‘n pad na vryheid wat konflik met ander volke en mededinging om skaars hulpbronne vermy en kies ons ‘n gebied wat ons met persoonlike opoffering kan opbou en ontwikkel tot ons eie voordeel.

2.    ‘n Gebied wat pas by die behoefte

Vryheid kan nooit losstaande van ‘n geografiese gebied met eie instellings gesien word nie. Daarom is alle pogings van Afrikanerselfbeskikking binne die bestaande staat Suid-Afrika beperk.

Die gebied wat geidentifiseer is, is die Noordwes-Kaapkorridor.

Die aanvanklike argument vir die gebied geld nog steeds: die moontlikheid om sonder demografiese druk ‘n relatief groot gebied te kan beset en te kan ontwikkel.

Ander selfbeskikkingsplanne in die Afrikaner se eertydse hartland van  Pretoria, die Hoëveld en Bosveld, is lankal deur die werklikhede onwerkbaar bewys. Die ANC-regering se houvas op Pretoria en omgewing is ook besonder sterk: demografies, simbolies en feitelik. ‘n Regering gee nooit sy ekonomiese hartland en nog minder sy hoofstad op nie.

Ons moet egter nie naïef wees oor die gebied nie. Dit gaan harde werk en baie geld kos om dit te ontwikkel en ons het duisende Afrikaners nodig om dit te doen. Die besetting sal in fases moet geskied en met Orania as die fokuspunt en enjinkamer vir die afsienbare toekoms. Die uiteindelike doel is egter ‘n groter gebied wat ‘n meerderheid Afrikaners kan huisves.

3.    Eie arbeid is ononderhandelbaar

Die hoeksteen van ons selfbeskikkingstrewe is die gebruik van Afrikanerarbeid. Die vloek van die Afrikaners in Suid-Afrika is dat hulle orals ‘n minderheid is, selfs waar hulle in aansienlike getalle gekonsenteeerd is. En dit weens die afhanklikheid van vreemde arbeid. Die prys vir ons vryheid is om self te werk of ten minste jou volksgenote teen lewensvatbare salarisse vir jou te laat werk. Dit is volgens die kapitalistiese logika, waar dit net oor geld gaan, ‘n remskoen vir ekonomiese groei. Die ekonomie kan egter nooit losgemaak word van die samelewing nie en werkers is nie verhandelbare bates sonder ‘n gesins- en kultuurlewe nie. Daardie soort korttermyndenke oor “goedkoop arbeid” het juis misdaad, plakkerskampe, konflik en vervreemding meegebring.

In Orania is ons op die voorpunt van nuwe denke wat die ou kwasiekoloniale arbeidsparktyke vir goed agterlaat. Ons moet leer om ‘n beter werksetiek te ontwikkel, meer effektief te werk, te meganiseer en om mense op te lei vir meer verantwoordelike en beter betaalde werk. ‘n Arm, gefrustreerde wit laerklas kan net so gevaarlik raak soos ‘n arm swart laerklas en het in die geskiedenis al menige bloedige konflikte en rewolusies veroorsaak. Die doel moet wees om hier, soos in suksesvolle lande, betroubare, tevrede en goed opgeleide mense te vestig en daar deur goeie opleiding en werksgeleenthede te hou.

4.    Vryheid word geleidelik verkry

Ons pad na vryheid bied reeds vir ons geleenthede en ons vryheid neem toe soos wat ons vorder. Vryheid is ook iets waarvoor gewerk word en wat geskep word, eerder as iets wat van buite gegee word. Politieke erkenning as onafhanklike entiteit lyk tans vêr, maar vryheid in praktyk is reeds vêr gevorderd in Orania waar ons onsself bevry het van die afhanklikheid van vreemde arbeid, van die vrees vir oorheersing en om ‘n slagoffer te wees en ook van die vreemde waardes en kultuur wat elders op Afrikaners afgedwing word.

5.    ‘n Afrikanerstaat, nie ‘n wit staat nie

Afrikaners se posisie as unieke Afrikavolk met ‘n eie taal en kultuur sou in ‘n “wit staat” wat uit ‘n mengelmoes van Europese emigrante bestaan, met Engels as die kleinste gemene deler, ook in die gedrang wees. Dit was nooit die oplossing vir Afrikaners om hulle heil in ‘n soort multikulturele, maar tog hoofsaaklik Westerse staat soos Australië, Kanada of VSA, te soek nie en dit help dus ook nie dat ons werk vir ‘n multikulturele “wit staat” in Afrika nie.

Waarna ons strewe is ‘n gebied met ‘n onbeskaamde Afrikaanse en Christelike karakter wat ons voortbestaan en vooruitgang op alle terreine, materieel sowel as geestelik en kultureel, verseker.

Die strewe na selfbeskikking is ‘n wêreldwye verskynsel en is ook in Suidelike Afrika niks vreemds nie. Dink byvoorbeeld aan Lesotho, Botswana en Swaziland. So ook is Orania ‘n etnies homogene dorp net soos die talle homogene dorpe van die swart volke in die landelike gebiede van Suid-Afrika.

6.    Wat van die nie-Afrikaners?

‘n Vryheidstrewe wat gebou is op die miskenning en onderdrukking van ander volke is nie regverdig nie en het ook geen bestand nie. Geen gemeenskappe wat in die aangewese gebied woon en daar wil bly, sal teen hulle wil verskuif word nie.

Ons moet verseker dat ‘n meerderheid Afrikaners ‘n gebied bewoon en bewerk as ons selfbeskikking wil bereik. Politieke beheer kan uiteindelik slegs deur middel van ‘n referendum verkry word, waar die algemeen aanvaarde beginsel van een stem vir elke volwasse inwoner van die gebied geld. Diskriminasie teen nie-Afrikaners kan nie toegelaat word nie en selfs as die Afrikaner ‘n meerderheidsbesetting en eie regering bewerkstellig, sal minderhede dieselfde erkenning geniet waarop ons tans ook aandring.

Die vraag of bruinmense ook Afrikaners is en hulle met ons selfbeskikkingstrewe kan vereenselwig, is tot op hede ‘n teoretiese een. Die praktyk is dat bruin mense ‘n duidelik onderskeibare groep vorm wat geen behoefte het om deel van die Afrikaner te word nie en wat hulleself ook nie so noem nie, ten spyte van pogings van sekere meningsvormers om ‘n kunsmatige groep “Afrikaanses” te skep. Aansluiting op individuele vlak van mense wat hulle eerder met ‘n ander volk as hulle eie een vereenselwig is moontlik, maar sal die uitsondering bly, soos die praktyk leer.

7.    Met min hulpbronne is optimale benutting en wedersydse ondersteuning belangrik

Orania het klein getalle en sy ekonomiese krag is tans nog beperk en word gedurig deur die globale ekonomie van die groot stede bedreig. Mense wat in Orania woon en werk moet eenvoudig hulle bydrae tot die ekonomie lewer as ons ‘n lewendige gemeenskap wil wees en bly. Heelwat besighede het die afgelope tyd ontstaan, maar hulle kan net volhoubaar wees deur plaaslike ondersteuning. Die beste manier is om plaaslik te koop, wat dan weer plaaslike produksie en opvolgbesighede aanmoedig.

Die plaaslike geldeenheid, Ora, speel daarby ‘n kardinale rol. Omdat ons ekonomie nog so klein is, is dit noodsaaklik om elke Rand of Ora so veel as moontlik in Orania se ekonomie te laat sirkuleer.

8.    Ekologiese volhoubaarheid is meer as ‘n groen mode

Orania roem op sy ekologiese ingesteldheid wat pas by ons strewe na lokalisme en volhoubaarheid. Om jou kultuur en waardes te bewaar beteken noodwendig ook om die omgewing waarbinne dit plaasvind, te bewaar. Ons grondgebied is nog klein en duur gekoop en om dié rede gebruik ons dit wat ons het spaarsaam en probeer besoedeling en vermorsing voorkom, ook met die oog op toekomstige geslagte.

Ekologiese volhoubaarheid is nie net ‘n gonswoord nie, maar iets wat ons lééf omdat dit inskakel by ons lewensingesteldheid van selfstandigheid, eerbied vir ons Skepper (en daarmee saam respek en dankbaarheid vir die skepping) en die besef dat ons in ‘n gebied met beperkte hulpbronne woon, wat ons só moet gebruik dat dit die maksimum Afrikaners teen die minimum ekologiese impak kan vestig.

9.    Internasionale bande met die regte groepe

Ons strewe is reeds besig om geleidelik verinternasionaliseer te raak, wat noodsaaklik en onvermydelik is as ons wil vorder bo die vlak van net ‘n dorp. Die kennisname van die Afrikaner en sy vryheidstrewe beteken egter nog nie simpatie en steun nie. Ons moet die internasionale opset, die meningsvormers, potensiële vriende en vyande verstaan as ons ons saak suksesvol internasionaal wil bekend stel. Daarvoor is bande met die regte groepe en organisasies belangrik. ‘n Baie sinvolle stap was die aansluiting van die Afrikaner (deur die Vryheidsfront Plus) by UNPO, die Organisasie vir Onverteenwoordigde Nasies en Volke.

Dit sal ons saak skade aandoen as ons met ekstremistiese randgroepe bande vorm. Uit die aard van die saak is daar heelwat gedeelde waardes met Europese groepe en minderhede en om die rede is reeds bande gevestig met die Duitse minderheid van Suid-Tirool (Italië) en met die Vlaminge in België. Ons behoort met enige kleinvolk wat in ‘n minderheidsposisie verkeer, simpatie te hê, bande te bou en ondervindings uit te ruil.

Bande moet ook met nie-Europese volke gebou word, veral in Afrika, die vasteland waaraan ons ons naam ontleen het en waarbinne ons moet voortbestaan en floreer. Binne Suider-Afrika is daar ‘n magdom etniese groepe en volke wat ook vir kulturele handhawing en erkenning veg. Bande met ‘n tradisionele Xhosa-gemeenskap in die Oos-Kaap is reeds gevorm. Die voorvereiste vir bande met ander gemeenskappe is die wedersydse erkenning en die klem op selfstandigheid en ondersteuning teen ‘n gelykmakende en onsimpatieke regering.

As Orania se strewe internasionaal vertolk word as een van rasse-meerderwaardigheid en vyandigheid teenoor Afrika en sy mense, staan ons geen kans nie. As ons die boodskap van selfbeskikking en handhawing van ‘n klein volk met ‘n kosbare kultuur en geskiedenis  kan oordra, sal ons groot steun kry.

10.    Selfbeskikking is vandag nog steeds so brandend soos altyd

Die wêreldpolitieke toneel en veral Suid-Afrika het geweldig verander sedert die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe in ‘n eie grondgebied in die vroeë 1980’s met die Oranjewerkers ‘n praktiese werklikheid geword het. Die behoefte aan ‘n eie gebied vir Afrikaners het sedertdien egter nie vervaag nie, maar is vandag meer noodsaaklik as ooit van te vore.

Orania en sy organisasies kon dit grootliks regkry om ons boodskap, ten spyte van ‘n magdom vooroordele in die media en ‘n vyandige makro-politieke omgewing, lewend te hou en om gesindhede geleidelik verander.

Dit is juis in die internasionale konteks wat die ANC se vertolking van die geskiedenis en politiek as ‘n swart anti-koloniale stryd toenemend verouderd en irrelevant lyk.

Orania se strewe is vryheid, nie ten koste van ander nie, en ook nie deur middel van geweld en revolusie nie, maar vryheid wat geleidelik geskep word deur selfstandigheid en die vestiging van ‘n Afrikaanse werklikheid.

*Sebastiaan Biehl is ‘n inwoner van Orania, politieke navorser en skrywer.

Deel/Stuur

31 Reaksies op “10 stellings oor ons strewe”

  1. gerhard 1 Oktober 2012 at 20:35 Permalink

    Swart op blou… hoe moet ek dit lees????

    • Jaco Kleynhans 2 Oktober 2012 at 09:05 Permalink

      Gerhard. Jou internetverbinding moet effens stadig wees, want dit is net met die oplaai van die bladsy dat dit so vertoon, maar dit behoort baie vinnig reg te wees. Al die blog se inskrywings is swart op wit met blou aan die kante van die blad.

  2. Sebastiaan 2 Oktober 2012 at 06:45 Permalink

    Gerhard,

    het jy intussen reg gekom? Die blou agtergrond is net as ‘n mens die bladsy oopmaak, na ‘n ruk word dit wit.

  3. Johan 2 Oktober 2012 at 10:18 Permalink

    Sebastiaan, sou dit nie lekker gewees het as alles in die lewe so gewerk het nie.

  4. Frank 2 Oktober 2012 at 10:31 Permalink

    Kyk, ek weet nie hoe kan enige Afrikaner hierdie artikel lees en NIE dan homself in Orania wil kom vestig nie…? Dit is tog die enigste opsie wat sin maak vandag.

    Ek hou veral van die deel waar jy dit stel dat Afrikaner organisasies hul geld om ‘name en monumente’ in vreemde (vreemd geworde) plekke te red, eerder meer positief moet aanwend. Pretoria is in elkgeval verlore, plaas dat die geld vir hofsake eerder aan Orania vir ontwikkeling geskenk word…Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.

    Ek stuur my bydrae elke maand en kom vestig my hopelik in die nabye toekoms daar by julle.

    Bou voort en sterkte!

  5. Coen de Milander 2 Oktober 2012 at 10:34 Permalink

    Hierdie is `n uitstekende stuk en verwoord baie duidelik die Afrikaner se strewe na vryheid en gelyke beregtiging.

    Ek wil tog die vraag vra of ons dit nie dalk moet oorweeg om etlike soortgelyke enklawes vir die Afrikaner in ander dele van Suid-Afrika te vestig nie. Daardeur wil ek suggereer dat daar dalk elders Afrikaners is wat om een of ander rede nie na Orania kan of wil verhuis nie, maar wat dit dalk sou oorweeg indien daar `n naby geleë “Orania” bestaan.

    • Marna Swart 5 Oktober 2012 at 21:43 Permalink

      Coen, oos van Pretoria is ‘n soortgelyke plek, naamlik Kleinfontein. Maar in meer as 20jaar het dit slegs ‘n veilige slaapdorp gebly en geen eie ekonomie soos Orania otnwikkel nie. Die hoofsaaklike rede hiervoor dink ek, is omdat hy slegs 17km van die ooste van Pretoria is en die mense steeds maar die naby stad vir besigheid verkies….

  6. Frank 2 Oktober 2012 at 11:33 Permalink

    Hierdie onderste aanhaling pas nogal by die boonste artikel.

    Denying facts you don’t like

    Transformational leaders don’t start by denying the world around them. Instead, they describe a future they’d like to create instead.

    Denying the truth about relative market share, imperial power or the scientific method helps no one.

    Gandhi didn’t pretend the British weren’t dominating his country, and Feynman didn’t challenge Einstein’s theory of relativity or the laws of thermodynamics.

    It’s okay to say, “this is going to be difficult.” And it’s productive to point out, “our product isn’t as good as it should be yet.”

    The problem with Orwellian talking heads, agitprop, faux news and Ballmer-like posturing is that they take away a foundation for a genuine movement to occur, because once we start denying facts, it’s difficult to know when to stop. Tell us where we are, tell us where we’re going. But if you can’t be clear about one, it’s hard to buy into the other.

    Seth Godin

  7. Henry Smith 2 Oktober 2012 at 14:38 Permalink

    Sebastiaan, met jou toestemming sal ek graag hierdie artikel na al my vriende en familie wil e-pos met die hoop dat almal van hulle sal wakker skrik.

    • Jaco Kleynhans 4 Oktober 2012 at 08:49 Permalink

      Henry. Doen gerus so. Ons wil juis graag hê dat die boodskap versprei moet word. Jaco (Orania Beweging)

  8. Piet 2 Oktober 2012 at 14:47 Permalink

    ‘n Pragtige skrif, Sebastiaan. Baie dankie vir die wonderlike insae. Ons mense besef nog nie werklik (of weier om te besef) dat ons Afrikaners Suid-Afrika afgestaan het aan volksvreemdes nie. Dit is verblydend dat die huidige regerende regime veranderings aangebring het aan die alom-bekende nasionale simbole en dit sal ons mense (hopelik) laat besef dat hulle nie meer in Suid-Afrika leef nie wanneer die regime die landsnaam na Azania of iets dergliks verander. Hopelik sal ons Afrikaners dan wakker skrik en besef wat Orania werklik vir Afrikaner heenkome beteken.

  9. Sebastiaan 2 Oktober 2012 at 15:02 Permalink

    Baie dankie vir al die positiewe terugvoering, dis ‘n riem onder die hart. Versprei dit gerus, dit is bedoel dat meer van ons mense dit lees.

  10. anton 2 Oktober 2012 at 16:47 Permalink

    Aangesien ons die minderheid,behalwe in Orania is,maak dit net sin om ons daar te gaan vestig,hopelik kan ek dit gou regkry

  11. Elbie 2 Oktober 2012 at 20:09 Permalink

    Baie dankie vir ‘n uitstekende artikel wat Orania se doelwitte in perspektief plaas. Ek sal dit beslis aanstuur, en hoop een en elk wat dit lees maak ook so. Doen so voort, Orania!!

  12. Victor A.C. Remouchamps 3 Oktober 2012 at 04:48 Permalink

    Ik ben bezig aan een boek dat zich afspeelt tijdens de vrijheidsoorlog van 1899-1902. Mijn bedoeling is om het onderwerp ‘Apartheid’van een andere(Afrikaanse) kant te belichten. IK heb uw stellingen gelezen en zou graag gebruik maken (met uw toestemming) om tenmiste delen daarvan in mijn werk te gebruiken. Ik heb al contact met Wijnand Boshof en John Strijdom die me goed helpen om een historisch verantwoord document samen te stellen

    • Jaco Kleynhans 4 Oktober 2012 at 08:46 Permalink

      Beste Victor. Jy is welkom om van die inhoud te gebruik indien jy erkenning aan Sebastiaan en die Orania Beweging as houers van die kopiereg daarop sal gee.

  13. André van Vuuren 3 Oktober 2012 at 07:41 Permalink

    Absoluut puik. Ek het dit so geniet om die stuk te lees, en in te neem.
    Coen dit is goed om jou weer hier te ontmoet, jy het nogal n punt met jou vraag, want ek glo daar is baie Afrikaners wat hulle met juis hierdie strewe vereenselwig.
    Sebastiaan welgedaan. Ek stoor hierdie mooi uiteensetting verseker op my rekenaar vir toekomstige terugverwysing.
    Seëngroete aan almal.

  14. chris erasmus 3 Oktober 2012 at 10:51 Permalink

    dit is eers waneer daar besoek gebring word aan orania,dat mens besef hoe fantasties dit kan wees indien daar saamgewerk word aan hierdie doelwitte.meeste suid-afrikaners het ongelukkig n mispersepsie oor orania.ek voel dit is baie belangrik dat soveel mense moontlik behoort ingelig te word m.b.t. die strewe van orania. veral die baie wat al so seergekry het as gevolg van die huidige bestel.sterkte en groete.

  15. anton-2 4 Oktober 2012 at 09:31 Permalink

    ek stem hartelik saam met stelling 1. dat vryheid nie verkry kan word deur demografiese druk nie.Ek dink dat stelling 6 daarmee bots, want daar word ander volksgroepe geakkomodeer in die beoogde Noordwes-Kaap-korridor. Dit beteken dat die multi-etnisiteit van die RSA herhaal word.
    2de vraag: hoe ver het Orania tans gevorder op die pad van staatkundige vryheid t.o.v. die RSA ?

    • Sebastiaan 4 Oktober 2012 at 10:15 Permalink

      Anton, dit hang af wat ‘n mens met akkommodeer bedoel. Dit is my hoop en verwagting dat Afrikaners wat ter wille van vryheid na die aangewese volkstaat kom ook buite Orania van selfwerksaamheid en volkseie arbeid gebruik sal maak. Ander volke wat reeds daar is kan egter nie weggejaag word nie, veral nie waar dit gevestigde, plaaslike gemeenskappe is nie. Trekarbeiders wat net ter wille van werk hier is en wat geen spesifieke gebondenheid aan die gebied het behoort self te trek namate weens Afrikaner-arbeid vir hulle geen heenkome meer in die gebied is nie.
      Indien jy meer oor die hele vooruitskouing op die volkstaat wil lees, lees my boek “Beslissing in die Karoo”, wat al die toekomstige uitdagings aanspreek, in die vorm van ‘n roman.
      Wat die tweede vraag betref: nog nie vêr genoeg nie, maar voldoende vir dit wat ons het, naamlik ‘n erkende plaaslike owerheid kragtens ‘n 2000 hofuitspraak, en die moontlikheid vir meer in artikel 235 in die grondwet asook deur die akkoord tussen die ANC, VF en NP in 1994.
      Reg volg praktyk (met erkenning aan prof. Koos Malan), maw daar moet eers inhoud wees en dan ‘n resgraam daar rondom, nie ‘n teoretiese regsbeginsel wat nog met inhoud (praktyk) gevul moet word nie. Daarom is ook al die aansprake op grond van historiese en internasionale verdrae taamlik waardeloos.

  16. andries Badenhorst 5 Oktober 2012 at 15:25 Permalink

    dit sal wonderlik wees om my huis te verkoop en daarheen te trek,maar ek kan nie sien dat n sweis besigheid daar n bestaan sal kan maak nie en vermoed dat ons ook nie die grond daar kan besit nie.Verskoon my,my moontlike onkunde dit lyk asof ek daar slegter af sal wees!!!
    (1)Kom koop by ons ten duurste, maar die grond behoord nie aan my nie.
    (2)Kom maak n besigheid oop by ons maar probeer geld van buite kliente af kry aangesien ons nie het nie.
    So wat is die punt,of mis ek dit?

    • Marna Swart 5 Oktober 2012 at 22:04 Permalink

      Naand Andries

      As ek so voorbarig kan wees om as ‘n gewone aandeelhouer jou te antwoord:
      Die hele idee van Orania as ‘n aandeelblokmaatskappy is deur heelwat baie kundige regslui beplan en voorgestel as van die beste oplossings vir die toekoms terwyl ons nog binne NSA is. Die wysiging aan die maatskappywet, het ook vir Orania die kans gegee om sy eie maatskappy se grondwet so te wysig dat dit in lyn is om in die toekoms oor te gaan in ‘n staatkundige bedeling. Elkeen wat eiendom koop is ‘n aandeelhouer in die Aandeelblokmaatskappy Vluytjeskraal en het dienooreenkomstig stemreg in die maatskappy en is jou aandeel aan ‘n spesifieke eiendom gekoppel. Die bestuur werk baie soos ‘n beheerliggaam van ‘n deeltitel meenthuiskompleks.

      Dis nie mooi duidelik wat jy met jou vraag1 “Kom koop by ons ten duurste, maar die grond behoord nie aan my nie.” bedoel nie. As jy bv in ‘n meenthuiskompleks koop, moet jy jou ook aan die reëls van die beheerliggaam hou volgens die Deeltitel Wet en hier word dit beheer deur die Aandeelblok Wet.

      Jou vraag2 is tog die geval in enige ander plek in SA waar jy ‘n besigheid gaan oopmaak – jy sal moet kliënte soek en kompeteer met ander wat dieselfde tipe werk doen. Mens kan tog nie verwag dat minder as ‘n duisend mense (wat almal omtrent ‘n sewende van hulle normale inkomstes wat hul elders sou verdien het, in Orania verdien) verwag om alle tipes besighede te dra nie – hulle gaan dalk 1keer in hulle lewe van ‘n sweisbesigheid gebruik maak. Hier is nie diefwering nie wat dus maak dat geen huis so iets sal nodig kry nie.

      Mens kan tog nie net altyd verwag ander moet jou dra nie! Mens moet baie noukeurig navorsing doen oor wat benodig word in Orania – waar is daar ‘n nismark en dan moet mens daardie diens lewer.

      vind uit by die sakekamer wat se besigheide is reeds in Orania en bepaal so wat se aanvraag is daar vir watter soort ander besighede!!

      Die eintlike punt, Andries, is of mens saamstem met Orania en sy strewe en hoe hy die strewe in die praktyk toepas – soos wat Sebastiaan dit verwoord het. As jy dan daarmee saamstem, dan sal jy weet of dit is wat jy in jou hart voel en of jy in jou hart jou daarmee kan vereenselwig en dan sal jy weet of jy met sulke mense sal wil saamleef!!!

      Dit is ‘n keuse en besluit in jouself – nie ander wat vir jou op die hande moet dra nie – dit gaan oor wat se bydrae jy dink jy sal kan lewer om hierdie strewe te verwesenlik!!

      Groete
      Marna

  17. Marna Swart 5 Oktober 2012 at 21:50 Permalink

    Baie geluk, Sebastiaan!! Baie goed verwoord!!

  18. Louis 7 Oktober 2012 at 18:29 Permalink

    Ek geniet altyd jou artikels want jy skryf op ‘n strategiese lang termyn vlak, maar die meeste mense wil in die kort termyn 3-5 jaar beplan. Ek wil graag ‘n plan sien: n visie vir Orania in 2020.

    Orania 2020 sal die volgende insluit:
    a. Hoe die dorp sal lyk in 2020?
    b. Wat sal die dorpsraad/orania beweging doen om die teikens te bereik?
    c. Wat kan afrikaners doen om te help?

    • Sebastiaan 9 Oktober 2012 at 07:42 Permalink

      Dankie Louis.

      Wat Orania 2020 betref moet diegene in gesagsposisies eerder antwoord, soos Jaco Kleynhans wat by die Orania Beweging en die Dorpsraad betrokke is.
      Uit my vwaarneming kan ek wel sê waarmee altwee organisasies besig is om Orania op ‘n nuwe vlak te vat:
      1. Skep van huurbehuising
      2.Skep en diens van nuwe erwe
      3. Aankoop en ontwikkeling van plaasgornd (‘n derde organisasie, Kambrolandskap Korporasie en Vluytjeskraal Noord Korporasie)
      4. Verfraaiing van die dorp, verbetering van estetiese voorkoms,wat projekte soos nuwe en gestandadiseerde naamborde, aanwysings ens insluit, strenger toepassing van dorpsregulasies en bouregulasies, nuwe tuine in openbare ruimtes, vorentoe herontwerp van die ontvangsarea rondom die vulstasie.
      5. Opgradering van dienste om groter getalle mense te kan vestig.

      Wat Afrikaners kan doen om te help is die volgende:
      *Sluit aan by die Orania Beweging
      *Belê jou spaargeld by OSK, Orania Groeifonds of Ou Karooplaas winkelsentrum
      *Koop eiendom as belegging, verhuur dit solank en help om ‘n gesin hier te vestig of te hou.
      *Gee vir die Helpsaamfonds se Nerina-projek om behuising te skep
      *Besoek Orania en spandeer jou geld hier.
      *Reël Orania inligtingsaande en lig jou vriende en kennisse in (maw doen sendingwerk vir die volkstaat).

      Daar kan nog bygevoeg word.

    • Jaco Kleynhans 9 Oktober 2012 at 09:19 Permalink

      Louis,

      Ons denke is tans om goed te beplan sonder om lugkastele te bou wat mooi klink, maar ons nie juis help om te vorder nie. Sebastiaan se lys van dinge wat tans gebeur is baie sinvol. Ons strategie is tans om vir vinniger groei te beplan. ‘n Paar ontwikkelaars beplan omtrent 600 nuwe erwe in Orania oor die volgende 5 jaar. Die Dorpsraad is tans besig met stadsbeplanning vir ‘n hele nuwe woonbuurt waar meer as 1000 mense sal kan woon. Infrastruktuur soos paaie, riolering, elektrisiteit en water word opgegradeer om vir groei voorsiening te maak.

      Om dus jou drie vrae te probeer beantwoord:
      1. Persoonlik sien ek min sin in beramings indien ons nie weet hoe om daar te kom nie. Ek kan sekerlik wens dat ons teen 2020 so 5000 of selfs 10 000 inwoners moet hê, maar ‘n klomp goed (infrastruktuur, ekonomiese ontwikkeling, behuising, ens) moet eers in plek kom voordat ons hierdie soort berekeninge kan maak.
      2. Ek dink die vraag is redelik beantwoord deur myself en Sebastiaan oor wat tans alles gebeur. Voorts (en dit sluit by jou derde vraag aan) moet ons natuurlik ondersteuning en betrokkenheid van buite werf.
      3. Afrikaners wat nie nou na Orania kan trek nie moet in my opinie die volgende doen: (a) Sluit by die Orania Beweging aan, (b) Belê in Orania deur die Groeifonds, OSK of deur eiendom te koop, (c) raak betrokke by projekte soos maatskaplike (Helpsaam), onderwys (ons skole), ens. en (d) stel mense aan Orania bekend deur ons bemarkingsmateriaal te versprei, mense hierheen te bring,ens.

  19. Frits 18 Oktober 2012 at 15:34 Permalink

    Ik vind, de ’10 stellings’ (hierboven), goed doordacht en standpunten die goed te verantwoorden zijn. Ja, zeker de moeite om je hierbij aan te sluiten. Zinvol, voorzichtig, maar reëel en overtuigd principieel. Ga zo door, Orania en jullie gaan nog jullie einddoel bereiken ook: een eigen hartland/volksstaat voor de Afrikaners. Als dat op deze levensbeschouwing plaats vindt, steun ik het in ieder geval van harte.

  20. Bastian Bakkes 27 Oktober 2012 at 07:20 Permalink

    Sebastiaan ,
    Ek glo jy sal my onthou . Ek sien jy beywer jou onbeskaamd vir die saak van die Afrikaner . Ek haal my hoed af vir jou . Ek dreig al lankal om ‘n paar dae te kom spandeer in Orania , het tot dusver net deurgery deur Orania . Ek sal baie graag ‘n gekoördineerde besoek wil bring waar mens die ware Orania kan sien en met die inwoners kan praat sowel as julle wat aan stuur van sake is . Die melkery hou ons baie besig , ek is egter gelukkig om my seun Sebastian op die plaas te hê wat my meer vryheid gee . As ontspanning doen ons graag 4×4 uitstappies . Wat ek wil voorstel is , reël ‘n kamp-naweek ( of gastehuis vir diegene wat nie wil kamp nie ) vir my en ‘n paar vriende sodat mens op die wyse die “Orania-saad” kan versprei .
    Stuur gerus ‘n epos aan my as jy meer inligting verlang of wil oordra .
    Ns. Het jy Hennie al bearbei ?

    • Sebastiaan 29 Oktober 2012 at 10:27 Permalink

      Hallo Bastian,

      ja, ek onthou jou goed. Gee my jou eposadres, dan sal ek oor al die private goed skryf, hierdie is ‘n forum wat almal kan lees. of kontak my by afsaal@oranet.co.za

      Groete

      Sebastiaan

  21. Danie Smit 19 Maart 2013 at 04:00 Permalink

    “Goed opgelei en tevrede”. Die negatiewe berigte in die Rapport en Orania se eie glanstydskrif, met aanhalings van mense wat in Orania bly en dus hul Afrikaner droom gevolg het, sit waarskuwings ligte aan. Ek kan nie dink dat ‘n gekwalifiseerde persoon , wat weet dat hy of sy eintlik net ‘n bywoner op die Oranoia stigters se grond sal wees, sal vrywillig betaal, om na Orania toe trek nie. Ek kan ook nie dink dat enige Afrikaner wat vir hom haar self kan dink , tevrede sal wees om Orania se stigters en hulle nageslag te verryk nie. ORANIA STIGTER LEDE EN HUL ERFGENAME, TER WILLE VAN DIE AFRIKANER WEES ASB EERLIK MET ALLE INWONERS EN BELANGSTELLENDE AFRIKANER BELEGGERS, OOR JUL BLYKBAAR PERMANENTE 80% BEHEER VAN ALLE BESLUITE IN ORANIA. DIS LOGIES DAT JUL VERGOED WORD VIR JUL AANVANKLIKE RISIKO KAPITAAL, WEES EERLIK OOR DIE VERGOEDING. ‘N OOP EERLIKE SKRIFTELIKE VERDUIDELIKING OOR ORANIA STEMREG KAN MOONTLIK BAIE OPGELEIDE ERVARE MENSE TREK, WAT HUIDIGLIK SO GOU HUL WEET , WAAR ORANIA SE BEHEER WERKLIK IS, NET WEGSTAP VAN DIE AFRIKANERIDIAAL, EN EERDER OORSEE GAAN. Ek wag nou al meer as ‘n halwe jaar vir daardie eerlike skriftelike verduideliking, is die stigters en hul erfgename skaam oor die feite?

    • Sebastiaan 19 Maart 2013 at 09:02 Permalink

      Danie Smit, Jaco Kleynhans, die hoof van die Orania Beweging, het jou al breedvoerig geantwoord en verduidelik hoe die aandeelblok en die maatskappywet werk. Of jy wil dit nie verstaan nie, of jy is bloot moedswillig deur die leuen van “die stigters wat hulle verryk” te herhaal.


Lewer Kommentaar

*