02 Mei 2011 ~ 8 Kommentare

“Vryheidsdag”: Hoe vry is ons werklik?

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl

Elke jaar op 27 April (ek sou 1 April verkies) vier Suid-Afrika sy sogenaamde Vryheidsdag. In die eerste plek is dit ‘n dag om die eerste algemene verkiesing te vier, en die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, waar swart en wit dieselfde regte het, of so word ons vertel. Sonder twyfel het swartmense talle burgerlike regte bygekry wat hulle voor die tyd nie gehad het nie.

Afrikaanse hoofstroom-kommentators in veral die Naspers-koerante verwys egter gereeld daarna dat Afrikaners self ook talle vryhede bygekry het en dus nes swartmense hierdie dag kan vier. Kom ons kyk hoe vry is ons werklik.

Ja, toegegee, Suid-Afrika beskik oor alle liberale en burgerlike vryhede, redelik onbeperk (in teorie). Daar is goeie vryhede, soos die vryheid van spraak, vryheid van beweging, vryheid van assosiasie, godsdiensvryheid, die vryheid om jou taal en kultuur te mag uitleef,  die vryheid om eiendom te mag besit, die vryheid van inligting en andere meer. Daar is ook vryhede wat nie eksplisiet regte is nie, maar wat saam met die globaliseringsgolf gekom het nadat Suid-Afrika sy poorte vir die wêreld oopgegooi het, soos die bykans onbeperkte keuse van produkte, om makliker te reis en om enige internasionaal bekende kunstenaar in Suid-Afrika te hê.

Dan is daar ook twyfelagtige vryhede wat ‘n mens liewers nie wil hê nie, soos die vryheid om in bykans elke dorp en stad te mag dobbel, om enige perverse internasionale pornografiese tydskrif of boek te mag besit en vrylik in die hande te kry, die vryheid om met iemand van dieselfde geslag te mag trou, om maar enkeles te noem.

En, soos wat dit maar die geval is met regte en vryhede in ‘n diverse samelewing, eindig die een se vryheid daar waar die ander een s’n te sterk uitgeleef word.
Kom ons vat enkele voorbeelde. Die vryheid van spraak is ‘n kosbare vryheid, maar wat van haatspraak? Ten spyte van vryheid van spraak is sekere rassistiese terme, om goeie redes, verbode. Tans moet getoets word, met die Malema-hofsaak van AfriForum en Transvaalse Landbou Unie, of die beperking op haatspraak ook vir ANC-heethoofde geld.

‘n Ander voorbeeld is godsdiens. Ja, ons mag almal glo wat ons wil, maar as dit by die uitleef kom dan kom ons in ‘n pluralistiese en hiper-liberale samelewing gou aan grense. Ek as Christen mag kerk toe gaan, maar ek moet aanvaar dat alle winkels op Sondae oop is, dat boeke en publikasies wat God beledig orals aangeprys word en dat norme en waardes wat in stryd met Christelike moraal is, gepropageer en deur die staat beskerm word. Christelike simbole mag nie in openbare plekke vertoon word nie en opening met Bybellees by die skool gee aanstoot aan die hiper-sekulêres (wat agter ander gelowe skuil ter wille van die argument).

Selfs die vryheid van verblyf en  van beweging, en die reg tot eiendom (‘n fundamentele baken van vryheid volgens die konserwatiewe denkers Edmund Burke en Adam Smith) word erg ingekort in die huidige Suid-Afrika. Die vryheid van plakkers om orals te mag bly woon waar hulle is, ongeag of die grond aan hulle behoort, tas eiendomsreg aan.

Die vryheid om my taal en kultuur uit te leef tref daar op grense waar die eis van toeganklikheid en verteenwoordigendheid belangriker word en geen Afrikaanse en Christelike skool of universiteit meer kan bestaan nie omdat dit kamstig mense uitsluit. Die omgekeerde, dat ‘n Engelse of sekulêre skool op sy beurt Afrikaners en Christene uitsluit, geld blykbaar nie.

Saam met vryheid moet ook die reg op veiligheid gaan, maar die regering en sy instansies kan dit nie waarborg nie, en burgers word verbied om hulle eie veiligheid te verseker deur die streng beheer op wapenbesit en die afskaffing van kommando’s, asook ‘n regstelsel wat regte van misdadigers hoër ag as die regte van gewone burgers.
En so kan ‘n mens aangaan. Die voorbeelde illustreer dat vryhede in ‘n plurale, heterogene samelewings eintlik meer op papier as in praktyk bestaan. In teorie het ons alle denkbare regte, in praktyk kan ons min van hulle uitleef, want óf dit bots met ander regte, óf ons het net nie die middele daartoe nie.

Dit bring my by die volgende punt: die genoemde vryhede in die Suid-Afrikaanse grondwet is veral op individue gerig, maar belangrike, indien nie die meeste vryhede nie, word in groepsverband uitgeleef, soos godsdiens, taalgebruik, beoefening van jou kultuur, beveiliging en assosiasie.

Dit alles in ag genome is ons nie vry in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit klink paradoks, maar vryheid kan nie in ‘n lugleegte uitgeleef word nie, maar in ‘n duidelik omlynde gebied (institusioneel sowel as geografies) waar die lede dieselfde siening oor vryheid en veral dieselfde waardes handhaaf.

Ons strewe na territoriale en daarmee saam institusionele vryheid is dus mynsinsiens die enigste gangbare weg. Ons kies as groep voor die tyd die vryhede wat vir ons belangrik is, en ander liberale vryhede (soos die reg om as man met ‘n man te trou) wil ons nie hê nie. As Afrikaner is ek vry as ek alles in Afrikaans kan doen, nie as ek weet dat Afrikaans een van 11 amptelike tale is waarin ek met groot beperkinge ‘n paar dinge kan doen; ek is vry as ek op die Afrikaanse manier my God kan aanbid, saam en op dieselfde manier as my volksgenote, nie as ek hoor dat alle godsdienste ewe goed en ewe reg is; as ek weet dat my grond en bodem aan my behoort en aan my nageslag oorgedra sal word en nie as enigiemand die vryheid het om te bly waar hy wil, al is dit op my voorstoep teen my wil; as die waardes wat ek deel met my volksgenote, deel is van ons grondwet en ons daaglikse handel en wandel, nie as liberale denkers ‘n permissiewe grondwet prys as die beste in die wêreld nie.

Die liberale kritici sal aanvoer dat dit ‘n erg onverdraagsame houding is wat ander mense uitsluit. Nee, dit is nie, want elke groep mag volgens sy eie oortuigings sy vryhede uitleef, op sy eie gebied, en hulle mag self besluit wat hulle glo en wil doen. Al rym dit nie met my oortuigings en weë nie, dan pla dit my nie, want ek het saam met my mede-Afrikaners my eie ruimte van uitlewing. Dat dieselfde vryhede vir uiteenlopende groepe mekaar uitsluit of sterk beperk, beleef ons elke dag in Suid-Afrika. In ‘n te uiteenlopende en heterogene samelewing is net diegene vry wat geen vaste oortuigings meer het nie, of diegene wat vir hulle vryhede kan koop.

Deel/Stuur

8 Reaksies op ““Vryheidsdag”: Hoe vry is ons werklik?”

  1. Ben le Roux 3 Mei 2011 at 14:35 Permalink

    “In ‘n te uiteenlopende en heterogene samelewing is net diegene vry wat geen vaste oortuigings meer het nie, of diegene wat vir hulle vryhede kan koop.” Hierdie laaste reel in jou skrywe som dit mooi op want vryheid bevat in hom ‘n teenstrydigheid! Al waar ek verskil is dat dit nie gekoop kan word nie,voorregte wel, maar nie vryheid nie! Om standpunt in te neem maak mens verantwoordelik vir die gevolge wat daaruit voortspruit! Verantwoordelikheid beperk jou en maak jou onvry! Dus alleenlik die wat sonder enige oortuiginge leef kan as vry beskou word. Boemelaars is dan seker dan van die enigstes wat op vryheid aanspraak kan maak! Regte het mens wel maar regte verskil van gemeenskap tot gemeenskap. Waar gemeenskappe se regte bots kry mens konflik! Is skeiding dan nie maar die enigste oplossing nie? Suid Afrika is ‘n land vol werklike en moontlike konflikte en in so ‘n land kom die demokrasie se wielietjies baie vinnig af! Afrika in sy geheel gesien,is ‘n kontinent waar etniese konflik seker die grootste struikelblok tot vooruitgang is! Demokrasie het hier nog oral gefaal juis deur die miskenning van die regte van etniese groepe. Vryheid soos geluk,is iets wat indirek ervaar word! As jou regte erken word dan is jy vry!

    • Sebastiaan 3 Mei 2011 at 15:00 Permalink

      Oom is reg. Om vryheid te koop is net so onmoontlik soos om liefde te koop. Wat mense wel kan koop is aspekte van vryheid, soos veiligheid, ‘n skoon omgewing, ‘n stukkie kultuur, ‘n mate van selfbeheer in ‘n private woonbuurt.

  2. Brugman 4 Mei 2011 at 11:46 Permalink

    Geachte lezer:

    Naar aanleiding van het artikel van Sebastiaan Biehl, het volgende. Alles hierboven geschreven komt in elk land voor, in meer of mindere mate. Uw (betrekkelijke) voordeel, in Zuid Afrika, boven ons land, Nederland, is dat u nog veel ruimte heeft en zich kan afzonderen. (Orania) Anderzijds dat u een geschiedenis heeft waar men lessen van kan trekken. U heeft een mooi land, ik heb er tussen 1970 en 1975 mogen wonen en werken, een land waar alles nog mogelijk is. wees er trots op. Maar dat kan niet als men zich afzondert. “Niet zeuren maar poetsen” zeggen wij hier.

  3. T. Hart 6 Mei 2011 at 08:00 Permalink

    Dis maar selde dat ek kommentaar oor iets in ons volksopset waag. Dus hier sommer oor ‘n paar sake:

    Prof Koos Malan se ‘Politokrasie’ lyk belowend. Oor Sebastiaan Biehl se standpunte is ek nie so seker nie. Dalk is vriend Brugman se kommentaar die naaste aan die kol. Miskien moet ons minder ‘zeuren’, maar dan is toestande in die land (en die wêreld) ook nie meer wat dit in 1970-75 was nie. Dus is ‘n mate van ‘afsondering’ miskien tog nodig. Snaaks, maar in die omgewing waar ek woon – met darem nog ‘n eie ‘voorstoep’ – min of meer, is dit bv nie ‘ander mense’ wat Sondae rustig inkopies doen of van meet af ‘die ander taal’ gebruik nie.

  4. Riaan Venter 6 Mei 2011 at 09:57 Permalink

    Ek bevorder graag die onafhanklike ‘staat’ waar my idee van vryheid kan geskied en kom dan ook teen meetsal een teenkanting te staan. Oor die algemeen word vryheid van spraak verwar met vryheid van assosiasie en/of opinie en dit is hier waar die grootste struikelblok le.

    In die ‘bemarking’ van selfbeskikking is die ondersteuners onbewustelik erg onverdraagsaam teenoor die ‘stille ondersteuners’ (wat bang is dat hulle bekentenis van ondersteuning sal op een of ander wyse aanstoot gee) en myns insiens is dit die grootste inperking van vryheid, die selfopgelegde een.

    Self-opgelegde inperking lei to isolasie en dit is die gevaar van aparte selfbeskikking. Sou hierdie self verwesenliking bemark en uitgeleef word as onmoontlik sonder diversifikasie en erkenning aan ander groepe met die selfde uitdagings (selfs ondersteuning), dan het ons ‘n kans tot werlike groei van ons ideale en selfs polities annvaarbare ‘aparte’ gemeenskappe.

  5. Danie 7 Mei 2011 at 18:22 Permalink

    “Ons kies as groep voor die tyd die vryhede wat vir ons belangrik is, en ander liberale vryhede (soos die reg om as man met ‘n man te trou) wil ons nie hê nie.” Sien ek ‘n tikkie homofobie hier? Mnr Biehl, gay Afrikaners is en bly deel van ons gemeenskap, met net soveel waardevolle bydraes om te maak soos enige ander Afrikaner. Wat u sien as “liberale vryhede” is dalk net ‘n gelyke vryhede vir ander.

    • Ds Danie Malan Hoopstad 18 Mei 2011 at 16:11 Permalink

      Kan persone wat reageer nie asb hulleself beter en vollediger identifiseer nie? Daar is bv. baie Danie’s in die RSA, en ek verskil nogal radikaal van hierdie Danie!

      Miskien moet ons – om spraakverwarring en onsekerheid te voorkom -‘n slag reguit en eerlik begin definieer wat ons mense in die algemeen onder die begrippe homoseksueel/homoseksualiteit/homoseksualisme /”gay” verstaan – in teen stelling met filadelfia / broederliefde. Want by lg. is geen sosiaal-onaanvaarbare, onBybelse deur God veroordeelde en veragte sprake van seksuele verkeer tussen persone van dieselfde geslag (dus ook soos by lesbiane) ter sprake nie!

      Terloops, Vryheid (in die breedste sin van die woord) is en moet m.i. altyd gekoppel word en bly aan verantwoordelikheid en gebondenheid! ‘n Seevis is vry om die oseane na hartelus te deurkruis, maar is steeds gebonde aan die water – word dit daar uitgeneem, vrek dit! So het een Amerikaner eendag ‘n andereen wat met sy woeste armgeswaai hom (per abuis?) op die neus geslaan het voor die bors gegryp en toe die slaner hom daarop wou wys dat dit ‘n vry land is waar hy kan doen wat hy wil, geantwoord: “Boetman, jou vryheid eindig waar my neus begin!” Dus die vryheid wat ek myself wil toe-eien mag ander se vryhede of beoefening daarvan nooit inperk nie.

      • ARNOLD DE BEER 4 Junie 2011 at 14:57 Permalink

        Ds, dit was nou skerp.
        Wens ek was pinokio. (spelling?)


Lewer Kommentaar

*