03 Desember 2010 ~ 5 Kommentare

‘n Volk met al sy dele, nie ‘n klassesamelewing nie

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Een van die opmerklikste verskynsels van Orania wat vir besoekers en nuwe intrekkers opval is die sigbare naasbestaan van laerklas en middelklas.  Daar is sowel opregte bewondering vir witmense wat al die harde werk self doen wat buite die volkstaat feitlik uitsluitlik deur swartmense gedoen word, asook ‘n onbewustelike neusoptrek vir mense wat daardie werk doen en wat partymaal ander voorkoms, kledingstyl en gewoontes as die middelklas het. Dit het ook daarmee te doen dat jy as middelklasmens (soos die skrywers en seker die grootste deel van die lesers van hierdie rubriek) in die opset van die stede en selfs van die plattelandse dorpe met mense van die laerklas, of dan die werkers, niks te doen het nie. In die eerste plek is hulle feitlik almal swart en daar is nog steeds ’n duidelike skeidslyn. Die wat wel wit is woon vêr van jou af en jy kom nie in aanraking met hulle in die opset van jou werk, jou buurt, jou skool, jou kerk, vereniging en winkelsentrum nie.
In die geskiedenis het ons twee uiterste benaderings tot die werkersklas gekry wat ook maar vandag nog in sagter vorme voortbestaan: aan die een kant die aristokratiese meerwaardigheid (komende uit Engeland) waar daar streng klasgrense gehandhaaf is en die werkers eenkant gehou is om die adel (en later die geldadel ) nie te besoedel nie. Aan die ander kant was die kommunistiese ophemeling van die  werkers as synde die beter mense en daarteen die  “bourgeoisie” as die uitbuiters wat uitgeroei moet word.

Beide sienings is skadelik en fundamenteel verkeerd en het niks goeds opgelewer nie. Beide is klasdenke. Dit vind sy voortsetting in huidige sienings van ‘n globale elite wat dinge moet beheer aan die een kant, en ‘n verbeelde solidariese gemeenskap van armes en werkers wat bevry moet word van hulle “uitbuiters”, aan die ander kant.

Die nasionalisme, dikwels gekritiseer omdat dit grense tussen volke stel, het dit wel reg gekry om die volke self te verenig. Dis is ook maar die benadering wat ons in Orania volg, of behoort te volg: ons is een volk, al bestaan die volk uit groepe en het skakerings, maar almal is ewe deel daarvan en almal is nodig en lewer ‘n bydrae. Of die volk ‘n Godgegewe en onveranderlike entiteit is, of ‘n verbeelde en hoogs lukrake en veranderlike verskynsel is ‘n ander debat vir ‘n ander plek. Feit is dat die mense  wat in Orania woon en werk ten spyte van individuele verskille wel kenmerke dra wat hulle van mense buite onderskei.

Die sosialistiese ideaal dat almal eendag deel van ‘n baie breë middelklas is en dat, om dit te bereik, die werkers opgehef en die akademici teruggehou moet word, is onwerkbaar. Wat nodig is, is dat erken word dat ‘n staat, om te funksioneer, handewerk sowel as kenniswerk en bestuur nodig het en dat die een nie meer verhewe as die ander een is nie, al vat die opleidingstydperk vir sekere beroepe langer as vir ander.  Niemand moet die ander verag of jaloers wees op hom  en sy werk begeer nie.

Die Romeine het reeds in die vroeë Republiektydperk die konflik gehad tussen die Plebejers (werkers) en die Patriziers (adel en grondbesitters) en die Plebejers het besluit Rome te verlaat en ‘n eie samelewing sonder die Patriziers te begin. Een van die patriziers kon hulle toe deur middel van ‘n eenvoudige gelykenis oortuig om terug te keer Rome toe:  Die staat (of dan volk) is soos ‘n liggaam. As die hande en voete  besluit dat die kop niks doen en lui is en net vreet terwyl hulle net kos vir die mond moet voer en hom moet ronddra, en dus besluit om daarmee op te hou dan lei die hele liggaam. Die kop mag voorkom asof hy niks doen nie, maar die brein hou al die liggaamsdele aan die gang. ‘n Liggaam kan nog sonder een hand of een voet funksioneer, maar nie sonder ‘n brein nie.

As ons as Afrikaners besef dat ons nie as volk kan  voortbestaan nie solank ons afhanklik is van vreemde hande wat ons voer, dan het ons ‘n belangrike les geleer.
Waardering tussen handewerkers en breinwerkers vir die ander een se bydrae is nodig. Natuurlik moet daar grade wees wat vergoeding betref, gemeet aan die opleiding wat nodig is om ‘n sekere opleidingsvlak  te bereik. Ook binne die werkskategorieë is daar grade, ‘n gekwalifiseerde werktuigkundige sal uit die aard van die saak meer verdien as ‘n leerling. Of ‘n geoktrooieerde rekenmeester meer as ‘n klerk. Maar almal moet die geleentheid hê om homself binne sy lyn te kan opwerk en om vooruitgang te maak.

Dit is verkeerd om neer te kyk op ‘n ou wat sy hande vuil maak, maar ook om jaloers te wees op een wat heeldag in ‘n kantoor sit, asof “regte” arbeid altyd net handewerk moet wees.

As een liggaamsdeel swaar kry, ly die hele liggaam. Dit is dus in ons elkeen se belang om te sien dat handewerkers en kenniswerkers graag in die volkstaat wil wees en hulle beste gee vir die opbou daarvan, elkeen volgens sy roeping en vermoë en met respek vir die ander een se bydrae.

Deel/Stuur

5 Reaksies op “‘n Volk met al sy dele, nie ‘n klassesamelewing nie”

  1. Ben 5 Desember 2010 at 06:07 Permalink

    Orania is nog ‘n jong gemeenskap en dus het daar nog nie ‘n ‘Pecking order’tot stand gekom nie. ‘n Klaslose samelewing is ‘n ideaal en net dit.Kuba,as voorbeeld van die klaslose gemeenskap sal dit net bly solank as wat die sosialisme almal arm hou. Sodra daar onderlinge kompetisie,eie aan die kapitalisme,kom verander die prentjie.Niks daarmee verkeerd nie solank as wat ruimte gelaat word vir individue om deur eie prestasie van stand te kan verander.Waar daar probleme ontstaan is wanneer ‘n rastipe nie in sy geheel nie die vermoee het om mee te ding nie.Te maklik kry rassediskriminasie dan die skuld.Met gebiedskeiding verval die basis van so ‘n argument.Nasionalisme bring groter samehorigheid onderling en dit is goed.Dat nasionalisme grense tussen volke stel is waar maar sulke grense is nodig.Sou sulke grense afgetakel word en die mensdom beweeg as ‘n eenheid voort waaraan gaan ons ons prestasies meet.Daar moet tog iets of iemand wees om mee te vergelyk.Sou die verkeerde koers ingeslaan word foeter almal oor die afgrond.Selfs in die beoogde volkstaat behoort ons voorsiening te maak vir verskeidenheid maw desentralisasie teenoor sentralisasie.

  2. Gerhardus 6 Desember 2010 at 09:09 Permalink

    Pragtige voorstelling!

    As onderwyser, is daar soms die wat kyk en dink jy het alles wat lekker is en dit is so dat werkers jaloers raak. Maar nog nooit het ek enige werker minder behandel as my dokter nie. Want as christen is ons gelyk voor die oe van God en net soos die kerk beskryf word as een liggaam so is dit met enige samelewing.
    Daar is twee tipe persoonlikhede; die een wat vir iemand WIL werk en een wat WIL he ander moet vir hom/haar werk. As dit jou KEUSE is om vir iemand te werk, waarom kla as dit lyk of dit beter gaan met hom/haar as met jou. Want onthou die een wat min betaal word dra die minste risiko. Maar daar is altyd ‘n KEUSE, waarom nie een maak en geliefd neem daarmee nie. Dit was tog mos immers jou EIE keuse, en as jy ongemaklik is met JOU keuse, verander dit!

    • Willem 7 Desember 2010 at 08:43 Permalink

      Gerhardus,

      dit klink nou amper of jy die “slagoffers” die skuld gee dat hulle uitgebyt word. Ek stem saam dat daar baie is wat nie wil werk nie en wat jaloers is op mense wat werk.

      Mense het nie altyd ‘n keuse nie. Partykeer moet jy vat wat jy kry en ek het nog bittermin werkgewers tee gekom wat nie hulle werknemers uitbyt nie. Baie van hiedie sogenaamde Christene sit Sondae reg voor in die kerk, maar maandag gaan hulle voort om hulself te verryk ten koste van hulle werknemers. Ek persoonlik ken ‘n hele paar hardwerkende mense wat gemanupleer en misbruik word deur hierdie Afrikaner-ape wat loop en spog met al hulle aardse rykdomme.

  3. Rozanne Meyer 7 Desember 2010 at 10:40 Permalink

    Baie goed geskryf vriend!

  4. Riaan V 20 Desember 2010 at 20:02 Permalink

    Dit klink seker na ‘n “contradictio” maar ek stem saam met al die standpunte hierbo. Dit is so dat ALMAL nie altyd ‘n bewustelike keuse maak nie, maar meesal is daar maar diegene wat die baas moet wees en ander wat Klaas moet wees. Geld, geleenthede, ervaring, kennis, intelligensie ens is natuurlik alles faktore wat ‘n rol speel. Baie Klase gebruik natuurlik hierdie “uitbuit” verskoning maar te graag as ‘n verskoning vir alles wat verkeerd loop, nes apartheid vir alles die skuld kry in Suid-Afrika, elke keer as die regering weer ‘n misoes het. Mi is dit die probleem in SA, die brein is nou WEL NET die parasiet wat eet en niks doen nie, dit is disfunksioneel derhalwe nie in staat om die liggaam aan die gang te hou nie, en nou vrot alles.

    Sebastiaan se Romeinse ryk het ook geval toe die brein agv dekadensie ook nie meer behoorlik kon funksioneer nie, ‘n probleem wat darem seker nie in Orania bestaan nie.


Lewer Kommentaar

*