11 Julie 2011 ~ 2 Kommentare

‘n Lang treinrit en ‘n blitstoer van Bangkok

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl.

 

In die middag het ons op die trein van Butterworth na Bangkok geklim, ‘n rit van 24 uur. As trein-entoesias was dit vir my ‘n genot om so lank te kon trein ry. Saam met die stuk van Singapoer na Kuala Lumpur en van daar af na Butterworth was dit naby aan 2000 kilometer. Die landskap was nog steeds baie dieselfde as op die vorige rit, maar nog steeds ‘n lus vir die oog: nat ryslande, rubberboom- en palmplantasies, af en toe ‘n dorp of stad wat effens ondefinieerbaar was, half modern, half tradisioneel.
Teen die aand se kant het ons die grens met Thailand bereik, alles het die keer sonder probleem gegaan en dit was ‘n vriendelike atmosfeer op die trein. Ons buurman in die ry sitplekke langs ons,’n ouerige Engelse wêreldreisiger, wat al in Birma was, het ons van daar vertel en ons ook inligting oor Bangkok gegee. ‘n Ete en ons gebruiklike glas gin met lemonade het die dag afgesluit voor ons in die voorbereide knus beddens kon inklim. Die trein het deur die nag oor die nou landbrug wat as die Isthmus van Krah bekend staan, gery. Thailand en Mjanmar se suidelike grens strek tot daar en Maleisië begin verder suid waar die skiereiland weer dikker raak. ‘n Interessante geografiese verskynsel, maar daarvan kon ons niks sien nie. Ons het naby die paradysagtige strande van Thailand gery, maar die trein was te vêr in die binneland om die kus te kon sien. Die toeristemagnete van Thailand, soos Phuket en Kho Phi Phi is hier in die suide geleë, en dis ook hier waar die tsunami van 2004 soveel verwoesting gesaai het. Ek het egter geen verlange bespeur om daardie toeristemekkas met al hulle onheilighede en kunsmatige en gekommersialiseerde opset te besoek nie.

In die middag kom ons toe nader aan Bangkok, ‘n reuse stad met ellendige plakkerskampe direk teen die spoorlyn. In die tropiese groen agtergrond lyk dit miskien minder droewig, maar die armoede is skreiend. Dit is maar ‘n gevolg van die ou verskynsel van vlug na die stede omdat daar ‘n kamstig beter lewe wag as in die platteland. Die platteland is wel arm en agterlik, maar ten minste het mense daar gevestigde strukture, grond om te bewerk en voedsel om te eet, maar in die stad is dit ellende.

Thailand, en veral Bangkok, is ‘n stad waar armoede en rykdom, vooruitgang en tradisionele lewe langs mekaar plaasvind en direk langs die plakkerskampe was nuwe geboue, paaie, ‘n nuwe “sky train”, ens. in aanbou. Goue pagodes is ook orals te sien.

By die groot stasie kry ons toe vir ons ‘n tuk-tuk, Bangkok se tradisionele driewiel-taxis, met die bestuurder voor op ‘n soort motorfiets en die passasiers agter op ‘n dubbele sitbank onderdak. Jy beleef die stad amper so onmiddellik soos te voet, met temperature, klanke en reuke en al, net vinniger. Ons kon werklik net ‘n indruk kry van die oorweldigende stad. Buddhisme is die oorheersende godsdiens, en pagodes is orals. Pagodes word gekenmerk deur goue koepels wat soos ‘n groot, langgetrekte klok met handvatsel lyk. Pagodes is blykbaar plekke waar oorblyfsels van Buddha, soos ‘n haar, ‘n been en ‘n tand bewaar word en gesien in die lig van die duisende pagodes wat in Thailand en in Birma is, moes Buddha ‘n reus gewees het, of die voor die hand liggende aanname is, dat al die oorblyfsels nie werklik van Buddha is nie. Rondom die pagodes is allerhande kleiner tempeltjies en Buddha-beelde. Die tempels is plekke van aanbidding, en hier staan ‘n magdom Buddha-beelde, tot so groot soos 10 meter en meer, in alle posisies, staande, sittend, rustend, en die posisie en die houding van die hand het altyd ‘n besondere betekenis en beeld Buddha se eienskappe uit. Op ons blitstoer het ons in ‘n hele paar tempels ingekyk, waarvan die Marmertempel, met watervoor, tuin en kleiner tempels rondom die bekendste was. Monnike staan in hoë aansien en val op deur hulle oranje gewaad. In openbare vervoermiddels is daar spesiale plekke vir hulle gereserveer.  Vir ‘n in-diepte behandeling van Buddhisme was daar egter nie tyd nie, dit sou ons later in Birma doen waar ons meer tyd gehad het.

By ons blitstoer het ons ook die uitgestrekte koningspaleis gesien, sowel die ou hoofpaleis wat nou ‘n museum is, en die een waar die koning, Bhumibol, nou in woon. Ook dit was egter net ‘n vinnige kykie in die verbyry. Die koning geniet hoë aansien en speel ook ‘n rol as opperhoof van die staat Thailand, meer as die suiwer seremoniële konings in sekere Europese lande. Ons tuk-tuk bestuurder het saam met plakkers van Buddha ook een van die koning gehad, as ‘n soort beskermer.

Bhumibol regeer al van die 40erjare af en is dus seker die langs regerende heerser in die wêreld. Hy is Westers opgevoed en ‘n saggeaarde en waardige man, en het groot outoriteit wat gebou is op die lang tradisie van die koningshuis en legendariese voorgangers soos sy oupa Chulalongkorn, wat dit kon regkry om Thailand as enigste land in die streek onafhanklik van koloniale besetting te hou, terwyl die Britte en Franse alle lande rondom Thailand beset het. Bhumibol is egter al in sy 80s en sy gesondheid nie na wense nie, en niemand weet  of sy opvolger dieselfde aansien en outoriteit sal hê nie.

Thailand beleef reeds onstuimige tye. Verlede jaar het ‘n kortstondige burgeroorlog in veral die hoofstad plaasgevind, met linkse en behoudende groepe wat met mekaar slaags geraak het en die weermag wat orde moes skep en ‘n behoudende regering in beheer moes plaas. Toe ons in Bangkok was, was die verkiesingstryd in volle gang (die verkiesing het intussen plaasgevind, op 3 Julie, en het ‘n nuwe, linksgesinde regering aan bewind geplaas) en plakkate orals. Die Thai skrif was vir ons onleesbaar en ons kon slegs die gesigte van die kandidate sien, almal formeel geklee en selfs generaals in uniform.

Ons blitstoer kon ongelukkig nie sonder die verpligte draaie by juwele- en klerewinkels plaasvind nie. Blykbaar kry die tuk-tuk-bestuurders petrol-koopbewyse as hulle die toeriste na sekere winkels toe vat. Ons het dit gedweë aanvaar en die verbuigings en breë glimlag vriendelik beantwoord en uitgestap sonder om iets te koop.

Per rivierbus, ‘n boot wat soos ‘n bus sy roete op die rivier het en gereeld stop vir mense om op en af te klim, het ons terug gery na die stasie toe. Vanaf die rivier kon ons nog meer van Bangkok sien, tempels en pagodes, en nuwe wolkekrabbers in die verte.

Terug by die hoofstasie het ons per moltrein en “sky train” na die reusagtige lughawe toe gery. Eerste en Derde Wêreld is in Bangkok skreiend dig op mekaar: hier die beskeie en ou tuk-tuks wat nie eens aan die bestuurders behoort nie, daar die modern moltrein en die futuristiese sky train, wat op betonstilte oor plakkershuise voortjaag en ‘n mens uit die eksotiese gewoel van Bangkok in die kunsmatig-estetiese wêreld van die internasionale lughawe toe vat wat orals kon wees.
Die volgende deel van ons reis sou die mees eksotiese wees, en die hoofbestemming, naamlik Birma oftewel Mjanmar. Reeds in die vertreksaal het ek die gevoel gekry dat Yangon (die nuwe naam vir Mjanmar se de facto hoofstad Rangoen) ‘n ongewone bestemming was: pleks van die gewone horde jong son, strand en pret soekende Westerlinge in slenterdrag wat na Phuket of Bali vlieg was daar feitlik net Birmane en Sjinese, meesal elegant geklee, en net sowat 5 ander Westerlinge.

Voortsetting volg

Deel/Stuur

2 Reaksies op “‘n Lang treinrit en ‘n blitstoer van Bangkok”

  1. Danie 11 Julie 2011 at 10:36 Permalink

    Baie insiggewend, dankie.

  2. Zelda 11 Julie 2011 at 21:51 Permalink

    Weereens goed gestel.
    Jou interessante skrywe oor die Ooste is opwindend en `n goeie afwisseling weg van politiek vir `n oomblik.
    Kan nie wag om te lees oor mees eksotiese deel van jou reis nl. Birma/Mjanmar!


Lewer Kommentaar

*